Bron: Kompas, 2012. 5 bladsye.

Die Kerkverband

Waarom ’n Kerkverband?🔗

As kerke leef ons saam in ʼn kerkverband. Is dit iets wat willekeurig is, iets wat ook afgeskaf kan word wanneer dit as ʼn belemmering ervaar word vir die optimale ontplooiing van die plaaslike gemeentelike lewe? Waar staan dit in die Bybel dat kerke so in ʼn kerkverband aan mekaar verbonde moet wees?

Motivering🔗

Wanneer dit gaan oor die prinsipiële motiewe moet ons ons uitgangspunt neem in die eienskappe van die kerk. Die eienskappe van die kerk geld nie slegs vir die plaaslike kerk nie, maar ook vir die kerkverband. Die eenwees in Christus en in belydenis vra ook dat dit gestalte vind in die wyse hoe ons in ’n kerkverband saamleef. Die gemeenskap van die heiliges strek verder as net die eie gemeente. Daar sit dus meer in, en vanuit die eienskappe van die kerk kom daar ’n gawe en ʼn opdrag na ons toe. In ons belydenis: “Ons glo aan een heilige, algemene en apostoliese kerk” (Nicéa) word ’n kerkverband geïmpliseer. Wie dit bely, kan nie daarvan wegskram om as kerke in ’n verband saam te leef nie. Want hierdie eienskappe van die kerk is gawes wat tegelyk ook opgawes is.

Eenheid van die Kerk🔗

Die kerkverband kom allereers na vore in die eenheid van Christus se kerk. Paulus praat oor die “een liggaam” (1 Korinthiërs 10:17) en oor “die eenheid van die Gees” (Efesiërs 4:3). Jesus sal “sy volk” van hulle sondes verlos (Mattheüs 1:21). Simeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ʼn volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem (Handelinge 15:14).

Die eenheid van die kerk is nie allereers ’n organisatoriese aangeleentheid nie, maar ’n diep geestelike saak. Die gelowiges is een in Christus en daardeur en daarom is daar ook eenheid met mekaar (Heidelbergse Kategismus, antwoord 55). Eers is daar die eenheid met Christus, en daaruit vloei die gemeenskap met mekaar voort. Tereg word daar gesê dat saamleef in ’n kerkverband ten diepste ’n saak is van die gemeenskap van die heiliges. Hierdie gemeenskap is primêr daar in die plaaslike kerk, maar is nie tot die plaaslike kerk beperk nie. Wanneer daar ander gemeentes is wat met ons verbonde is met dieselfde Christus en dieselfde geloof, dan moet ons mekaar soek en ook aan die eenheid gestalte gee. Wat een is in Christus, moet hulself ook so openbaar. Wie die een Christelike kerk bely, staan voor die opdrag om die eenheid ook op streeks en nasionale vlak te soek met kerke wat Christus ook volgens sy Woord wil dien. Wat antwoord 55 van die HK bely, geld ook hier: elkeen is verplig om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Die Katolisiteit van die Kerk🔗

Die kerkverband wortel ook in die katolisiteit van die kerk. Ons bely ʼn “algemene” kerk. Artikel 27 sê: hierdie heilige kerk is nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Onmiskenbaar praat die Nuwe Testament oor plaaslike kerke (1 Thessalonicense 1:1; Openbaring 1:4, 11). Maar die woord “kerk” (ekklesia) word ook gebruik vir die universele kerk van Christus (Efesiërs 1:22; Kolossense 1:24). Hoe afwisselend oor die kerk gepraat word, sien ons in Mattheüs 16 en 18. Wanneer die Here Jesus sê dat Hy sy gemeente sal bou op die rots Petrus, gaan dit duidelik oor die universele kerk, terwyl Mattheüs 18:17 onmiskenbaar die plaaslike gemeente bedoel wanneer dit gaan oor ’n onbekeerlike sondaar.

Hier leer die Skrif ons om verder te kyk as ons eie gemeente. Daar is ook die universele kerk! Die plaaslike kerk is voluit ‘gemeente van Christus’, maar staan nie los van Christus se volk in ’n streek of in ’n land nie. Sy is nie anders nie as die universele kerk op ’n bepaalde plek, verbonde met die heiliges in ’n streek, land en, ja, in die hele wêreld. Van hierdie verbondenheid hoor ons as Jakobus sy brief adresseer aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is (Jakobus 1:1), Petrus sy brief skryf aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië (1 Petrus 1:1) en Paulus sy brief rig aan al die broeders wat by my is — aan die gemeentes van Galásië (Galasiërs 1:2).

Wie ’n ‘algemene’ of ‘katolieke’ kerk bely, kan nie wegkom van die samelewing van kerke in ‘’n streek of land’ nie.

Die Apostolisiteit van die Kerk🔗

Ons bely saam met Nicéa ook ’n apostoliese kerk. Die kerk rus op die leer van die apostels. Hulle vorm met hul getuienisse oor Jesus Christus die fondament van die kerk (Efesiërs 2:20; Openbaring 21:14). Van die gemeente in Jerusalem staan geskrywe dat hulle volhard het in die leer van die apostels (Handelinge 2:42). Dit is nog altyd die groot kenmerk van die kerk. Vandaar dat Luther kon sê: “Waar die Woord is, daar is die kerk”.

Maar hierdie Woord het nie slegs tot die plaaslike kerk gekom nie (1 Korinthiërs 14:36). Die kerke het die Woord gemeenskaplik. Ons sien dit in die adressering van die apostoliese briewe. Ons hoor dit wanneer Paulus skryf dat sy brief aan die gemeente in Kolossense ook in die gemeente van Laodicéa gelees moet word (Kolossense 4:16). Omdat hierdie apostoliese Woord aan die gemeentes gesamentlik gegee is, het die kerke ook saam die opdrag om by hierdie Woord te bly. Hulle moet saam volhard by die onderwys van die apostels en kragtig stry vir die geloof (= leer) wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas 1:3). So lê in die apostolisiteit van die kerk die verpligting om mekaar as kerke op te bou en te bewaar in jul allerheiligste geloof (Judas 1:20).

Die Heiligheid van die Kerk🔗

Daar is die gemeenskaplike roeping om mekaar by die heiligheid te bewaar en die inbreuk van die sonde op die kerklike lewe te weerstaan.

Die saamleef van kerke kom ten slotte ook op uit die heiligheid van die kerk. Hierdie heiligheid is deel van die plaaslike gemeente (1 Korinthiërs 1:2; 3:17), maar ook van die kerke gesamentlik (1 Petrus 1:2; 2:9). Saam deel hulle in die heiliging deur die Gees (1 Thessalonicense 4:7,8; 1 Petrus 1:2). Daarom is daar ook die gemeenskaplike roeping om mekaar by die heiligheid te bewaar en die inbreuk van die sonde op die kerklike lewe te weerstaan. Ons moet ons saam daarvoor beywer om ’n “heilige volk” (1 Petrus 2:9) te wees, en om onsself rein en onbesmet te bewaar van die wêreld (Jakobus 1:27). Kerke het ook ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar wanneer dit gaan oor die heiligheid van die lewe. Ons sien dit voor ons in Handelinge 15 deur wat aan die heidene, wat tot bekering kom, voorgeskryf word. Die kerk van Jerusalem leer die gemeente wat op ’n ander plek ontstaan het ten opsigte van die Christelike lewe.

Uit dit alles kan duidelik gesien word dat die verbondenheid tot ’n kerkverband nie ’n eie keuse of aangeleentheid is, waar ʼn mens voor of teen kan wees nie. Kontakbeoefening is ’n gegewe met wat ons oor die kerk bely. Indien ons die eienskappe van die kerk ernstig opneem as gawe en opgawe, kan ons praat van ’n Goddelike verpligting om as kerke saam op te trek. Hoe dit vorm gegee word, is iets anders. Maar dat daar kontakbeoefening moet wees, is onweerspreeklik.

Enkele Skrifgegewens🔗

Die Nuwe Testament laat ons sien dat die gemeentes in die apostoliese tyd mekaar opgesoek en ondersteun het.

  • Daar gaan profete uit Jerusalem na Antiochië om by te dra tot die verkondiging van die Woord (Handelinge 11:27).

  • Die broeders in Antiochië besluit om finansiële ondersteuning te stuur aan die Christene wat in Judea woon (Handelinge 11:29).

  • Later het die gemeentes in Macedonië en Achaje dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem (Romeine 15:26; 2 Korinthiërs 8:4).

  • Ons lees ook oor ’n soort kerklike attestaat: hulle het die broeder aangemoedig om te gaan en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang (Handelinge 18:27).

Dit blyk ook dat daar onderlinge gesprekvoering was:

  • Die kerke in Macedonië wys ’n broeder aan wat saam met Paulus moes gaan om die opbrengs van ’n kollekte oor te bring (2 Korinthiërs 8:18).

  • Wanneer daar in Antiochië ’n verskil ontstaan oor die noodsaak van die besnydenis, raadpleeg hulle die apostels en die ouderlinge in Jerusalem (Handelinge 15:2; 31).

  • Paulus wys die Korinthiërs, wanneer dit gaan oor die optrede van vroue in die samekoms van die gemeente, op wat “in al die gemeentes van die heiliges” die gebruik is (1 Korinthiërs 14:33-34) en ook in “die gemeente van God” (1 Korinthiërs 11:16).

Ons mag hieruit aflei dat daar ook ten opsigte van die inrigting en invulling van die plaaslike kerklike lewe ’n sekere eenheid tussen die nuwe kerke bestaan het. Paulus vermaan die gemeente van Korinthe om nie uit pas te loop wanneer dit gaan oor die optrede van susters in die gemeente nie. ’n Kerkverband soos wat ons dit in ons kerkorde sien, kry ons nie in die Nuwe Testament nie. Maar dit is wel duidelik dat die kerke in die apostoliese tyd hulle samehorigheid verstaan het en hulle verantwoordelikheid vir mekaar getoon het deur hulp en bystand te verleen. Die “eenheid van die Gees” (Efesiërs 4:3) was daadwerklik bewaar en beleef. Mense het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan mekaar (2 Korinthiërs 8:5). Dit is treffend dat Paulus die hulpbetoon van die gemeente in Macedonië tipeer as diensbetoning (gemeenskap – koinoonia) aan die heiliges (2 Korinthiërs 8:4). Dit was voluit beoefening van die gemeenskap van die heiliges! Daarmee word die kern van alle werk met mekaar en vir mekaar as kerke geraak.

Ons Kerkorde🔗

Artikel 30 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê dat die kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, regeer moet word. Dit geld vir die plaaslike gemeente maar ook vir die manier waarop ons as kerke in verbondenheid saamleef. Dit is waar dat die Nuwe Testament ons nie ’n bloudruk hiervoor gee nie. Maar die Skrif gee wel die grondreëls wat in ’n Kerkorde verdiskonteer is. Byvoorbeeld: dit gaan in die kerke oor die feit dat Christus ons Koning is en sy Woord moet alles bepaal. Die regering van die gemeente word onmiskenbaar aan die oudstes toevertrou. Die regering van die kerk mag nooit so georganiseer word dat die plaaslike kerk ’n soort afdeling word van die nasionale kerk nie. Volgens die Nuwe Testament is elke plaaslike kerk voluit kerk van Christus. Tegelyk mag plaaslike kerke hulself nie afsonderlik van die ander hou nie. Kerke in ’n bepaalde gebied en land moet ook daarvoor werk om samehorig te wees en daadwerklik die eenheid te beleef. Daar is vanuit die eenheid in Christus ook die roeping om mekaar te dien en mekaar te bewaar by wat ons van die kerk mag bely. Al hierdie grondreëls moet in ’n Kerkorde verdiskonteer wees, indien ons aan die kerkverband gestalte wil gee op die manier wat die Here ons in sy Woord geleer het. Die mooiigheid van ons Kerkorde is dat hierdie beginsels duidelik daarin na vore kom. Enersyds word die selfstandigheid van die gemeente eerbiedig en andersyds merk jy steeds weer op hoe die samehorigheid van die kerke genoem word. Prof K Schilder tipeer die kerkverband as ’n organisasie van onderlinge hulpbetoning. Dit sien ons gestalte kry in ons Kerkorde.

Kerklike Vergaderings🔗

Artikel 1 van ons Kerkorde gaan daarvan uit dat, ter wille van die goeie orde in die gemeente van Christus, daar ook kerklike vergaderings nodig is. Hierdie kerklike vergaderings is: die kerkraad, die klassis, (die partikuliere sinode) en die algemene sinode. Van hierdie vergaderings het die kerkraad ’n eie besondere karakter. Dit is ’n amptelike byeenkoms, wat onderstreep dat al die ampsdraers saamwerk en saam verantwoordelikheid dra vir die gemeente. Dit is anders met ’n klassis of sinode. Daar kom kerke deur middel van afgevaardigdes bymekaar. Die afgevaardigdes is nie daar kragtens hulle amp nie, maar op grond van hulle afvaardiging. Ons noem hulle wel ‘meerdere vergaderings’, maar dit beteken nie dit is ’n hoër gesag nie. Dit dui op die aanwesigheid van meerdere kerke.

Dit is belangrik dat ons die karakter van die sinode reg verstaan. Die sinode word te dikwels gesien as ’n bestuursliggaam wat homself bemoei met sake wat baie gemeentes graag self wil reël en bepaal. So lyk dit asof die sinode bepaal wat en hoe ons dinge moet doen. Waar is dan die outonomiteit van die plaaslike kerk? Indien ons so redeneer, mis ons die aard van hierdie kerklike vergaderings en die bevoegdheid wat die kerke self vir hierdie vergaderings afgespreek het. Die sinode is nie ’n aantal belangrike persone wat bymekaar kom nie, nee, die kerke kom bymekaar. Wat byvoorbeeld oor die liturgie en die evangelisasiewerk deur die sinode besluit word, is ’n besluit wat die kerke saam geneem het. Iets waarby die plaaslike gemeente voluit betrokke is.

Wat die bevoegdheid betref, het die kerke self artikel 31 met mekaar afgespreek: “Die uitspraak wat met meerderheid van stemme aanvaar is, sal as bindend aanvaar word, tensy daar bewys word dat dit in stryd is met die Woord van God of met die Kerkorde.” Die ontstaansgeskiedenis van hierdie artikel maak duidelik dat dit oor meer gaan as oor die uitsprake in appèlsake. Die genoemde gedeelte van artikel 31 lê die geldigheid van besluite van die meerdere vergaderings vas. Sinodeuitsprake sal as bindend aanvaar word, tensy dit in stryd is met die Woord van God of met die Kerkorde. Kerkrade verleen geen regskrag aan die besluite nie, maar beloof wel om hulle aan die besluite te hou.

Ons sou kon sê: afspraak is afspraak. Dit beteken nog meer as ons weer besef dat elke afvaardiging na ’n meerdere vergadering met ’n geloofsbrief ondersteun word, waarin weer eens beloof word om die uitsprake van die klassis of sinode as bindend te aanvaar, tensy…

Daar moet kragtig gewaak word teen die idee dat die Sinode ’n aantal reëls voorskryf. Dit gaan nie oor reëls nie, maar oor regskragtige besluite wat die kerke saam geneem het in die oortuiging dat daarmee die opbou en die lewe van die kerke gedien word.

Indien ’n kerk meen dat daar ’n verkeerde besluit geneem is, dan is daar ruimte om dit in die kerklike weg aan die orde te stel en om ’n hersiening aan te vra. Geen kerk word gedwing om teen sy gewete te handel nie. Maar wat wettig besluit is, moet (behalwe die ‘tensy’ in artikel 31) ook nagekom word!

Geen Outonomie🔗

Sommige sien die besluite van ’n sinode as botsend met die ‘outonomiteit’ van die plaaslike kerk. ’n Plaaslike gemeente is verseker selfstandig, maar beslis nie outonoom nie. Christus regeer met sy Woord en dit impliseer dat kerke wat Hom wil volg, saam wil wees en Hom saam wil volg. Soos wat ons in die gemeente mekaar moet dien, so moet die kerke mekaar ook dien. Daar is geen outonome kerke nie, maar wel kerke wat aan mekaar gegee is en mekaar nodig het om alles in goeie orde te laat gebeur.

Agter die praktyk van die kerklike vergaderings, soos wat hulle in ons Kerkorde voorkom, lê daar ook Christelike nederigheid. ’n Besef dat die plaaslike kerk nie al die wysheid het nie, en dat die Woord van God nie by haar begin het nie (1 Korinthiërs 14:36). Die kerke beantwoord daarin die oproep: beproef wat die Here welbehaaglik is (Efesiërs 5:10); en: beproef alle dinge, behou die goeie (1 Thessalonicense 5:21), wat in die meervoud staan. Hiervoor word daar deeglik beraadslaag op meerdere vergaderings wanneer dit gaan oor sake soos leer, liturgie, missionêre take en die Christelike lewe. Kerke worstel saam hieroor om die wil van die Here te verstaan en mekaar te dien om alles te hou volgens die Woord van Christus.

Dit geld ook wanneer besluite geneem word oor dit wat in die erediens gesing word en hoe daar gehandel moet word met plaaslike kontakte soos byvoorbeeld die Gereformeerde Kerke. Plaaslike kerke moet dit nie as ’n inperking deur ’n hoër gesag sien nie. Die kerke het saam geoordeel dat hulle hier nie op eie houtjie kan handel nie en daarom het hulle gedragsreëls hiervoor opgestel. Indien ’n gemeente meer vryheid in sekere sake wil hê, dan moet hulle dit volgens die kerklike weg aan die orde stel. Solank as wat daar niks verander het nie, geld artikel 31 van die Kerkorde en moet die gemeente hulle hou aan die afsprake wat deur die kerke saam geneem is.

‘Afspraak is afspraak’… Dit is nie ’n rigiede formalisme nie, maar ’n gebod van ons Verlosser Self: Maar laat julle woord wees: Ja ja (Mattheüs 5:37). Wanneer die kerkrade die besluite van ’n meerdere vergadering nie hoog hou nie, en ook nie die belofte wat in hul geloofsbriewe met die oog daarop gegee word nie, hoe kan ouderlinge dan nog sondige broers en susters aanspreek op hulle ‘ja’ by hulle openbare geloofsbelydenis?

Ons moet die leuen aflê en die waarheid spreek, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede (Efesiërs 4:25). Dit gaan ook oor wat ons as kerke op meerdere vergaderings afgespreek het. In ’n wêreld waarin die leuen regeer, sal Christus se kerk ook daarin pilaar en grondslag van die waarheid moet wees.