Bron: Kerk en Woord. 5 bladsye.

Die Goddelike en Menslike Natuur van Christus

Dr. J.G. Meijer, wat ’n kursus vir belydende lidmate aanbied, het tydens twee kursusaande die moeilike, maar pragtige en belangrike onderwerp van die twee nature van Christus verduidelik. Een van die kursusgangers het via snelskrif hierdie lesing so volledig moontlik probeer weergee. In die vorige uitgawe van Kerk en Woord is ’n aantal aspekte van die goddelike en menslike natuur van Christus behandel. Nou volg ’n uiteensetting oor die verhouding tussen die twee nature. Die volgende punte word behandel:

  1. Oor die begrippe natuur en persoon.
  2. Twee soorte dwaling.
  3. Wat het die konsilie van Chalcedon in 451 besluit?
  4. Deurbraak van pouslike hiërargie (Leo 1).
  5. Skynbare teenstrydighede in die Skrif?
  6. Grense van ons kennis.
  7. Dit alles lei tot die lof van sy Naam.

1. Oor die begrippe natuur en persoon🔗

Christus is ware God en ware mens: twee nature en een persoon. Dit is twee woorde wat nie in die Skrif voorkom nie. Die woorde ‘drie persone en een wese’ kom ook nie in die Skrif voor nie.

“Natuur” is iets anders as karakter. “Natuur” sê WAT iemand is, byvoorbeeld: die mens is iets anders as ’n dier, plant, engel. Onder mense vind jy veel verskille, veel verskillende karakters. “Persoon” sê WIE iemand is. Die mense het eie karakters, eie persoonlikhede.

By Christus gaan dit by “persoon” oor “regspersoon”. “Persoon” dui op sy werk. Hy moet ons verlos en vernuwe. Daarvoor is die Middelaar gekonstitueer. Hy kom in die Skrif na ons toe as die Seun van God. God die Seun het die menslike natuur daarby geneem. Hy het gebly wat Hy was: Seun van God, en word wat Hy nie was nie: mens.

Hand 3:15, 20:28, 1 Kor 2:8: Hulle het die Here van die Heerlikheid gekruisig - God is aan die kruis geslaan. Hebr 1:3 - God het natuurlik nie aan die kruis gesterf. Hy besit onsterflikheid. Maar so spreek die Skrif om aan te dui dat Christus God is.

Hy word ook Seun van die mens genoem. Dan 7:13 en 14: profesie van die Menseseun. Wat staan daar? Daniël sien die hemele oopgaan en daar is die Here geteken as die Oue van Dae. Daar het Christus gekom as die Seun van ’n mens - dit wys op die Hemelvaart. Hy ontvang van die Oue van Dae heerskappy en mag oor alle volke van die aarde: daar word voorsê wat na sy Hemelvaart sal gebeur. Dan word Hy beklee met alle mag. Wanneer Christus aan hierdie kant van die graf praat oor sy koms, dan moet jy dit verklaar as: die Seun van die mens kom en dit is die Hemelvaart. Die engele praat by die Hemelvaart van Christus oor sy wederkoms.

Wanneer Christus in sy lyding praat oor die koms van die Seun van die mens, dan praat Hy oor die vervulling van Daniël 7. Na die Hemelvaart word eers gepraat van die Wederkoms. Joh 3:13, Joh 6:62. Matt 26: Seun van die mens is die Seun van die lewende God. Daniël 7 word vervul - Hy kom, vaar op met Goddelike krag en gaan sit aan die regterhand van God om oor alles te regeer. Die persoon van die Seun was van ewigheid God. Hy lê die menslike natuur nooit meer af nie, maar Hy het die persoon van die Seun gebly.

2. Twee soorte dwaling🔗

  1. Mense wat die nature wil skei,
  2. Mense wat die twee nature so wil vermeng dat dit een natuur word. Dan word die menslike natuur ’n druppel wat in die oseaan van die goddelike natuur verswelg is.

Die docetisme leer dat Christus as gewone mens gebore is uit Maria. Gewoon opgegroei het, net sonder sonde. Hy was volkome normale mens. Toe Hy gedoop word deur Johannes die Doper daal die Heilige Gees in die vorm van ’n duif op Hom neer. Toe kom die Goddelike op Hom. In Getsémané het die Goddelike weer van Hom weggevaar.

Nestorius was ’n befaamde patriarg in Constantinopel. Hy het die volgende geleer: As daar twee nature is, dan moet daar ook twee persone wees wat nie wesenlik nie, maar soos vriende met mekaar verbind is. Hy het kritiek gehad op die term: Maria het God gebaar. Hy het gesê: nee, sy het ’n doodgewone kind op die aarde gebring, die goddelike bly los van die menslike natuur staan. God het aan die kruis ook weer van Hom gewyk. Aan die kruis het Hy ’n menslike natuur gehad, want God kan nie sterf nie.

Jy vind Nestorianisme orals. Die moderne mens wil nie deur God verlos word nie. Indien daar iets Goddeliks was in Christus dan het dit op Hom gedaal en is later ook weer weggeneem. Bevrydingsteologie, feministiese teologie, swart en wit teologie; is almal moderne teologieë wat sê dat God Hom nie met ’n mens kan verenig nie.

Eutiches, ’n tydgenoot van Nestorius, was patriarg in Alexandrië (Egipte). Hy het geleer: Daar is een Persoon, dan moet daar ook een natuur wees. Hy het die twee nature vermeng, maar so dat daar van die menslike natuur niks oorgebly het nie.

Sowel Nestorius as Eutiches probeer die wonder van die vereniging van die nature in Christus te begryp, te deurgrond. Hulle bly nie eerbiedig by die grense van wat die HERE geopenbaar het, staan nie.

By Luther vind jy nog ’n verbintenis met Eutiches. Luther leer naamlik dat die liggaam van Christus na die Hemelvaart nie meer suiwer menslik is nie. Ubiquiteit: Christus is oral aanwesig. Dit kom ook uit in die nagmaalteorie van Luther. Rome sê dat wanneer die priester sê: “dit is My liggaam”, die ouel in die liggaam van Christus verander, en die wyn verander in die bloed van Christus. Luther sê dat wanneer die voorganger sê: “dit is my liggaam”, dan is die liggaam van Christus in die brood aanwesig. Christus is lyflik teenwoordig. Ons drink wyn, maar die bloed van Christus is in die wyn. Christus is dus liggaamlik aanwesig in die nagmaal. Calvyn het gesê dat dit nie moontlik is nie, maar Luther het by sy standpunt gebly en gesê dat Christus na sy Hemelvaart alomteenwoordig is en dus ook in brood en wyn is by die Nagmaal.

Daarteenoor staan die HK, vraag en antwoord 47 en 48. Dit word die extra-calvinisticum genoem. Christus is volledig mens in die hemel maar in sy Goddelike natuur is Hy orals aanwesig. Word die twee nature dan nie geskei nie? Die antwoord daarop word ook pragtig in die HK gegee.

Wat het die kerk met Nestorius en Eutiches gedoen? Nestorius is veroordeel tydens die konsilie van Efese (431) en nogmaals op die konsilie van Chalcedon (451), waar ook Eutiches veroordeel is. Daar is uitgespreek dat die twee nature van Christus ONVERMENG, ONVERANDER, ONGEDEEL, ONGESKEI is.

Onvermeng: teen Eutiches. Elke natuur behou sy selfstandigheid. Die mens is nie goddelik en God is nie 'n mens nie. God kan nie sterf nie, maar die mens wel.

Onverander: ook teen Eutiches - God het nie verander in ’n mens nie. Die mens het ook nie verander nie. Elke natuur behou sy eienskappe.

Ongedeel: teen Apollinaris (veroordeel te Chalcedon, 381) wat gesê het dat die Goddelike natuur in die plek van die menslike gees gekom het. Appollinaris het sodoende geloën dat Christus volkome mens is. Maar: die hele menslike natuur het met die hele Goddelike natuur verenig. Totale Goddelike en totale menslike natuur. Volkome God en volkome mens.

Ongeskei: teen Nestorius. Daar ontstaan nie twee persone nie: Een persoon, Een Christus.

3. Wat het die konsilie van chalcedon in 451 besluit?🔗

Hierdie konsilie het oor die vereniging van die nature in een Persoon ’n viervoudige negatiewe uitspraak gegee, viermaal NIE: nie vermeng, nie verander, nie gedeel en nie geskei nie. Oor hoe dit wel is, kan ons net die woord gebruik wat ook by ons drie-enige Here ter sprake gekom het: perichorese: soos die drie Persone in God mekaar deurdring, terwyl Elkeen sy eie selfstandigheid behou, deurdring die Goddelike en menslike natuur mekaar in Christus. Daarby behou elke natuur sy eie selfstandigheid.

Christus tree altyd as God en mens in een Persoon op. By die lees van die Bybel sê mense soms: kyk, hier sien jy Christus as God en daar is Hy tipies ’n mens. Daar is die goddelike en daar is die menslike natuur. Maar dan begin jy mèt Nestorius die nature skei. Christus het al sy werke in sy beide nature gedoen. Selfs in die graf was sy twee nature nie geskei nie. Die Goddelike natuur het die dood van die menslike natuur oorwin. Christus is nie maar opgewek nie, maar Hy het ook opgestaan deur sy Goddelike krag. Jy kan die twee nature nooit skei nie.

4. Deurbraak van pouslike hiërargie🔗

Al vroeg in Christus se kerk het die sonde van priesterhiërargie ingesluip. Een ouderling bo die ander ouderlinge (voorganger). Diakenamp is verander tot hulpie vir die ouderlinge. Tien kerke vorm saam ’n soort klassis, ’n diosese genoem. In so ’n diosese is daar ook weer ’n ‘hooffiguur’; diosese kom by mekaar in bisdomme waar ’n biskop die gesag gekry het. Hulle kom by mekaar in konsilies.

In 451 is dit al sover dat daar drie patriarge (owerstes oor ’n aantal bisdomme) is: in Rome, in Constantinopel en in Alexandrië, een in Wes, Oos en Suid. Hulle wil al drie die eerste wees; Leo I van Rome het sy kans op die konsilie van Chalcedon gesien. Hy het Nestorius, die patriarg van Constantinopel en Eutiches, die patriarg van Alexandrië in die ban gedoen en sigself ‘papa’, pous laat noem. Hy het probeer bewys dat Petrus in Rome gesterf het en dat hy die plaasvervanger van Petrus is. Gees en vlees werk in die kerkgeskiedenis dwars deur mekaar.

5. Skynbare teenstrydighede in die skrif?🔗

Wanneer ons Christus sien soos ons van Hom gelees het in die Geloofsbelydenis van Atanasius, in die NGB, HK en in 1 Tim 3, dan verstaan ons ’n aantal skynbare teenstrydighede in die Skrif. Die skynbare teenstrydighede word deur modernistiese teoloë aangegryp om die waarheid van die Skrif te loën.

Christus sê oor sy Wese in Joh 14:28: “Ek gaan na my Vader omdat my Vader groter is as Ek.” Hy is dus onderworpe aan die Vader. Hy is minder as die Vader. Maar: in Joh 10:30 sê Christus: “Ek en die Vader is Een” en in Joh 14:10: “Ek is in die Vader en die Vader is in My.” Hy is een met die Vader as Seun van God; Hy staan onder die Vader as Middelaar. In die vereniging van die twee nature staan Hy onder die Vader. As Hy wys op sy Seunskap sê Hy: die Vader en Ek is Een; as Hy wys op sy middelaarskap sê Hy: die Vader is groter as Ek.

Oor die kennis van Christus gaan dit in Luk 2:52: Christus het toegeneem in wysheid (sien ook vers 40) en Markus 13:32: van die dag en uur weet niemand, net die Vader alleen, maar in Joh 16:30 sê die dissipels: “nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat U iemand iets vra nie.” As Seun van God is Hy alwetend, in die middelaarsposisie is Hy nie alwetend nie.

Dit is skynbare teenstrydighede. Hoe ons dit met elkaar moet rym, dit weet ons nie. Hier staan ons aan die grense van ons kennis. Lees oor die posisie van Christus Kol 1 : 15 en 16.

Christus is die Eersgeborene van die skepping (as Middelaar), in Hom is alle dinge geskape (Seun van God). Joh 1:3: Alle dinge het deur Hom ontstaan en sonder Hom het geen ding ontstaan nie. Hy is Skepper (Goddelike natuur) en geskapene (menslike natuur).

In Joh 2:19 sê Christus oor sy lyde: Breek hierdie tempel af en in drie dae bou Ek hom op. Dit sê Hy van sy liggaam! Dit is menslik, sterflik. Hy bou sy liggaam self in drie dae deur Goddelike krag weer op.

Christus se aanwesigheid in hierdie wêreld: Matt 28:20. Hy is met ons, Hy wyk nie van ons nie! Joh 16:17: “Dit is vir u voordelig dat Ek weggaan - Ek gaan om ’n plek te berei.”

Nog ’n skynbare teenstrydigheid. As Seun van God is Christus altyd met ons, maar na sy menslike natuur is Hy in die hemel. Die Skrif wil duidelik maak: sien Christus as Seun van God een met die Vader en sien Hom in sy menslike natuur, wat Hy daarby geneem het, gekom, as God-en mens-in-een-Persoon om die wil van die Vader te doen.

6. Grense van ons kennis🔗

Ons staan hier voor die grense van ons kennis en ons moet nie daaroorheen stap nie. Ons moet nie ondersoek wat God ons nie gegee het om te ondersoek nie. Ons moet net glo! Glo in God, glo ook in My, sê Christus. Aanvaar My, Ek is jou Redder en Heiland.

7. Dit alles lei tot die lof van sy naam🔗

Dit alles is vir ons geopenbaar om te kom tot lof van sy Naam. Hy is volkome God en volkome regverdige mens. Die twee nature deurdring in die een Persoon. Christus sit vandag as God en mens in een Persoon aan die regterhand van die Vader en ons sal Hom sien kom soos Hy opgevaar het. Dit is die wonder van die vermenging van die twee nature. So moet Hy wees volgens die Vrederaad van God. God geopenbaar in die vlees, God kom tot verlossing.

Lees weer 1 Tim 3:16. Daar is ses spreuke oor die Christus, dit is ’n ou geloofsbelydenis:

  1. God is geopenbaar in die vlees (aarde).
  2. Geregverdig in die Gees (hemel).
  3. Het verskyn aan engele (hemel).
  4. Is verkondig onder die heidene (aarde).
  5. Is geglo in die wêreld (aarde).
  6. Is opgeneem in heerlikheid (hemel).
  7. God is geopenbaar in die vlees. Kort weergawe van die proloog in Johannes. God het vlees geword en het onder ons gewoon.
  8. Geregverdig in die Gees. Rom 8:11 - die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het. Christus het opgestaan, die Gees het Hom ook opgewek. Waarom? Omdat die Gees wil kom getuig: dit is volbring! Die Gees sê: Ek roep die Here Jesus uit die graf uit - Hy het dit daadwerklik volbring. Geregverdig deur die Gees. Wanneer die Gees sê dat Christus se werk voldoende is, wat is ons dan om iets anders te sê? Kaïn het in hierdie opsig die eerste growwe leuen vertel: my sonde is so groot dit kan nie vergewe word nie. Christus is geregverdig deur die Gees. Wie is ons om daaraan te twyfel en te dink dat Christus se werk nie voldoende was nie? Maar, Christus is geregverdig deur die Gees. Ons word geregverdig deur dieselfde Gees.
  9. Het verskyn aan engele. Paasevangelie! Die klip is deur die engele afgerol - dit kon Christus self ook gedoen het, maar die engele verrig deurwagterdiens. Matt 4:11: die engele het Hom gedien.
  10. Is verkondig onder die heidene. Die evangelie is verkondig aan die heidene wat sedert Abraham aan hulle lot oorgelaat is. Die heidene het wonderlik tot geloof gekom. Christus se werk is wêreldwyd. Die heil is vir alle volke.
  11. Is geglo in die wêreld. Die God-vyandige wêreld het in Hom geglo. God het klipharte verander in vleesharte sê Eségiël. Kyk na die hele geskiedenis vanaf Adam. Christus het die wêreld onder sy knie gekry. Hy heers deur Woord en Gees, van land tot land, van volk tot volk. Hy het hulle uit die greep van satan gehaal.
  12. Opgeneem in heerlikheid, vanwaar ons Hom verwag as Hy kom op die wolke van die hemel. In vers 15 staan hoe ons gedrag in die huis van God moet wees. Vers 16 verklaar dit: Jou lewe is lof.

Verder in Tim 3 gaan dit oor die pligte van die ampsdraers. Nie om tot tirannie en oorheersing te kom nie, maar om te dien, sodat die gemeente al hoe intenser kom tot lof van God.

In die lof gaan die hemel voor. Christus, God en mens in een Persoon, is waardig om die boek van die geskiedenis uit die regterhand van die Vader te neem en sy seëls oop te breek. Aan die kruis verwerf Hy die voortgang van die geskiedenis van die heil. Nou word by die hemelvaart Daniël 7 vervul. Hy neem die boek en breek die seëls oop. Hy heers.

Wat is die reaksie in die hemel? Lofgesang (Openb 5:9-14). Die lof, waarin die hemel voorgaan, bestaan op aarde ook uit die volg en dien van Hom, wat die Koning van die konings en die Here van die here is (Openb 19:11-16). Wie sy regering nie gehoorsaam eerbiedig nie, word deur sy ysterstaf verpletter (Openb 19:15; vergelyk Ps 2:9). Wie Hom gehoorsaam volg, sal ondervind dat dit wèl sal wees onder sy Koningskap.