3 bladsye.

Die Gesag van die Skrif in die 21 ste Eeu

Mense wat vandag die Bybel lees, doen dit as mense wat ingelig is oor die resultate van die moderne wetenskap. Watter invloed het dit vir die leser se houding ten opsigte van die Bybel? Is die wêreldbeskouing van die Bybel nie so verouderd dat mense van die 20ste en 21ste eeu dit nie meer kan aanvaar nie?

In ons tyd het baie mense die gevoel dat die Bybel ’n verouderde wêreldbeskouing hanteer - naamlik die gedagte dat daar ’n bo- en ’n onderwêreld sou wees: ’n hemel en ’n hel. Omdat die inhoud van die Bybel nou verweef is met hierdie wêreldbeskouing, lyk dit asof baie Bybeltekste nou nie meer ernstig opgeneem kan word nie.

Laat ons egter versigtig wees. Om mee te begin moet ons oppas dat ons sekere uitdrukkings in die Bybel nie oorlaai asof dit wetenskaplike uitsprake sou wees nie. Die Bybel gebruik, net soos wat mense vandag doen, waarnemingstaal. Ons sê vandag ook nog dat die son opkom en ondergaan, ook al leef ons met ’n wêreldbeskouing waarvolgens die aarde om die son draai. As die Bybel praat oor ’n son wat opkom, is dit nie op grond van ’n (intussen uitgediende) wetenskaplike model nie maar op grond van algemeen menslike waarneming.

In die tyd van die ou beskawings was daar rééds hipoteses wat vergelyk kan word met die model van ’n aarde wat rondom die son beweeg. Daardie modelle was nie konstant nie en is dikwels aangepas. Naas ’n geosentriese model 1is daar in die hellenistiese tyd reeds ’n heliosentriese model 2ontwikkel. In die Skrif vind ons nie een van beide modelle nie. Die Bybel praat waarnemingstaal wat universeel is vir alle mense. As die Bybel praat oor ’n hemel en ’n hel, is dit dus nie omdat die mense van daardie tyd gedink het dat die aarde plat is nie. Die Bybelse boodskap oor die hemel van God en die buitenste duisternis is nie die vrug van ’n primitiewe wêreldbeskouing nie. Inteendeel, dit is ’n ernstige boodskap vir alle mense, wat ook al hulle wêreldbeskouing mag wees.

Konflik met Wetenskap?🔗

Die vrae bly maar opduik, vrae soos: Is daar dan nie ’n konflik met baie dinge wat intussen deur die wetenskap ontdek is nie? As ons al die wetenskaplike kennis wat tot ’n moderne wêreldbeskouing gelei het in ag neem, beteken dit nie dat die Bybel in ons tyd slegs ’n beperkte betekenis het nie? Kan ons die skeppingsverhaal van Genésis 1 in hierdie tyd nog ernstig opneem?

As ons hierdie vrae wil beantwoord, moet ons nie in die slaggat van absolute teenstellings trap nie. Dit is natuurlik waar dat die betekenis-moontlikhede van ’n teks ook deur buite-tekstuele agtergrondsfeite belig word. As Paulus van Milete na Caesarea reis, weet ons dat hierdie reis langer as ’n halwe dag moes geneem het. As ons tekste lees, vergelyk ons dit voortdurend met die kontroleerbare werklikheid wat ons ken. Daar is egter ’n grens: As daar ’n konflik is tussen die betekenis van die teks en die beperkings wat die werklikheid of die wetenskap oplê, moet die teks prioriteit kry.

Onder normale omstandighede mag ons aanvaar dat ’n profeet of apostel in ’n periode van veertig dae reëlmatig geëet het, anders sou hy gesterf het. Maar as Elia ’n reis van veertig dae en nagte onderneem met een maaltyd agter die blad, en as die teks benadruk dat dit sy enigste maaltyd was (1 Kon 19:8), dan mag ons nie sê dat die betekenis van die teks verouderd is omdat geen mens volgens ons biologiese kennis vir veertig dae en nagte kan reis, sonder om nuwe voedsel in te neem nie. Ons mag wel sê dat daardie voedsel buitengewone krag moes gehad het, of dat God ’n buitengewone werking in Elia laat plaasvind het.

As ’n uitlegger nie meer daarvoor oop is om in ’n teks iets te lees, wat heeltemal onverwags en wat volgens sy wetenskaplike idee onmoontlik is nie, dan slaan hy homself met leesblindheid.

Sonstilstand🔗

Die feit dat die son stilgestaan het by Gibeon en die maan by Ajalon, kan vir die hedendaagse mens as baie onwaarskynlik voorkom. Die implikasies van so ’n stilstand in die hemelliggame is immers so groot, dat dit amper ondenkbaar is dat die wêreld daarna nog kan voortgaan om te beweeg. Gevolglik is daar uitleggers wat beweer dat dit slegs ‘by wyse van spreke’ was dat die son en die maan stilgestaan het. Daarmee doen hulle egter die bedoeling van Josua 10:12-14 onreg aan. Ons mag nie toelaat dat buite-tekstuele inligting op hierdie manier die bedoeling van die teks oorheers nie. Ongelowige Bybeluitleggers het dikwels ’n goeie aanvoeling daarvoor. Hulle verduidelik wat die boek Josua bedoel het om te sê, en dan trek hulle hul skouers op. Hulle glo dit nie. Ook dit is natuurlik ’n oorskatting van die eie insig, maar ten minste sluip hulle eie insig nie as ’n leesvoorwaarde in die hermeneutiek in nie.

’n Verklaarder van die Skrif moet altyd noukeurig nagaan in hoeverre die teks ’n beperking vanuit buite-tekstuele inligting toelaat. Hy moet egter oop oë hê vir die geleenthede waar die Bybelse teks hom nie laat inperk nie. Dit is ’n goeie beginsel is om jou leesbril gereeld skoon te vee, maar dan moet ’n mens nie in plaas daarvan ’n oogklap aansit nie.

Bedoeling🔗

Daar is nog ’n ander manier waarop die gesag van die Bybel ondermyn word. Dit gebeur wanneer mense sê dat ons ons moet beperk tot die verstaan van die bedoeling van die Bybelskrywers. Die voordeel sou dan wees dat ’n mens baie tekste kan ignoreer en slegs die kern of bedoeling daarvan behou (dikwels word dit die ‘skopus’ of die fokuspunt van die teks genoem).

Dit is ongetwyfeld so dat die Bybel as geheel ’n skopus het: naamlik dat die eer van God mag toeneem deurdat sondaars in Christus behou word en dat hulle leer om ’n heilige lewe in hierdie wêreld te lei. Die Bybel het sekerlik ’n bedoeling en dit is nie om ’n soort van kennisensiklopedie te wees nie.

So het ook elke onderdeel binne die Bybel ’n gerigtheid of skopus. Die verhaal van Dawid en Goliat wil vir ons leer dat die HERE ons deur die geloof alleen bevry. Dit is nie vir ons gegee sodat ons kan weet hoe reuse in die ou dae gelyk het nie.

Ongelukkig word hierdie skopusbegrip egter dikwels gebruik om die res van die teks van die tafel af te vee. Asof die stelling dat ’n mens veral leef deur die klop van sy hart, ’n verskoning sou bied om dus sy arms en bene te kan afkap. Dit is ongelukkig presies wat dan met die Bybel gedoen word.

Daar word gesê: “Die Bybel is nie ’n handboek vir die wetenskap nie.” Dit is natuurlik so. Maar in die naam van die heilskarakter van die Bybel, word daarna die onheilige gevolgtrekking gemaak dat die Bybel dus geen betekenis vir die wetenskap het nie. Dit is ’n stelling waarvoor ons in ander omstandighede sou skrik. Asof ’n persoonlike briefwisseling nie ook baie belangrike inligting vir die geskiedskrywing van ’n land of ’n wêrelddeel kan bevat nie. Asof ’n ou reisverslag nie toevallig inligting oor die werking van sekere kruie kan bied waarmee die mediese wetenskap sy wins kan doen nie. Daar is baie dinge wat saamdryf met die stroom van die rivier! Daar is baie dinge in die Bybel waarvan ons nie sê dat dit tot die kern of die hoofbedoeling behoort nie, maar wat tog daarmee saamkom en wat ook betroubare inligting is.

Ons kan ook nie sonder hierdie ekstra inligting klaarkom nie. In die eerste plek alreeds in die eksegese. As Goliat nie ’n reus was nie, en as daar in daardie tyd nie reuse was nie, dan raak die skopus van hierdie verhaal verlore. Want wat is dan basies nog die krag van die geloof? En verder het ons hierdie tipe ekstra inligting ook nodig by buite-Bybelse toepassings.

Skrifgegewens en Wetenskap🔗

By hierdie laaste punt dreig daar twee gevare. In die eerste plek kan dit gebeur dat ’n mens, deur slegs op die skopus te konsentreer, blind raak vir Skrifgegewens wat belangrike inligting bied vir wetenskappe, soos bv. die taalwetenskap (die spraakverwarring), volkekunde (die voorkoms van reuse, die nageslag van Sem, Gam en Jafet), geskiedeniswetenskap (die periode voor die sondvloed), ensovoort.

Die tweede gevaar is egter dat die teenoorgestelde gebeur: Vanweë die strewe om ’n volledig Christelike model vir een van hierdie wetenskappe te ontwerp, word die skopus van ’n teksgedeelte vergeet en word daar te veel van onderdele van die teks gemaak. ’n Mens kan nie ’n Bybelse psigologie, geologie, linguistiek, en so meer bou op die skaars en insidentele inligting wat toevallig in teksgedeeltes voorkom nie. Hierdie gegewens het wel ’n sekere gesag wat hulle moet uitoefen. Maar dan eerder in ’n kontrole funksie. As ’n wetenskap in stryd is met Bybelse gegewens, is die wetenskap blykbaar verkeerd of dit moet deur verfyning gekorrigeer word.

Dit kan bv. gebeur dat die geologiese wetenskap op grond van sekere teorieë uitsprake doen oor die ouderdom van die menslike geskiedenis, en dat daardie uitsprake in konflik is met die skepping van hemel en aarde in ses dae en met die skepping van Adam en Eva as die ouers van die hele mensdom. In so ’n geval het die wetenskap te ver gegaan. Vir ’n Christen is die lig dan op rooi en sal hy probeer vasstel waar die wetenskap ’n fout gemaak het. Miskien kan die fout nie ontdek word nie en bly die aansprake van die geologie en van die Bybel onversoenlik teenoor mekaar staan. Dan moet ’n mens kies: Laat jy jou lewensrigting deur die teoretiese modelle van die moderne wetenskap bepaal? Of laat jy jou lewensrigting deur die openbaring van die Skrif beheers?

Dieselfde kan in die politikologie of polemologie gebeur as die analise van magsverhoudings lei tot aanbevelings oor die gebruik van wapens wat gemaak is om onskuldige mense dood te maak en wat groot woude totaal en al van hulle blare stroop. In so ’n geval ontstaan daar ’n duidelike konflik met wat die Skrif leer oor die reg van die owerheid om kwaaddoeners te straf en regverdiges te seën. Die lig word dan weer eens rooi. Die vraag moet dan gestel word: Waar het dinge in ons polemologie, of dalk in ons Westerse kultuur, so skeef geloop dat ons heeltemal die spoor byster geraak het?

’n Skrifverklaarder moet altyd nougeset die skopus van die teks en die funksie van al die onderdele van die teks bepaal. Sy blik raak egter vertroebel as hy slegs deur die bril van die skopusbegrip kyk. Hierdie tonnelvisie kan maklik tot algehele leesblindheid lei.

In ons generasie is daar mense wat begin het met die beginsel om hulle slegs tot die sogenaamde skopus van die Bybel te beperk. Die gevolg is dat hulle vandag niks meer in hierdie ‘boek van gister’ sien nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Geosentries: ’n model waarvolgens die son en die planete om die aarde draai.
  2. ^ Heliosentries: ’n model waarvolgens die planete om die son draai.