Bron: Waarheid en Dwaling. 8 bladsye.

'Die Heilige Gees en Ons'

Die opskrif van hierdie artikel kom uit Handelinge 15. Die hoofstuk handel oor 'n kerklike byeenkoms in Jerusalem. Waarom is hierdie vergadering gehou? Watter samekoms was dit? Hoe het die vergadering tot sy besluit gekom? Waarom mog die broeders uitspreek: 'Die Heilige Gees en ons het besluit' (vers 28)?

Watter betekenis het die besluitvorming in Jerusalem se samekoms vir die kerk van alle lande en tye? Mag ons vandag nog sê: 'Die Heilige Gees en ons het besluit'? Kom ons bespreek eers hierdie vrae agtereenvolgend. In aansluiting hierby volg die beantwoording van die vraag in die vet gedrukte deel onder die opskrif.

Die Middelmuur … Afgebreek🔗

Die Here vergader sy kerk sedert die roeping van Abram net in die volk wat uit Abraham voortkom. Israel is sy enigste verbonds- en kerkvolk. God rig 'n middelmuur op, 'n muur wat skeiding maak tussen Israel en al die ander nasies in die wêreld. Hy straf die volke na hulle toringbou in Babel en laat toe 'dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel'1 'Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie.' 2 Die Here stuur die nasies na die toringbou in Babel die wye wêreld in, sonder sy lewend makende Woord.

Die skeiding tussen Israel en die nasies bly vanaf die roeping van Abram baie langer as 'n millennium voortbestaan.3 Die toestand verander met die uitstorting van die Heilige Gees op 'n slag. 'n 'Nuwe tyd' breek aan. Christus breek die middelmuur van skeiding af.4 Die evangelie gaan van Jerusa­lem uit na Judea, na Samaria en na die uiterste van die aarde.5 Die Pinkster-kerk word sendingkerk. Ons, afkomstig van heidense voorgeslagte, mag in die nuwe bedeling lede van Christus se liggaam wees. Ons is in vergelyking met ons ongelowige voorouers onuitspreeklik bevoorreg.

Die gemeente in die Siriese stad Antiochië is die eerste Christelike kerk met groot getalle lidmate van Joodse en heidense afkoms.6 Hierdie kerk stuur Paulus en Barnabas uit om sendingwerk te verrig. Na hulle terugkeer van die eerste sendingreis ontstaan daar 'n kerklike probleem…

Kerkstryd in Antiochië🔗

Handelinge 15 begin met die mededeling dat enkele Judese broeders in Antiochië leer: As die Christene van heidense afkoms nie besny word nie, kan hulle nie gered word nie (vers 1). Die pad na Christus loop volgens die Judese broeders via die onderhouding van die seremoniële wette van Moses.

Paulus en Barnabas weerstaan hulle (vers 2). Hulle verkondig: Die seremonies en heenwysings van die Ou-Testamentiese wet het met die koms van Christus opgehou; alle voorafskaduwing van die Heiland het na sy koms in die wêreld tot 'n einde gekom. 7 Daar ontbrand 'n hewige kerkstryd in Antiochië. Moet Christene uit die heidendom die seremoniële wette onderhou? Ja, sê die Judeërs. Die sendelinge antwoord: Nee!

Wat moet die kerk onderneem om hierdie geskil op te los? Lidmate hardloop nie in hierdie moeilike situasie weg nie. Die kerk is immers nie 'n klub waarby mense vrywillig aansluit en waarvan die lidmaatskap ewe vrywillig beëindig kan word nie. Nee, die Christene in Antiochië lewe as lede van Christus se liggaam. Hulle bly trou aan die gemeente waarin die Hoof van die kerk hulle saam verbind het.

Die gelowiges voel wel ongelukkig, want hulle kan nie self die geskil oplos nie. Geestelik hulpbehoewend besluit hulle om 'n deputasie na Jerusalem te stuur. Die oudste Christelike kerk is daar. Tot die lidmate daarvan behoort die apostels en ouderlinge. Antiochië vaardig Paulus en Barnabas en 'n paar ander af na die kerk van Jerusalem in verband met die vraagstuk (vers 2). Antiochië soek hulp by sy susterkerk, in die eerste klein Christelike kerkverband.

Hiermee is die eerste vraag wat ek hierbo gestel het, beantwoord. Waarom is die vergadering wat in Handelinge 15 beskryf is, gehou? Antwoord: Om die geskil in die kerk van Antiochië op te los deur 'n uitspraak te gee oor die vraag of die Christene uit die heidene na die uitstorting van die Gees verplig behoort te word om die seremoniële wette te onderhou.

Die Vergadering in Jerusalem🔗

Lyk die samekoms in Jerusalem enigsins soos 'n klassis of sinode waarin gereformeerde kerke byeenkom? Die vergadering wat in Handelinge 15 beskryf is, verskil in drieërlei opsig van ons meerdere vergaderings. Eerstens is die byeenkoms in Jerusalem nie – soos ons meerdere vergaderings – deur 'n gelyke getal afgevaardigdes uit elke kerk of kerklike ressort saamgestel nie. Enkele afgevaardigdes uit Antiochië vergader saam met die apostels en alle ouderlinge van Jerusalem (vers 6). Dit is dus nie 'n samekoms van afgevaardigdes soos in gereformeerde kerke nie.

Tweedens staan die apostels, wat saam met die ouderlinge die vergadering lei, onder die inspirerende leiding van die Heilige Gees. Afgevaardigdes na 'n meerdere vergadering word nie deur die Gees geïnspireer nie, maar op gelowige gebed deur Hom geïllumineer, verlig om die Woord in vandag se situasie te verstaan.

Derdens ontvang die apostels gesag oor alle gemeentes. Hulle mag sowel in Jerusalem as in Antiochië en in alle ander kerke gesaghebbend optree. Gereformeerde dominees en ouderlinge se gesag strek nie oor alle kerke nie. Hulle gesag is beperk tot die plaaslike kerk waarin hulle dien.8 Wees hierdie ingrypende verskille tussen die samekoms in Jerusa­lem en ons meerdere vergaderings mag die twee nie gelykgestel word nie.

Hoe uniek die byeenkoms in Jerusalem ook al is – die Heilige Gees gee in Handelinge 15 wel insig in die betekenis van ons samelewing in kerkverband. Antiochië soek vir die oplossing van die geskil, wat in sy midde ontstaan het, hulp by die susterkerk van Jerusalem. Jerusalem gee die gevraagde hulp. So tree Christelike kerke van alle tye op. Hulle gee liefdevol vir mekaar om en staan mekaar by in die diens van die Here.

Die hedendaagse kerke kan verder uit Handelinge 15 leer hoe om geldige besluite te neem.

Die Eeue Ou Woord beslis🔗

Hoe kom die samekoms in Jerusalem tot sy besluit?

Handelinge 15 deel dit noukeurig mee. Sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs herhaal die eis wat die Judese broeders reeds in Antiochië gestel het (vers 5). Moet die seremoniële wette, wat Israel eeue lank onderhou het, na die uitstorting van die Gees nog onderhou word? Hierdie vraag word behandel (vers 6).

Na 'n groot woordewisseling praat die apostel Petrus (verse 6-11), Hy herinner aan die bekering van die Romeinse hoofman Cornelius en vertel dat Cornelius en die syne net soos hulleself die Heilige Gees ontvang het. Na Petrus neem Barnabas en Paulus die woord. Hulle vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het (vers 12).

Die reaksie op die redevoerings van Petrus, Barnabas en Paulus? Stilte… Die hele menigte swyg (verse 12 en 13). Hulle keur die toesprake nie goed of af nie. Waarom nie? Die drie broeders wat gepraat het, het net feite vermeld.

Feite mag egter nie in die kerk tot norme verhef word nie. Die Woord van God is nog nie in die vergadering oopgemaak nie. Daarom is die broeders nie ryp om 'n God welgevallige besluit te neem nie!

In hierdie stilswye hoor ons die eerbied vir God en sy Heilige Skrif. Nie feite nie, maar die Woord moet die beslissende stem oor die geskil in Antiochië gee. Al is die Skrif van daardie dae, die Ou Testament, eeue oud (die laaste profeet, Maleági, het omtrent vierhonderd jaar gelede opgetree) – die Woord bly vir hulle aktueel en gesaghebbend. Nie 'n veranderde situasie nie, maar die Skrif, die eeue ou Woord van God, sal moet beslis oor wat die vergadering moet besluit.

Na Petrus, Barnabas en Paulus kom Jakobus aan die woord. In sy toespraak (verse 13-21) verwys hy eerstens na die woorde van die profete (meervoud) om aan te toon dat die afbraak van die middelmuur tussen Israel en die heidense nasies reeds in die Ou Testament aangekondig is (verse 15-17). God het reeds by die oprigting van daardie muur, by sy roeping van Abram, aan hom belowe: 'in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word'!9 Die belofte word vanaf die Pinksterdag vervul.

Jakobus wys vervolgens op die wette van Moses wat in die nuwe bedeling van krag bly (vers 21). In sy voorstel en in die inhoud van die besluit word die onderhouding van die eerste gebod beklemtoon. Christene uit die heidene moet hulle onthou van afgodsoffers. Dit is nie geoorloof om hulle aan seremoniële wette, wat in Christus vervul is, te bind nie (verse 19-20, 24 en 29).

In Jakobus se toespraak kom die Woord aan die woord. Moses en die profete praat in en oor die 'nuwe tyd' waarin die kerk vanuit Israel in alle volke geplant gaan word. Nou is die vergadering gereed om te    'Die Heilige Gees en ons het besluit' (vers 28) … Dit sê hulle nie op grond van die inspirasie van die apostels nie. In daardie geval sou Petrus se toespraak reeds die deurslag gee. Hulle verbind hierdie uitspraak aan Jakobus se beroep op Moses en die profete. Die Heilige Gees, sy eeue ou Woord, beslis oor die geskil in Antiochië.

Die Here gee in Handelinge 15 aan elke kerklike vergadering die reël vir die neem van besluite. Elke besluit wat op die Heilige Skrif gegrond is, word in die hemel goedgekeur. 'Die Heilige Gees en ons het besluit' Elke besluit wat in stryd is met die Skrif, is wel ons besluit, maar nie die Heilige Gees s'n nie.

'n Besluit vir Alle Kerke🔗

Die vergadering in Jerusalem het tot 'n verreikende besluit gekom. Die besluit om op Christene uit die heidene 'verder geen las te lê nie' (vers 28) is nie slegs in Antiochië van krag nie. Paulus dra op sy tweede sendingreis die besluit aan alle bestaande kerke oor. Almal moet dit onderhou.10

Een van die grootste probleme wat sendelinge ondervind, is die neiging van 'bekeerde' heidene om die Christelike godsdiens met die ou heidense geloof te vermeng. Dit gebeur uit angs dat die heidense gode hulle sal straf, of uit sosiale en ekonomiese oorwegings (om nie deur die samelewing verstoot te word en die ambag te verloor nie). Die kwaad van sinkretisme bly ook op die eerste Christelike sendingveld voortdurend kop uitsteek. Die Korinthiërs word aan die besluit van Handeling 15 gebind in die vermaning om hulle van afgodsoffers te onthou.11 Johannes sluit sy eerste sendbrief af met die woorde: 'My kinders, bewaar julleself van die afgode'.12

Die laaste Bybelboek verwys nog na die 'geen-ander-las-besluit' van Handelinge 15. Die verheerlikte Christus laat Johannes aan sy kerk van Tiatira skryf: 'Ek sal op julle geen ander las lê nie'13 Sy volk hoef geen seremoniële wette te onderhou nie. Hulle moet wel afgodsoffers afsweer. Die besluit van die vergadering in Jerusalem bly geldig.

Vas en Bindend, tensy🔗

Die akkoord wat die kerke op die Sinode van Dordrecht in 1619 aanvaar het, stem noukeurig ooreen met wat die Here in Handelinge 15 openbaar. Afgevaardigdes na meerdere vergaderings bring geloofsbriewe saam. 14Die kerke wat hulle stuur, bind al die lede van die vergadering aan die Skrif, die belydenis en die Dordtse kerkorde.

Verder belowe dié kerke in artikel 31 van die kerkorde: Wat op 'n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, sal as vas en bindend gehou word, tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of met die kerkorde.

Met ander woorde: As die Heilige Gees en die meerdere vergadering besluit het, sal die kerke dit as geldig aanvaar. Besluite wat sonder die Heilige Gees geneem is, in stryd is met die deur Hom geïnspireerde Skrif, word ongeldig verklaar. Ons mag immers nie afwyk van wat Christus vir ons ingestel het nie.15Die belydenis dat Hy ons enigste Meester en Here is,16 word kerklik gehandhaaf in die reël van artikel 31: Die kerke en al hulle lidmate hou kerklike besluite as vas en bindend, tensy…

Jesus Christus, die Enigste Hoof🔗

Om die belofte in artikel 31 na te kom, behoort mindere vergaderings die besluite van die meerdere vergaderings te toets. As hulle dit nie doen nie, ken hulle aan besluite van meerdere vergaderings met die daad 'meer mag en gesag toe as aan die Woord van God'.17Calvyn prys die toets van kerklike besluite as volg aan:

Ek sou graag wou hê dat die besluit waaroor gehandel word, noukeurig aan die Skrif getoets word – en dit op so 'n manier dat die besluit van die konsilie sy eie gewig moet dra en as 't ware 'n voorwaardelike oordeel moet wees sonder om die ondersoek (deur die mindere vergadering) … te belemmer … So sou dit geskied dat konsilies die majesteit wat daaraan verskuldig is, het en tog sou die Skrif intussen 'n hoër plek inneem, sodat daar niks sou wees wat nie aan die rigsnoer daarvan onderwerp sou wees nie.18

Iemand vra: Is die toets van besluite wat gereformeerde broeders saam geneem het, nodig? Getuig die toets nie van 'n gees van wantroue nie? Calvyn beantwoord hierdie vrae met verwysing na die kerklike vergadering wat 'teen Christus versamel het… "Maar", (sê iemand), "daar is geen gevaar dat so iets met ons kan gebeur nie." Wie het ons daarvan verseker? Want om in so 'n belangrike saak te onbesorgd te wees, beteken om skuldig te wees aan argeloosheid'. Calvyn wys in aansluiting hierby op die profesie 'dat afvalligheid sal kom' en merk fynsinnig op: Wanneer die Here ons 'op die gevaar wys, doen Hy dit om ons versigtiger te maak'.19

Kerke en lidmate wat Jesus Christus as hulle enigste Hoof erken, bely: Die waarheid is bo alles, ook bo besluite van kerklike vergaderings.20Hulle toets kerklike besluite. So wandel hulle belydend in die voetspore van Calvyn en die gereformeerde kerke kort na die Reformasie van die sestiende eeu. 21

Besluite wat skriftuurlik gegrond is, word kerklik aanvaar en uitgevoer. Besluite wat nie met die Skrif ooreenstem nie, is ongeldig en mag nie 'n oomblik as geldige besluite aanvaar en uitgevoer word nie. Ware kerke verwerp alles wat met die Woord in stryd is.

Word artikel 31 in die GKSA sorgvuldig onderhou? Nie deur alle kerke nie. Enersyds word die belofte om besluite as vas en bindend te hou verbreek. Aan die ander kant word die 'tensy' in artikel 31 finaal sowel as tydelik buite werking gestel.

Twee Dwalings🔗

Ek verduidelik die twee dwalings aan die hand van praktiese voorbeelde. Ons kyk na die optrede van vier kerkrade (A-D) in stryd met artikel 31 van die kerkorde.

Konsistoriokrasie🔗

Kerkraad A beskou klassis- en sinodebesluite as adviese. Hy kan dit vryblywend aanvaar of van die hand wys. Besluite wat hy betekenisvol ag, voer hy uit. Wat hom nie pas nie, skuif hy van sy tafel. Hy kom nie sy belofte na om geldige besluite as vas en bindend te hou nie.

Kerkraad B maak dit nog erger. Besluite van meerdere verga­derings? Dit kom nie eers in die kerkraad ter sprake nie. Die notules en handelinge van klassisse en sinodes word, sonder om enigsins daarvan kennis te neem, in die argief gebêre. Hierdie kerkraad verbreek net soos kerkraad A sy belofte om geldige besluite as vas en bindend te hou.

Beide kerkrade wyk van die eerste deel van artikel 31 af. Besluite wat die Heilige Gees en die meerdere vergadering ooreen­komstig Handelinge 15 geneem het, is vir hulle net so min werd as die papier waarop dit geskrywe staan. Hulle loop hul eie paadjies en verbreek so die eenheid met die kerke wat geldige besluite wel as vas en bindend hou.

Hierdie kerkrade tree eiesinnig op, net soos die waanwyse Korinthiërs eertyds. Die Here vermaan: Wat verbeel julle jul: 'het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom'?22 Die Heilige Gees roep hulle in dieselfde brief herhaaldelik op om hulle nie van die ander kerke af te sonder nie, maar tot die gemeenskap van die kerke terug te keer. Wandel saam met al die gemeentes.23

Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees (ook in kerklike besluite wat op die Woord gegrond is) aan al die gemeentes sê.24

Die bogenoemde twee kerkrade stel hulle eie mening bo die Woord wat in kerklike besluite praat. Die kerkraad, die con­sistorium, waan homself die hoogste gesagsdraer in die gemeente. Konsistoriokrasie, kerkraadstirannie, vervang die lewe in die Christokrasie, die eerbiediging van Christus as die enigste Hoof van sy kerk.

Kom hierdie dwaling in ons midde voor? Ja. Die kwaad van konsistoriokrasie word bedryf deur kerkrade wat

  • die besluite oor afwysing van die gebruik van kelkies by die nagmaal negeer,

  • teen kerklike besluite optree deur vroue in die amp van diaken te bevestig,

  • na willekeur van die kerkorde, ons akkoord oor die kerklike samelewing, afwyk.

Konsistoriokrasie gaan in baie gevalle hand aan hand met dominokrasie: Die dominee word in so 'n gemeente feitlik as die hoogste gesagsdraer aanvaar. Kerke wat konsistoriokrasie in hulle midde gedoog, werk mee aan die ontbinding van die kerkverband.

Sinodokrasie🔗

Die tweede afwyking van artikel 31 van die kerkorde is die kwaad van sinodokrasie. Sinodokrate bestry konsistoriokrasie met alle mag. Hulle hou besluite van kerklike vergaderings as vas en bindend. Maar ook hulle dwaal. Hulle ontkrag die 'tensy'-reël van artikel 31. Die 'tensy' word eenvoudigweg geskrap of tydelik van sy krag beroof. Ek verduidelik ook hierdie dwaling deur die optrede van twee kerkrade, kerkrade C en D, te beskryf.

Kerkraad C voer klassis- en sinodebesluite oorhaastig uit Voordat die notule en die handelinge gepubliseer is, maak hy die besluit al van krag. Geen besluit word getoets nie. Besluite word net as vas en bindend gehou. Punt. Uit. Die 'tensy' van artikel 31 bestaan nie vir hierdie kerkraad nie.

Die sinode beklee vir hierdie kerkraad die posisie van die pous in die Roomse kerk. Rome leer: papa Iocuta, causa finita est: As die pous gepraat het, is die saak besleg. Kerkraad C lewe uit die 'leer': synodus locuta, causa finita est: As die sinode besluit het, is die saak afgehandel.

Wie die 'tensy' van artikel 31 ignoreer, handel in stryd met die geloofsbelydenis waarop hierdie kerkorde-artikel gegrond is: Ons mag nie kerklike 'verordeninge of besluite met die waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles'.25

'n Treffende voorbeeld van sinodokratiese uitvoering van sinodebesluite is die invoering van die 'nuwe liturgie' voordat die Handelinge van die sinode verskyn het. Van skriftuurlike kritiek op die besluit (waarin onder meer nie die Woordverkondiging as bediening van een van die sleutels van die hemelryk sy regmatige plek behou nie)26 neem kerkraad C geen kennis nie. Hy verhef sinodebesluite bo alle kritiek. Nie die waarheid nie, maar die sinode is bo alles.

Kerkraad D verander die 'tensy' van artikel 31. Die kerkraad ontdek by sy toets van 'n besluit dat dit in stryd is met die Skrif. Hy stel sy bewys hiervan swart op wit. Nietemin, hou hy die besluit voorlopig as vas en bindend. Hy 'interpreteer' artikel 31 as volg. 'Tensy bewys word' beteken: 'tensy 'n klassis of sinode die gelewerde bewys aanvaar'. Hierdie kerkraad verander tensy in totdat. 'n Ongeldige besluit word as geldig gehou en uitgevoer, totdat die meerdere vergadering die bewys van die kerkraad oorgeneem het.

Hierdie kerkraad voer ten minste voorlopig, tydelik, 'n ongeldige besluit uit. 'n Tyd lank is nie die waarheid nie, maar die sinode bo alles. 'n Ongeldige besluit is egter in gereformeerde kerke nie 'n oomblik geldig nie. In die kerk van Christus geld die reël van die Skrif: 'Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense'.27

Harde Jukke🔗

Konsistoriokrasie en sinodokrasie is twee uiterstes, twee pole. Die eerste een leer: Meerdere vergaderings het geen gesag nie. Die ander een stel daarteenoor: Meerdere vergaderings het, hetsy finaal hetsy tydelik, die hoogste gesag. Altwee stel kerklike, menslike gesag bo die Woord van God. Die twee pole raak mekaar in hulle 'nie-eerbiediging' van ons Here Jesus Christus as die enigste Hoof van sy Kerk.28

Daardie twee dwalings funksio­neer soos die twee rotse Skilla en Charibdis. Menige 'kerkskip' het in die geskiedenis teen een van die rotse te pletter geloop. Die ware kerk kan alleen in die regte koers vaar as hy Christus as die enigste Hoof bly erken en eer­biedig. Sy Woord het in sy kerk die hoogste, die laaste woord. So sê die Here in Handelinge 15. So bely ons in artikels 7 en 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. So sal ons kerklik optree, aldus artikel 31 van die kerkorde.

Artikel 31 in die Praktyk🔗

Vier stappe🔗

Wat doen 'n kerkraad wat volgens artikel 31 optree? Hy onderneem vier stappe.

  • Stap een: Hy toets die klassis- of sinodebesluite aan die Skrif, die belydenis en die kerkorde. Hy kom tot een van twee oortuigings: Die inhoud van die besluit stem ooreen met die norme of is in stryd daarmee. In altwee gevalle volg drie stappe.

  • Besluite wat nie in stryd met die Skrif en die kerkorde is nie, word (stap twee) geldig verklaar. Hulle is nog besluite van 'n klassis of sinode. In stap drie volg die aanvaarding van die geldige besluite. Sinodebesluite word, volgens die belofte in artikel 31, kerkraadsbesluite.

    Die kerkraad lig in die stadium die gemeente in, skriftelik en ­indien nodig – ook mondeling, tydens 'n vergadering met die gemeente waarin belangrike sake uitvoerig bespreek kan word. Die belydende lidmate moet in hulle amp van gelowige weet wat aangaan en in staat gestel word om met die kerkraad mee te lewe. Ten slotte volg die laaste stap: die uitvoering van die besluite.

  • As die kerkraad 'n besluit in stryd vind met die norme, verklaar hy dit in stap twee ongeldig. Daarna volg stap drie: Hy moet ooreenkomstig artikel 31 bewys dat die besluit van die Skrif of die kerkorde afwyk. Die kerkraad formuleer sy bewys en lê dit aan die eersvolgende klassis voor. Dit is 'n liefdeplig. Wat kerkraad A nie as vas en bindend mag hou nie, geld eweneens vir kerke B-Z.

    Ingeval die klassis nie met die kerkraad saamstem nie, verstrek hy redes waarom die kerkraad se bewys nie steekhoudend is nie. Kerke wat saam gelowig en eerbiedig na die Woord luister, sal tot ooreenstemming kom. As die klassis die bewys van die kerkraad aanvaar, sal hy alles in die werk stel om ander klassisse oor sy besluit in te lig en die bewys van die kerkraad aan die eersvolgende partikuliere sinode.

  • Die vierde en laaste stap van die kerkraad? Ongeldige besluite is nooit geldig nie en word derhalwe nie uitgevoer nie.

Is die Vier Stappe Uitvoerbaar?🔗

Die teks van nasionale sinode 1997 se Handelinge beslaan 933 bladsye. Watter kerkraad is by magte om benewens sy werk in die gemeente so 'n omvangryke boek te bestudeer? Dit is wel moontlik, indien die kerkraad alle beskikbare kragte in die gemeente en daarbuite aanwend. Eerstens kan kommissies benoem word wat bestaan uit lede van die kerkraad en meelewende lidmate. Aan laasgenoemdes kan heel wat werk opgedra word.

Tweedens kan die kerkraad die klassis versoek om die werk oor die kerke in die klassikale ressort te verdeel. Kerke stuur voorlopige resultate van bevindings aan mekaar en korrespondeer met mekaar mondeling of skriftelik oor hulle bevindings.

Derdens kan die kerklike pers behulpsaam wees. Ons blad het van Februarie tot Desember 1998 aandag aan die besluite van die sinode 1997 gegee.29In die toets van sinodebesluite kan kerke en lidmate vir mekaar hande en voete wees.

Iemand mag nog opmerk: Die Gereformeerde Kerke in ons land ken nie die gewoonte om besluite van meerdere vergaderings te toets en in die lig van die Skrif geldig of ongeldig te verklaar nie. Dan moet ons met die gewoonte, waarmee ons van die belydenis afwyk, breek. Ons glo en bely dat ons nie 'die gewoonte' met die waarheid van God mag gelykstel nie. 30 Niks bo die Woord van God in sy kerk nie!

Lewende Kerke🔗

Die betrekking van lede van die kerkraad en lidmate by die toets van besluite en sorgvuldige voorligting van die gemeente oor die toetsarbeid vestig die aandag van almal op die werk van ons meerdere vergaderings. Dit stimuleer die gelowiges in hulle profetiese, priesterlike en koninklike amp.

Hulle stel profeties die geeste op die proef. Hulle wy hulle daarby priesterlik, dienend, in die gemeente en in die kerkverband aan God. Hulle aanvaar geldige besluite en wys ongeldige besluite af om koninklik die kwaad te bestry en die koninkryk van Christus in die kerklike lewe te bevorder.

In lewende kerke vermenigvuldig die gebede vir klassisse en sinodes met wie se werk die gemeente op die hoogte gestel is: Here, gee dat die afgevaardigdes so deur u Woord gelei word, dat die kerkrade en ons almal na die toets van hulle besluite mag vasstel: Die Heilige Gees en die sinodes het besluit…

Endnotes🔗

  1. ^ Handelinge 14:16 
  2. ^ Psalm 147:20. 
  3. ^ Die Nederlandse Bybelse encyclopaedie (Kampen: Kok, 1950, s.v. Abraham) dateer die roeping van Abram omstreeks 2000 voor die geboorte van Christus. 
  4. ^ Efesiërs 2:14.
  5. ^ Ooreenkomstig die opdrag in Handelinge 1:8. 
  6. ^ Ooreenkomstig die opdrag in Handelinge 1:8. 
  7. ^ NGB, art. 25. 
  8. ^ NGB, art. 30 
  9. ^ Genesis 12:3. 
  10. ^ Handelinge 16:4.
  11. ^ 1 Korintiërs 10:18-22. 
  12. ^ 1 Johannes 5:21.
  13. ^ Openbaring 2:24.
  14. ^ KO, art 33. 
  15. ^ NGB, art. 32.
  16. ^ Johannes 13:13; vgl. Matteus 23:8 e.a. 
  17. ^ NGB, art. 29.
  18. ^ J Calvyn Institusie van die Christelike godsdiens (vertaling HW Simpson), 4. Potchefstroom: CJBF, 1991, 4.9.8, p. 1454.
  19. ^ Ibid., 4.9.7, p. 1453.
  20. ^ NGB, art. 7. 
  21. ^ GJ Meijer Ratifikasie in die gereformeerde kerkreg. Potchefstroom: PU vir CHO, 1995, p. 22-28, 82-89. Sien ook die verwysings na literatuur in hierdie M-verhandeling.
  22. ^ 1 Korintiërs 14:36. 
  23. ^ 1 Korintiërs 7:17; vgl. 4:17 en 11:16. 
  24. ^ Vgl. Openbaring 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22.
  25. ^  NGB, art. 7.
  26. ^ Sien die artikel 'Die samekoms van die Here met sy volk'. Waarheid en dwaling 4(3-4), April 1998:7-11. 
  27. ^ Handelinge 5:29; vgl. 4:19-20.
  28. ^ NGB, art. 29.
  29. ^ In die rubriek 'Op pad na sinode 2000'. Waarheid en dwaling 4(2-12), 1998. 
  30. ^ NGB, art 7.