Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Hel - God se Waarskuwingsteken

Bestaan daar 'n Hel?🔗

Deur die loop van die eeue is die bestaan van die hel bevraagteken. Die bestaan van 'n hel bots immers met God se barmhartigheid? As God liefde is dan kan daar tog nie 'n hel wees nie? Ander sê weer: Hierdie lewe is vir baie mense al soos 'n hel. Hoekom moet hulle dan ook
nog na hulle dood met 'n verblyf in die hel gestraf word?

Buite die kerk beskou die moderne mens die hel as 'n bang­maakstorie van verkrampte siele. Maar dit lyk ook of binne die kerk die hel steeds meer uit die gesigsveld verdwyn het. Die dominee moet tog nie oor die hel preek nie. Hel en ver­doemenis mag nie die blye evangelie van versoening en ver­gewing verduister nie.

Jesus se Prediking🔗

Daar is niemand wat so baie oor die hel gepreek het as die Here Jesus nie. Ons Heiland het in sy verkondiging baie aan­dag gegee aan hierdie huiweringwekkende onderwerp. 'n Reeks uitsprake uit sy mond handel met sidderende erns oor die hel. Teenoor 'n singende hemel word deur Christus gewys op 'n wenende hel, so skrywe Totius.

'n Hele reeks uitsprake uit Christus se mond vertolk in ver­skillende beelde die werklikheid van die hel. Jesus noem die hel:

  • die verderf (Mattheus 7, 13)

  • die ewige vuur (Mattheus 18:8)

  • die buitenste duisternis (Mattheus 8:12; 22:13; 25:30)

  • die onuitbluslike vuur (Markus 9:43, 45, 49)

  • die vurige oond (Mattheus 13:42, 50)

  • die plek waar die wurm nie sterf nie en die vuur nie geblus word nie (Markus 9:44, 46, 48)

  • die plek waar geween is en gekners van die tande (Mattheus 22:13).

Wurm en Vuur🔗

Die begrip "hel" het in die Godsopenbaring 'n wordingsproses deurloop, so skrywe Totius. Schilder skrywe in sy boek oor die hel dat daar in die Bybel "toenemend open­baringslicht" oor die hel is.

Die Ou Testament vertel vir ons van 'n diep bergkloof: die dal van die seuns van Hinnom ten suide van Jerusalem. Daar het koning Agas die goddelose Mologdiens ingestel (2 Konings 16:3). Hy en later ook koning Manasse het hulle seuns "deur die vuur laat deurgaan" (2 Konings 21:6).

Die Joodse oorlewering meld dat later op hierdie plek die vullis van Jerusalem en dan met name lyke van slawe en dooie liggame van diere weggegooi is. Wurms het in die dooie liggame gevreet en af en toe is alles met vuur verbrand. Jesaja sluit in sy profesie oor die oordeel van God oor die goddeloses by hierdie beeldspraak aan (Jesaja 66:24). Later ook Jeremia (7:31) en Maleagi (4:1).

Die dal van Hinnom het 'n simbool geword van die strafplek van die goddeloses. Die woord "gehinnom" (= dal van Hinnom) het in die Griekse taal van die Nuwe Testament "gehenna" geword. Jesus sluit by hierdie beeldspraak aan. Tot drie maal toe wys Hy in sy spreke oor die ewige verderf op die wurm wat nie sterf in die vuur wat nie uitgeblus word nie.

Ons moet nie soos Gregorius die Grote "vuur" hier letterlik opneem nie. Dan sou dit bots met die "duisternis" waar Jesus ook van praat. Ewige vuur en buitenste duisternis sluit mekaar uit in letterlike betekenis. "Vuur" is in Jesus se pre­diking oor die hel die beeld van God se strafgerig van buite af en "wurm" is die beeld van God se strafgerig van binne uit. Die wurm wys op innerlike wroeging wat bly knaag. Die wurm sterf nie en die vuur word nie geblus nie. Dit wys op die ewige straf.

Duisternis, Geween en Gekners van die Tande🔗

Met 'n ander beeld teken Jesus die hel as die plek van die buitenste duisternis (Mattheus 8:12). God is Lig. Wie in Hom glo, wandel in die lig. Maar die ongelowige het die duisternis liewer as die lig (Johannes 3:19). Hy wandel hier op aarde in die duisternis. Maar die ligstrale van God se lankmoedigheid skyn nog oor sy lewe. Wanneer daar egter geen bekering kom nie, dan beland hy in die "buitenste duisternis". Dit is in die totale en finale skeiding van God.

Daar in die volledige skeiding van God sal geween en gekners van die tande wees. Die "geween" wys op gemis. Die "gekners van die tande" beeld wroeging uit.

Is die Hel Ewig?🔗

Jesus plaas in Mattheus 25:46 die ewige lewe teenoor die ewige straf. Soos daar 'n ewige heerlikheid is, is daar ook 'n ewige rampsaligheid. Daarmee toon Hy aan dat die hel ewig is. In die eerste Bybelboek word "ewig" gebruik om die bestaanswyse van God aan te dui (Genesis 21:33). Die grondwoorde wat in die Bybel vir ewig gebruik word, kan met "altyd" of "vir altyd" vertaal word. Teenoor die ewige heerlikheid staan die ewige verderf.

Baie geleerdes het 'n probleem met 'n hel wat ewig duur. H. Berkhof kan dit nie aanvaar nie. Hy skrywe in sy Dogma­tiek: "ln Gods naam hopen wij, dat de hel een loueringsweg zal zijn".

Waar is die Hel?🔗

Kan ons die hel ook lokaliseer? Is daar 'n plek in God se skepping waar die hel gevestig is? Calvyn sou volgens Hyl­kema in sy boek Oud en nieuw Calvinisme gesê het die hemel is vertikaal bo ons hoofde en die hel vertikaal onder ons voete. Hierdie opvatting is verklaarbaar in die tyd van die Middeleeue. Reeds Gregorius die Grote het in sy Dialoë die vulkaniese kraters geteken as die toegange tot die hel. Keerl kom met die opvatting dat die hel op een van die ver planete gevestig is.

Ons kan alleen maar met K. Schilder sê: "die plek van die hel is vir ons volslae onbekend". Maar ons mag daaruit nie die gevolgtrekking maak dat die hel 'n toestand is en nie 'n plek nie. Die hel is 'n plek waar die mens wat geweier het om te glo, volledig van God geskei is.

Die Plek van die Hel in die Prediking🔗

Gereformeerdes is dikwels verwyt dat hulle met 'n hel- en verdoemenisprediking die mense in die kerk bang maak. Daar was en is nog altyd boetpredikers wat oor die hel spreek sonder om die hemel te noem, wat God se oordeel aankondig sonder om op die kruis te wys waar ons die oordeel kan ontvlug.

Die Bybel maak dit vir ons baie duidelik dat in die prediking van die evangelie die hel 'n plek moet kry. Maar tegelyk leer die Skrif ons dat die verkondiging van die hel nooit geskei mag word van die prediking van die versoening nie. Dit lees ons by die profete, dit verneem ons by Jesus en dit hoor, ons by die apostels.

Die evangelie is 'n blye boodskap. Hierdie boodskap sentreer om die kruis van Christus. Daar op Golgota het die ewige vuur van die hel gebrand. Daar het Christus helse smarte gely. Wie tot die kruis sy toevlug neem met belydenis van sy sondes, vir hom is daar nie meer 'n veroordeling nie. Maar wie weier om te glo, wie nie wil glo in Christus se versoenen­de offer nie, wie die duisternis liewer het as die lig, tot hulle sal God na baie geduld een dag volgens die woorde van CS Lewis sê: "u wil geskied".

Die verkondiging van die hel is God se waarskuwings­teken. Wie weier om te glo, wie Christus verwerp, wie God se blye boodskap van versoening en vergewing, van liefde en ontferming verag en nie let op die ernstige waarskuwing van profete, Jesus, apostels en predikers nie, is op pad na die buitenste duisternis, die ewige verderf, 'n ewige voortbestaan buitekant die gemeenskap met God en dwars teen die skeppingsbestemming van die mens in.