Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die kerk van Christus is relevant

Na die besluit van die Konstitusionele Hof om die doodstraf af te skaf, kan met reg gevra word: Is die kerk se standpunt nog ter sake in Suid-Afrika? Die kerke het immers duidelik en by herhaling die Bybelse standpunt oor die doodstraf aan die owerheid gestel. In weerwil daarvan is tog besluit om die doodstraf af te skaf. Van die kerke se standpunt word skynbaar net kennis geneem, en daarmee is dit van die tafel af.

Met hierdie manier van hantering word die indruk na buite gewek dat die kerke glad nie hulle stem laat hoor nie. Gereeld word gevra: Waarom swyg die kerk? Sommige lidmate sê selfs: As die Christene werklik sewentig persent van ons landsbevolking uitmaak, waarom kan ons nie ons geledere sluit en 'n eenparige stem laat hoor nie? Dit móét 'n indruk maak op die res van die gemeenskap - ook op die regering. Dan word die kerk 'n mag om mee rekening te hou.

By hierdie opmerkings moet ons egter die volgende in gedagte hou.

Getuienis wórd gelewer🔗

Die meeste Christelike kerke in ons land stel gereeld en duidelik die Bybelse standpunt aan owerhede. In die afgelope tyd is daar weer deur talle kerke oor 'n verskeidenheid van sake getuienis aan die owerhede gelewer, byvoorbeeld teen dobbelary, teen pornografie en teen Sondagsport. Wat die Gereformeerde Kerke betref, was nie net ons sinodale deputate nie, maar ook verskeie kerkrade aktief hiermee besig. Die getuienis wat ons laat hoor het, was 'n eenparige getuienis, eenparig ook met die getuienis van ander kerke.

Ten spyte daarvan lyk dit of met al hierdie sake dieselfde patroon gevolg word as met die besluit oor die doodstraf: daar word kennis geneem van die kerke se standpunt, en dan word 'n eensydige besluit geneem. Inderwaarheid kan gesê word dat sulke besluite uiters ondemokraties is, veral deur 'n owerheid wat groot gewag daarvan maak dat hulle ware demokrasie voorstaan. Miskien moet ons aanvaar dat demokrasie in 'n sekulêre ("godsdiens-neutrale") staat anders werk as wat ons onder demokrasie verstaan.

Die kerk is geen drukgroep nie🔗

Ons moet ook versigtig wees om ons te veel op die sewentig persent meerderheid van Christene in die land te beroep. Buiten die feit dat die syfer van sewentig (selfs tagtig) persent Christene in vele opsigte bevraagteken kan word, moet ons in gedagte hou dat die kerk van Christus nie 'n drukgroep is nie. Sodra ons in groot getalle wil saamkom om sodoende ons stem in die samelewing dik te maak, raak ons ontrou aan ons wese en ons roeping.

Kom ons stel dit so: die kerk moet nie so bekommerd wees om sy eie stem in die samelewing te laat hoor nie. Die stem wat ons uitdra, is die stem van God - sy woord wat Hy in die Bybel vir ons gee en deur sy Gees in menseharte vasbind. Ons moet ons ook nie so besig hou met die vraag na hoe die kerk in die samelewing relevant kan bly nie; of hoe ons kan verseker dat die kerk in die nuwe Suid-Afrika 'n rol kan bly speel nie.

Die liggaam van Christus is relevant🔗

Strewes van hierdie aard verklap 'n verkeerde kerkbeskouing. Die kerk is nie maar net een van vele rolspelers in die samelewing vir wie daar 'n groter rol beding moet word nie. Die kerk is die liggaam van Christus. As liggaam van Christus is ons die sout van die aarde en 'n lig vir die wêreld (Matt. 5:13, 14), geroepe om die lig van die evangelie uit te dra te midde van 'n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Solank ons aan hierdie roeping getrou bly, is ons relevant. Die wêreld kan ons verguis, ja, en owerhede kan ons ignoreer, maar teen God en sy wil kan geen mens stand hou nie.

Sodra die kerk egter begin weifel en nie meer met vrymoedigheid God se Woord laat hoor nie, dan raak die sout laf en is alle kerklike optrede irrelevant. Satan probeer die kerk tot weifeling bring juis deur vyandigheid van die wêreld, juis deur 'n koue skouer van owerhede, juis deur 'n misplaaste strewe vanuit die kerk self om mee te ding met ander "rolspelers" in die samelewing. Hiermee kom die versoeking op die kerk af om die Woord van God aan te pas, selfs op die agtergrond te skuif, ter wille van aanvaarding deur die wêreld.

Weereens klink die woorde van die apostel Paulus by ons op: "Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig" (2 Tim. 4:2). Met die genade van God mag dit gebeur dat ons, soos die eerste kerk in Jerusalem, die goedgesindheid van die hele gemeenskap sal ontvang (Hand. 2:47). Ons hoef nie guns te soek nie; God gee dit. Ons kan wel daarvoor bid, ja. Ons kan ook bid dat die landsowerheid, soos in die tyd van Josef en Daniël, die kerk goedgesind mag wees. Dit bid ons nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van God, sodat sy Woord ingang sal vind. En as ons van ons gebed af opstaan, doen ons weer waartoe God ons geroep het, gedagtig aan die woorde van Johannes 4:4: "Julle is uit God, my kinders, en het hulle (die goddelose wêreld) oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is."