Die Heilige Gees en die prediking
Die Heilige Gees en die prediking
“Heeft preken nog zin?”. Dit is die vraag van ‘n Nederlandse teoloog (dr. K. Runia) aan die begin van die tagtigerjare in die vorige eeu. Hiermee het hy maar net ‘n vraag verwoord wat in so baie mense se harte geleef het en vandag steeds (dalk toenemend?) leef. Runia vra die vraag in ‘n tyd waarin juis veel aandag gegee is - in gereformeerde kerke in Suid-Afrika en Europa - aan die werk van die Heilige Gees. Onder andere a.g.v. die invloed van die opkomende Charismatiese beweging en Pinksterkerke, is al hoe meer kritiese vrae gevra na die aard van die prediking. Selfs na die sin en noodsaaklikheid daarvan. Die prediking word dan heel maklik geminimaliseer en selfs as iets “ongeestelik” gesien.
Die apostel Paulus, daarteenoor, sien geen teenstelling tussen die werk van die Gees en die verkondiging van die evangelie nie (2 Kor. 3 : 7 – 8). En dan nie verkondiging as ‘n gesprek waarin die hoorder ‘n eie selfstandige bydrae kom gee nie. Onder verkondiging verstaan die apostel tog heel duidelik die bediening van die versoening in Christus. Met effens ander woorde gesê – die uitdeel van dit wat Christus vir ons verwerf het deur sy sterwe aan die kruis. In sy eerste brief aan dieselfde gemeente in Korinte, wys hy juis op die krag van sy prediking. Hy verkondig Christus (1 Kor. 1 : 23). Dit is werklik ‘n krag van God. Oor die sin van die prediking kan daar alleen vrae kom, wanneer dit nie meer Christus is wat verkondig word nie. Is die wysheid van God dan nie juis dat Hy besluit het om deur die prediking die wat glo, te red nie ( 1 Kor. 1 : 17-18, 21b)?
Die eggo van die apostoliese woorde uit 1 en 2 Korintiërs hoor ons in Sondag 25 van die Heidelbergse Kategismus. Nadat in die voorafgaande Sondae (23 – 24) gekyk is na die geweldige betekenis van ons geloof in Christus, word die vraag dan gevra (vr. 65) : “Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ‘n geloof dan vandaan? ‘n Heel belangrike vraag!! Geloof is nie iets wat die mens uit homself het nie. Dit is nie iets wat die mens homself van oortuig of van wysmaak nie. Geloof is tog immers ‘n vaste vertroue op Christus en sy volmaakte werk. Hierdie geloof is ‘n geskenk van die Gees van God ewe veel as wat Christus ‘n geskenk aan die kruis was (Ef. 2: 1-10). Ons verlossing is tog van begin tot einde uit genade alleen. Maar hoe skenk die Gees aan ons hierdie geloof? Dan is die antwoord van Sondag 25 skitterend in die eenvoud en skriftuurlikheid daarvan! : “Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die evangelie”.
Preekwerk is die werk van die Gees van God. ‘n Ware “charismatiese kerk”, m.a.w. ‘n kerk wat wil leef vanuit die genade-en Geestesgawes van die Here, sal weer moet leer om van die prediking van die evangelie te leef. Geloof kom deur die “gehoor” (Rom. 10 : 17) van die evangelie. Dit moet wel die verkondiging van die evangelie van vrede / verlossing wees (Rom. 10:15). Paulus noem dit die verkondiging van “Christus wat gekruisig is” wat tegelyk dwaasheid vir die Jode is. Teenoor die Jode wat nog so graag iets aan hulle eie verlossing wou doen en daarom die genade en geregtigheid van God verwerp het, stel Paulus die lieflike klank van die voete van hulle wat die evangelie verkondig (Rom. 9 : 31 – 10 : 4). Die Jode wou, deur besig te wees met die vashou aan hul eie geregtigheid, hulle nie in geloof onderwerp aan die “steen van aanstoot” nie.
Dat geloof ‘n gawe van God is, kom juis na vore wanneer ons verstaan dat die geloof uitgedeel word deur die prediking. Hoe dikwels sit en worstel mense met die gedagte dat geloof tog op een of ander manier weer hulle “bydrae” moet wees in antwoord op die werk van Christus. Maar geloof is geen “bydrae” nie! Geloof neem in ontvangs wat die Here uitdeel. Die afname in die waardering van die prediking loop daarom parallel met die verval in die lewe vanuit die genade van die Here. Dít is die krisis van die prediking vandag – die krisis van die verdwyning van die lewe uit genade alleen.
Verbaas dit ons dan nog dat in die Nederlandse Geloofsbelydenis die belang van die ware prediking ter sprake kom as die belangrikste kenmerk van die ware kerk van Christus?! Die eerste kenmerk van die gemeente van Christus is “wanneer die kerk die evangelie suiwer preek”. Daarmee bely ons nie dat die kerk soos in die Lutherse en Metodistiese teologie, ‘n plek is waar daar gepreek word so seker soos wat daar gesing word by ‘n musiekkonsert nie. Dit gaan nie oor ‘n “preekkerk” teenoor” ‘n “biddende kerk” of “singende kerk” nie. Biddend en singend, moet die kerk ook wees as daar sprake is van lewende geloof en ware prediking! Sonder meer! Maar dit gaan hier oor die onderskeid van die kerk van Christus, met allerlei sektes wat die pretensie het om gemeente van Christus te wees.
Die rigting van die belydenis is heel duidelik wanneer ons in die laaste sin van Artikel 29 hoor dat die ware en valse kerk maklik van mekaar onderskei kan word. Dit is inderdaad maklik, omdat die evangelie maklik te onderskei is van alles wat daarteenoor veg om die harte van die lewende lidmate van Christus se kerk. Omdat die evangelie ‘n skynende lig is in die donkerte van ons sondige lewens, kan dit heel helder en duidelik gesien word. Maarten Luther (in onderskeid tot talle van sy latere “leerlinge”) het uitgeroep dat ‘n kind van agt jaar oud die ware kerk van Christus kan onderskei van alles met ‘n valse pretensie. En dit kan, want ‘n kind van agt kan die verkondiging van die bevrydende evangelie onderskei van alle namaaksels op die kerklike “markte” van vandag.
As gereformeerdes glo ons dat die werk van die Gees onafskeibaar verbind is aan die prediking van die evangelie. Dit is die wysheid van die Gees wat deur die prediking van die heilige evangelie geloof in ons harte wil werk en dit is ewe veel die Gees wat daardie geloof wil versterk deur die gebruik van die heilige sakramente (vgl. H.K. Sondag 25). Dit beteken nie dat die Gees aan die preekstoel alleen verbind is nie. Gelukkig nie! Ook gemeentelede kan gelukkig die Woord lees en verstaan. Dit is juis wanneer gewone gemeentelede weer self die Woord sal gaan lees en alle valse prediking herken vir wat dit is, dat daar herstel van die kerk van Christus kan kom. Ons hoef nie die werk van die Gees te gaan “veramptelik” asof slegs die predikant beskik oor die Gees nie.
Die Gees wil in sy werk in die gemeente Hom nie in die eerste plek aan persone verbind nie, maar aan sy Woord. Dit is dan ook die enigste gesag wat ‘n predikant (of ouderling of diaken) het…die gesag van die Skrif. Indien die evangelie nie verkondig word nie, is die ampsdraer sy amp nie waardig nie. Teen hierdie agtergrond moet ons dan ook die weerstand van ons belydenis verstaan teen die gebruik van “stom beelde” as “boeke van die leke” in die Roomse eredienste. Vanwaar die weerstand teen die stom beelde? Uit die besef en geloof dat God “sy christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig” (H.K. Sondag 35 vr. en antw. 98).