Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Die GKSA en die Waarde van Kerkvergaderings

Inleiding🔗

Tydens ’n kerkvergadering word gesamentlike besluite geneem oor sake wat die kerk en die koninkryk van die Here en sy dienswerk in die wêreld raak. Hierdie vergadering onderskei homself van enige ander vergadering deurdat dit suiwer ten doel het om die voordeel van die kerk van die Here en sy eer op elke terrein te soek (1 Kor 10:31). Daarom word elke kerkvergadering geopen en afgesluit in die Naam van die Here (KO art. 32). Die uitgangspunt van elke kerkvergadering behoort dan ook te wees: “Die Heilige Gees en ons het besluit” (Hand 15:28). Met die diepe bewustheid dat die kerk aan die Here Jesus Christus behoort en dat Hy die Hoof is van sy kerk (Ef 1; Kol 1), moet sy wil telkens in elke besluit gesoek word. Daarom, om enige hiërargie in die kerk te voorkom en om te keer dat iemand sy plek probeer inneem, mag ’n Woordbedienaar nie twee keer na mekaar die voor­sitter van ’n meerdere vergadering wees nie (KO art. 35). Hy moet ook deur sy optrede verseker dat niemand tydens die vergadering op so ’n wyse optree dat die Naam van Jesus Christus skade ly nie (KO art. 35, 43).

Waarom kerkvergaderings?🔗

Die bestaan van kerkvergaderings (binne ’n bepaalde kerkverband) bevestig dat gelowiges mekaar nodig het om midde-in die wêreld besluite te kan neem wat die beste belang van die kerke soek. Die kerke binne ’n klassis (naburige kerke) wys dan ook Woordbedienaars aan om die kerke op ’n gereelde basis te besoek om mekaar daarin by te staan om getrou aan die Woord en hulle besluite volgens die Woord te bly (KO art. 44).

Juis omdat die individuele gelowige nie al die antwoorde het nie en nie eensydig sy eie kop mag volg nie, kom gelowiges byeen en neem saam besluite wat die toets van die Woord kan deurstaan. Waar daar nie op plaaslike vlak duidelikheid of uitsluitsel verkry kan word nie, of waar dit om sake gaan waar meer kerke geraak word, vergader die kerke (as klassis, streek/partikuliere sinode, algemene sinode - KO art. 41, 47, 50, 51) om gesamentlike besluite te neem. Die kerke vergader deur middel van hulle wettige afgevaardigdes wat die opdrag het om in die lig van Skrif, belydenis en kerkorde besluite te neem (KO art. 33). ln Handelinge 15 lees ons reeds van die eerste kerklike vergadering wat met wettige afge­vaardigdes gesamentlike besluite ge­neem het.

Die ontstaan van die GKSA en kerkvergaderings🔗

Ds. Dirk Postma het destyds op grond van ’n besluit deur die Chris­telike Gereformeerde Kerk van Ne­derland na die Zuid-Afrikaanse Re­publiek (ZAR) se regering gekom “om predikante en onderwysers aan te bied en om sendingmoontlikhede te ondersoek”. Pogings om bande met die ZAR te sluit, het egter misluk. Gevolglik het die eendersdenkende gelowiges op die vergadering gehou op 10 Februarie 1859 te Rusten­burg, saam ouderlinge en diakens verkies. Onder leiding van die verkose kerkraad het hulle ds. Postma as eerste predikant beroep. Vandaar sou kerkvergaderings bly soek na God se wil vir die Gereformeerde Ker­ke van Suid-Afrika (GKSA). Kort daar­na (na ’n aanvanklike geskil tussen di. Postma en Beyer) is die Dordtse Kerkorde (1618/19) (aangepas by landsomstandighede) en sy ordereë­lings vir kerklike vergaderings as kerk­orde van die GKSA aanvaar.

Destyds het die gelowiges juis saam­gekom as gelowiges binne die GKSA omdat hulle hul eenheid in die geloof gebou het op dieselfde verstaan van die waarheid volgens God se Woord. Hulle het goed besef dat gelowiges hulle by die kerk moet voeg (NGB art. 28) en dat die kerke op plaaslike vlak (as kerkraad - KO art. 37) en as kerke binne die bepaalde kerkver­band (meerdere vergaderings) be­sluite moet neem en notuleer (KO art. 34) wat die opbou en die uitbou van die kerk dien. Dit het vereis dat hulle daarteen moes waak om nie sake op die tafel te neem wat nie “des kerk” is nie (kerklike sake op kerklike wyse - KO art. 30). Daarmee saam was daar nog altyd die poging om mekaar gebonde te hou aan sa­ke wat die Woord as belangrik aan­toon (wesenlike sake), maar om aan mekaar vryheid op plaaslike vlak te gee wat middelmatige sake betref. Die kerke moes egter daarteen waak om nie wesenlike sake as middelma­tig te hanteer of andersom nie.

Die besluite van kerkvergaderings🔗

Wanneer kerkvergaderings dan be­sluite neem, moet daardie besluite die toets van die Skrif, belydenis en kerkorde deurstaan. Die kerke binne kerkverband onderneem teenoor mekaar om op grond van hulle ver­bintenis teenoor mekaar die gesa­mentlik genome besluite te eerbiedig en uit te voer. Waar hulle egter meen dat verkeerde besluite geneem is, moet hulle die besluite laat wysig of laat herroep deur aan te toon dat daardie besluite nie die toets van Skrif, belydenis en kerkorde slaag nie (KO art. 31, 46). Alleen in die geval van wesenlike sake wat gewetensbindend van aard is, mag kerke (ter­wyl hulle in die proses van appèl en beswaar teen die gewraakte besluit staan) voorlopig daardie besluite “op ys” plaas. Kerkvergaderings se besluite is altyd die belangrike waaroor dit gaan. Die besluite moet die toets van die tye (met God se Woord as maatstaf) deurstaan. Daarom kan besluite ook weer ge­toets word indien daar nuwe sake op die tafel kom, of indien die om­standighede sodanig verander het dat so ’n besluit gewysig kan word (KO art. 46, 86). Uiteraard gaan dit hier nie om beginselsake (wesenlike sake) wat altyd vas en onveranderlik bly nie.

Die besluite wat deur kerkvergaderings geneem word, is dikwels ook die weerspieëling van wat in die hart van gelowiges aangaan, asook van die sake wat in daardie besondere tydsgewrig die leefwêreld van gelowiges raak. ’n Studie van kerklike besluite van ’n bepaalde tyd sal dikwels ook ’n beeld gee van die spesifieke aanslae van buite wat op daardie tydstip teen die kerk gevoer is, asook die sake waarmee gelowiges geworstel het. Hieruit sal dit waarskynlik ook duidelik wees op hoedanige wyse die kerk sy getuienistaak binne sy leefwêreld volvoer het. Kerkvergaderings se besluite gee dikwels God se wil deur aan ’n wêreld wat teen sy wil en gebod optree en lewe. Die besluite van kerkvergaderings dui ook aan of gelowiges waarlik nog voor God en sy Woord as finale antwoord en toets vir al hulle besluite en optredes buig.

Die kerkvergaderings binne die GKSA se besluite word geneem op die soge­naamde “presbiteriale” wyse. Dit beteken dat die ouderlinge (waarby die predikante wat “voltydse” ouderling is, ingesluit word) besluite op grond van die Woord (leer) moet neem en moet toesien dat die besluite deurgevoer word (regeer). Daarom is die besluite wat die plaaslike kerkraad (die kerk op ’n bepaalde plek) neem, ook die belangrikste vir die gelowiges op “grondvlak” en is hierdie kerkvergadering (die kerkraad) ook die belangrikste.

Daarteenoor kry ons die kerkregeringstelsel wat meen dat die sinode (meer­dere kerkvergaderings) ’n hoër vergadering is waarvan die besluite belangriker is as die besluite van die plaaslike kerkraad en dat die plaaslike kerk daardie besluite moet gehoorsaam (die sogenaamde “kollegialisme”). Hulle beskou die “sinode” as die “hoogste regeerliggaam” in die kerk.

Hierdie redenasie is egter verkeerd, aangesien alle vergaderings slegs met Woordgesag mag regeer (KO art. 36). Die een vergadering is dus nie hoër of het meer gesag as ’n ander nie. Daar kom bloot meer gawes byeen om saam uit God se Woord besluite te neem, omdat die mindere kerkvergadering (met minder gawes) nie ’n besluit kon neem nie (KO art. 30). Dit mag alleen gebeur waar daar nie voldoende gawes is nie of waar die saak waaroor dit gaan méér kerke raak.

Daarteenoor vind ons die sogenaamde independentistiese kerkregeringstelsel waarvolgens elke gemeente eintlik maar sy eie besluite neem sonder om die ander kerke in daardie betrokke kerkverband in ag te neem en sonder om hulle besluite saam aan die Woord te toets. Hier staan die plaaslike kerk en sy kerkraad se wil voorop wanneer besluite geneem word. Kerkver­gaderings (behalwe die kerkraad) dien hier dus geen doel nie, behalwe om mekaar by te staan waar onderlinge hulp benodig sou word.

Die doel van kerkvergaderings🔗

Daar bestaan dikwels ’n verkeerde siening oor die rol en doel en taak van kerkvergaderings. Een verkeerde persepsie is dat die “sinode” besluit het en daarom moet die besluit deurgevoer word. ’n Sinode kan egter ook ’n verkeerde besluit neem. Daarom moet elke kerkvergadering se besluite getoets word aan die Woord. Die persepsie bestaan ook dat daar op kerk­vergaderings net ’n ou klomp afgetrede, gryskop-omies sit wat hulle verouder­de sienings en menings deur genome besluite op medegelowiges probeer afdwing. Tog vaardig die kerke manne af na die kerkvergaderings wat met hulle besondere gawes saam voor die Woord buig en biddend God se wil vir sy kerk op aarde soek (KO art. 33).

Diegene wat ’n kerkvergadering vir die eerste keer bywoon, sal sekerlik getref word deur die eiesoortigheid daarvan. Geen “wêreldse” vergadering word noodwendig deur ’n Woordbedienaar gelei nie (KO art. 35). Geen ander vergadering probeer doelbewus met die Woord as enigste maatstaf besluite neem nie (KO art. 36). Geen ander vergadering stel die voorvereiste dat almal wat saam vergader, aan bepaalde Woordvereistes moet voldoen nie (KO art. 33). Geen ander vergadering vind plaas so konkreet in biddende afhanklikheid van die Here en van sy Gees nie.

Kerkvergaderings verseker dat die geloofseenheid tussen gelowiges wat saam buig voor die waarheid van God se Woord, ook in kerklike besluite neerslag vind. Al die gawes wat God aan sy kerk op aarde skenk, word sodoende ook tot voordeel van al die kerke binne die bepaalde kerkverband gebruik. Dit onderstreep die feit dat die kerk as ’n liggaam funksioneer (Rom 12; 1 Kor 12) waarbinne al die onderskeie lede mekaar nodig het vir die groei en gesondheid van daardie liggaam. lndien daar nie kerklike vergaderings (afgesien van die kerkraad) sou bestaan nie, sou die geloofseenheid wat tussen gelowiges behoort te bestaan, verseker groot skade ly. Geloofseenheid bestaan tog waar gelowiges op dieselfde wyse met die Skrif omgaan en hulle daarom ook aan dieselfde belydenis en kerkorde verbind.

Die GKSA en kerkvergaderings se besluite🔗

Die kerke binne die GKSA kan met groot vreugde getuig van die Here se seën en leiding by die besluite wat oor jare deur kerklike vergaderings geneem is. Besluite wat die eenheid van die Here se kerk gesoek en sy wil bevorder het. Natuurlik moet die kerke ook bely dat kerkvergaderings soms besluite geneem het wat nie tot eer van die Here en van sy kerk op aarde is en was nie. Daardie besluite moet en moes noodwendig in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, die Hoof en Koning van die kerk, gewysig word om aan die eis van God se Woord te voldoen.

In geheel gesien, was kerkvergaderings en hulle besluite egter tot groot seën van die kerke binne die GKSA. Oor tyd blyk dit egter dat die hoeveelheid sake wat aanvanklik op die agendas van kerkvergaderings gedien het, baie meer beperk was. ls dit nie omdat kerkrade moontlik meer mondig was om self besluite te kon neem nie? ls dit moontlik ’n aanduiding daarvan dat daar ’n groot afname van Woordkennis is by gelowiges van die plaaslike kerke? Dit mag ook wees dat die vrae wat vandag gevra word, meer gekompliseerd is en veel meer insig vereis en studie verg as ’n paar jaar gelede. Of sukkel ons maar bloot om met eenvoudige (kinderlike Matt 18) geloofsinsig by die kern van sake uit te kom?

Slot🔗

Ten spyte daarvan dat daar mense is wat die waarde van kerkvergade­rings bevraagteken, kan die belang­rikheid daarvan nie genoeg beklem­toon word nie. Juis waar gelowiges saamkom in kerkvergaderings om te buig voor God se wil; waar Jesus Christus erken word as die Hoof van die kerk; waar daar op ’n ordelike wyse besluite op grond van die Woord geneem word tot voordeel van die kerke; waar die eenheid in die waarheid van die Woord gesoek en bevorder word; en waar in alle be­sluitneming en optrede die totale af­hanklikheid van die leiding deur die Gees van God erken word ... juis daar kom die belangrikheid van kerk­vergaderings na vore. Die waarde van kerkvergaderings is veral daarin geleë dat die besluite wat daar ge­neem word, verseker dat die eer van God gesoek en bevorder word op el­ke terrein waar gelowiges (die kerk van die Here) sigbaar werksaam is.