Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Gekruisigde Judas

Wat kom van Postmodernisme🔗

'n Skilder het eenkeer die kruisiging van Jesus probeer uitbeeld, maar in plaas van Jesus het hy Judas aan die kruis geskilder. Toe hy daaroor uitgevra is, was sy antwoord dat Judas die slagoffer was. Hy moes ook sy lewe opoffer sodat Jesus die Verlosser, wat aan die kruis sou sterf, kon wees. So het God die mens nodig om God te wees. Postmodernisme (verder pm) weier om enige definisie te aanvaar. Maar as mens 'n beeld moet gebruik om postmodernisme mee aan te dui, is die gekruisigde Judas goed genoeg.

Die Mens as god🔗

Hoe kom mens daarby uit om Judas as slagoffer te sien? Jy verwerp alle grense. Die redenasie loop so: daar is geen skeidslyn meer tussen reg en verkeerd nie. Niemand mag vir iemand anders voorskryf wat om te doen of te glo of te haat nie. As Christus as God bely word, dan kan mens postmodernisties oor die grens gaan en sê dat Judas ook goddelik is, aangesien alle mense gelyk is. Almal se waarde is ewe veel werd. Almal het die reg om kant te kies tussen Judas en Jesus. Die diepste wortel van die postmodernisme (pm) is die vergoddeliking van die mens - 'n god met kleivoete.

Nie meer word die mens se optrede gemeet aan die heilige wet van God nie (H.K. Sondag 3), maar die mens meet homself aan homself - hy is mos 'n god, al is dit onvolmaak. PM ken geen absolutes nie - niks is finaal nie, niks is volkome heilig of heeltemal afskuwelik euwels nie. Hulle laat Paulus buikspreek: “Daar is nou geen veroordeling meer vir die wat postmodernisties is nie”. Die postmoderne mens het aangeleer om oor alles skepties te wees, om alles met 'n skalkse beterweterige glimlaggie te benader en in alles 'n knippie sout in te werk, ook en veral oor God.

Slegs Ervaring🔗

Vir die PM bestaan daar nie "die werklikheid" nie, alleen maar elkeen se eie unieke ervaring. Almal se belewing is ewe geldig en ewe waar. (Dink maar hoeveel charismatiese klem deesdae gelê word op godsdiensbelewing asof dit die een en die al is). Daar is egter een realiteit waarmee alle PM met hulle hande in hulle hare sit. Dit is die dood, of eerder soos hulle wil sê: Die Dood. Hulle is skepties oor die feit dat die dood straf op die sonde is, of dat Christus mens kan verlos van die dood, daarvoor verskil die godsdienste se siening en belewenis van die dood darem te veel. En wie sê nou die christene is reg? As almal se waarheid ewe geldig is, moet mens maar die deur oophou vir ander moontlikhede om "Die Dood" te "beleef".

Doodsaanbidding🔗

Dit bring die PM uit by 'n vreemde fasinering met die dood. Aangesien God vir hulle dood (gemaak) is deurdat daar te veel godsdienste is wat meeding oor die waarheid, erken hulle uiteindelik net een werklikheid - die doodgaan van jouself. In plaas daarvan dat hulle God erken, dat Hy bestaan en in Christus na die mens 'n reddende hand uitsteek, verkies hulle eerder om taamlik dapper, sonder Christus, die dood, hopelik vreesloos, tegemoet te gaan. Die mees radikale uitmonding van PM is dat “Die Dood” as God gesien word en as sodanig aanbid word. Mens kom dit self in die modewêreld agter dat die dood nie meer gevrees wil word nie, maar verheerlik wil word. Die nuutste mode-neiging word genoem "Death Sjiek" waar klere aangetrek word met die dood as speelse tema. Of dit nou heeltemal populêr gaan word moet ons nog sien. Maar so probeer die PM mensekinders hulleself staal om hulle vrees vir God te onderdruk en hulle minagting vir sy heiligheid tot die hoogtepunt te voer, verwerp Christus en omhels die Dood as God.

Reisigers na Nêrens🔗

PM is dus om aan niks te ernstig te glo nie, terwyl jy jouself op jou eie dood sonder Christus voorberei. PM is om jouself as slagoffer te sien - as 'n gekruisigde Judas. Niemand is heeltemal reg nie, enige een kan verkeerd wees, volgens die PM ook Jesus Christus wat deur christene as hulle God verkies word. Die PM sien die lewe as 'n kortstondige reis na nêrens, waar die dood alles opslurp, waar jy maar 'n paar kanse het om voor die graf God te probeer wees. Hierin lê die PM stewig in die New Age en Oosterse godsdienste geanker.

Vyande van die Mensdom🔗

Geen mens is verantwoordelik vir die ellende in die wêreld nie. Van mense wat sonde doen is daar geen sprake nie. Daar is net abstraksies. Sulke gogga-maak-vir-baba-bang vyande. Ons ken 'n hele paar dinge wat PM uitwys as vyandig teenoor die mensdom, naamlik: armoede (en nie arm mense nie), misdaad (en nie misdadigers nie), ongeletterdheid, onverdraagsaamheid ens. Die euwel in die lewe het niks met die mens te doen nie - die mens is die onskuldige slagoffer. Hy is Iskariot op pad na sy Golgota.

Kerklike Implikasies🔗

Wat hou die PM vir die kerke in Afrika in (PM is immers 'n westerse gedrog). Ons kan die PM op verskillende verkeerde maniere aanpak:

  • Eerstens dat ons sy aantreklikheid vir die kerk onderskat. Gereformeerdes wat sensitief is vir die tydsgees sal opmerk dat die evangelie (gereformeerde leer) maar moeilik verteer word deur die PM-honger wêreld met sy godsdienstige kitsdieet en melkskommel-teologietjies. Die "harde" gereformeerde leer van die uitverkiesing, erfsonde, skuld van die mens, heftigheid van God, Christus as Verlosser en Regter gaan steeds al hoe moeiliker 'n staanplek in die leefruimte om ons verwerf. Wat moet ons daaraan doen? Wat ons nie moet doen nie, is om die evangelie van Christus (aristoteliaans met vorm en inhoud) te gaan verpak in 'n PM-pakkie. Wanneer mens die gereformeerde leer wil opmaak totdat dit vir die wêreld verteerbaar geword het, ruk mens die hart van die evangelie uit. Christus is nooit vir Judas aanvaarbaar nie. Ons mag nooit met 'n "gereformeerde perspektief" werk nie. Dit is alreeds PM. Dit is die waarheid van Christus teenoor die leuen van die PM. Die postmoderne mens het nie te vinnig ontwikkel vir God nie, hy het God gaan staan en vergeet. Die gereformeerdes moet die wêreld laat hoor wat hulle juis nie wil hoor nie: God is, en is onskuldig aan ons ellende. Christus is die gekruisigde, en Judas, die mens, is die veragtelike verraaier. Christus is as slagoffer die self-offeraar gewees, en Judas die self-moordenaar. Daar is nie 'n klomp waarhede waarvan ons die gereformeerde waarheid op aantreklike wyse aan die mense wil verkoop nie. Ons beding nie vir 'n markaandeel nie.

  • Tweedens, kan ons die gevaar van die PM oorskat en die aandag van Christus aftrek. Ons moet versigtig wees om nie van die PM weer 'n nuwe samesweringsteorie te maak nie. 'n Nuwe illuminasie-mite uitdink wat met seekat arms in ons kerke insink nie. Dit is fabels wat tyd mors. Die PM is 'n windeier. Die mens is gemaak om in God die Skepper te glo (Gen. 1:27) toe hy na die beeld van God geskape is. Die mensdom sal nie lank kan uithou met PM nie. Dit is nie die crescendo nie. Dis soos 'n mens wat besluit het om op te hou asem haal en probeer om normaal voort te leef. PM is 'n asem-ophou. Snakkend spoedig sal die mensdom diep teue na suurstof snak. Hulle sal na hulle dode-dans weer iewers hoop soek vir hulle dooie lewens. Hulle sal vastigheid soek - waar hulle dit ookal mag kry.

Postmodernisme slegs 'n Fase🔗

En dit is waar die kerk 'n geleentheid deur sy vingers kan laat glip. Ons moet nie saam met die wêreld probeer asem ophou nie. NIe God so "vermenslik" dat ons skaam is om oor die heilige God te praat nie. Die praatjies oor hulle ellende so oorkoop dat ons vergeet om Christus te verkondig nie. Christus is nie ons produk om te bemark nie. Ons is sy eiendom. Ons moet weet die PM is 'n fase. Die vraag is: wat kom daarna?

Post Postmodernisme?🔗

Dit lyk moontlik dat nuwe vorme van fundamentalisme die opvolger kan wees. Sektes sal groei, die Roomse Kerk sal toeneem, daar sal ook 'n sterk groei in die fundamentalistiese Islam wees - want almal bied 'n fundamentele antwoord. Almal bied 'n nuwe skynbare vastigheid na die asem-ophou.

Dis hier waar die kerke gereed moet staan. Ons moet by die evangelie bly. Ons moet gereedmaak om intensief Christus as die asem van die lewe te verkondig. Dit beteken dat ons nou onpopulêr en uit die mode sal wees. Maar die post-modernis sal kruipend terug kom, pleitend vir 'n antwoord.

Asem-Ophou in Medelye🔗

Laat ons nie skuldig wees dat die wêreld vir ons sê: julle het gesien dat ons sterwend is, en julle het ons meegehelp deur julle medelye aan ons te betoon, deur julle lewensasem op te hou saam met ons. Dit is nie naasteliefde om selfmoord te pleeg nie. Die kerk moet weer vrylik begin asem haal.  Ons moet ophou om te vra of die postmoderne mense “ons kerklike boodskap” sal verstaan en volg. Hou op om mense meer te eer as God in die kerk. Goeie kommunikasie het met Christus te doen, nie met vertonings en evangeliese verkoopstruuks nie.

Jesus of Judas🔗

Is ons gereed om die asem met die wêreld te deel? Die kerk sal dit net regkry as ons minder op wêreldse antwoorde konsentreer en meer op die goddelike Woord, minder selfgesentreerd en meer Christosentries leef. Die Woord van God is die antwoord vir die postmoderne mens. Sou die engele hulle asem ophou as hulle sien dat die kerk postmodernisties die Woord versmoor om die mens se grille ter wille te wees? Weg met kontekstuele teologie. Met wie is ons besig? Judas of Christus? Judas soek 'n antwoord, maar Christus, die gekruisigde, is die Woord, en daarom is Hy aan Judas 'n vermanende antwoord. Ons het God nodig om mens te wees. Waarmee wil ons in die gereformeerde kerke besig wees: Met die Woord Jesus Christus of met Judas die postmodernistiese antwoord - met suurstof of stikstof?