4 bladsye.

Die Kerklike Tug - Ter Wille van die Heiligheid van die Gemeente van God

kerkvensters

Ons omskryf die kerklike tug as die  handhawing van die heiligheid van die gemeente van God volgens reg, teenoor die vernietigende mag van die bose in die lewe van hulle wat hulle binne die gemeente deur die sonde laat beheers.

Daarmee stel ons die volgende teenoor mekaar:

die heiligheid van die gemeente van God
en
die vernietigende mag van die bose.

Ons stel die twee teenoor mekaar, omdat ons bely dat hulle teenoor mekaar staan (vgl. 1 Johannes 2:20; 3:3; en 4:7-10), soos die lig staan teenoor die duisternis en die deurbrekende lewe teenoor die deurvretende dood. Maar die twee werklikhede staan nie op so ʼn afstand teenoor mekaar dat die gemeente nie deur die vernietigende mag van die bose bedreig word nie! Inteendeel, die noodsaak van die tug word juis gegrond op die realiteit van hierdie bedreiging.

Voordat ons kortliks daarop ingaan om sekere van die terme by die tug te omskryf, wil ons eers net gou ’n opmerking maak wat met die tug in sy geheel te make het. By die tug gaan dit daaroor dat “die kwaad uit jou midde” (dit is uit die midde van die gemeente) uitgeroei word (Deuteronomium 17:7; 19:19). Die regsgebied van die tug word begrens deur die grense van die gemeente. Vandaar die teenstelling tussen “die wat binne is” en “die wat buite is” in 1 Korintiërs 5:12,13. Die tug gaan slegs oor hulle wat binne die gemeente is.

‘Die bose’ in die kring van die gemeente is nie ʼn onpersoonlike saak nie. Dit manifesteer in die gemeente in hulle wat hulle “deur die sonde laat beheers”. So haal die apostel Paulus die hierbo aangehaalde regsvoorskrif uit die Ou Testament aan met verwysing na die persóón: “Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit” (1 Korintiërs 5:13, vgl. 5:2). Die Kerkorde praat gereeld van ‘die sondaar’ as die voorwerp van die kerklike tug. Daarmee ontken die Kerkorde nie dat die sonde ook in die lewe van die gelowige nog ʼn verskriklike mag is nie (Psalm 51; 1 Johannes 1:8), maar tipeer daarmee die broeder of suster in die gemeente wat hom of haar aan die sonde oorgegee het. Hy is ‘sondaar’ omdat hy hom deur die sonde laat beheers, en dit in toenemende mate deur veragting van die vermaning van die Woord van God (vgl. Jakobus 5:20). Dan reinig die bloed van Christus nie van die ongeregtigheid nie (1 Johannes 1:9) en word die hart nie deur “besprenkeling gereinig van ʼn slegte gewete” (Hebreërs 10:22) nie. Dán ontstaan die bedreiging dat die sonde in die gemeente gaan vatplek kry en ook dáár sy vernietigende mag gaan uitoefen. Die sonde is immers ʼn aktiewe mag soos die duiwel, die Bose (Matteüs 6:13), “ ʼn mensemoordenaar van die begin af” (Johannes 8:44) is en rondloop “soos ʼn brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Daarom kan die sonde ʼn direkte bedreiging van die gemeente wees of word.

Holwerda skryf na aanleiding van die uitdrukking ‘ʼn gruwel in Israel’ dat hier nie slegs ʼn sonde bedoel word wat in Israel plaasgevind het nie, maar op ongeregtigheid waarmee die band met Jahwè (die Here as God van die genadeverbond) prysgegee word en die teenstelling met Kanaän in beginsel geloën word. Dit is dus, as sodanig, sondes wat die verskil tussen Israel en Kanaän radikaal ophef en wat, omdat Jahwè dit reeds al by die heidene nie verdra nie, by Israel nog des te meer onverdraaglik is en dus ook daar met uitroeiing gestraf word.'1

Growwe sondes wat nie bely word nie, maak die antitese met “hierdie wêreld” (Johannes 8:23), waaroor dit vir die God van ons heil en in ons konkrete lewenswandel gaan, tot niet (1 Petrus 4:2-4). Daarom staan die huiweringwekkende, vernietigende mag van die bose téénoor die ‘heiligheid van die gemeente van God’, wat deur die kerklike tug gehandhaaf moet word.

Enige term is vatbaar vir misverstand of verkeerde interpretasie. Dit is seker ook die geval met die sentrale deel van ons omskrywing van die kerklike tug hierbo.

kerkdiens

Mens kan op ʼn doperse wyse die heiligheid van die gemeente misverstaan. Dan word die heiligheid ʼn kwaliteit, ʼn hoedanigheid van die gemeente van wedergeborenes wat hulle as’t ware as hulle eie besit teenoor aanslae van buite moet verdedig. Dan word die tug ʼn middel vir selfverdediging. Dan verword die tug tot die instrument waarmee ʼn geestelike elite hulle afgesonder hou. Wanneer ons juis in hierdie tyd moet én wil pleit vir die kerklike tug, dan moet ons vir hierdie misverstand, hierdie korrupsie van die tug, op ons hoede wees: daar is ʼn skerp teëstelling tussen die doperse ‘ban’ en die gereformeerde tug.2 Dit is ʼn teëstelling tussen die aard van beide. Dit is ʼn teëstelling wat hom ook in die praktyk telkens laat blyk. Ons moet dus altyd weer die Skrif self gebruik as lamp wat ons voorlig op die pad van die tug en by die lig waarvan ons deur die geloof kan sien wat dit beteken dat die gemeente heilig is en moet wees.

Die kerk het reeds vanaf die vroegste tye aangaande homself bely dat die kerk ‘heilig’ is3 en dit klink deur in die Nederlandse Geloofsbelydenis, waar die kerk bely word as “...ʼn heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag” (Artikel 27). So ook in die volgende artikel, waar daar weer oor “hierdie heilige vergadering” gepraat word.

Die gemeente is heilig, nie uit sigself nie, maar kragtens die Verbond van God. Dit is “gemeente van die HERE” (Deuteronomium 23:9,14), “gemeente van Christus” (Romeine 16:16) en in Christus “gemeente van God” (Handelinge 20:28; 1 Korintiërs 11:22; Galasiërs 6:16; 2 Tessalonisense 1:4; 1 Timoteüs 3:15).

Die unieke verklaring van die heiligheid van die gemeente en van haar lede (Psalm 74:2; 1 Korintiërs 7:14) word gevind in die groot heilsfeit dat sy die eiendom van die heilige God is (Eksodus 13:2; 1 Petrus 2:9) en dat Hy, as die Heilige, in die midde van Israel en in die midde van die gemeente woon (Eksodus 29:45; Jesaja 12:6; vgl. ook 1 Korintiërs 14:25 en vele ander plekke in die Ou en Nuwe Testament). In en deur die inwoning van die Heilige Gees is dit die lewenswerklikheid van die gemeente van God (Jesaja 63:10; Handelinge 5:3). Dit is ʼn werklikheid wat in die bedeling van die Nuwe Testament van elke plaaslike kerk tempel van God maak (1 Korintiërs 3:16; vgl. ook Efesiërs 2:22). So word in die heel persoonlik gerigte vermaning: “Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is...” (1 Korintiërs 6:19), baie duidelik die gemeente as woonplek van die Heilige Gees bedoel. Dit blyk uit die meervoud “julle” wat die apostel saam met “in julle is”, gebruik.

In die heiligheid van die gemeente van God gaan dit dus om die heiligheid van God self! Wat word volgens die Skrif hieronder verstaan?

Ja, God se heiligheid, so weet ons, staan teenoor die sonde, maar daar is meer daaroor te sê! J. Ridderbos het intertyd in die tweede deel van sy Het Godswoord der profeten ʼn breedvoerige bespreking oor God se heiligheid gegee. As ons die resultaat van sy ondersoek kort saamvat, kan ons dit stel dat God se heiligheid in besonder gaan oor sy ‘God wees’, sy Goddelike verhewenheid en majesteit.4 In sy heiligheid keer Hy Hom teen die sonde (Jesaja 6:3,5). Maar Hy is ook, as die Heilige, die Verlosser van Israel (Jesaja 43:5; 47:4 ens.). Hy staan nie net teen die sonde nie, Hy oorwin dit ook. In sy heiligheid soek Hy die uiteindelike, eskatologiese verlossing en heiligheid van die gemeente (1 Tessalonisense 5:23). Hy soek daarna in die heiliging van sy Naam (Matteüs 6:9). Die sonde wil die pad van God blokkeer. Maar Hy skep sy pad na sy uiteindelike heerlikheid, en neem op dié pad die volk van sy welbehae saam. Hy doen dit deur ʼn kritiese skifting in die loop van die geskiedenis van die vergadering van sy kerk: “... laat die heilige nog heiliger word” en “...wie vuil is, laat hom nog vuiler word” (Openbaring 22:11). Die inwoning van die heilige God in die gemeente dring die vergadering van die kerk na volkomenheid, terwyl hierdie God self in sy heerlikheid daaroor troon.

Dit is in hierdie lewende en dinamiese geheel waarin ook die kerklike tug opgeneem is. Gevolglik is die tug nie tydloos nie. Die tug het terselfdertyd ʼn antitetiese én ʼn dinamiese karakter, want die kerk is met dié wapen allermins in ʼn stryd wat vanuit statiese krygstellings gevoer word. Hier is twee redes voor. Die eerste is die giftige, aktiewe teenwoordigheid van die duiwel en van die sonde. Maar die tweede is die heilige en heiligende teenwoordigheid van die lewende en verlossende God!

Die heiligheid van God is die drangrede vir die heiliging van die gemeente. So word dit nadruklik in die Ou Testament in Levitikus 11:44, 45 en 15:31 verkondig. En in die eenheid van die Skrif spreek die Nuwe Testament nie minder daaroor nie. Die apostel Petrus haal die woord van Levitikus tereg vir die gemeente van die Nuwe Testament aan: “...soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:15, 16). Die eerste woord uit die Skrifaanhaling van Petrus moet veral ons aandag kry! Die woordjie “soos”. Dit dui nie ʼn willekeurige vergelyking aan nie. Dit is baie sterker. Dit dui ʼn maatstaf aan. Dit wil sê (en daarmee is ons in die hárt van die Christelike lewensheiliging en ook in die hart van die kerklike tug!) dat die heilige God self die maatstaf van die heilige wandel van die gemeente is. Greijdanus skryf in sy kommentaar by dié teks: 'kata' (die Griekse woord vir ‘soos’) = na, gee die norm, die maatstaf aan, vgl. ook vv. 2 en 3. Vir die gelowiges mag die wêreld en sy sondige denk- en leefwyse nie meer die norm wees waarna hulle hulself reël nie, maar hulle moet hulleself in alles vorm na die norm van God self. Kata wys hier meer as ʼn bepaalde gelykheid aan; dit wil naamlik sê dat die gelowiges hulle as’t ware aan God moet meet en aan sy heiligheid moet beantwoord.’5

vuil skoene

Die teenstelling met die verloste en aan God gemete lewe vind ons in die refrein “elkeen het gedoen wat reg was in sy oë”, waarmee Israel-sonder-koning getipeer word (Rigters 17:6; 18:1; 19:1; 21:25). Hier word die menslike willekeur, die self norm wees, geteken as die beginsel van kerkafbraak en kerkverstrooiing: die hele tweede deel van die boek Rigters teken voor ons oë die geskiedenis van ʼn kerk wat weens tugloosheid ondergaan! Maar vir Israel se koning word – ten bate van die volk – regspraak met reg en geregtigheid afgebid (Psalm 72:1,2), waardeur die berge vrede sal dra vir die volk van God. Hierdie oordeel sal, so lui die beloftes van die Ou Verbond, in die groot Seun van Dawid, in die Messias, vervul word (Jesaja 11:3e.v.; 32:1; Jeremia 23:5; Sagaria 9:9).

Hierdie Seun van Dawid, ons Here Jesus Christus, het die bediening van die sleutelmag in die Nuwe Testamentiese gemeente aan die gemeente self en aan haar ampsdraers gegee (Matteüs 18:15-18). Daarin lê ons rede om in ons omskrywing van die kerklike tug die woorde ‘volgens reg’ uitdruklik in te sluit: die kerklike tug is die handhawing van die heiligheid van God se gemeente volgens reg. Die kerklike tugreg mag nie met die wêreldlike strafreg gelykgestel word nie, al is daar sonder twyfel veel oor en weer te leer en moet mens in die tugreg ook in breë trekke op hoogte van die geldende strafreg wees.

Teen so ʼn gelykstelling pleit die noue verband tussen toepassing van die tugreg en die pastorale sorg. Ook die besonderse plek wat aktiewe medewerking van die gemeente as sodanig inneem, pleit daarteen. Dit is medewerking wat nie alleen bestaan in approbasie (goedkeuring) van wat deur die kerkraad gedoen word in hulle beslissings nie, maar ook in die eie geloofswerksaamheid van die gelowiges, wat op die ‘sondaar’ gerig is.

Maar dit alles neem nie weg nie dat die gemeente die volk is van die Koninkryk van die hemel, oor wie die regspraak van die groot Koning bedien moet en mag word. Om die tugreg as bloot juridies te tipeer, is onjuis. Dit is ewe onjuis om te suggereer, soos dikwels gedoen word, dat die juridiese, regterlike element as sodanig die ondergang van die kerklike tug sou wees. Kerkreg en in besonder die tugreg, sou dan kil, formele aangeleenthede wees, waarin die liefde van Christus nie blyk nie. Die kerk van Christus sou dan in die kerkreg en in besonder in die tugreg nie herkenbaar wees nie. Maar ons stel daarteenoor ons belydenis:  in die stad van Christus, in Jerusalem “staan die stoele vir die gereg” en ook in die bedeling van Pinkster is dit  ʼn stad “wat goed saamgevoeg is” (Psalm 122).

Hiermee sluit ons die inleidende opmerkings oor die kerklike tug af. Ons sal elders nog met die uitoefening van die kerklike tug handel.

Endnotes🔗

  1. ^ B. Holwerda, Dictaten Deuteronomium, p. 451. 
  2. ^ Vgl. die boeiende hoofstuk ‘Doopsgezinde ban en gereformeerde tucht’ in J.H. Wessel, De leerstellige strijd tussen de Nederlandsche Gereformeerden en Doopsgezinden in de zestiende eeuw, Assen 1945, pp. 76-107, en my De tragiek der revolutionaire gematigdheid, in Verkenningen II, Goes (1964), pp. 42-50.  
  3. ^ So reeds in die Symbolum Romanum, die voorganger van ons apostoliese geloofsbelydenis in die 12 Artikels, vgl. L Doekes, Credo, Amsterdam 1975, pp. 14 en 15.
  4. ^ J. Ridderbos, Het Godswoord der profeten II, Kampen 1932, p. 93. 
  5. ^ S. Greijdanus, De brieven van de apostelen Petrus en Johannes en de brief van Judas (in die sge. Bottenburg-kommentaar), Amsterdam 1929, p. 65. Vgl. ook sy Korte Verklaring op die briewe van Petrus, p. 32 e.v. en vgl. ook B. Holwerda op Deuteronomium 17:2: “wat doen wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God”, tipeer die sonde in die algemeen as iets wat Jahwè mishaag; Hy word daarmee aangedui as die Een volgens wie se norm alles beoordeel word.