5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Groot Skeiding

twee groepe mense🔗

Moeilike Vrae🔗

Die skeiding tussen mense na die laaste oordeelsdag, die tweërlei afloop van mense se lewens, is iets wat nog gereeld in gesprekke na vore kom. Die uiteinde van ’n mens se lewe na gelang van die pad waarlangs iemand gegaan het, die smal pad of die breë pad (Matt. 7:13, 14), is en bly 'n moeilike onderwerp, maar een waaraan ons nie kan verbygaan nie.1

Baie mense het, om verskillende redes, al hoe meer moeite met wat die kerk al eeue hieroor leer. Een van die redes is dat die wêreld vir ons oopgegaan het en dat 'n groter aantal mense nou binne ons gesigsveld is. Sou die miljoene wat in hierdie aardse lewe alreeds ellendig daaraan toe is, in die buitenste duisternis verdwyn? Hierbenewens vind ons die ongeloof ook in die kring waarin ons self beweeg. Ons gaan met mense om wat ons waardeer, maar wat laat blyk het dat hulle nie glo nie. Dit is makliker om te beaam dat ongelowiges in die algemeen verlore gaan as om dit konkreet te maak en te sê: dié en dié gaan verlore as hulle ongelowig bly.2

Die universalisme wen ook veld in die teologie. Daarmee word nie net die leer van die algemene versoening (almal  kan behou word) bedoel nie, maar ook die leer van die alversoening (almal sal behou word). Daar is teoloë wat nooit vroeër (altans nie sonder meer nie) hierdie tweede vorm van universalisme sou verdedig nie, maar wat dit nou wel doen. Dit hang dikwels saam met 'n ander opvatting oor hoe swaar die sonde van die mens is en oor die erns van God se gerig.

Die onderwerp is ook van belang omdat dit nie op sy eie staan nie. Dis nie verskille van mindere betekenis nie, dat die een aanneem dat daar 'n ewige straf is en die ander nie; dat die een wil sê dat hierdie lewe vir iemand hel kan wees en van 'n hel in die hiernamaals niks wil weet nie, terwyl 'n ander by wat die Skrif oor die ewige verderf sê, vasstaan.

Wat is die leer van die kerk? Daar is reeds voor die tyd van die Reformasie oor die eindgerig en die finale en volstrekte skeiding, uitsprake gedoen. Al was daar soms afwykende menings, hou Rome aan die tradisie vas. Tot en met die laaste amptelike leerboek van Rome, die Kategismus van die Katolieke Kerk, wat in 1992 deur die pous goedgekeur is, was daar nie net van die hemel en die vaevuur sprake nie, maar ook van die hel.

Net soos die Augsburgse Konfessie (1530) (die belangrikste belydenisskrif van die Lutherse Kerke), praat die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 37 oor die teenstelling tussen wat die vromes en uitverkorenes kan verwag en wat die ongelowiges te wagte is. Die Heidelbergse Kategismus gaan nie breedvoerig daarop in nie, maar die bewoording van Sondag 19 (waarin die uitverkorenes en die vyande van God teenoor mekaar gestel word), is duidelik genoeg. In Sondag 7 word die alversoening in duidelike taal afgewys: “Word alle mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?” Die antwoord is: “Nee, maar slegs dié wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem”.

ʼn Leer Waarteen Beswaar Gemaak Word🔗

Daar word in ons tyd verskillende psigologiese en teologiese besware ingebring teen die leer dat een deel van die mensheid die ewige lewe ontvang, maar 'n ander deel tesame met die gevalle engele, die ewige straf. Daar het 'n klimaat ontstaan waarin hierdie bedenkinge meer kenbaar gemaak word as vroeër, hoewel hulle lank reeds bestaan.

iemand verdrink

Ons noem 'n paar:

1. Dit is psigologies ondenkbaar. Die ewige saligheid sal deur medelye met die verlorenes versteur word.

2. Dit is in stryd met die liefde van God.

3. In die lig van die triomf van God se genade in Christus, wat objektief vasstaan en universele geldingskrag het, is verlore gaan 'n ‘onmoontlike moontlikheid’ (K. Barth).

4. Dit is nie regverdig dat op die sonde, wat 'n tydelike en beperkte karakter dra, 'n ewige straf volg nie.

5. Die woord ‘ewig’ beteken nie altyd eindeloos nie, want dit kan in die Bybel ook 'n lang tyd aandui.

6. Benewens Skrifwoorde wat daarop blyk te wys dat daar naas 'n ewige saligheid ook 'n ewige rampsaligheid is, is daar ook tekste waarop mens jou vir 'n universele heil kan beroep.3

  • Die eerste beswaar lyk sterker as wat dit is. Ons gevoelens kan nooit die deurslag gee nie. Die innerlike lewe van die verloste mense sal geheel ooreenstem met dit wat God se wil is, sodat hulle gevoelens nie in opstand sal kom nie, maar hulle sal dit sien soos God dit sien.
     
  • God is liefde. Maar dit beteken nie dat Hy nie 'n oordeel kan uitspreek nie. Daar word tereg op gewys dat juis die Here Jesus Christus, in wie die liefde van God verpersoonlik is, herhaaldelik en met nadruk oor die ewige oordeel gepraat het. Hy het die kinders van die koninkryk gewaarsku oor die buitenste duisternis (Matt. 8:12). In sy verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring het Hy gesê: "die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk  bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,  en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor" Matt. 13:41-43.

    God se liefde is 'n heilige liefde. Omdat God liefde is en omdat Hy wil dat sy liefde deur ons beantwoord word, kan Hy nie verdra dat sy liefde versmaai word nie. En mense kan hulle daaraan skuldig maak as hulle vir Hom bly nee sê. Dan moet hulle bevrees wees vir Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam (Openb. 6:16).

  • By die opvatting van K. Barth het die gevolge van ongeloof verdwyn, omdat die genade van God in Christus getriomfeer het. Sy ja is sterker as enige nee. Die goddelose sal nie die roede van die goddelike toorn vryspring nie, maar dit word nie verwag dat hulle met die swaard van God getref sal word nie. Hierteenoor moet ons vashou dat die Woord van God sê: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36).

    Die Switserse teoloog E. Brunner, wat Barth bestry het, het die beeld gebruik van 'n storm op see, waarin mense skynbaar besig is om te vergaan. In werklikheid is die water egter te vlak om daarin te verdrink, maar die mense weet dit nie.4

  • Is die ewige straf regverdig? Daaroor kan ons nie besluit nie. Die geregtigheid van God kan nie met ons maatstawwe gemeet word nie. Die apostel Paulus sê: “Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie!” (Rom. 9:14).

    Dit word dikwels gestel dat die geregtigheid of regverdigheid van God net heil bring. Dit is waar dat geregtigheid en heil in talle plekke in die Bybel nou met mekaar verbonde is, maar tog is daar ook vergeldende en straffende geregtigheid. Psalm 7:12 kan nie anders uitgelê word nie. Dieselfde geld vir Jesaja 5:16, Romeine 2:5-8 en ander Skrifwoorde.5

  • Is die ewige straf werklik ewig? Dié vraag is van groot belang.

    Die woord ‘ewig’ het nie in die Bybel altyd dieselfde betekenis nie. Dit gaan soms nie oor 'n tyd of toestand wat God eindeloos laat voortduur, sonder dat Hy iets anders daarop laat volg nie. In sulke situasies moet dit egter uit die konteks van die teks vasgestel kan word.

    Ook hulle wat nie glo dat die lewe vir sommige op ewige straf sal uitloop nie, kan nie ontken dat daar Skrifwoorde, soos Daniël 12:2 en Matteus 25:46, is wat daarvan praat nie.

    Die opvatting dat ‘ewige straf’ nie hier die teenstelling van ‘ewige lewe’ is nie, omdat daar dan ‘ewige dood’ sou moes staan, is eweneens onhoudbaar. Daar is nie 'n wesenlike verskil tussen die ewige straf en die ewige dood nie. Die verderf waaroor ons gewaarsku word, is 'n ewige verderf (2 Tess. 1:8, 9; Openb. 14:9-11). Volgens die woorde van Paulus bestaan die verderf in die verwyderd wees van die aangesig van die Here en van sy heerlikheid. Dit is die verlenging van 'n aardse lewe sonder God, vervreemd van die lewe van God (Ef. 4:18).

  • Daar is wel tekste wat universalisties klink, maar absolute universalisme word nie daarin geleer nie. Diegene wat die leer van alversoening, wat ook as die herstel van alle dinge aangedui word, bepleit, beroep hulle nog altyd op Skrifgedeeltes waarin woorde en uitdrukkings soos ‘alle’ (alle mense), ‘alle dinge’ en ‘die hele wêreld’ opvallend voorkom, maar die woord ‘alle’ dui nie in die konteks altyd op alle mense, kop vir kop, nie. Die ‘hele wêreld’ is ook nie oral die geheel van die mensewêreld waarvan ons almal, sonder uitsondering, deel is nie.

klok

In Romeine 5:18 lees ons: “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe”. Baie mense wil aan ‘alle mense’, op die twee plekke waar dit voorkom, dieselfde betekenis heg: alle mense sonder onderskeid.  Die eerste keer word al die nakomelinge van Adam bedoel, soos uit 'n vergelyking met Romeine 5:12 blyk. Die tweede keer praat Paulus egter oor hulle wat die regverdiging tot die lewe of die gawe van geregtigheid (Rom. 5:17) ontvang. Dit is die geregtigheid uit genade en deur die geloof (Rom. 3:21-30). ‘Alle mense’ is dus eers 'n aanduiding van almal wat by Adam inbegrepe is, en dan van almal wat in Christus is. Die eerste ‘alle mense’ het op die hele ou mensheid betrekking en die tweede ‘alle mense’ op die nuwe mensheid. Dit gaan nie oor 'n beginsel van ‘almal sonder onderskeid’ nie, maar oor die reël: almal deur één, wat by die beskikking van God berus.

Romeine 11:32 lui: “Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees”. Die ontferming van God is allesomvattend, nie alleen vir die Jode nie, maar ook vir die heidene, wat eers ongehoorsaam was. Noudat Israel as volk die pad van ongehoorsaamheid ingeslaan het en baie uit die heidendom tot geloof gekom het, bly die ontferming van God bestaan, nie alleen vir die heidene nie, maar ook vir die Jode. God wil die behoud van hulle almal. Hiermee sê die apostel egter nie dat alle Jode en alle heidene ook persoonlik in die heil sal deel nie.

In 1 Korintiërs 15:28 staan die woorde: “sodat God alles in almal kan wees”. Dit is een van die tekste waarop Originés (oorlede 253/254) sy leer van die alversoening (apokatastasis pantoon, of die herstel van alle dinge) gebou het. Die vertaling  ‘almal’ in dié teks staan nie vas nie. Is dit ‘almal’ of ‘alles’? Hoe 'n mens ook die Griekse woord weergee — as 'n volstrekte heerskappy (in almal) of 'n volkome harmonie (in alles) — kan daar nie 'n bewys van alversoening van gemaak word nie, want dan sou Paulus homself weerspreek. Hy het immers in hierdie brief gewys op die teenstelling tussen hulle wat behou word en hulle wat verlore gaan. Dit is die gelowiges wat gered word (1 Kor. 1:18:8-21).

Uit die geskrifte van Johannes word dikwels aangehaal dat Christus nie alleen vir óns sondes 'n versoening is nie, maar ook vir dié van die hele wêreld (1 Joh. 2:2). Dit wil egter sê dat die versoening nie net vir die direkte kring van dissipels wat met Hom omgegaan het (1 Joh. 1:1-3) bestem is nie, maar dat dit baie verder strek. Die werk van Christus het universele betekenis. Dit gaan oor die hele wêreld. Die evangelie van versoening is vir iedereen.

Loutering, of Vernietiging?🔗

Sommige teoloë erken wel dat daar in die Skrif oor die groot skeiding gepraat word, maar meen dat die laaste woord nie daarmee gespreek is nie. Naas verskeie tekste in Matteus en 'n woord oor die ewige verderf by Paulus, is daar by Paulus en Johannes uitsprake wat nadruklik 'n heilstoekoms vir ‘almal’ open. Die twee reekse tekste kan nie tot mekaar herlei word nie en  'n mens moet hulle opeenvolgend stel, sodat alles op die tweede reeks uitloop. ‘Die duisternis van verwerping en godverlatenheid kan en mag nie weggeredeneer word nie, maar kan en mag ewemin verewig word. In Gods naam hoop ons dat die hel 'n louteringsweg sal wees’.6

begrafplaas

Die gedagte van loutering en die idee van 'n tweede kans na die dood kom in ons tyd weer dikwels na vore. Ons vind egter nie in die Bybel 'n enkele aanduiding dat daar ná hierdie lewe nog 'n moontlikheid is om tot geloof en bekering te kom nie. Dit is van ewige belang of ons op hierdie aarde glo, al dan nie.

Volgens 'n ander opvatting, wat wel ouer is, maar wat opnuut verdedig word, sal daar eenmaal geen ongelowiges meer wees nie — nie omdat hulle uiteindelik nog sal glo en behou word nie, maar omdat hulle vernietig word. Vir hulle is dit met die dood alles verby, want daarna sal hulle nie meer bestaan nie. Só wys J. Verkuyl sowel die leer van die ewige straf as die leer van die alversoening af, maar noem die gedagte van ‘annihilasie’, ʼn vernietiging van al wat in blywende verset teen die liefde en genade van God is, nie ydele spekulasie nie, maar 'n moontlikheid wat uit die Bybel ter sprake kom.7 Enkele skrywers wat tot die evangeliese beweging gereken kan word, soos J. Stott, is ook oop vir die idee van die vernietiging van die ongelowiges.8

'n Mens kan egter nie 'n Bybelse grond vir hierdie voorstelling vind nie. Dit is eweneens nie in ooreenstemming met die woorde oor die ewige straf en die ewige verderf, wat, hoe moeilik ook al, nie buite beskouing gelaat mag word nie.

Die Rampsaligheid🔗

Die ewige lewe en ewige straf en die saligheid en rampsaligheid staan teenoor mekaar. Daar is 'n hemel en daar is 'n hel.

Die Bybel gebruik verskillende beelde om ons 'n indruk te gee van die erns van die finaliteit van die voltrekking van die oordeel van God in die hel. Die onuitbluslike vuur (Mark. 9:48) dui op ondergang deur die toorn van God; die buitenste duisternis (Matt. 8:12) is die teken van godverlatenheid; die ‘buite wees’ (Openb. 22:15) gee uitdrukking aan die uitsluiting van die gemeenskap met God en sy volk; en die gekners van tande (Matt. 13:42) dui op wroeging en selfverwyt.

vuur

Wanneer dit oor die rampsaligheid gaan, betaam dit ons om versigtig en beskroomd te wees.9 Hoe sou ons trouens 'n voorstelling van die hel kon vorm? In die Middeleeue het die digter Dante op 'n merkwaardige manier oor die hel geskryf (Inferno) en so ook die teoloog K. Schilder in die twintigste eeu. Wie die hel ingaan, sê Dante, moet alle hoop laat vaar. Ons laat die fantasieë oor die nege afdelings  van die hel van Dante vir sy rekening, maar die verband tussen sonde en straf is wel 'n Bybelse element: ook in die hel is nie alles vir almal dieselfde nie10 (lees ook Matt. 11:24; Luk. 10:12).

Volgens G. C. Berkouwer kom ons voortdurend in die Nuwe Testament 'n oënskynlike ultimatum, wat onlosmaaklik met die verkondiging verbonde is, teë.11

As hy hiermee bedoel dat die Bybel nie neutrale inligting oor die hel gee nie, het hy gelyk. Jesus het nie 'n ‘objektiewe’ antwoord gegee op die vraag “is die wat gered word, min?” nie. Hy antwoord : “Stry hard om in te gaan deur die nou poort” en voeg dan nog 'n waarskuwing daarby (Luk. 13:23-30).

Die ewige oordeel is wel nie 'n selfstandige tema vir die prediking nie, maar tog mag dit nie verswyg word nie. Die Woord van God waarsku ons nie verniet nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Lees ook B. Wentsel, Dogmatiek, 3b, Kampen 1991, 658-696.
  2. ^ O. Jager, Een tijd van twijfel, Kampen 1977, pp. 105-115.
  3. ^ Dit word breedvoeriger bespreek in J. Van Genderen en W. H. Velema, BGD, pp. 786-790.
  4. ^ E. Brunner, Die christliche Lehre von Gott, Zürich 1946, p. 379.
  5. ^ Lees ook J. W. Maris, ‘De toorn van God – bijbelse realiteit’ in J. W. Maris en F. Van der Pol, De zonde uit beeld, Barneveld 1944, pp. 99-111.
  6. ^ H. Berkhof, CG, pp. 519-521.
  7. ^ J. Verkuyl, De kern van het christelijk geloof, Kampen 1992, pp. 456-459.
  8. ^ Vgl. D. G. Moore, The Battle for Hell, Londen 1995.
  9. ^ J. Hoek, ‘Hemel en hel, kan dat nog wel?’, in A. G. Knevel (red.), Hemel of hel, Kampen 1991, pp. 9-16.
  10. ^ Vgl. K. Schilder, Wat is de hel? Kampen 1932, pp. 124-154.
  11. ^ G. C. Berkouwer, De wederkomst van Christus, II, Kampen 1963, pp. 222 e.v.