Die Kerk
Die Kerk
Die Skrif praat so dikwels van die kerk dat die leer oor die kerk ’n afsonderlike deel van teologiese studie uitmaak. Verskeie Nuwe Testamentiese boeke fokus op die kerk. Handelinge verhaal die versameling van die Nuwe Testamentiese kerk; 1 Korinthiërs praat in besonder oor die trou van God teenoor sy kerk; die kerk as liggaam van Christus is die tema van Efesiërs (1:22, 23; 5:30-32); Kolossense beklemtoon die heerlike waarheid dat Christus die Hoof van die kerk is (1:18; 2:10); in 1 Timótheüs word ons geleer oor betaamlike gedrag in die kerk (3:15); en Titus bevorder die goeie orde van die kerk (1:5).
Die leer oor die kerk moet dus nie afgeskeep of oorgesien word nie. Ewenwel is daar vandag min mense wat weet wat die Bybel oor die kerk leer, of besef waarom die kerk so belangrik is.
Die Griekse woord wat met kerk vertaal word, is die werkwoord “uit-” of “uitgeroep”. Die woord kerk verwys by uitstek en uitsluitlik na diegene wat verlos is. Die naam herinner ons daaraan dat die ware lede van die kerk hulle is wat “uit die duisternis geroep [is] tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9). Dit herinner ons ook daaraan dat hulle plek in die kerk deur die genade is - hulle is nie deur eie keuse of werke lede van die kerk nie, maar deur die roeping van God.
Dat lede van die kerk “uitgeroepenes” genoem word, verwys na hulle verlossing van die sonde (hulle is uit die duisternis geroep) én na hulle geestelike afsondering van die wêreld en sy boosheid (2 Kor. 6:14-18). Die heiligheid en gehoorsaamheid van kerklidmate word dus in die naam kerk inbegryp. ’n Kerk wie se lede nie heilig is nie, is die naam kerk nie waardig nie.
Heiligheid is wesenlik eie aan die bestaan van die kerk. Die lede word tot heiligheid geroep, uitverkies (Ef. 1:4) en vrygekoop (Kol. 1:21, 22). Heiligheid van die kerk is belangrik, omdat dit ’n verband het met God se doel vir die kerk. Die rede vir die bestaan van die kerk is die heerlikheid van God (Ef. 1:6, 12). Hierdie doel word in die heiligheid van die kerk en sy lede verwesenlik. ’n Onheilige kerk, een wie se lede nie heilig is nie, kan en sal God nie verheerlik nie. Die heerlikheid van God straal bowenal uit die heiligheid van die kerk.
Lidmate wat nie soos geroepenes lewe nie, is die kerk van vandag tot skade en skande. As die kerk nie, deur die optrede van sy lidmate en deur sy praktyke, van die wêreld en sy leringe verskil nie, is sy getuienis vrugteloos. Die heerlikheid van die kerk en sy getuienis in hierdie verlore wêreld bestaan in sy geroepenheid, sy afsonderlikheid en heiligheid - hy is ánders as die bose wêreld.
Bid dan dat al die lede van die kerk van Christus “heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde [sal] wees, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het” (Ef. 1:4, 6). Net só sal die getuienis en die werk van die kerk voorspoedig wees.
Die Bybel gebruik die woord kerk nie altyd op dieselfde manier wanneer daar oor die kerk gepraat word nie. Die woord word nooit gebruik om na die gebou waarin die gemeente byeenkom, te verwys nie, maar wel vir die plaaslike gemeentes (1 Kor. 1:2; Openb. 2:1, 8, 12) of die versameling van al die mense wat in die verloop van die geskiedenis geroep en verlos is (Ef. 1:23).
Die onderskeid tussen die kerk as die liggaam van Christus en die kerk as die plaaslike gemeente kan op verskillende maniere gemaak word. Soms word die kerk as plaaslike gemeente die kerk as instituut of die sigbare kerk genoem, omdat dit ’n sigbare en institusionele vorm daarvan in die wêreld is. Andersyds word die versameling van diegene wat verlos is, ook die kerklike organisme of onsigbare kerk genoem, omdat dit in Christus lewe (’n “organisme” is ’n lewende skepping) en omdat dit geestelik en onsigbaar is (ons kan nie die grense daarvan bepaal nie).
Die kerk as liggaam bestaan net uit die uitverkore en verloste volk van God (1 Pet. 2:9), terwyl in die plaaslike gemeente steeds nog huigelaars is (Openb. 2:14, 15; Openb. 3:17, 18). Die kerk as liggaam sluit hulle in wat reeds gesterf het, hulle wat vandag lewe én hulle wat in Christus uitverkies is, maar nog nie gebore of verlos is nie. Die kerk as gemeente sluit net diegene in wat op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis op aarde is.
Die onderskeid tussen gemeente en liggaam is belangrik. Hoewel daar baie gemeentes is (Openb. 2 en 3), is daar altyd net die een liggaam van Christus (1 Kor. 12:12). Daardie liggaam kan nie deur sy vyande geskaad of vernietig word nie (Matt. 16:18), maar ’n besondere gemeente wel (1 Kor. 1:11; Openb. 3:1, 16). ʼn Plaaslike gemeente se kandelaar as kerk van Christus kan selfs “van sy plek verwyder” word (Openb. 2:50). Die onderskeid tussen die betekenisse van die kerk in hierdie sin moet onthou word, sodat ons nie verwar word nie.
Die onderskeid tussen gemeente en liggaam is ook ten opsigte van lidmaatskap van die kerk van betekenis. Hoewel ons verplig is om ons by die sigbare kerk, ’n plaaslike gemeente, te voeg, is dit God wat ons deur uitverkiesing en die bloed van Gólgotha deel maak van die liggaam van Christus (Kol. 1:12).
Ewenwel oorvleuel die twee gebruike van die woord kerk, al kan hulle onderskei word. In die plaaslike gemeente word ’n deel van die liggaam van Christus gevind, en net omdat deel van sy liggaam daar is, kan dit hoegenaamd kerk genoem word.
Ons sê hiermee dat die kerk in die ware sin van die woord eksklusief die gemeenskap en die liggaam is van hulle wat uitverkies en verlos is. Sommige gemeentes kan met reg “kerk” genoem word, want die verlostes is daar, net soos die Ou Testamentiese volk Israel genoem is omdat die ware Israel daar teenwoordig was (Rom. 2:28, 29; Rom. 9:6; Gal. 3:29).
Laat ons die leer van die Skrif oor die kerk ken, sodat ons die kerk eer en liefhet as die liggaam van Christus én as instituut.