2 bladsye.

Die Gawe van Gee

'n Vermaarde predikant het by elke beroep aan die kommissie ʼn standaard vraag gevra: Het julle in julle gemeente geleer om te gee? Dikwels begin die broeders dan huiwerig oë knip, en dan weet hy waar hulle staan.

Dis 'n mooi vraag, want jy moet leer om te gee. Almal wil graag hulle geld en goed vashou. Hulle behoort tot die drie-h’s: haal, hê en hou.

Om te kan gee, moet jy liefde hê; liefde vir iemand aan wie jy gee, of liefde vir die doel waarvoor jy gee. Gee moet nie gedwonge wees nie, maar vrywillig. Wie gedwonge gee, gee nie werklik nie, maar doen 'n plig, miskien selfs met innerlike weerstand. Gee mag nie 'n doel in sigself word nie, dit moet steeds 'n middel bly.

Om te kan gee is 'n gawe en genade. Die vraag is nie hoeveel of hoe min ek gee nie, maar met watter gesindheid ek gee.

Paulus het eens geskryf: “God het ʼn blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7).

Wil u weet van wie alleen ons kan leer om te gee? Van Hom wat die dierbaarste wat Hy het, gegee het as waarborg dat Hy ons alles gee wat ons nodig het.

Dit is immers die kerninhoud van Romeine 8:32: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”.

Dit gaan hier inderdaad om die gawe van gee. God gee: oorvloedig, sonder beperking, sonder om iets terug te hou. Net van Hom kan ons leer om te gee. Sonder Hom is ons gee 'n daad van ‘mensliewendheid’ — prysenswaardig, maar sonder dat die hart daarin spreek — of onder dwang om te presteer of om iets meer terug te ontvang.

God gee nie so nie; Hy gee uit liefde alleen. Sy gee beteken ons behoud. Sy gee is deel van sy heilsplan met 'n verlore wêreld.

Sy gee laat lewe. Daarom is die grond van die Christenlewe 'n lewe uit gawes. Wie dít nie leer nie sal nie kan, ja, sal selfs nie wil gee nie.

Om te gee is daarom 'n guns en 'n kuns. Dit is 'n guns om geleer te word om te gee. As sondige mense wil ons immers al te graag na ons toe inhaal — hoe meer, hoe beter. Net deur genade leer ons om te gee, omdat die Evangelie ons geleer het dat ons gered word net deur die gawe van God.

Terselfdertyd is dit 'n kuns om te gee — verantwoordelik gee, selfverloënend gee en met vreugde gee. Dán word mens deur te gee nie armer nie, maar ryker. Vir iemand wat gee nie as 'n gawe sien nie, is dit onbegryplik, en dan bly gee 'n verlies. Hy wat die kuns van gee verstaan, weet van beter. Hy is dankbaar dat hy kan gee en dat hy mag gee. Dit kom op die hand én die hart aan. Die gawe is van die hand, maar die gesindheid setel in die hart. Dit is deurslaggewend.

Waarom soveel aandag aan die gee? Omdat hierin iets uitkom van die egtheid en die geloofwaardigheid van Christenwees.

Kan jy iets gee? Is jy bereid om iets te offer vir iemand anders of vir 'n goeie saak — of word daar altyd verniet op jou 'n beroep gedoen? Ons dink dikwels ons verontskuldiging is so eg en geloofwaardig — want wat het ek eintlik om te gee? Dit is nie wat die arm weduwee, wat slegs twee geldstukkies in die tempelskatkis gegooi het, gesê het nie. Jesus sien haar en sê dat sy meer ingegooi het as al die rykes wat baie in die skatkis gegooi het. Die rykes voel nie dat hulle iets gee nie. Dit was nie 'n offer nie. Die weduwee het, toe sy haar gawe ingooi, 'n offer gebring.

Ons is gelukkige mense wanneer ons kan gee!

Ons dominee van hierbo het dit goed raakgesien: 'n gemeente wat nie geleer het om te gee nie, verstaan nie die grond van die evangelie van God se genade nie. Die stand van ons geloofslewe kan gelees word aan die maat waarmee ons gee.

Dit is nodig om dit deeglik in die praktyk toe te pas. Ons moet dit aan ons kinders — as hulle vir ons gegee is — leer dat hulle mag gee; gee uit ons oorvloed aan mense wat onvoorstelbaar slegter daaraan toe is as ons.

Om te kan gee én om te mag gee, is 'n gawe!