3 bladsye.

Die Kerkraad as Kerklike Regspreker

In hierdie artikel bespreek ons die kerklike tug soos dit deur, en onder leiding van die kerkraad toegepas word.

ʼn Mens moet altyd allereers onderskei tussen die bestraffing van nie-openbare sondes deur broederlike vermaning (soos in Matteus 18:15-16) en die werklike toepassing van tug soos dit plaasvind deur die kerkraad. Die onderskeid lê in wese daarin dat die broederlike vermaning, selfs met die betrokkenheid van twee of drie getuies, nie regsgevolge het nie. In die broederlike omgang kan, byvoorbeeld, nie toegang tot die sakramente ontneem word nie. Net die kerkraad, as instelling vir toesig en tug, is bevoeg om aan sy bestraffing regsgevolge te heg, wanneer daar nie aan sy oproep gehoor gegee word nie. Maar hierdie onderskeid mag ook nie oorspan word nie!

Ons moet daarop let dat die uitoefening van die tug ingebed lê in die geloofslewe van die hele gemeente, veral wanneer dit op afsnyding van die gemeenskap (die laaste stadium van die Christelike tug), afstuur. Maar ook in die eerste stadium is die verhouding tussen die werk van die kerkraad en die onderlinge omgang in die gemeente – ʼn omgang gekenmerk deur geloof en deur die Gees van die Here – van wesenlike belang. Dit sien ons duidelik in Mattheus 18.

Voordat ons daarop ingaan, net ʼn opmerking vooraf oor die plek van die kerkraad in die heilsgeskiedenis. In Mattheus 18 is nog nie sprake van ʼn  kerkraad as versameling of raad van ouderlinge nie. Die ouderlinge word later, omdat hulle ʼn versamelde raad van opsieners is, op grond van gemeenskaplike verantwoordelikheid vir die hele gemeente aangespreek (Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:1,2). Ook die verwysing in 1 Timoteus 4:14 is na die ouderlinge gesamentlik. Dit is nie vreemd dat so ʼn verwysing nie in Mattheus 18 voorkom nie. In Mattheus 18:17 is dit die tweede keer in die Nuwe Testament waar oor die gemeente gepraat word. Die eerste keer is in Mattheus 16:18, waar Christus in antwoord op die belydenis van Petrus, die belofte uitspreek: “ ... op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”. In die kring rondom Hom, wat teenoor die afvallige Jode staan, sien Christus diegene wat Hom erken as “die Seun van die lewende God” (Matteus 16:16), die voortsetting van die volk en die gemeente onder die bedeling van die Ou Verbond. Hierdie gemeente is die erfgename van al die beloftes, titels en regte van die Israel van die twaalf stamme (vgl. Jakobus 1:1).

Maar Christus staan in Mattheus 16 en 18 nog aan die begin van die versameling en ‘konstituering’ van die gemeente, soos dit nog moet plaasvind, sodat die gemeente kan funksioneer as “liggaam van Christus” (1 Korintiërs 12:12,20); as woning van God in die Gees (Efesiërs 2:21,22). Met die uitverkiesing van die twaalf apostels het Hy wel ʼn beslissende begin gemaak met die instelling van sy gemeente (Matteus 10:1-4). Maar solank Hy op aarde is, is hulle merendeels ingeskakel in sy werk op daardie stadium, naamlik die appèl wat in die volheid van die tyd tot die volk van die Verbond gerig word, om Hom as die Messias van God te erken. Sodra die Heiland verhoog is, sien ons die apostolaat reeds diensbaar in die gemeente as ʼn samehangende geheel (Handelinge 1:13-26). In Mattheus 18 was dit nog nie meer as die prille begin van die Nuwe Testamentiese gemeente nie, daarom word nog nie in die raamwerk van die latere differensiasie gepraat nie.

Wanneer ons nou die voorskrif van die Here met betrekking tot die verloop van die tug in Mattheus 18 bestudeer, val dit op hoe nou die band is tussen die vermaning wat tussen broeders plaasvind en die regshandeling wat ‘die gemeente’ by onbekeerlikheid voltrek - die plasing buite die kring van die broederskap: “laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar” (Matteus 18:17).

In Mattheus 18 word nie die onderskeid gemaak wat die Kerkorde gebruik, naamlik tussen sogenaamde heimlike sondes en openbare, aanstootlike sondes nie.1 Ook dit spreek vanself. Dit gaan by die Heiland nie oor ʼn sistematiese behandeling van ‘kerklike tug’ nie. In aansluiting by sy onderrig in die verhaal van die één verdwaalde skaap van die kudde van honderd (Matteus 18:12-14), leer Hy wat in die gemeente behoort te gebeur as één van die broeders uit die kring in sonde val en ʼn ander dit sien. Dan wil die hemelse Vader nie dat die sondigende broeder verlore sal gaan nie. Daarom word die sonde nie rugbaar gemaak nie, maar bestraf, sodat die broeder ‘gewin’ kan word en die vreugde oor die skaap wat verlore was, maar weer by die kudde teruggebring is (v. 13), die harte kan vervul.

Hier kom die vraag dan op: wat dan as die broeder nie wil luister nie? Die vermaning word (soos ons reeds gesien het) dan verskerp deurdat nog één of twee broeders bygeroep word om aan die vermaning deel te neem. Maar ons moet daarop let dat die broeders wat bygeroep word, deur Christus, met ʼn verwysing na die regspraak in Israel, ‘getuies’ genoem word saam met die eerste broeder wat vermaan het. Hy moet in die voorgesette vermaning ‘één of twee’ meeneem. Dit is ongetwyfeld om hulle ook deel te laat neem aan die vermaning, soos dit aan die begin van vers 17 blyk. Maar nou is daar ook ‘twéé of drie’ getuies by die onbekeerlikheid, en vind die regsreël van Deuteronomium 19:15 ook toepassing in die Nuwe Testamentiese gemeente: “op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ʼn saak van krag wees”. Só word die saak aan ‘die gemeente’ oorgedra!

Vervolgens praat Christus ook nie van ʼn nadere regsondersoek deur ‘die gemeente’ of deur haar leidinggewende raad, asof ‘die saak’ nou eers begin, of asof daar nou eers ʼn ‘saak’ is nie. Nee, die saak ‘staan vas’, en op die grondslag gaan die gemeente verder met vermaning en, by volharding deur nie gehoor te gee nie, ten slotte met afsnyding.

As ons die voorskrif van Mattheus 18 sorgvuldig ontleed, kom ons tot ʼn verbasende ontdekking. Dit is by die Christelike tug nie kerkraad of die ampsdraers wat voorop staan nie. Ons sien in die kring van Christus één broeder op pad gaan wanneer die sonde hom verhef. En dan later ʼn paar broeders. En hulle vermaan en bestraf in liefde. As dit anders verloop, word só, langs hierdie weg, die regshandeling wat deur die gemeente voltrek sal word, aangevoer.

Herman Ridderbos, in sy Korte Verklaring stel dit te eng, wanneer hy die ‘elke woord vasstaan’ net betrek op die vermaning wat reeds onderling tussen die broeders gerig is. Syns insiens moet daar een of twee broeders bygeroep word sodat ‘wanneer die sondaar nie gehoor gee nie en die saak daarna voor die gemeente gebring word (v. 17), daar nie twyfel bestaan oor dit wat reeds onderling gesê is nie. Die uitrukking elke woord moet in hierdie sin geïnterpreteer word’.2 Dit spreek vanself dat ook daaraan geen twyfel moet bestaan nie, maar dit is net een aspek van die gehele saak wat ‘die gemeente’ voor hulle kry. Wat op die getuienis van twee of drie moet vasstaan, is die sonde én die vermaning wat gerig is én die onbekeerlikheid na die vermaning én die voortgesette onbekeerlikheid. Dit is hierdie saamgestelde geheel waarmee ‘die gemeente’ te doen kry en verder mee handel.

Die verloop van die reëling van die Kerkorde (waarin naas heimlike sondes ook openbare, aanstootlike sondes genoem word) is in ooreenstemming hiermee. In artikels 72 - 74 word gepraat van die broederlike vermaning oor heimlike sondes, wat (as daar nie gehoor gegee word nie) daarop uitloop dat dit by die kerkraad aanhangig gemaak word, waarna die tug in die hande van die kerkraad voortgaan totdat, ingevolge artikel 76: “Diegene wat hardnekkig die vermaning van die kerkraad verwerp en ook die wat ‘n openbare of anders growwe sonde gedoen het, ... van die sakramente van die Here afgehou word” (Ons bespreek nie hier artikel 75, wat gaan oor bekering en skuldbelydenis nie). Die band tussen die sogenaamde voorbereidende stadium van die kerklike tug en die eintlike uitoefening van die tug is inderdaad baie nou. Dit is ʼn lewensband!

Ons maak daarom die gevolgtrekking dat die Christelike tuguitoefening deur die kerkraad net waarlik moontlik is waar hierdie lewensband funksioneer. ʼn Gemeente wat, al het sy die naam dat sy lewe (alles is in orde en verloop glad), in werklikheid dood is (vgl. Openbaring 3:1) moet nie verwag dat die tug tog nog wel deur die kerkraad gehandhaaf sal word en daarmee die derde kenmerk van die ware kerk (art. 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis) by haar gevind word en bly nie. So ʼn gemeente  moet nie ʼn keel opsit as die kerkraad faal nie. So ʼn gemeente moet tot bekering kom (Openbaring 3:3) sodat dit wat dreig om af te sterf, versterk kan word.

ʼn Tweede gevolgtrekking is dat, wanneer ʼn saak as ʼn aanvanklik by heimlike sonde waarin die sondaar volhard, by die kerkraad aanhangig gemaak word, die navraag ‘of die weg van Matteus 18 bewandel is’ nooit tot ʼn formaliteit mag verword of tot ʼn administratiewe vasstelling mag verskrompel nie. ʼn Kerkraad wat langs die weg van Matteus 18 met ʼn ‘saak’ te doen kry, mag en moet vereis dat die saak ‘vasstaan’. ʼn Geestelike behandeling binne ʼn regterlike raamwerk is net op so ʼn manier moontlik. Alleen langs so ʼn weg sal die dissiplinêre maatreëls, as dit getref moet word, werklik die vooraf vermanings, waarin die lewende God tot die hart van die sondaar wou kom, as draaggrond hê.

Ten slotte moet hier ʼn misverstand uit die weg geruim word. Die kerkraad is natuurlik nie, wanneer hy langs die weg van Mattheus 18 met ʼn sonde gekonfronteer word, aan passiwiteit uitgelewer nie. Hy is nie slaafs aan wat ‘twee of drie getuies’ na vore bring gebonde, sonder dat hy geoorloof is om dit te kontroleer nie. Dan sou intriges en samespanning van enkeles in die kerk teen één, vrye teuels hê. Die eis van die aanhoor van die ander kant geld in hierdie geval. Daar bestaan inderdaad die moontlikheid dat enkeles in die gemeente mekaar ter kwader trou teen die regverdige vind. ʼn Mens dink hier aan Psalm 27:12, aan die opvallende oorgang van meervoud na enkelvoud en omgekeerd in Dawid se klag oor die ontroue ‘vriend’ in Psalm 55:10-16 en aan die skynproses waarmee Isébel teen Nabot saamspan (1 Konings 21, veral vv. 10 en 13). Daar is ook in die Nuwe Testament die valse getuies wat deur die leiers van die Jode teen Jesus gehuur word om die proses teen Hom die skyn van reg te gee (Matteus 26:59-61). Die kerkraad het dus ʼn selfstandige posisie en ʼn eie  onvervreembare en nie-oordaagbare verantwoordelikheid teenoor die lewende God. Dit wil die voorskrif van Mattheus 18 nie ontken nie, ewemin die Kerkorde, wat met artikel 76 direk aansluit by die slot van artikel 74 wat die vermaning betref.

Om ons op te skerp tot volkome gehoorsaamheid in die gemeente van Christus, “die stad van die lewende God” (Hebreërs 12:22), word ons gekonfronteer met die éénheid van God se appèl op ʼn dwalende mensehart, ʼn appèl wat deur die diens van die gemeente uitgaan vanaf die eerste vermaning tot by die laaste handeling van afsnyding van die gemeente.

Endnotes🔗

  1. ^ Kerkorde artikel 71 e.v.  
  2. ^ Herman Ridderbos, Korte Verklaring Mattheus II, p. 46.