Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Glorie van die Kerkorde

Die Kerkorde word dikwels op kerkvergaderings soos ’n kerkwet hanteer. Die letterlike nakoming van Kerkordelike prosedures word soms so op die spits gedryf dat ’n mens die indruk kry dat juis dít die Gereformeerde waarborg vir kerkwees is. Verstaan ons die funksie van die Kerkorde altyd reg? Hierdie bydrae wil ’n klein bietjie lig op die onderwerp werp.

Die Bybel mag nie toegemaak word waar die Kerkorde geopen word nie. Trouens, die Kerkorde ter hand geneem word, moet die Bybel geopen word. Die Kerk­orde is geen kanonieke reg bene­wens die Skrif nie. Die Kerkorde is afhanklik van die Skrif. In werklik­heid wil die Kerkorde vir die doel van die kerkorganisasie en die kerk­regering niks anders wees as die kerklike weg na die Heilige Skrif toe nie.

Orde Skeppend🔗

Die Kerkorde skep nie die kerklike dienste (‘ampte’) nie, maar gee dit weer. Die Kerkorde konstitueer nie die kerklike vergaderings nie, maar gee ordelike beslag daaraan. Die Kerkorde stel nie die Woordverkon­diging en die sakramentsbediening daar nie, maar beveilig en handhaaf dit. Die Kerkorde beveel nie die kerklike tug nie, maar sistematiseer dié Skrifopdrag tot kerklike prose­dure. Die Kerkorde skep nie die kerkinstituut nie, maar handhaaf die Skrifbeginsels en gee, dit weer (wo. diensinstelling, Woord- en sakramentsbediening en tugtoepas­sing). Daarvolgens kry die kerk se gestalte in die wêreld sy sigbare ‘vorm’.

Die Kerkorde stel die kerkinstituut voor sy skriftuurlike infrastruk­tuur ter wille van sy gehoorsaam­heid, ordelikheid, doeltreffendheid, kontinuïteit en regsekerheid. Maar die Kerkorde stel die kerk ook voor die waarheid van sy bestaan en sy roeping tot kerkwees in die wêreld. Die Kerkorde herinner die kerk daaraan dat hy die draer en die be­skermer van die waarheid is (1 Tim 3 : 15) . Hy beveilig ’n ‘kerklike’ ruimte vir die kerk. Hier binne kan die kerk die beskermer en draer van die waarheid op ’n kerklike wyse in die wêreld wees.

Kerk Voor ’n Eis Gestel🔗

Die Kerkorde stel die kerk voor die eis dat hy in die vryheid van die waarheid sal leef en nie in die be­nouendheid van ’n eie wetlikheid nie. Die Kerkorde staan in diens van die geestelike wasdom van die kerk dit is die beveiliging en bekragtiging van die opbou van die liggaam van Christus, juis omdat dit daar gestel is om die kenmerke van die ware kerk in die kerkwees te vergestalt. Die Kerkorde is bedoel as ’n middel om te sorg dat die kerk ware kerk bly. Dit wil sê dat die kerk as die herskape mensheid bly leef by die leer van genade alleen, geloof alleen en die Skrif alleen. So gesien dien die Kerkorde in sy wydste betekenis tot beskerming van die drie sola’s van die reformasie: sola gratia; sola fidei, sola scriptura (vgl. Van ‘t Spijker, In die Skriflig, Des. 1984).

Kerk se Visie🔗

Daarom moet van die Kerkorde nie ’n afsonderlike stel reëls gemaak word, los van die Heilige Skrif nie. Die Kerkorde is die kerk se visie op ’n normatiewe beeld van sy eie gelaat uit die Heilige Skrif. Dit stel die kerk voor sy historiese afgrensing van die wêreld, maar dit stel die kerk óók voor sy eskatologiese oor­winning oor die wêreld.

Waar die Kerkorde se lewensnoodsaaklike basis die Heilige Skrif is, is die belydenis, die kerkreg en die Kerkordelike historie die onmis­bare verband waarbinne die Kerkorde figureer. Bondig geformuleer: Die Kerkorde word deur die Hei­lige Skrif gefundeer en daarin deur die belydenis genormeer. Dit word deur die kerkreg gefor­meer en geprogrammeer en deur sy geskiedenis gesitueer.

Buite-om dié kontekste word die Kerkorde ’n reglementebundel en die hantering daarvan beoefening van puur positiewe reg. Verhef bokant sy diensfunksie verval die Kerkorde se bestaansreg. Maar in sy diensknegsgestalte het dit ’n noodsaaklike plek: vóór die aange­sig van die Koning van die kerk tot sý diens in die opbou van sy kerk. Die eie glorie van die Kerkorde lê sy sekondêre funksie.