Bron: Kompas. 5 bladsye.

Die Gesag van Meerdere Vergaderings

Ek wil ’n paar prinsipiële lyne aandui wat die karakter en gesag van die meerdere vergaderings raak. Ons behandel tegelyk die gesag van die kerkverband. Verder wil ek graag weer kyk na die geskiedenis, na die begin van die kerkverband van Gereformeerde Kerke in Nederland.

Voordat ons teruggaan in die geskiedenis wil ek ’n sekere opmerking en vraag wat ’n mens somtyds hoor, beantwoord. Broers en susters vra somtyds of die kerkverband soos ons dit ken wel effektief genoeg is. Is dit nie so dat hierdie kerkverband baie meer by die 16e en 17e eeu pas as by die 21e eeu nie?

Die kritiek is dan veral dat daar nie ’n permanente kommissie is wat allerhande sake in die kerke reël of kan reël as dit skielik na vore kom nie. Ons moet onthou dat dit nie ’n kwessie is van die 16e of die 21e eeu nie. Die belangrike is om te sien wat die beginsel vanuit die Skrif vir die kerkverband is.

Ons het al gesien dat die kerkverband nie die kerk is nie. Die kerkraad is die enigste vergadering van ampsdraers en is die enigste vergadering wat permanent van aard is. ’n Sinode, partikuliere sinode of klassis waarin meerdere kerke saamkom, mag net die sake behandel wat kerklik is en nie deur die kerkraad of ander mindere vergaderings afgehandel kon word nie. Die oomblik wanneer ’n meerdere vergadering sy agenda afgehandel het, bestaan die vergadering nie meer nie. Dan bestaan ook die moderamen nie meer nie en het hulle geen gesag meer nie. Elke plaaslike kerk is en bly dus selfstandig en net daardie ampsdraers mag as onderherders van Christus funksioneer. Dit is ook daarom dat vanuit die gereformeerde kerkreg ’n permanente sinodale kommissie om sake tussen twee sinodes te reël en te besluit, veroordeel word. ’n Meerdere vergadering is ’n vergadering van afgevaardigdes van meerdere selfstandige kerke wat tydelik vir vasgestelde sake saamkom en niks meer nie.

Iets uit die Geskiedenis🔗

Die Tagtigjarige Oorlog het in 1568 in die Nederlande begin. Die Prins van Oranje lei die oorlog teen die koning van Spanje wat die Nederlande in die greep van die valse Roomse leer wil hou. Een van die Prins se vertrouelinge en raadgewers is Marnix van Sint Aldegonde. Marnix was toe ’n vooraanstaande Gereformeerde. Hy verskyn dan ook op verskillende kerklike vergaderings en is dikwels ook die verbindingsman met die Prins. Die Prins sien saam met Marnix die groot belang van ’n verband van Gereformeerde Kerke. Marnix skryf in 1570 saam met Gasper van der Heyden ’n brief waarin op die belang van ’n kerkverband gewys word. Hulle skryf hierdie brief namens die kerke van Heidelberg en Frankenthal. Marnix en Gasper van der Heyden, (laasgenoemde word die voorsitter van die Sinode van Embden!), maak in hulle brief o.a. ’n voorstel om ’n gesamentlike fonds te stig waaruit broeders versorg word wat predikant wil word en waaruit predikante wat in die bediening staan betaal sou word. Die Sinode moes volgens hierdie brief dan ook ’n deputaatskap aanwys wat sou reël waar predikante hulle bediening moet uitoefen en wat predikante kan skuif. Dit was volgens hulle een van die maniere om,

alle gemeynten der Nederlanden tot eenen lichaeme in te lijven, opdat sy met eenen gelijcken voet nae de opbouwinge der Kercken Godes trachten.

Die opvallende is dat die Sinode hierdie voorstel van die belangrike Marnix van Sint Aldegonde en sy eie voorsitter nie aangeneem het nie. Die rede hiervoor was dat die Sinode van Embden as meerdere vergadering vanuit die beginsels van die kerkreg wou waarborg dat die selfstandigheid van die plaaslike kerk by die beroeping en versorging van predikante geëerbiedig bly. Hulle het gewaak dat die gedagte nie kon ontstaan dat die kerkverband die kerk is en so die hiërargie ’n kans sou kry nie. Dit het alles te doen met die karakter van die meerdere vergaderings. Ons sien hier dat binne ’n kerkverband van kerke van Christus nie dit wat volgens ons effektief is en wat stry met die beginsels van Christus se reg, beslissend mag wees nie. Ons mag God se seën verwag as ons ons aan sy Woord hou al lyk dit in ons oë minder effektief.

Wat is ʼn Meerdere Vergadering?🔗

Die Dordtse Kerkorde praat van meerdere en mindere vergaderings. Dit wek by mense dikwels die indruk dat dit hier gaan om minder en meer belangrike vergaderings, met meer of minder gesag. Dit is op geen enkele manier die bedoeling nie.

Die woorde mindere en meerdere wys op die mindere of meerdere aantal kerke wat in so ’n vergadering verteenwoordig is. Dit dui vir ons ook aan wat die karakter van hierdie meerdere vergaderings is. Dit is ’n vergadering van kerke wat saamkom.

Dit is nie ’n vergadering van ampsdraers nie. Dit is nie ’n vergadering wat beklee is met die ampsdraers se gesag nie. Die ampsdraers wat Christus in die plaaslike kerk aangewys het, het as ampsdraers geen gesag buite hulle eie gemeente nie.

Die enigste vergadering waarin die ampsdraers as ampsdraers saamkom is die kerkraad. Die ampsdraers mag net in eie gemeente as ouderling, diaken of leraar optree. Dit geld ook vir ’n leraar. Hy kan op versoek in ander gemeentes die Woord bedien maar hy het daarmee nie ’n ampsdraer van die ander gemeente geword nie. Dit wat ons nou gesê het, het ook betekenis vir die vraag wat die gesag van die meerdere vergaderings is.

Wat die Gesag van ’n Meerdere Vergadering is🔗

Ek wil by hierdie punt eers aandag vra vir artikel 35 van die Kerkorde van die Vrye Gereformeerde Kerke en art 36 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke. Dit is by die van die Vrye Gereformeerde Kerke so geformuleer:

Die klassis het die bevoegdheid om regsgeldige uitsprake te doen ten opsigte van die kerkraad. Dit geld ook vir die partikuliere sinode ten opsigte van die klassis en vir die algemene sinode ten opsigte van die partikuliere sinode.

Ons lees in art 36 van die Gereformeerde Kerke se Kerkorde. Die formulering daar sluit nader aan by hoe dit in die sestiende eeu was:

Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.

As ’n mens dit lees kan die indruk maklik ontstaan dat die sinode dus tog die hoogste vergadering is wat oor alles heers. Hierdie artikel word ook wel misbruik om aan die meerdere vergaderings hoër gesag te gee en te sê dat hulle die reg het om ampsdraers en selfs hele kerkrade te skors en af te sit. Nogtans is dit verseker nie wat hierdie artikel wil sê nie. Dit word duidelik as ’n mens weer na die ontstaan van die kerkverband kyk en as jy noukeurig kyk wat hier staan. Dit is onmoontlik as ’n mens die beginsel van die selfstandigheid van die plaaslike kerk bly eerbiedig.

Eers nog ’n Enkele Verwysing na die Geskiedenis🔗

Ons gaan weer terug na die Konvent van Wesel in 1568. Wanneer hulle oor die kerkverband praat, beklemtoon hulle dat as meerdere vergaderings ontstaan, hierdie vergaderings net afgeleide gesag het. Hulle kan net gesag ontvang oor sake wat die kerkrade na hulle verwys. Daarvoor is nou juis ’n kerkorde nodig waarin afsprake gemaak word. Die broeders daar doen die volgende uitspraak:

Ons oordeel dat aan ’n klassis geen enkele reg oor enige kerk of haar dienaars gegee moet word, behalwe as hulleself daarin bewillig het om daarvoor te sorg dat die kerk nie teen haar sin van haar reg en gesag beroof word nie.

Die klassis Nijmegen spreek in April 1613 uit:

Die afgevaardigdes na die Sinode sal by die Sinode nie bevorder dat besluite geneem word wat die Skriftuurlike vryheid van kerke en dienaars aantas nie.

’n Tweede punt wat duidelik maak dat hierdie artikel nie ’n sinodale of sinodokratiese manier van kerkregering bedoel nie, is die verskil in gesag van die kerkraad oor die gemeente en die van die ander vergaderings oor mekaar.

Kyk weer saam met my na hierdie artikel. Die opvallende is dat die gesag wat die vergaderings oor mekaar het, nie vergelyk word met die gesag wat die kerkraad oor die gemeente het nie. Die klassis het dus nie dieselfde gesag oor die kerkraad as wat die kerkraad oor die gemeente het nie! Juis deur dit nie aan te roer nie, wys hierdie artikel daarop dat die gesag van ’n meerdere vergadering nie gelykstaan aan die gesag wat die kerkraad van Christus ontvang het nie. Die meerdere vergaderings het afgeleide gesag wat die kerke aan hierdie vergaderings gegee het.

Ons sien hier weer hoe die selfstandigheid van die plaaslike kerke geëerbiedig word.

Nou is dit aan die ander kant belangrik om die gesag van ’n meerdere vergadering nie te minimaliseer nie. Dit is nie so dat ’n meerdere vergadering niks meer as een of ander konferensie is nie. Dit is nie ’n vergadering waar mense met mekaar praat, waar kerke mekaar enkele adviese gee en dan huis toe gaan nie. Dit is ook nie so dat ons as kerke na so ’n vergadering gaan en as daar besluite geneem is, ons daarmee kan doen wat ons wil nie.

Kerke maak Afsprake🔗

Om mekaar regtig te kan help is dit nodig dat meerdere vergaderings besluite kan neem. Hulle moet dan wel art 32 van die NGB in gedagte hou. Die kerkorde mag nooit tot een of ander wetboek uitgroei nie. Hier is die besluit van die vergadering in Jerusalem in Handelinge 15 vir ons ’n baie goeie voorbeeld. Hierdie vergadering reël dit wat nodig is om saam as kerke in die eenheid van die geloof te bly leef maar hulle lê nie verdere laste op nie. Dit is ook ’n baie goeie uitgangspunt wanneer ons begin praat oor kerkverbandelike samewerking met die swart kerke wat vanuit die sendingwerk ontstaan. Die besluit van die vergadering in Jerusalem wat spesifiek gegaan het oor hoe die Christene uit die heidene moet leef en of hulle al die Mosaïese wette moet onderhou, was die volgende:

Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goeddoen. Vaarwel.(vers 28,29)

Hierdie besluit van die vergadering in Jerusalem was nie net ’n advies nie, maar ’n besluit wat deur Christus se kerke geëerbiedig moes word. Hierdie besluit was tot opbou van die gemeentes omdat dit in ooreenstemming met God se wil was. Dit is goed om oor sake wat ons as kerke gesamentlik raak, vanuit God se Woord besluite te neem. Dit is goed om besluite te neem waardeur ons mekaar kan help. ’n Voorbeeld daarvan is die opleiding van Dienaars van die Woord wat ons as kerke gesamentlik doen. Dit is goed om besluite te neem waardeur ons saam die hemelse leer van Christus in die kerke wil bewaar. Daarom is dit goed dat ons saam besluit watter psalms en ander liedere ons in die eredienste mag laat sing. Ons kyk saam na die inhoud om so die waarheid te bewaak en te bevorder in die gemeentes. Ons hou ons ook aan die besluite wat nie stry met die Woord en die onderlinge afsprake in die kerkorde nie. So wil ons in die kerkverband dan ook in die vrede van Christus saamleef. So wil ons in die omgewing waar ons kerk van Christus mag wees, soveel as moontlik beteken.

Die gesag van ’n meerdere vergadering lê dus in die gesag wat die kerke vir die vergadering gegee het en daarin dat die besluite in oor-eenstemming met God se Woord is.

Het ‘n Meerdere Vergadering Tugreg?🔗

Hierdie vraag is baie belangrik omdat ons in die geskiedenis altyd weer die neiging sien dat kerkverbande hierdie reg aan die meerdere vergaderings wil gee. ’n Bekende voorbeeld daarvan is wat gebeur het in Nederland in 1926 met dr JG Geelkerken. Geelkerken het vir mense in die Gereformeerde Kerke die vryheid gevra om Genesis 2-3 as nie letterlik bedoelde geskiedenis te lees. Hy wou dat mense moes glo dat God alles geskep het, dat God alles goed geskep het en dat ’n sondeval plaasgevind het. Maar volgens Geelkerken moes dit moontlik wees dat mense die skeppingsverhaal nie letterlik hoef op te neem nie. Die gevolg was dat daar onrus in die kerke ontstaan het en hierdie saak in 1926 op ’n nasionale sinode behandel is. Geelkerken word veroordeel en sy siening word veroordeel as in stryd met die Skrif. Dit is ook bekend dat Geelkerken se eie kerkraad, die kerkraad van Amsterdam-Zuid, hom ondersteun. Dan besluit die Sinode van Assen om dr Geelkerken af te sit. Die veroordeling van dr Geelkerken se siening word deur almal ondersteun, maar daar is enkeles wat nie met die afsetting deur die Sinode kan saamstem nie. Ander verdedig die Sinode met die argument dat dit ter wille van die waarheid gedoen is. Ons sien later in die tyd van die Vrymaking hoe die Sinode die professore Schilder en Greydanus skors en afsit en hulle beroep hulle dan op die voorbeeld van dr Geelkerken in 1926. Hulle is daarom van mening dat ’n meerdere vergadering tugreg besit.

Wie dit ernstig neem dat die kerkraad die enigste vergadering van ampsdraers is, kan nie daarmee saamgaan dat ’n meerdere vergadering ’n ampsdraer skors en/of afsit nie.

Dit wil nie sê dat meerdere vergaderings niks met die tug in die kerke te doen het nie. Laat ons kyk hoe meerdere vergaderings wel by die tug betrokke is sonder dat hulle iemand self onder die tug kan plaas, skors of afsit.

Hoe is ’n meerdere vergadering by die tug oor lidmate in ’n gemeente betrokke? As ons na ons kerkorde kyk lees ons die eerste keer in artikel 76 van ’n betrokkenheid van ’n meerdere vergadering by die tug. Ons lees in die laaste sin van hierdie artikel: “Niemand mag geëkskommuniseer word sonder die instemming van die klassis nie.” Dit beteken nie dat die kerkraad nie die inisiatief vir en leiding oor die tugproses behou nie. As die kerkraad daarvan oortuig is dat ’n broeder of suster in sonde leef, word die bediening van die sakramente van hom of haar weerhou. As dit om ’n geheime sonde gaan, is die volgende stap dat daar in ’n afkondiging aan die gemeente gevra word om te bid vir ’n broeder of suster wat hom/haar aan ’n bepaalde sonde skuldig maak. As daar geen bekering kom en sy of haar naam moet genoem word om die gemeente nog sterker in te skakel, moet eers die instemming van die klassis gekry word. Kyk art 77 K.O.

Wat is die bedoeling hiermee? Die bedoeling is nie dat die klassis iemand onder die tug gaan plaas nie. Dit gaan daaroor dat die ander kerke kan hoor wat gebeur het en dat iemand nie sonder goeie redes verder op die pad van die tug gelei word nie. Hier tree die kerkverband beskermend op. Dit gaan hier om ’n so ingrypende saak dat dit goed is dat broers wat meer op ’n afstand staan, adviese kan gee. Hulle kan ook die tugproses stopsit as daar verkeerde motiewe by ’n kerkraad is.

Die meerdere vergadering is ook op ’n manier betrokke wanneer ’n ampsdraer uit sy amp geskors of afgesit moet word. Ons lees hiervan in artikel 79:

As predikante die kerklike vermaning verwerp, of as hulle ’n openbare of in ander opsigte ernstige sonde begaan, sal hulle geskors word op grond van die oordeel van hulle kerkraad en die van die naburige gemeente, soos deur die klassis bepaal.

Die klassis moet met advies van die deputate van die partikuliere sinode, soos in artikel 14 genoem, oordeel of hulle afgesit moet word. As ouderlinge of diakens hulle aan een van die genoemde sondes skuldig maak, is die oordeel van hulle kerkraad en die van naburige gemeente, voldoende vir hulle skorsing of afsetting.

Die kerkverband word hierby betrek. Die doel daarvan is weer om te help, om ook vas te stel dat daar nie vanuit verkeerde motiewe of ’n verkeerde beeld gehandel word nie. Dit gaan hier oor hulp en oor die bewaking van Christus se reg in sy kerk.

Wie mooi lees sien dat die meerdere vergadering op geen enkele manier self skors of afsit nie. Instemming is nodig of ’n klassis moet met advies van deputate van die partikuliere Sinode oordeel of ’n predikant afgesit moet word. Dit is dan die oordeel wat aan die plaaslike kerk oorgedra word en die skorsing of afsetting kan net deur die eie kerkraad gedoen word. Dit is dan daardie kerkraad se verantwoordelikheid. As die kerkraad dit nie doen nie sal die kerkverband die kerkraad daaroor aanspreek en in die uiterste geval kan die verband met daardie kerk opgehef word.

Ons sien hoe goed dit is om saam te lewe in ’n ware gereformeerde kerkverband. Dan help ons mekaar op die regte manier. Dan help ons mekaar in moeilike dinge, dan help ons mekaar ook om geen verkeerde dinge te doen nie.

Ons het mekaar nodig. Laat ons in ’n kerkverband volgens God se Woord en volgens Christus se reg as kerke van Christus die eenheid in Christus beleef en uitleef. Onder ons enigste Meester: Jesus Christus.