Bron: Kompas, 2009. 3 bladsye.

Die Kerk SIEN Gesprek oor die Kerk

verkyker

Ek onthou nog goed die uitdrukking van ʼn paar dekades gelede: ‘die kerk sien’. Hierdie uitdrukking is veral in negatiewe sin gebruik. Daar is dan gesê: Hy of sy sien nie die kerk nie. En ons het onmiddellik verstaan wat daarmee bedoel word. Iemand wat die kerk nie gesien het nie, het nie geglo dat die ware kerk duidelik aanwysbaar was met ʼn konkrete adres nie. So iemand het gedink dat daar so iets soos ʼn onsigbare kerk was, bó of bínne alle kerklike verdeeldheid. Of nog erger: iemand wat die kerk nie gesien het nie, het gedink dat dit slegs oor die persoonlike geloof gegaan het, en dat die kerk glad nie belangrik was nie.

Die laaste tyd hoor ek hierdie uitdrukking amper nooit meer nie. Is dit omdat almal die kerk nou wel sien? Dit is te goed om waar te wees. Ek vermoed eerder dat dit getuig van ʼn sekere verleentheid. Ons het vir baie lank gedink dat óns in elk geval wel die kerk sien. Maar nou is ons nie meer so seker nie. Het ons in die verlede nie te groot woorde oor die kerk gehad nie? Moet ons nie oppas vir kerkisme nie? Wie durf nog sê dat hy die kerk sien, of dat ʼn ander die kerk nie sien nie? Samevattend, as ons werklik die kerk reg wil sien, dan sal ons opnuut oor die leer van die kerk – die visie op die kerk – moet nadink.

In hierdie artikel gaan dit vir my oor die vraag wat ons geloof in Jesus Christus as die gekruisigde en opgestane Here van die kerk beteken vir die ‘sien van die kerk’. In die eerste artikel gaan dit oor die plek van Christus as ons oor die kerk praat: Hy staan altyd in die middel. In die volgende artikel skryf ek oor die betekenis van Christus se kruisiging en opstanding vir die sien van die kerk.

Bonhoeffer oor Christus in die Middel🔗

In ʼn vorige artikel het ek gewaarsku vir ʼn te gemaklike verbinding tussen die Christologie en die kerkleer. ʼn Mens kan die leer oor die twee nature van Christus nie regstreeks toepas op die saamgaan van goddelike en menslike optrede in die kerk nie. Want by Christus het ons te make met die een Persoon van ons Heiland: goddelike en menslike natuur is persoonlik aan mekaar verbonde. Dit kan ons met betrekking tot die kerk nie sê nie. Die saamgaan van ‘bo en onder’ in die kerk moet gesien word in die kader van die werk van die Heilige Gees, wat mense in God se diens neem. Maar dit beteken natuurlik nie dat ons oor Christus kan swyg wanneer dit oor die kerk gaan nie. Die vraag is wel hoe ons Hom ter sprake moet bring.

Om dit te doen, sluit ek aan by die uitdrukking ‘Christus in die middel’, wat ek ontleen aan Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog en martelaar onder Hitler, wie se honderdste geboortedag hierdie jaar herdenk word. Op die herdenkingsdag, 6 Februarie 2006, is ʼn kongres oor Bonhoeffer gehou waar ek ʼn lesing gehou het onder die titel: ‘Christus in die middel’. Wat ek op hierdie punt by Bonhoeffer geleer het, wil ek graag op die kerk van toepassing maak.

By Bonhoeffer lê daar groot nadruk op die feit dat Christus altyd in die middel staan. Hy sê selfs: dit is die wese van die Persoon van Christus om in die middel te wees. Hy is in die middel van die menslike bestaan, van die geskiedenis, van die natuur.

Maar wat beteken dit dat Christus in die middel staan? Moontlik het ons dan die beeld van ʼn sirkel, waarin Christus in die middelpunt staan. Dit is natuurlik ʼn mooi beeld. Die sentrale plek van Christus word daardeur aangedui. Alles draai om Hom. Maar tegelykertyd is dit ʼn beperkte beeld. Want as ʼn sirkel groot is, dan is dit moontlik dat jy tog nog ver van die middelpunt af beweeg. In ʼn groot deel van daardie sirkel kom jy min met die middelpunt in aanraking. Dit sou beteken: in ʼn groot deel van die Christelike lewe het jy min met die middelpunt te make.

Dit is nie Bonhoeffer se bedoeling nie. Dit gaan vir hom nie oor die middelpunt van ʼn sirkel nie, maar oor die middel tussen twee pole.

drie kruise

As Christus in die middel staan, dan beteken dit dat Hy altyd tussen my en die ander staan, tussen my en al die ander. Ek het met niks en niemand ʼn onbemiddelde verhouding nie. Ek het geen regstreekse verhouding met my vrou nie: ek is aan haar verbonde in Christus. Ek het geen regstreekse verhouding met my werk nie. Ek doen my werk immers in die Here. Ek het geen regstreekse verhouding met my volk nie. Slegs in Christus beteken my land iets vir my.

Dit beteken dat my vrou, of my werk, of my volk nooit ʼn afgod vir my kan word nie. Want Christus staan altyd in die middel.

Vir Bonhoeffer het hierdie visie onder andere beteken dat hy radikaal posisie gekies het teenoor die afgodery van die nazi’s met ras, bloed en bodem. Die wese van die nazisme is dat daar ʼn onbemiddelde verhouding bestaan tussen my en my ras, my land, my Führer. Dit is die afgodery van die nazi-ideologie. Bonhoeffer het homself daarteen verset met opoffering van sy eie lewe. Want hy het geglo dat Christus in die middel staan.

Betekenis vir die Kerk🔗

Wat beteken dit dan vir ons denke oor die kerk? Christus staan in die middelpunt, dit beteken: ook met die kerk het ek geen onbemiddelde verhouding nie. Die kerk is nie alles vir my nie. Dit sou afgodery met die kerk wees. Ek kan oor die kerk slegs spreek ‘in Christus’. Wil ek ‘die kerk sien’, dan moet ek my blik op Christus rig. Slegs as ek Hom in die oog hou, kan ek suiwer oor die kerk spreek.

Dit is nie my betoog dat dit vroeër nie gesien is nie. Natuurlik het mense in vroeër jare ook besef dat dit oor die geloof in Jesus Christus gaan. Die bykans eenstemmige afwysing van die gedagtes van ds. J Hoorn het dit duidelik gemaak.

Ons wou nie aanvaar dat die kerk die troos van die gelowiges is nie, want ons enigste troos is dat ons aan Jesus Christus behoort. Maar omdat die besprekings so dikwels oor die kerk gegaan het, het dit tog ʼn min of meer selfstandige onderwerp geword. Dat ‘om die kerk te sien’ altyd eers beteken ‘om ons aandag op Christus te rig’, het gedreig om vergete te word.

Daar is boonop ook ʼn ander kant aan hierdie saak. As Christus werklik in die middel staan, dan kan jy Hom nie ‘uitspeel’ teen die kerk nie. Jy kan geen teenstelling daarvan maak nie: dit gaan oor Christus, en daarom gaan dit nie oor die kerk nie. Nee, dit gaan oor Christus en juis daarom gaan dit oor die kerk. Dit gaan daaroor dat ek die kerk sien met die oog op Christus. Deur die geloof in Christus word die kerk vir my van betekenis. Die kerk is ʼn geloofsartikel, soos prof K Schilder steeds benadruk het. Die kerk is geen selfstandige geloofsartikel nie, net so min as wat die vergewing van sonde dit sou wees. Jy glo in die vergewing van sondes, omdat jy in Christus glo. Jy glo ʼn heilige, algemene, Christelike kerk, omdat jy in Christus glo. Maar dan glo jy die kerk ook werklik. Dit is ononderhandelbaar.

Let maar daarop watter noue verbintenis daar in die Bybel in die verhouding tussen Christus en die kerk is. Die kerk is die liggaam van Christus, waarvan ons almal lede is (1 Korinthiërs 12). Of, ʼn ander beeld: Christus is die Hoof, die gemeente is sy liggaam (Efésiërs 1). Of: die gemeente is die bruid van Christus, met wie Hy bruilof wil vier (Efésiërs 5, Openbaring 19). Al hierdie beelde maak duidelik dat daar ʼn baie hegte band is tussen Christus en die kerk. Om te glo in Christus beteken inderdaad: in die kerk glo. Beide is onlosmaaklik aan mekaar verbonde.

Om hierdie verbinding nog beter te omskryf, sou jy kon sê: die kerk is die plek waar Christus in die middel staan. In die kerk wil Hy aanwesig wees, deur Woord en sakrament, in die krag van die Heilige Gees. In daardie opsig is dit inderdaad baie belangrik dat ʼn mens die kerk goed sien. Die kerk is nie sommer een van vele samelewingsverbande nie: gesin, staat, skaakklub en ook nog ʼn kerk. Juis wanneer jy die kerk in Christus bekyk, kry jy die besondere van die kerk in die oog: daar wil die Here woon, daar is dus die bron van die heil. As Christus werklik in die middel staan, dan kom die kerk sentraal te staan. Want die eenheid met Christus ons Here is nie los beskikbaar van die eenheid met die kerk nie. “Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees”, so bid Jesus in Johannes 17. Die eenheid van God die Vader en God die Seun, die eenheid van die gelowige met God en met Christus, die eenheid van die kerk: dit lê alles in mekaar se verlengde.

kerkgebou

Slotsom🔗

Dit lei my op hierdie punt tot ʼn tweeledige slotsom. Die eerste lui: ‘Christus in die middel’ beteken dat dit baie belangrik bly om die kerk goed te sien. Kyk na Christus, dan kan dit nie anders nie as dat jy ook die kerk sien. Ek kry soms die gevoel dat ons so bang is vir kerkisme dat die kerk amper nie meer ʼn rol vir ons lyk te speel nie. Dit kom so voor wanneer dit byvoorbeeld gaan oor die soeke na kerklike eenheid. Sommige mense wonder waarom dit so belangrik sou wees. Waarvoor is al die moeite dan nou nodig? Dit gaan mos oor Christus! Dit is my vaste oortuiging dat ons nie so daaroor moet begin dink nie. Dit bly van die grootste belang om te werk aan die eenheid van die kerk. Juis omdat Christus in die middel staan.

Maar my tweede slotsom is: die kerk sien – dit kan alleen in Christus gedoen word. Ondanks die belangrikheid van die kerk, moet jy haar tog relativeer. Slegs in Christus is die kerk van betekenis. Dit beteken byvoorbeeld dat jy nie so maklik kan praat oor geloof in Christus buite die kerk nie. Asof jy sou kon sê: natuurlik is daar orals gelowiges, maar dit sê nog niks oor die kerk nie. As dit regtig niks oor die kerk sê nie, dan is daar groot fout met die kerk. Want ons eerste verhouding is met Christus, nie met die kerk nie. Ek bedoel dit nie kronologies nie, maar teologies. Ons ontvang van Christus die gemeenskap met die kerk, nie andersom nie.

Anders gestel: hy wat die geloof ontvang het van die Gees van Christus, word deur Hom vergader tot sy gemeente. En om dit in die woorde van prof Schilder te sê: as ons dan nie met Hom vergader nie, het ons ʼn groot probleem. Juis wanneer Christus in die middel staan, as jy die kerk slegs in Christus wil sien, juis dan blyk hoe groot die probleem van kerklike verdeeldheid is. Dit is die – vir ons onoplosbare – konflik tussen die volmaakte werk van die Gees van Christus en die baie onvolmaakte wyse waarop ons ons verantwoordelikheid waarmaak. Dit is die verskriklike geheimenis van die ongeregtigheid, van die sonde, wat selfs in die kerk werk. Daar is geen passende formules om dit teologies onder woorde te bring nie. Daar is geen handige kerklike of organisatoriese draaiboeke om die probleem aan te pak nie. Daarvoor sit die wortel van die verdeeldheid te diep. Slegs in Christus is daar hoop vir die toekoms, ook met betrekking tot kerklike eenheid.