Bron: Nader Bekeken, 2012. 3 bladsye.

Die Here het dit so beskik ...

keuse maak

Ons kan in die lewe keuses maak wat God nie wil hê nie. Ons kan kies vir ʼn lewe sonder kerk en sonder geloof. God gee ons dié ruimte, sonder dat Hy ingryp. Daarmee lê Hy dus ʼn beperking op Homself. Kyk maar na die begin van die geskiedenis.

Vóór die skepping was God volstrek die enigste wat opgetree het; maar na die skepping van die mens kry God, om dit so te stel, medespelers. Adam en Eva kon vry kies toe hulle die proefgebod ontvang het. God laat die keuse aan hulle oor en wag dan wat sou gebeur. God maak Hom op die manier dus in sekere sin afhanklik van wat Adam en Eva sou doen. Maar dan bly die vraag: Is God dan nie almagtig nie?

Keusevryheid of juis nie🔗

Hoe ver strek ons vryheid om te handel? Dit lyk asof die mens in die paradys ʼn absolute vrye keuse gehad het. Maar ons kry ʼn ander indruk as ons 2 Kronieke 25:20 lees. Dit gaan in daardie hoofstuk oor Amásia, ʼn koning van Juda. Hy het pas die Edomiete verslaan, toe gaan sy roem na sy kop toe. Hy daag koning Joas van Israel tot die stryd, maar daarmee neem hy ʼn groot risiko want Joas het ʼn veel groter leër gehad. Joas probeer om Amásia met ʼn fabel van sy oorlogsplan te laat afsien. Maar dan volg vers 20: “Maar Amásia het nie geluister nie; want dit was van God beskik om hulle uit te lewer, omdat hulle die gode van Edom gesoek het.” Amásia het naamlik nie die beelde wat hy by die Edomiete buitgemaak het, vernietig nie, maar hulle opgerig om voor hulle te kniel en te offer.

Die vers gee ʼn besondere kykie op ons tema. As Bybelleser sou jy dink dat koning Amásia die vrye keuse gehad het om die waarskuwing van die koning van Israel ter harte te neem, maar die teks sê dat God hom wil straf vir sy afgodery, en dat die bedoeling van God deurslaggewend was. In elk geval, Amásia haal hom ’n smadelike neerlaag op die lyf. Dit was dus wel die gevolg van sy eie keuse om die advies van Joas in die wind te slaan, maar klaarblyklik het God ook ʼn hand hierin. Was die keusevryheid van Amásia nou beperk deur die oormag van God?

God het dit so beskik, sê die teks. Dit is ʼn veelseggende uitdrukking wat dikwels in die Bybel voorkom, veral in die Ou Testament. Later meer daaroor.

Wie is aanspreeklik?🔗

Kan Amásia verantwoordelik gehou word vir ʼn keuse wat as’t ware deur God 'oorstem’ word? Ons kan die vraag natuurlik na ons almal uitbrei. As die Here deur sy beskikking as’t ware vir ons die keuses maak, is ons dan ooit skuldig vir verkeerde besluite? Ek dink aan ʼn ander voorbeeld. Koning Rehábeam, wat die volk moes antwoord oor hulle versoek vir verlaging van die belastingdruk (1 Konings 12:15). Hy raadpleeg eers die ou raadgewers en dan die jong raadgewers en kies toe die kant van die jongmanne, want hy willig nie tot die versoek van die volk in nie. Die gevolg was dat die ryk in twee skeur. En dan staan daar in vers 15: “So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ʼn beskikking van die HERE, sodat Hy sy woord sou vervul wat die HERE gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.” Die profeet het naamlik voorspel dat Jeróbeam koning sou word oor tien stamme, nadat die koningskap van Salomo en sy seun weggeneem sou word. Hier weereens ʼn menslike keuse wat by die plan van God pas, terwyl die koning tog by sy volle bewussyn na die jongmanne luister en opsetlik die volk trotseer.

vinger wys na iemand

Wel aanspreeklik? Ja, verseker. Net soos Adam aangespreek is toe hy saam met Eva van die verbode boom geëet het. “Waar is jy?” vra God na die eerste sonde. God het hom 100% verantwoordelik gehou. In beginsel is dit na die sondeval nie anders nie. Kyk maar na die slot van Génesis. Wat die broers van Josef gedoen het, word nie goedgepraat nie, ook al het God hulle misdaad ten beswil laat kom. Juis die feit dat hulle van Josef vergifnis vra, bewys dat hulle wel deeglik aanspreeklik was, ook al het God sy heilsplan daarmee voortgesit.

Nog voorbeelde. Ek dink ook aan Hofni en Pínehas, die seuns van die priester Eli, wat hulself deur hul wangedrag, onwaardig gemaak het vir die priesterskap. Hulle vader het hulle gereeld daaroor berispe, maar die seuns het geweier om te luister, “want die HERE wou hulle ombring” (1 Samuel 2:25). Dit het hulle nie van skuld vrygespreek nie, inteendeel, God het juis besluit om hulle wangedrag met die dood te straf. Ons kan ook die voorbeeld noem van die heidenvolke in Kanaän wat deur Josua uitgeroei is. Was dit ʼn tragiese lot vir dié volke, of moet hulle hulself daarvoor verwyt? Lees mens Josua 11:20, sou jy kon dink dat die eersgenoemde die geval was, want wanneer in ʼn terugblik vermeld word dat al die volke vernietig is, word daar bygevoeg: “Want die HERE het dit so bestier dat hulle hul hardnekkig voorgeneem het om Israel te bestry”. En omdat God sterker was, word dit hulle ondergang. Kan die rede vir die vernietiging dan tog by die Here gesoek word? Nee, want hulle kon hulle hart verander in plaas daarvan om dit te verhard. Soos Ragab in Jérigo gedoen het. Daarom sê Hebreërs 11:31 dat al die ander heidense bewoners van Jérigo omgekom het vanweë hulle ongehoorsaamheid. Nie omdat God hulle almal wou verdelg nie.

Die beskikking blyk agterna🔗

Hoe herken jy die beskikking of die leiding van die Here? Bybelse mense merk dit soms self op. By ʼn besondere sameloop van omstandighede kan ons ook sê: dit is nie toeval nie. Ek hoor so iets ook by Laban wanneer Eliëser, die kneg van Abraham, vir Isak ʼn vrou moet soek en op so ʼn wonderlike manier vir Rebekka ‘vind’: “Van die HERE kom die saak”, hoe kan ʼn mens daarteen ingaan? (Génesis 24:50). Die leiding van God was onmiskenbaar.

Ewenwel word daar meestal agterna gepraat oor die beskikking van God, en is dit ʼn opmerking van die Bybelskrywer. Dit is duidelik in die geskiedenis van Amásia wat ek reeds genoem het (2 Kronieke 25). In die parallelle teks in 2 Konings 14:11 word glad nie gesê dat Amásia se keuse om Joas se waarskuwing te negeer, met die beskikking van God te doen het nie. Die Kroniekskrywer lê wel die verband. Dit wys op geskiedskrywing wat met ʼn soort teologiese besinning gepaard gaan. Dit geld eintlik oral waar daar agterna deur die outeur oor die beskikking van God gepraat word. Die outeur word deur die Gees van die inspirasie gehelp om sulke verbande te sien en te formuleer.

Ingeskakel🔗

Ten slotte kom ons by God se eie planne en bedoeling. By die tekste waar sprake is van menslike handeling en die beskikking van God, stuit ons steeds weer teen ʼn Goddelike beleid wat op ʼn hoër vlak as dié van mense lê. Deur straf en seën kom God steeds nader aan waar Hy wil wees. Hy sit sy reddingsplan voort en gebruik daarin ook die dade van ons, mense. Hy skakel ons in, soms bewus en vrywillig, soms teen wil en dank. Kyk byvoorbeeld na Simson. Ons moet sy hele optrede sien in die lig van Rigters 14:4. Dit gaan daar ook oor die beskikking van God. Simson het geweet van sy lewensdoel. Hy sou begin met die verlossing van Israel uit die mag van die Filistyne. Toe die Gees hom dryf, soek hy aanleiding om die stryd met die Filistyne aan te gaan. Daarom steek hy die grens na Timna oor. Dat hy toe op ʼn Filistynse vrou verlief raak, was, tereg, nie na sy ouers se sin nie. Tog was dit in die plan van God, die pad vir Simson om ʼn eenmanoorlog teen Filistéa te begin. So kan ons dade soms merkwaardig met die bedoeling van God verweef word.

pad splits

Juis dié paadjie🔗

Terug na die begin van die artikel. God het aan Adam en Eva die ruimte gegee om hulle eie besluit te neem. Was God toe nie meer almagtig nie? Hierdie artikel toon na my mening dat God die almagtige was en bly. Die besondere van ons God is dat Hy mense ruimte gee vir eie keuse, maar nie ten koste van sy ruimte vir Homself nie. God word nie deur die skepping in sy handeling beperk of  word van skepsele afhanklik nie. Die unieke van God is dat Hy aan ons vryheid kan gee sonder om vryheid te verloor. En Hy kom by die einddoel van die geskiedenis, selfs deur die kleinste stappies van mense.

Ter afsluiting ʼn treffende voorbeeld. Soms verwag mens in die Bybel ʼn opmerking oor die beskikking van God, maar dit staan nie daar nie. Soos in Rut 2:3. Rut wil gaan are optel en soek na ʼn geskikte garsland. Dan staan daar so mooi: “En gelukkig kom sy op ʼn stuk land af..." Vir haar was dit blote toeval. Miskien het sy daar by Bethlehem op ʼn plaaspaadjie gestaan en kon óf links óf regs gaan. Sy kies ʼn rigting sonder om te dink. Maar in God se plan was dit ʼn keuse van wêreldbetekenis. Want langs dié paadjie kom Rut in aanraking met Boas, so vind hulle mekaar en word Rut ʼn voormoeder van ons Heiland, wat in dieselfde Bethlehem gebore sou word. Stel jou voor dat Rut die ander paadjie gekies het. Daarom was die keuse geen toeval nie, maar die beskikking van God!