Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die Jode steeds God se volk?

Mense bly gefasineer deur die Joodse volk. Hulle politieke doen en late en veral hul verhouding met die Palestyne trek ten minste weekliks die aandag in nuusberigte. Hoe moet ons as Christene teenoor die Jode staan? Kies ons sommer kant vir die Jode by wie daar dikwels vyandige afwysing van Christus is? Of staan ons eerder simpatiek en hartlik verbonde met die Palestyne onder wie daar talle opregte Christene is? Sentraal in wat bepalend vir ons houding behoort te wees, is die vraag of die Jode steeds die volk van God genoem kan word.

Vervanging?🔗

Talle Christene sien die Jode geensins meer as God se volk nie. Israel was dit wel, maar dit is verlede tyd. Volgens die standpunt van hierdie Christene, moet ons al die titels van Israel verstaan as oorgedra op die kerk van Christus. Daaronder word verstaan die kerk waarin daar geen onderskeid meer is tussen Jood of Griek (lees : “heiden”) nie. Ons het vandag te doen met die kerk van Christus uit alle volke wat in die plek van Israel gekom het. Paulus maak tog baie van die een kerk wat op die een fondament gebou is. En kenmerkend van hierdie kerk, is dat “die middelmuur van skeiding” afgebreek is (Ef. 2:11–20).

Die skeiding tussen Israel en die volke is weggeneem. Die Ou Testamentiese Israel word vervang met ’n Nuwe Testamentiese volk wat bestaan uit Jode en gelowiges uit die heidendom. Israel is die erenaam van die gemeente van Christus. Ware gelowiges het tog vir Abraham as vader. Paulus betoog dit uitvoerig in sy briewe aan die Galasiërs en veral ook aan die gemeente in Rome. Is dit nie deel van die evangelie waarvoor hy hom as apostel nie hoef te skaam nie (Rom. 1:16–17)? Die evangelie is ’n krag van God eerste vir die Jode, maar sekerlik ook vir die heidene wat saam met die Jode daarop mag roem dat hulle saam vir Abraham as vader het. Vader van alle gelowiges – Jood en nie-Jood. In Christus het die onderskeid tussen Jode en nie-Jode finaal verdwyn – in Christus is daar nie meer Jood en nie-Jood nie (Gal. 3:28).

God se oogappel🔗

“Dit kan nie wees nie”, is die uitroep van baie Christene wat met arendsoë die politieke gebeure in die Midde-Ooste dophou. Vir hulle is die huidige politieke staat Israel die lewendige bewys dat Israel nog steeds en onvoorwaardelik God se volk is en dit altyd sal bly. Die stigting van die Joodse staat in 1948 is vir hulle die vervulling van baie Ou Testamentiese profesië. Maar daar bly ook nog vir hulle baie profesië wat oor Israel vervul moet word. Die eindtyd bring nog die slag van Armageddon, Jerusalem moet as stad van Dawid herstel word, die tempel moet herstel word en dan is daar die verwagting dat die Messias sal terugkeer op die Olyfberg. Verwagtings genoeg vir die Jode en hul land!

In hierdie groot verhaal is daar eintlik geen toekoms vir die kerk self nie. Die kerk verdwyn in Israel. Israel neem weer die plek van die kerk in wanneer Christus sy duisendjarige ryk hier op aarde kom vestig. U herken hiermee waarskynlik reeds die naam van die Chiliasme wat aan hierdie kyk op die verhouding tussen Israel en die kerk verbind word! God het volgens hulle eintlik twee “kerke”, naamlik die Joodse volk en dan ook die Christelike volk / kerk. Ons kan hier selfs praat van ’n tweevoudige weg na God toe – een vir die Jode en ’n ander vir die heidene.

God bly trou al word Israel ontrou🔗

Oor die verhouding tussen Israel en die kerk is daar baie te skryf. Ek wil my ter afsluiting hier beperk tot ’n kort kritiek op die sogenaamde “vervangingsmodel” wat deur baie Gereformeerdes aangehang word. Van kritiek teen die Chiliasme weerhou ek my vir eers. In ’n volgende uitgawe kan ons ’n keer die ernstige dwalinge van die Chiliasme in sy verskillende vorme aanspreek. Die vraag is egter of ons as Gereformeerdes wel noukeurig genoeg omgaan met die Skrif wanneer ons sonder meer die kerk sien as vervanging van Israel.

Die vraag is of ons so ver kan gaan om al die volke saam met Israel op een lyn te stel. Kan ons sê dat God die volk Israel verstoot het? Dit lyk vir my asof in elk geval die hele brief Romeine daarvan getuig dat God dit nie doen nie! Die hele brief Romeine is juis ’n getuienis van God se trou aan alles wat Hy van die begin aan Israel beloof het. Trouens, die evangelie is juis ’n openbaring van die trou / geregtigheid van God (Rom. 1:17). Natuurlik was en is Israel ontrou. Israel moes ’n lig gewees het vir die nasies. Abraham moes ’n seën wees vir al die volke. Israel was egter ontrou. In die brief aan die Romeine skryf Paulus nou oor die trou van God wat geopenbaar word in die evangelie ten spyte van Israel se ontrou.

Dit is juis Israel se ontrou wat God se trou in Christus so nodig gemaak het. Juis in die evangelie sien ons God se trou aan alles wat Hy aan Israel beloof het. Redding vir Israel deur geloof, maar ook so redding vir al die nasies deur geloof. Paulus ontken dus ten sterkste dat God Israel verstoot het. Hulle band met Abraham kan nie sommer ontken word nie. Wel geen geloofsband vir die ongelowige Jode met Abraham nie en daarom staan hulle net soos die heidense volke onder die oordeel van die Here. Maar maak dit die nageslag van Abraham gelyk aan ander volke? Daardie konklusie trek Paulus nie!

Die roeping van God aan die nageslag van Abraham is sonder berou. God se beloftes, is oproepe tot geloof en bekering. Dit geld nog onveranderd vir Israel. Hulle bly steeds die olyfboom waarop die wilde olyfboomtakke (gelowiges uit die heidendom) ingeënt moet word (Rom. 9 - 11). Paulus verlang daarna dat sy volksgenote (die Jode!!) tot geloof sal kom. Want aan hulle behoort die beloftes (Rom. 9:1–5)! Volgens Paulus is die beloftes hier nie verlede tyd nie. Ter wille van die aartsvaders, het die Here steeds die Jode op die oog (Rom. 11:28).

Die Here maak dus geen vrede met die verharding van die Jode nie. Daar bly by God die opregte begeerte dat hulle in dieselfde geloof as Abrahan sal lewe, en so sal ons wel een met hulle wees. Hierdie instelling van Paulus is duidelik heeltemal iets anders as die houding van die Chiliaste wat die Jode sonder meer “God se volk” noem. By ons behoort daar egter wel die opregte en ernstige begeerte te wees vir die bekering van die Jode. Dit vra van ons ’n lewe vanuit die evangelie en ’n liefdevolle verkondiging daarvan aan die Jode, sodat hulle jaloers gemaak sal word (Rom. 11). Hulle moet besef dat hulle hul erfporsie verspeel wanneer hulle nie glo in en leef vanuit die trou van die Here wat in die evangelie bekendgemaak word nie.