Bron: Die Kerkblad, 1990. 5 bladsye.

Die kerk se antwoord op Satanisme

Satanisme🔗

Inleiding🔗

Satanisme en die Satanskultus het in die loop van die geskiedenis ’n hele reeks ontwikkelinge deurgemaak en ook verskillende gestaltes aange­neem. Die vorme wat dit in die tyd van die Nuwe Testament en in die Middeleeue aangeneem het en in ons tyd aanneem, verskil aanmerk­lik. Die grondpatroon het egter onveranderd gebly.

Die eienaardige van, die moderne Satanisme is egter dat dit nie aan die bestaan van Satan glo nie, en dus ook nie as ’n doelbewuste en direkte verering van Satan beskou kan word nie. Die Engelsman, Aleister Crowley (1875-1947), wat homself beskou het as die inkarnasie van Satan, het die moderne Satanisme aan die begin van hierdie eeu op gang gebring. Sy slagkreet was: "Doen wat jy wil, dit is die volle Wet". Satanisme is ’n ‘godsdiens’ van genot, ’n fees van die vlees, ’n verset teen die Christelike seksuele moraal.

Nuwe stimulus word aan die beweging verleen toe Anton S. LaVey op 30 April 1966 in San Fransisco (waar verlede jaar die groot aardbewing plaasgevind het) die ‘kerk van Satan’ gestig het – ’n staatsgeregistreerde ‘kerk’ in die VSA. ’n Satansbybel is ook opgestel. LaVey het aangevoer dat hy die Satanskerk gestig het as ’n reaksie op die huigelary en skynheiligheid wat in die Christelike kerk aangetref word, waar mense Sondae met vroom gesigte in die erediens sit, maar Maandae doen wat hulle lus het. Hy voer ook aan dat die Christe­like kerk die mens se natuurlike begeertes foutiewelik tot sonde verklaar het en dat ’n mens veel eerder jouself moet uitleef en doen wat lekker is.

Dit is duidelik dat die Satanisme feitlik alles van die Christelike geloof nageboots en gebanaliseer het. So is daar sprake van ’n Satans­kerk, ’n Satansdoop (swart doop), ’n Satansnagmaal (swart mis), ’n Satansbybel, ’n Satansbelydenis, Satansliedere, Satanshuwelik ens. Uiters pervers is die viering van die swart mis, terwyl die Christelike geloof en die naam van Christus hiertydens bespot word. ’n Naakte vrou word as altaar gebruik en die hoëpriester verkeer ook seksueel met haar tydens die viering. Gesteelde Christelike simbole word met speeksel, urine en drek veront­reinig. Bybelgedeeltes word ver­draai en lasterlikhede vervang die gebed.

Die vraag kan gestel word of daar inderdaad mense kan wees wat aan hierdie dinge deelneem. Navorsing in Engeland het bevind dat intelli­gente en belangrike mense hieraan meedoen. En Suid-Afrika het ook reeds sy kwota Sataniste.

Satanisme

Die antwoord van die kerk🔗

Die vraag kan nou gestel word hoe­danig die kerk van die Here op hierdie verskynsel moet reageer. Hier sou ek graag op ten minste tien aspekte die aandag wou vestig.

  • Ten eerste moet die kerk deeg­lik rekening hou met die mag en werklikheid van Satan, demone en bose magte,

Natuurlik moet ons daarteen waak om nie te veel aandag aan die Satan te bestee, sodat hy hom belangriker ag as wat hy in werklikheid is nie. Aan die ander kant moet ons ook versigtig wees om hom te onder­skat, sodat hy ons nie onverhoeds oorrompel nie. In ons tyd word hy sowel oorskat (deur die Satanisme) as onderskat (deur die kritiese teologie).

Sedert die agtiende eeu, toe die menslike verstand tot hoogste maat­staf verhef is, het die persoon van Satan vir baie ’n probleem geword. Ons sien hom dan nêrens nie, hoe kan hy dan nog bestaan? Is dit nie kinderagtig om die bestaan van so ’n onsigbare persoon te aanvaar nie? Die beroemde sielkundige, Freud, voer aan dat die duiwel ’n projeksie is van die negatiewe kant van die vaderfiguur. Die groot Duitse Nuwe-Testamentikus, Bult­mann, oordeel dat die Satansfiguur deel vorm van die mitiese inkleding van die Bybel. Ook in Suid-Afrika is daar enkele teoloë wat hierdie meninge navolg.

Hierteenoor praat die Skrif op talle plekke in persoonlike terme oor die Satan, die Nuwe Testament nog meer as die Ou Testament. Daarom is dit onjuis om die bestaan van Satan aan volksgeloof en mitiese voorstellings toe te skryf. Die Nederlandse dogmatikus, Wentsel, skryf tereg dat die grootste sukses wat die Satan in die eeu van Verlig­ting geboekstaaf het, was dat vele nie meer sy bestaan aanvaar het nie. Die hervormde teoloog, F.J. van Zyl, stem saam as hy opmerk dat “die grootste triomf van Satan lê in die geloof dat hy nie bestaan nie”. Die Satan is veel meer as die gate in ’n Switserse kaas (soos beweer word), hy is veel eerder die muf in die kaas!

As die moderne Satanisme dan die Satan ontpersoonlik, maar met ’n Satanskultus voortgaan, dan bly die Christelike geloof die werklikheid van Satan aanvaar. Nee, ons glo nie in Satan, soos ons in God glo nie, maar ons erken hom as bose per­soon, teen wie ons stelling inneem en teen wie ons veg. Om die Satan te ‘ontmitologiseer’, beteken om die versoeking van Christus deur Satan te ‘verpsigologiseer’; dit beteken om die verlossingswerk van Chris­tus te ondermyn, aangesien Hy juis gekom het “om die werk van die duiwel tot niet te maak” (1 Johannes 3:8). Christus het meer gedoen as om die duiwel(s) in ons te oorwin, Hy het ook die Satan buite ons oorwin.

As iemand moeite ondervind met die persoon van Satan, kan die vraag gestel word of hy nie ook spoedig moeite sal ondervind met die bestaan van engele nie – en met die Heilige Gees?

Wie graag 'n hedendaagse kykie wil hê in die werklikheid van Satan, kan gerus die boek The Satan Seller (1972) van die voormalige Satanis­tiese hoëpriester Mike Warnke lees. Daarin beskryf hy hoe hy in die greep van Satan beland het, maar op wonderbaarlike wyse deur Chris­tus bevry is.

  • Ten tweede moet die kerk/kerk­raad die lidmate sodanig toerus dat hulle nie deur Satanisme oorval word nie.

Dit is die roeping van predikante en ouderlinge om die gemeente van Christus vir hulle dienswerk toe te rus (Efésiërs 4:12). Deel van hierdie toerusting moet sekerlik daarin bestaan dat die gemeente geleer word “om die geeste te beproef” (1 Johannes 4:1-3), en om te besef dat die eintlike stryd van die kerk gerig is teen die “bose magte” (Efésiërs 6:12).

Die gemeente moet geleer word hoe heilloos die Satan is: Hy verhef homself tot god; hy praat die sonde weg; hy ag ’n ver­losser onnodig; hy is vaag oor die ‘ewige lewe’; hy wil hê dat die mens al sy begeertes onbeskaamd sal uitleef. Soms belowe hy wonderlike dinge aan sy navolgers. Daar is al beweer dat die Satan op geheimsinnige wyse eksamenvrae en rant­woorde aan studente bekend gemaak het! Net om daarna ’n student se lewe te neem. Inderdaad is hy ’n mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:44; 1 Johannes 3:12).

In prediking, kategese, pastoraat en op ander wyses moet die gemeen­te toegerus word om sterk te staan teen die Satan en Satanisme.

boek The Satan Seller

  • In die derde plek moet opgemerk word dat die kerk in sy konflik teen Satanisme moet leer om die Woord van God te hanteer.

Die Satan het die krag van ’n leeu (1 Petrus 5:8), hy ken God (Jakobus 2:19), en ook die Woord van God. Dit blyk duidelik uit die wyse waar­op hy Christus versoek het. Hy pro­beer dat Christus op opportunistiese wyse van die tempeldak afspring, want, so argumenteer Satan, God het tog in Psalm 91:11-12 gesê dat Hy almal wat op Hom vertrou, deur engele sal laat beskerm (Matthéüs 4:6). Die Satan, hy word hier ook duiwel genoem, ken dus die Bybel, maar hy gee daaraan ’n eie inter­pretasie en sê dat hy probeer om Christus en sy heilswerk te vernie­tig. Hier het ons ’n skokvoorbeeld van misbruik van die Bybel. Dat iemand hom dus formeel op die Bybel beroep, is nie voldoende nie; die vraag is of dit ’n korrekte Skrif­beroep is. Christus weerlê hierdie verkeerde Skrifberoep deur ’n ander ter sake Skrifwoord aan te haal (Matthéüs 4:7 ; Deuteronómium 6:16).

Uit hierdie versoeking kan die kerk leer dat die Satan niemand van versoekinge sal spaar nie, en dat hy hom soms as engel van die lig met ’n vroom Skrifgebruik sal voordoen (2 Korinthiërs 11:14). Die kerk kan slegs dan vasstaan as hy in navolging van Christus die swaard van die Gees, die woord van God, reg hanteer (Efésiërs 6:17). Dit veronderstel ’n deeglike kennis van die Skrif en korrekte aanwending daarvan. Ja, die kerk kan slegs dan staande bly as hy vashou aan die vleesgeworde Woord Jesus Christus (1 Johannes 3:8). “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan hy die help wat versoek word” (Heb 2:18). Die Satan kan nie voor die oormag van die Woord van God standhou nie.

  • In die vierde plek moet die kerk in sy stryd teen Satanisme bid en vas.

Deur gebed, dikwels begelei met vas, bely die gelowige sy diepe afhanklikheid van God wat oor alles mag het, ook oor die bose geeste en Satan. Dit is opvallend dat Christus voor sy versoeking gevas het – en ons kan aanneem, ook gebid het (Matthéüs 4:2). Dit is daarom begryp­lik dat Hy by geleentheid gesê het dat ’n “bose gees” (vs 25) “met niks anders as met gebed (en vas) uit­ gedrywe kan word nie” (Markus 9:29).

Slegs gelowiges wat ten volle op God vertrou en hulle heelhartig op God verlaat, kan teen die Satan staande bly. Daarvoor is gebed nodig. En vas ook. Christus het self gesê dat daar 'n tyd van vas sal kom (Markus 2:20), vas as teken van ootmoed voor God, van oorgawe aan God, van vertroue op God.

Warnke skryf in sy genoemde boek dat daar in die stryd teen Satanisme baie gebid moet word. Dis nie sonder rede dat Christus ons leer bid het: “Verlos ons van die Bose” nie (Matthéüs 6:13).

  • Vyfdens moet die kerk altyd leef vanuit die oorwinning in Jesus Christus.

As die kerk bid om van die Bose verlos te word, dan beteken dit nie dat die verlossing onwerklik of onseker is nie. Wel word daar in die Skrif erken dat die Satan, demone en bose magte oor groot krag beskik (1 Petrus 5:8; 1 Johannes 5:19; Openbaring 12:2), en word daar selfs van die “owerste van die wêreld” (Johannes 12:31; 14:30; 16:11) en van die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4) gepraat. Tog geskied dit alles binne die raamwerk van ’n oordeel wat voltrek is (Johannes 12:31; 16:11), van die duiwel wat vernietig is (Hebreërs 2:14), van duiwels wat ontwapen is (Lukas 11:22) en van bose magte wat onttroon is (Korinthiërs 2:15). Christus het immers gekom om die werk van die Satan te vernietig (1 Johannes 3:8).

Die Nuwe Testament praat oor Satan vanuit die perspektief van Christus se stryd teen die oorwin­ning oor Satan, sodat ons nooit oor die Satan en Satanisme buite Chris­tus om behoort te praat nie. Die roeping van die kerk bestaan in die uitroep van die oorwinning van Christus oor Satan. Juis daarom is betrokkenheid by die lidmaatskap van die kerk as liggaam van Chris­tus vir die gelowiges so belangrik. Die kerk is immers die verloste gemeenskap wat deur Christus deur sy Woord en Gees gelei en bewaar word.

sataniese bybel

  • In die sesde plek moet die kerk leef vanuit die vervulling met die Heilige Gees

In ’n “geestelike stryd” (Efésiërs 6:12) gaan dit oor die ontmoetingsveld van geestelike kragte en daarvoor is die werk van die Gees van God on­misbaar. Dit is daarom opvallend dat Christus voor sy openbare op­trede en voor sy versoeking deur die duiwel, eers gedoop is én dat die Gees van God “op Hom gekom het” (Matthéüs 3:16-17). God het Hom met die Heilige Gees “gesalf” en met krag toegerus, sê Paulus, en Hy het goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die dui­wel was (Handelinge 10:38). Eers na sy salwing met die Heilige Gees begin Hy deur die Gees duiwels uitdryf as teken van die deurbraak van die koninkryk van God in hierdie wêreld (Matthéüs 12:28).

In verband met die werk van die Heilige Gees kan verder ook gedink word aan die “beseëling met die Heilige Gees” (2 Korinthiërs 1:22, Efésiërs 1:13; 4:30), waarmee die elemente van bewaring en waarborg vir die gelowige omskryf word.

  • In die sewende plek moet die kerk altyd waak teen ’n Sa­tanskultus in sy eie midde

Hierdie stelling klink na ’n teenstry­digheid: die kerk van Christus en die Satanskultus kan tog nie met mekaar iets te doen hê nie! Tog word daar in Openbaring 2:9 ’n waar­skuwende woord (”sinagoge van Satan”) aan ’n kerk van Christus (Smirna) gerig. Selfs in die dissipel­kring van Christus het die Satan baie vatkans gekry. Ons weet dat Petrus by geleentheid tot ’n satan vir Christus en sy heilsplan geword het (Markus 8:33). Uiteindelik kon die Satan in ’n dissipel invaar (Johannes 13:27). Ook in die eerste gemeentes was die Satan werksaam. Ananias het hom deur die Satan laat oorhaal om vir die Heilige Gees te lieg (Handelinge 5:3). Die Satan strooi sy saad orals rond (Matthéüs 13:39), ook in die kerk. Die Satan kan kerkwerk blokkeer (1 Tessalonicense 2:18). Daarom moet die kerk altyd op sy hoede wees vir lidmate wat misleidende geeste navolg en leerstellings van duiwels aanhang (1 Timótheüs 4:1). Ge­lowiges moet die duiwel nie vatkans gee nie (Efésiërs 4:27).

Dit baat die kerk nie om Sata­nisme na buite te bestry en die Satan na binne vrye spel te gee nie. Orals waar die kerk die voortgang van die koninkryk van God belemmer of vernietig, deur byvoorbeeld sen­dingwerk teen te staan, bevorder hy die ryk van Satan en Satanisme.

  • In die agtste plek moet die kerk aan Sataniste die evange­lie van die koninkryk van God verkondig

Die evangelie van die koninkryk moet aan alle mense verkondig word (Matthéüs 28:19; Markus 16:15). So het die Here Paulus geroep om die evangelie aan heidennasies te verkondig sodat hulle hulle van die duisternis na die lig en “van die mag van Satan tot God kan bekeer” (Handelinge 26:18). Sataniste is by hier­die opdrag seker nie uitgesluit nie.

Dat evangelisering van Sataniste seker geen maklike taak is nie en groot verset sal wakker roep, selfs vervolging tot gevolg kan hê, kan verwag word; en daarom pleit ken­ners tereg daarvoor dat hierdie moeilike werk in spanverband on­derneem moet word.

Amper vanselfsprekend kom die vraag na vore of duiweluitdrywing (eksorsisme) Skriftuurlik verant­woord kan word. Dit is breë on­derwerp waaroor heelwat verskil van mening bestaan en waaraan ek binne die bestek van ’n kort artikel nie reg kan laat geskied nie. Dus vol­staan ek met enkele opmerkings. As ons daarmee rekening hou dat ek­sorsisme deel gevorm het van die oorspronklike sendingopdrag aan die kerk (Markus 16:17 en dat dit in die Vroeë Kerk inderdaad beoefen is deur diegene wat so ’n besondere gawe ontvang het (Handelinge 16:18; 1 Korinthiërs 12:10), dan is dit duidelik dat ons versigtig moet wees om te sê dat dit nooit weer mag voorkom nie. Ons mag ook nie die vrymag van die Gees eiewillig inperk nie (1 Korinthiërs 12:11). Om saam te vat: Evangelie­verkondiging bly die reël, maar duiweluitdrywing (veral op die sen­dingveld) mag nie uitgesluit word nie.

satanisme

  • In die negende plek moet as taak van die kerk beskou word om die owerheid aan te spreek teen einde te waak teen ’n demonisering van die same­lewing

Daar bestaan uiteenlopende inter­pretasies oor wat Paulus bedoel met die “bose magte” wat deur Christus ontwapen is (bv. Kolossense 2:15). Na alle waarskynlikheid sien hierdie magte op bose engelemagte (Kolossense 1:16; 2:18), maar dan magte met die vermoë om hulle in menslike per­sone en sosiale strukture te belig­gaam. Dit is moontlik om die bose in die samelewing “in te ploeg” (Hosea 10:13); die kwaad kan struk­turele dimensies aanneem.

Die demoniese is oral sigbaar waar God onteer en die mens veron­reg word. Elke politieke ideologie wat mense veronreg en hulle mens­waardigheid vernietig, vertoon demoniese trekke.

Dit is die profetiese roeping van die kerk om in die Naam van Chris­tus die bose magte aan te wys. Elke demoniese ideologie moet in die skerp lig van die Skrif ontmasker word.

As die owerheid Satanisme aan bande wil lê, moet hy soveel moont­lik waak teen die demoniese in eie boesem.

  • In die tiende plek moet die kerk die owerheid aanmoedig om sy verantwoordelikheid teenoor Satanisme na te kom

Ons staan hier voor ’n uiters moei­like vraag, dié vraag hoe ver die grens van godsdiensvryheid strek: sluit dit Satansdiensvryheid in? Mag owerheid Satanisme toelaat?

As gedink word aan die rituele en soms gewone moorde wat rondom die Satanskultus plaasvind; as in gedagte gehou word dat Satanisme doelbewus die Christelike godsdiens banaliseer; as in berekening ge­bring word dat soms kerkgeboue en grafte beskadig en geskend word; as gelet word op die perverse sere­monies en praktyke, dan wil dit my voorkom asof so ’n beweging nie bestaansreg het nie.

Die roeping van die kerk sal in hierdie verband dus daarop neer­kom dat die owerheid aan sy beson­dere verantwoordelikheid herinner word. Dit spreek vanself dat die owerheid hierin die nodige diskresie sal gebruik en nie sal terugkeer na die Middeleeuse styl van heksepro­sesse en hekseverbrandings nie.