Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Getransformeerde Kerk van Suid-Afrika

Einde Oktober is die tyd waarin die kerke wat uit die Reformasie van die 16de eeu gegroei het, terugkyk, vorentoe kyk en na binne kyk. Die terugkyk is nodig om met eerlikheid na binne te kyk en met perspektief vorentoe te kyk. By die terugkyk is daar een werklikheid wat die gereformeerde kerke in Suid-Afrika tot eerlike selfondersoek dwing. Dit is die werklikheid wat sedert die Reformasie saamgevat word in die bekende Latynse slagspreuk: Ecclesia reformata semper reformanda. Daarmee word gesê dat die gereformeerde kerk in sy wese ’n altyd reformerende kerk moet wees. Die betekenis van hierdie slagspreuk is duidelik: die kerk durf nooit “gearriveerd” wees asof dit reeds die volmaakte toestand bereik het nie. Dit moet altyd bly vernuwe, immer nader bly beweeg aan wat God van sy kerk verwag.

Hoe weet ons wat God van sy kerk verwag? Vir die ware Christen is daar maar een antwoord hierop: ons weet dit uit die Bybel. God het immers die Bybel aan die mens gegee as openbaring van sy wil. Sonder die Bybel kan ons God nie ken nie, kan ons nie weet wat sy wil vir ons is nie en sal sy verlossende genade in Jesus Christus vir ons onbekend bly. Daarom was die bedoeling met die Reformasie se semper reformanda-slagspreuk dat die kerk se voortdurende vernuwing altyd ’n verandering terug na die eise van die Skrif sal wees.

Dit beteken dat die kerk nie na die eise van mense ingerig mag word nie. Die eise van mense kom immers nie ooreen met die wil van God nie. Dit is die droewige gevolg van die sondeval. Die mens se sondige aard is eenvoudig so, dat hy aldeur téén die wil van God wil ingaan. In Romeine 8:7 en 8 lees ons oor hierdie spanning tussen die vlees (ons sondige natuur) en die Gees van God. Daar staan: “Wat die vlees bedink, is vyandskap teen God; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.” Die implikasie vir ons, as gereformeerdes, is dat ons in die inrigting van die kerk, waar daar spanning kom tussen wat ons wil hê en wat God in sy Woord van ons verwag, elke keer die eis van Gods Woord sal volg. ’n Altyd reformerende kerk is dus ’n kerk wat altyd sy eie menslike begeertes bestry - ook sy eie begeertes oor hoe die kerk ingerig moet word.

Hierdie stryd is nie maklik nie. Dit vra dat die kerk altyd eerlik na binne moet bly kyk en homself by elke verandering moet afvra: Is hierdie verandering werklik volgens die wil van God ooreenkomstig sy Woord, of is dit volgens die wil van mense ooreenkomstig die eise van die samelewing? Die vrae is miskien eenvoudig, maar die uitvoering daarvan is moeilik. Om dit te kan uitvoer, moet ons werklik in ons harte deur die Gees van God vernuwe wees. In Romeine 12:2 hoor ons: “Word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Dit beteken: eers reformasie van die hart; dan reformasie van die kerk.

Sonder ware reformasie van die hart is die vraag na die wil van God onbereikbaar, want die mens kompliseer die vraag met allerhande teenvrae en besware. Hulle hoofbeswaar is dat die mens van die twintigste eeu nie God se wil vir vandag uit die Bybel moet probeer vasstel nie. Hulle argumenteer soos volg:

  • Hoe kan die Bybel wat tweeduisend jaar en langer gelede geskryf is, nog in ons tyd met gesag spreek?

  • Die Bybel is geskryf deur mense en vir mense wat geworstel het met die problematiek van hulle tyd. Dit sal dus ’n fout wees om dit wat hulle geskryf het, op ons tyd te wil betrek.

  • Is die Bybel werklik die enigste bron van kennis van die wil van God? Openbaar God Homself dan nie ook in die skepping daarbuite nie?

  • Die kerk is so behep met die Bybel dat ons van God vergeet. Dit is tipies fundamentalisties om in alles te vra na wat die Bybel sê. Die kerk staan mos in ‘n nuwe verhouding met God en kan in eie mondigheid self vasstel wat die wil van God is.

Op hierdie argumente antwoord ons:

  • Die Bybel spreek met gesag tot mense van alle tye, want dit is die Woord van God. Deur die Bybel spreek die Heilige Gees. Hy is ewig. Soos God ewig is, is ook sy Woord ewig. 1 Petrus 1:24-25: “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.”

  • Natuurlik is die Bybel gerig op die problematiek waarmee die mense in Bybelse tye geworstel het. Die Bybel was immers ook vir hulle bedoel. Dit beteken nie dat die Bybel net vir hulle bedoel was nie. Tye en omstandighede verander, maar by God is daar geen verandering nie. In Jakobus 1:17 staan dat daar by God geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Ook sy wil vir die mens verander nie. Al het Hy sy wil in die Bybel openbaar in die taal en volgens die problematiek van die Bybelse tye, spreek dit deur die eeue steeds met Goddelike wysheid en gesag en is dit steeds die lamp wat ons pad voor ons verlig (2 Petrus 1:19).

  • Dit is so dat God Homself nie net in die Bybel openbaar nie. Hy openbaar Homself in die eerste plek deur sy skepping, onderhouding en regering van die wêreld. Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis vergelyk die skepping met ’n mooi boek waarin die onsigbare dinge van God duidelik voor ons oë sigbaar is. In Romeine 1:18-23 sien ons egter dat die mens deur die sonde so stompsinnig en verblind geraak het dat ons nie die “boek van die skepping” gelees kan kry nie. Daarom het God in sy genade en wysheid sy Woord aan ons gegee sodat ons Hom daaruit nog duideliker en meer volkome kan ken, “en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort” (NGB art 2). Die Bybel is die bril waardeur ons die wêreld verstaan en nie andersom nie. Om buite-Bybelse verskynsels te wil gebruik as die bril waardeur ons die Bybel moet lees en verstaan, is ’n agterstevoor hermeneutiek.

Op die beswaar dat die kerk so met die Bybel besig is dat ons God vergeet, moet ons erken dat daar wel die gevaar bestaan dat ’n mens die Bybel sonder God wil lees. Dit is hoe die Bybel in ongeloof gelees word. Wie die Bybel werklik in die geloof lees, maak dit nooit van God los nie, want dit is tog God se Woord. Net so onaanvaarbaar as wat dit is om die Bybel sonder God te wil lees, is die poging om God sonder sy Woord te probeer ken. Wie in die geloof na God uitreik, soek sy wil juis in die Bybel.

Dit is opvallend dat diegene wat beswaar het dat ons die kerk na die eise van die Bybel rig, steeds eis dat die kerk moet verander. Hulle beroep hulle selfs op die semper reformanda-slagspreuk. Die verandering wat hulle eis, is dan ’n verandering wat die kerk laat wegbeweeg van die Skrif. Waar dit gebeur, word die semper reformanda ’n semper transformanda. Die resultaat is nie ’n Gereformeerde Kerk nie, maar ’n Gedeformeerde Kerk, hoogstens ’n Getransformeerde Kerk. So ’n kerk kan miskien beter inpas by die eise van die mense van ons tyd. So ’n kerk kan toonbeeld van politieke korrektheid wees. So ’n kerk kan duisende mense lok en in getalle (tydelik) groei. Dit sal egter nie werklik gereformeerde kerk wees nie.

Reformasie? Deformasie? Transformasie? As gereformeerde kerke werklik gereformeerd wil bly, is daar vir ons maar net een pad vorentoe, en dit is die pad van reformasie. Altyd terug na God se Woord. Semper reformanda.