Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

"Die Kerk" - 'n Afgod

mense in die kerk

Dat die Christelike kerk in die "nuwe Suid-Afrika" deur afgodery bedreig word, is in die afgelope tyd duidelik aangetoon. Die strewe van die WCRP na 'n menseregte-akte waarin die Christelike godsdiens as die gelyke van heidense godsdienste gestel word, het die gevaarligte al vir 'n geruime tyd aan die flikker. Oor die openingsgebede by die parlement en by Kodesa het die stof nou nog nie gaan lê nie. Die boodskap is duidelik: die Christelike kerk mag nie bereid wees om met afgodery saam te gaan nie.

Vir blatante afgodery sê gereformeerde Christene “nee”. Daarvoor moet ons God dank. Maar wat van ons eie huisgode? As ons hand in eie boesem steek, watter diep verskuilde afgode kom daar uit? Eerlike selfondersoek is nodig, want soos Ragel van ouds steek ons ons huisgode heel bedrewe weg — sy onder die saal van haar kameel, óns agter 'n front van gereformeerde vroomheid.

Verafgoding van "Die Kerk"🔗

'n Afgod wat 'n skyn van vroomheid dra, is "die kerk". In hierdie verband sal ons miskien gou wees om die vinger in die rigting van die Roomse dwaling te wys, waarvolgens die kerk ons salig maak. Inderdaad het ons geen Saligmaker buiten Jesus Christus nie. Daarom: wie die kerk tot Saligmaker verhef, maak van die kerk 'n afgod.

Kerkbywoning🔗

Tog is ook gereformeerdes aan hierdie dwaling blootgestel. Kerkbywoning word dikwels deur lidmate ervaar (en deur dominees gepreek) as iets wat ons saligheid bepaal. Natuurlik mag ons nie eiewillig van eredienste wegbly nie! In Hebreërs 10:25 word ons uitdruklik daartoe vermaan. Ons moet die openbare erediens gereeld opsoek. Maar wie dit doen met die gedagte dat hy daardeur salig gaan word, is besig met afgodery. Gelowiges kom immers in die erediens saam — klokslag gereeld! — nie om gered te word nie, maar omdat ons gered is. Bywoning van die erediens is deel van ons dank en lof aan die Here God omdat Hy ons in Jesus Christus van die oordeel en die dood bevry het (vergelyk Hand. 2:41, 42).

Kerklike Gemeenskap🔗

'n Afgodery waaraan ons nog meer blootgestel is, is die verafgoding van die kerklike gemeenskap. Dit gebeur waar die gemeenskap van die gelowiges 'n doel op sigself word. Hierdie soort afgodery wurm hom op 'n baie vroom manier in ons belydenis in. In die Twaalf Artikels bely ons mos dat ons glo aan die gemeenskap van die heiliges. Wat egter maklik vergeet word, is dat ons daarmee bely dat almal wat deur die geloof met Christus gemeenskap het, ook met mekaar gemeenskap het en moet hê (Sondag 21). Waar hierdie volgorde egter omgekeer word, kom die dwaling. Dit gebeur wanneer ons begin dink dat gemeenskap tussen mense tot eenheid in geloof lei. Sodoende verhef ons gemeenskapsbeoefening (koinonia) tot Saligmaker.

In die praktyk lei hierdie dwaling tot gemeenskapsdrywery. Mense begin die kerklike gemeenskap dien asof dit godsdiens is. In so 'n godsdiens is lidmate bereid om goed en bloed te gee (en hulle word ook deur die dominee daartoe aangemoedig) ter wille van die kerklike gemeenskap. Offers vir die Here word verskuif na offers vir die kerk. Geloof word afhanklik gestel aan betrokkenheid by die kerklike organisasie. Die dominee se preke draai om dinge wat die gemeente saam kan doen: verkopings, kampe, kursusse, Bybelstudie, ontspanningsaande ... alles bloot net om nader aan mekaar te kom. Die koinonia het 'n doel op sigself geword!