Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Die Huwelik met 'n Ongelowige

trouringe

Daar bestaan heelwat misverstande oor die huwelik van ‘n Christen met ‘n ongelowige. In die praktyk hoor ‘n mens na sulke huwelike dan opmerkings soos: “Ag wat, dan kan die huwelik net nie kerklik bevestig word nie”. Die indruk word geskep dat so ‘n huwelik wel as ‘n burgerlike huwelik gesluit kan word, maar ongelukkig nie kerklik nie. Dit word dan as die enigste beswaar gesien. Maar dit is ‘n ernstige mistasting. 

Wanneer ons kyk hoe die Here oor so ‘n huwelik praat, is dit opvallend dat daar ernstige woorde gebruik word wat nie baie vriendelik op die oor val nie:

  • Genesis 24:9: Abraham laat sy slaaf Eliëzer sweer dat hy nie vir Isak ‘n vrou uit die Kanaäniete sal neem nie;

  • Genesis 26:34-35: die Hetitiese vroue van Esau is vir Isak en Rebekka “’n bitter verdriet”;

  • Eksodus 20:3: God wil in ons huise nie diens aan ander gode sien nie;

  • Deuteronomium 7:3: ‘n Verbod op die huwelik met Kanaäniete; God waarsku sy kinders teen afvalligheid;

  • 1 Konings 11:1-2: God het huwelike verbied met mense uit alle volke rondom Israel; Salomo kom tot ‘n val deur hierdie gebod te oortree (Nehemia 13:26);

  • Esra 10:10: Weer die identifisering van troubreuk; die vreemde vroue sal weggestuur word, saam met hulle kinders; ook moet die oortreders ‘n skuldoffer bring (vs. 19);

  • Nehemia 13:23–27: Die profeet Nehemia is woedend vir die Judeërs wat vreemde vrouens getrou het; hy vervloek hulle, slaan hulle, trek hulle hare uit, en besweer hulle by God dat hulle dit nie mag doen nie; een van die priesters word omrede sy gemengde huwelik weggestuur;

  • Maleagi 2:10-12: Die huwelik met “’n dogter van ‘n uitlandse god” is ‘n gruweldaad; die heiliges van die Here, vir wie Hy lief is, word ontheilig; die Here spreek die doodstraf uit oor iemand wat dit doen, ook al is dit iemand wat getrou elke keer sy offers bring;

  • 1 Korintiërs 7:39: ‘n Weduwee kan trou met wie sy wil, maar net in die Here;

  • 2 Korintiërs 6:14-18: Uitdruklike vermaning om nie gemeenskap te hê met enige een wat ongelowig of onrein is nie, “nie in dieselfde juk trek nie”; wat kan ‘n gelowige met ‘n ongelowige deel?;

  • Efesiërs 5:22-33: Man en vrou is een van siel en liggaam, net soos Christus en sy gemeente.

Lewenseenheid🔗

Uit bogenoemde teksverse is dit duidelik dat ‘n mens nie die huwelik kan skei as synde ‘n burgerlike of kerklike huwelik nie. Dit is ‘n lewenseenheid wat of deur God, of nie deur God goedgekeur word nie. Wat is hier die beslissende faktor? Wel, dat ons vrygekoop is na liggaam en siel, met die bloed van ons Here Jesus Christus. Ons behoort aan Hom – heeltemal. Ons moet ons hele bestaan sien in die lig van die naderende bruilof van die Lam. Die voorbereiding daarvoor is ‘n saak van liefde en wederliefde, en wedersydse trou. Dit vra die oorgawe van ons hele hart. Dit is die grootste en eerste gebod en die spilpunt van God se verbond met ons. Ons kan nie gedeeltes van ons lewe daarbuite hou nie; ons kan nie gedeelde lewens lei, waar God soms uitgesluit is nie. Dit geld vir baie terreine, maar spesifiek vir die huwelik. Dit is nie sommer net ‘n daad nie, dit is ‘n lewenslange verbintenis! 

Hoe kan ’n gelowige mens in ‘n lewenseenheid ingaan wat indruis teen die eenheid wat reeds bestaan? Hoe kan iemand sê dat hy die Here dien met sy hele hart, en terselfdertyd sy hart gee aan iemand wat nie die Here dien nie? Dis hoekom die Bybel dit “ontheiliging” noem: die lewe, wat geheel en al  aan die Here behoort, word deur so ‘n huweliksverbintenis eintlik van God vervreem.

Geloofseenheid🔗

Dit is die rede hoekom ons vir hierdie daad op ons hoede moet wees. ‘n Mens hoor soms versagtende argumente van iemand wat so ‘n huwelik wil sluit: ek kan/mag nog steeds Bybel lees, of: ek kan kerk toe gaan soveel soos ek wil, daarin is ek heeltemal vry; of: die kinders kan darem gedoop word, of: ons sal hulle na die Christelike skool toe stuur ensovoorts.

twee ringe

Hierdie standpunte is by die ongelowige seker prysenswaardig, ‘n mens kan sien die persoon is bereid om begrip te toon. Maar hoe goed die bedoeling ook al is, begrip is nie geloof nie. Dít is wat die Here van ons vra: dis reg as jy trou met iemand, maar maak seker dis in eenheid van geloof. Anders word dit ‘n gedeelde lewe. Iemand mag egter redeneer: “‘n gedeelde lewe is miskien nie so maklik nie, maar vir my is dit die moeite werd”. Dit is nie die punt nie! Dis nie wat ons daarvan dink of wat ons daarvan maak nie. Dit is God wat Hom vertoorn oor die samevoeging van ‘n gelowige met ‘n ongelowige. Hierdie twee persone het niks in gemeen nie, deur God se genade is daar juis ‘n groot verskil tussen die een en die ander. Die Here het ons bevry van die lewe “sonder hoop en sonder God (Efesiërs 2:12)”. Wanneer ons hierdie leefstyl opsoek, en onsself daaraan bind is dit vir Hom ‘n onaanvaarbare belediging. Dit blyk baie duidelik uit die ernstige woorde waarmee die Bybel hierdie praktyk veroordeel. 

Is die Ongelowige dan nie Geheilig deur Sy Gelowige Lewensmaat nie?🔗

Ongetwyfeld sal iemand nou wys op 1 Korintiërs 7:12-16. “’n Vrou weet immers nie of sy haar man sal red nie”, en ook andersom. Die ongelowige man is geheilig in sy vrou en die ongelowige vrou is geheilig deur haar man, so lees ons. Daardeur is die kinders ook geheilig. Is dit nie ‘n aanvaarbare situasie nie? Ja en nee.

Aan die een kant ja, maar dan in die konteks waarin Paulus dit skryf. Hy praat van ‘n sendingsituasie. In so ‘n geval kan dit wel gebeur dat as gevolg van die evangelie net een huweliksmaat ‘n gelowige word. Moet so ‘n persoon dan dadelik skei van sy huweliksmaat? Dit is die vraag waarop die apostel ontkennend antwoord. Die gelowige moet dan nie byvoorbaat die ongelowige verlaat nie. Maar dit is nie ‘n verskoning om so ‘n huwelik te begin nie! In hierdie verband is die Skrif duidelik, en dit alles word nie deur hierdie teks weerspreek nie. Hier gaan dit oor ‘n huwelik wat reeds bestaan het.

Aan die anderkant nee. Paulus skryf ook dat die gelowige vrou die ongelowige man maar kan laat gaan as hy sy gelowige vrou wil verlaat. Die broer of suster is in so ‘n geval nie gebind nie. Daaruit blyk dat Paulus geen gemeenskaplikheid sien waarop so ‘n “gemengde” huwelik herstel kan word nie. Dit spreek boekdele. Vir iemand wat opreg die Here wil dien, is dit ‘n swaar las om dit te deel met iemand wat totaal anders gemotiveer is. Baie mense sal dit ongelukkig kan beaam. Die Skrifwoord, dat die gesin in so ‘n geval tog heilig is, bied dan in ‘n sekere mate troos. Maar dit is nie ‘n vrystellingsbrief om op die huweliksdag teen God se bedoelings in te gaan nie.

Gedeelde Verantwoordelikheid🔗

In die praktyk beteken dit dat ‘n kerkraad ernstig sal waarsku teen sulke voornemens, en ook die tug sal toepas indien nodig. Nie tug toepas net as ‘n formele daad nie, want dit is nie die doel van die tug nie. Soms hoor jy opmerkings soos: “hulle hou jou net 2 of 3 keer weg van die nagmaal af, dan is die saak weer reg”. Amper asof dit die prys is wat jy daarvoor moet betaal! Dit is baie duidelik ‘n ongeestelike manier om so daaroor te dink of praat.

Om van die sakramente af weggehou te word, dui daarop dat jy moet kies, kies wie jy wil dien: maar jy kan nie twee gode tegelyk dien nie. As die Here jou God is, luister dan na sy stem. Die kerkraad het ‘n belangrike taak hier. 

Maar wat is ‘n kerkraad? ‘n Kerkraad se taak is om leiding te verskaf uit die Woord van God, en nie om verantwoordelikheid op homself te neem nie. Dit is daarom belangrik dat die gemeente hiervan bewus is. Dat albei sorg vir ‘n klimaat waarin daar vir so ‘n huwelik gevrees en gewaarsku word. Duidelikheid oor wat die regte weg is, is by sulke situasies ‘n absolute vereiste. En nog meer belangrik, ontsag vir God...

Wat is die Regte Volgorde🔗

Stoot ons dan nie mense af, wat nie die Here van jongs af leer ken het nie, en nou deur persoonlike kontak met die kerk in aanraking kom, nie? 

Bybel met ringe

Dit is verseker nie die bedoeling nie. Die kerk word geprojekteer as ‘n stad met twaalf poorte wat oop staan; almal wat wil weet wie die Here is, is welkom. Ons het almal verskillende maniere om hierdie mense te ontvang en verder te help. Daarom moet ‘n paartjie van verskillende gelowe nie noodwendig by voorbaat verbied word nie. God kan so ‘n verhouding gebruik om Homself aan iemand bekend te stel. Hiervan is daar gelukkig baie voorbeelde. Maar daar is ‘n absolute voorwaarde, dat daar geen beloftes gemaak word, alvorens so ‘n persoon van harte gekies het vir die Here nie. En ook, hierdie voorwaarde moet vanaf die begin van die verhouding aan albei partye gestel word. Daar is ongelukkig ook voorbeelde waar hierin onverantwoordelik opgetree is, en dat daar in die verhouding te veel te vroeg beloof is. Hieroor moet dan openlik gepraat word, vir die geloofskeuse moet tyd en ruimte geskep word. En uiteraard moet ampsdraers behulpsaam wees daarmee, hulle sal verseker oor hierdie saak moet praat.

Wanneer ‘n ongelowige ‘n Christen beter wil leer ken, sal dit vir hom of haar in die eerste plek ‘n kennismaking met Christus wees. Dan kom verhoudings in ons lewens in die regte volgorde te staan.