Bron: Die Kerkblad, 1989. 2 bladsye.

Die Klein Mens, Die Groot Amp “Verlos Ons van die Preektoon...”

predikant

Persoonsverheerliking waarin die mens alles is, is altyd afgodery. Die Bybel verfoei eersug. Dit is ’n ‘siekte’ onder ons, ’n aansteeklike epidemie wat daagliks sy duisendes neervel. Eersug en mensverheerliking kan die mooiste in ’n samelewing verwoes. Mensediens kan die pragtigste verhoudinge versteur.

Ja, persoonsverheerliking is afgodery! Maar nêrens is dit so gevaarlik as in die kerk nie. Dit kan selfs ’n ge­meente laat sterf. As lidmate hulleself soek om aansien te geniet, dan is dit erg. As ampsdraers in die kerk eer­sugtig word, dan word dit onhoudbaar.

Eersugtige Ouderlinge🔗

Eersugtige ouderlinge maak die stem van die Goeie Herder stil en die skape raak verward. Alreeds in die eerste eeu moes die apostel Johannes die gemeente teen so ’n eersugtige ouderling waarsku en hy noem selfs sy naam: Diotrefes, “wat onder hulle die eerste wil wees” (3 Johannes 1:9). Ter wille van eie eer, lyk dit of hy selfs Johannes se briewe aan die gemeente nek omgedraai het. En waar die dominee nie by is nie, vaar hy met slegte woorde uit (vers 10). Hierdie voorste ouderling handhaaf selfs sy eie soort ‘tug’ as hy broeders uit die gemeente ‘uitwerp’. O, hoe kerkverwoestend kan die optrede van eersugtige ouderlinge tog wees!

Predikante wat Aandag Trek🔗

Maar wat van ons predikante? 'n Predikant wat sy eie eer soek en nie bo alles die eer van God nie, ruïneer die kerk so ver as wat hy gaan. Met sy preke word hy die aandag­trekker. In die samelewing is hy die populêre kêrel. Rondom sy persoon dra hy ’n stuk wêreld die kerk in. En baie lidmate is nogal ingenome met hierdie ‘oulike’ predikant met wie daar by die ander kerke se mense kan gespog word die – ideale sosiale leier.

Die grootste ellende kom egter op die preekstoel. As eersug dáár oorneem, dan word dit by al die elektriese ligte donker in die kerk. Dit kom tog altyd ten eerste daarop aan WAT die dominee preek. So oud soos wat die kerk is eeue en eeue – moet dit maar altyd weer vir die gemeente gesê word: Dit gaan nie oor die mooi rede­voerings, die gloedvolle improvisasies, die skitterende gedagtebou, die retoriese vernuf nie. In die kerk word dit dikwels patetiese bombasme.

In hierdie uiterlike vertoon as prediker, het die apostel Paulus byvoorbeeld maar sleg afgesteek by die heidense filosowe. Hy het nie na die gemeente “met voortreflik­heid van woorde” gekom nie (1 Korinthiërs 2:1). Sy preke “was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (vers 4).

Calvyn, een van die grootste predikers van alle tye ­omdat hy God se Woord gepreek het! – het maar ’n swak, power figuur op die preekstoel geslaan. “Hy het nie die minste grasie gehad nie en op die kansel selfs nie eens gebare gemaak nie”, verklaar De Raemond, die bekende historikus kort na die Hervorming. Hierdie voorloper op die pad van die Gereformeerde kerk, wou nie eers ’n grafsteen vir sy graf hê nie sodat ons vandag nie eens weet waar sy graf is nie.

kleipotte

Welsprekenheid – God se Gawe🔗

Moet ons dan die gawes wat God aan predikers en ouderlinge en diakens gegee het, verag? Nee, glad nie! Van Apollos, Paulus se kollega word gesê dat hy ’n “begaafde spreker” was (Handelinge 18:24) en die Here het hierdie spreekgawes wonderlik in die kerk gebruik. En God doen dit vandag nog waar hy dit wil doen ter wille van sy Koninkryk. Maar die belangrikste wat van Apollos gesê word, is nie die saak van sy welsprekendheid nie, maar dat “hy ’n deeglike kennis van die Skrif” gehad het (NAV).

Die ‘vertoon’ op die preekstoel word dikwels ’n ‘toon’ wat die predikant aanslaan. Dan gaan dit nie meer om die egte Skrifwaarheid nie, om die suiwer Woord nie, maar om die indruk wat die persoon maak. Van hierdie soort ‘preektoon’ waar dit gaan om die mens, het die Nederlandse digter De Genestet in die vorige eeu ’n gebed laat hoor:

Verlos ons van den preektoon Heer,

Geef ons natuur en waarheid weer.

Mensverheerliking in die kerk? Eersug? Ons is maar nietige mense, maar ons dra ’n groot, heilige amp. Waarom? “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar klei­potte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (2 Korinthiërs 4:7).

God alleen moet verheerlik word. “Soli Deo gloria” – dis die slagspreuk van die Gereformeerde belydenis en kerke.