Bron: Kerk en Woord, 1995. 2 bladsye.

Die Handdruk aan die Dominee

hand gee

In die Geref. kerke in Suid-Afrika is ons gemeente die enigste wat die gebruik het dat die diensdoende ouderling aan die predikant ’n handdruk gee net voordat hy die preekstoel bestyg en net nadat hy van die preekstoel afgeklim het.

Volgens ds. G van Rongen in sy boek oor die liturgie, “Zijn schone dienst”, was hierdie gebruik al vóór die Afskeiding van 1834 bekend. Waarom dit egter ingevoer is, is ’n ope vraag.

Ds. van Rongen verklaar die gebruik so: Daar is verskil tussen die twee handdrukke hoewel dit glad nie te sien is nie. Wanneer die ouderling die dominee die kansel op lei en dan ’n hand gee, kan dit nie anders beteken nie as dat hy met daardie gebaar weereens duidelik maak – sowel aan die voorganger as aan die hele gemeente dat die prediker tot daardie werk die outoriteit verleen word. Hy gaan nie op eie gesag die preekstoel op nie. Bediening van die Woord en sakrament, voorgaan in die gebede, lesing van die Wet en belydenis, gebeur alles in naam van die kerkraad van die gemeente, en so in opdrag van die Koning van die kerk, ons Here Jesus Christus.

Hierdie gebaar het dus niks te doen met ’n soort “sterkte toewensing” nie. Die ouderling wat die dominee so iets toefluister – of iets soos “seep” – kan dit maar liewers nalaat.

Hierteen kan nou aangevoer word dat die predikant tog nie elke Sondag vóór elkeen van die twee dienste as’t ware opnuut bevestig word nie. Daar kan gesê word dat dit tog sonder meer uit die bevestigingseremonie duidelik is dat die predikant voortaan in opdrag van die kerkraad en kragtens wettige “ordening” sy werk gaan doen, ook in die erediens. Indien nodig kan die beroepsbrief – of as dit ’n dominee van elders betref, die uitnodigingsbrief – te berde gebring word.

Tog meen ons dat daar niks op teë is om deur middel van die handdruk vóór die diens by herhaling aan elkeen wat betrokke is duidelik te maak dat hier ’n mandaat gegee word, ’n opdrag van die kerkraad, wat in gehoorsaamheid aan Christus handel. Waarom sou dit nie nogeens sigbaar tot uitdrukking gebring mag word nie?

Die tweede handdruk, na die beëindiging van die diens, is ietwat van ’n ander aard. Die voorganger het dan sy werk afgehandel. Nou is daar alle rede om teenoor hom – en ook die gemeente – duidelik te maak dat hy sy werk na behore gedoen het. Hierdie tweede handdruk is dus ’n betuiging van instemming, al kan daar beswaarlik gesê word dat met elke woord, elke gebaar of elke gedagte saamgestem word.

As laasgenoemde die geval sou wees, sou dit uitloop op ’n “vertoning” en dan sou veral die “liewe jeug” sit en wag om te sien of die “diensdoende ouderling” dit dalk nie met alles eens kon wees nie. Dit sou na elke preek ’n bepaalde spanning bring, maar hierdie spanning sou nie vanpas wees nie.

In hierdie tweede handdruk word dus nie net gesê dat die predikant in opdrag handel nie, maar selfs nog iets meer as in die eerste, nl. dat hy kragtens die mandaat gehandel het.

meerdere hande

Ons sou nog verder kan gaan. Die tweede handdruk is soms ook genoem “die hand van gemeenskap”. Dit is ’n goeie benaming. Want met dié handdruk laat die kerkraad sien dat hy gemeenskap wil hê met die werk wat die dominee gedoen het, ja, dat hy dit steun en dat die werk van die hele kerkraad daarmee in ooreenstemming wil wees. Egter ook die omgekeerde, is waar, nl. dat die werk wat die dominee in dié bepaalde diens verrig het in lyn is met alle ouderlingwerk wat in die gemeente verrig word. Ja, uit die kerklike dokumente van die jare 1886 oor die Doleansie is dit duidelik dat dit die gebruik was dat alle kerkraadslede na die diens aan die dominee die “hand van gemeenskap” gegee het.

Ds. van Rongen sluit af deur te sê: “Wij zouden het helemaal niet vreemd vinden wanneer dit gebruik – dat alle kerkraadsleden de dominee de hand geven (ND) algemeen werd ingevoerd. Maar dan met deze beperking, dat alleen de ouderlingen de voorganger de hand reiken. Het ambt der diakenen is een ander”.

Dit spreek vanself dat beide simboliese handelinge vir die gemeente goed sigbaar moet wees.

Waar ons as kerkraad tans oor die handelinge by die erediens besin, en dit herhaaldelik geblyk het dat byna niemand weet waar die bekende handdruk voor en na die diens vandaan kom nie, het ek gemeen dat dit goed is om hierdie stukkie oor ’n ou gebruik uit die kerkgeskiedenis op te haal.

Miskien help dit dat daardie simboliese handeling ook ons instemming as gemeente met wat ons van die kansel af gehoor het uitdruk.