Bron: Nader Bekeken, 2014. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Heilige Stoel

Rome

Dit sal aan die meester lesers bekend wees dat met ‘die Heilige Stoel’ gewoonlik die Vatikaan in Rome bedoel word, waar die pous voorgee om as plaasvervanger van Jesus Christus seggenskap te voer oor wêreldlike en kerklike sake.

Dié Stoel het ‘nuntii’ (pouslike gesante) as ambassadeurs by baie regerings, maar bestuur ook die mega-instituut van die Rooms Katolieke Kerk vanuit Rome en probeer dit by die voorskrifte hou. Hy het universele mag oor leer en lewe en die sleutels van die hemelryk is aan hom toevertrou. Dit is dan ook nie toevallig dat in die koepel van die Sint Pieters Katedraal in Rome die woorde ‘Ek gee jou die sleutels van die koninkryk van die hemel’ staan nie.

Dat priesters in die biegstoel sondes kan vergewe, het hulle in wese aan die pous te danke wat hulle, deur die sakrament van die wyding, as opvolger van Petrus die bevoegdheid daartoe verleen. Hoe groot die mag van die pous geag word, sien mens wanneer daar op die St. Pietersplein salig- en heiligverklarings plaasvind. Dit is asof die regterstoel van ons Heiland al op die aarde staan. Let wel, ʼn méns maak daar die uitspraak wie gered is en wie (as heilige) in die hemel vir ons voorspraak kan doen.

Die nuwe pous Franciscus verdien seker respek: hy tree nederig op en is afkerig van die praal wat vir so baie mense al lank ʼn ergernis is. Maar, ons moet nie vergeet nie dat die pretensies van die Heilige Stoel steeds van krag is. As buitestaander sien mens dié pretensies die duidelikste in die salig- en heiligverklarings op die St. Pietersplein.

Hoe durf ʼn mens so ʼn bevoegdheid opneem! Hierdie bevoegdheid is volgens die ontwyfelbare getuienis van die Nuwe Testament juis aan ons Verlosser toevertrou. In Athene sê Paulus dat God “die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ʼn Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Handelinge 17:31). U sal begryp dat dit hier oor Christus gaan, oor Hom wat gesê het: “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee” (Johannes 5:22). Daarom skryf Paulus ook: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Korintiërs 5:10).

Die Wit Troon🔗

Daar ís inderdaad ’n Heilige Stoel; maar dit staan nie in Rome nie, dit staan in die hemel. Daar sit ons Heiland, wat besig is om terug te kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Die groot oordeel sal kom. Daar is die groot wit troon waar “die dode, klein en groot” staan, terwyl die boeke geopen word (Openbaring 20:12). Dit is nie op die St. Pietersplein waar die oordeel klink nie, maar by die troon van Hom wat alle mag in die hemel en op die aarde gekry het!

Ons is na daardie Heilige Stoel op pad. Eendag sal daar geoordeel word. Alle onreg sal vergeld word. Die laksmanne wen nie! Die groot Regter sal aan die uitverkorenes van God reg verskaf (Lukas 18:7); en Hy sal die gebede van die martelaars verhoor (Openbaring 6:9-10).

wit troon

Moet God se kinders bang wees vir die Heilige Stoel? Dit was nog altyd vir my so treffend dat die Heidelberger in Sondag 19 so positief oor die laaste oordeel is. Hy hou inderdaad die terugkoms van Christus as troos aan ons voor! God se kinders hoef nie bang te wees nie; want die Regter is hulle liewe Heiland wat hulle sal herken en erken as kinders wat die wil van sy hemelse Vader gedoen het (Matteus 7:21).

Vrymoedig🔗

Wanneer ’n kindjie gedoop word, bid ons dat hy of sy op die “laaste dag sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus ... mag verskyn.” In sommige doopsformuliere word in plaas van ‘sonder verskrikking’, ‘met vrymoedigheid’ gebruik. ‘Vrymoedigheid’ het in die briewe van Paulus die betekenis van openheid na God en die mense. Die apostel skryf dat ons in Christus die vrymoedigheid en die toegang (tot God) het, met vertroue (Efesiërs 3:12).

Dat hierdie vrymoedigheid, hierdie openheid na God, by Christenwees hoort, lees ons ook in die brief aan die Hebreërs. Ons moet “die vrymoedigheid ... tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:6) en dit nie wegwerp nie (Hebreërs 10:35). Ja, ons kan “met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan” (Hebreërs 4:16), omdat ons “vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus” (Hebreërs 10:19).

Die apostel Johannes verbind hierdie vrymoedigheid duidelik met die Heilige Stoel waar ons almal moet verskyn. Hy skryf: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Johannes 2:28), en ook: “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag” (1 Johannes 4:17).

Vryspraak🔗

Die gebed by die doop van ’n kindjie dat hy of sy ‘sonder verskrikking’, met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus mag verskyn, is voluit volgens die Skrif. In Judas: 25 hoor ons selfs van “julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig”. God se kinders hoef nie vir die Heilige Stoel bang te wees nie. Hulle kan inteendeel met vrymoedigheid, ja selfs met blydskap daar staan! Want in Christus het hulle vrymoedigheid (Efesiërs 3:12), deur sy bloed (Hebreërs 10:19). Wanneer hulle hier op aarde hulle vuil sondaarsklere in die bloed van die Lam was, kan hulle sonder vrees voor Hom wat die groot oordeel sal vel, verskyn (Openbaring 7:14; 22:14).

hofsaak

Wat ons hier op aarde al hoor, sal dan openlik deur ons Heiland bely word voor sy Vader (Matteus 10:32) en sy engele (Openbaring 3:5). Dit is die vryspraak wat elke Sondag aan ons verkondig word (vgl. Antwoord 84, Heidelbergse Kategismus). Die goeie Herder sal sy skape “ken” (Johannes 10:14), in die sin van herken en erken, en hulle openlik op die naam noem (Openbaring 3:5).

Ja, jy kan straks met vrymoedigheid voor die Heilige Stoel verskyn, maar alleen “deur die geloof in Hom” (Efesiërs 3:12) en deur “in Hom te bly” (1 Johannes 2:28). Wie dié pad hier op aarde loop, mag weet: “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie” (Johannes 3:18). Hy kan in al sy mislukkings en sondige tekortkoming vashou aan die pragtige woorde van Antwoord 60 in die Heidelberger: “Dit (die geregtigheid en heiligheid van Christus) reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het”.

Dit geld vir almal, sonder vrees vir die Heilige Stoel, wat vir Maarten Luther in hierdie lewe nasê: ‘U, Here Jesus, is my sonde en ek is U geregtigheid’!