Bron: Die Kerkblad. 1 bladsye.

Die Krag van die Christendom

vervalle kerk

Is die kerk lewend of dood? Hierdie vraag het natuurlik 'n Bybelse fondament. In Openbaring 3:1 stuur Jesus Christus self aan sy kerk in Sardis die ontstellende boodskap: "Jy het die naam dat jy leef, maar jy is dood." Hierdie boodskap is bedoel om die kerk tot selfondersoek en bekering te bring.

Dit gebeur egter al te maklik dat hierdie selfde woorde van Jesus in ons tyd gebruik word, selfs misbruik word, as 'n verontskuldiging vir kerklosheid en kerkloosheid: "In die kerk is alles so dooierig, so sonder lewe, dat ek nie juis veel daaraan het nie. Daarom bly ek weg." Dit is natuurlik alles behalwe wat Jesus in sy boodskap aan Sardis bedoel het. Buitendien moet 'n mens vra: Waaraan meet 'n mens of die kerk lewend is of nie? Is 'n "lewendige" kerk noodwendig 'n "lewende" kerk?

Praat 'n mens van "lewe", dan praat jy ook van "lewenskrag”. 'n Ewe belangrike vraag is dus: Is die kerk vandag ook lewenskragtig? Of het daar 'n lewensmoegheid oor die kerk vaardig geword? Sien die kerk kans vir nuwe uitdagings of is ons aan die retireer?

Een van die geweldige uitdagings van die 21ste eeu is sekerlik om op kragtige wyse die geeste van ons tyd die hoof te bied. Hierdie tydsgeeste stel die kerk werklik voor 'n geweldige uitdaging, juis omdat hulle in die gewaad van medemenslikheid en toegeeflikheid geklee gaan:

  • Moet tog nie te hard oor mense van ander godsdienste oordeel nie. Wees liewer verdraagsaam. Aanvaar ook ander godsdienste as eerlike pogings om God te bereik. Dit is die taal van die sinkretisme. En daarmee saam kom hulle met 'n beroep op Christelike verdraagsaamheid.

  • En moet ook nie te hoog opgee oor jou eie geloofsoortuigings nie. Besef dat jou oortuigings maar net op jou eie subjektiewe siening van die waarheid berus, Daar is nie so iets soos dié waarheid wat bo alles vasstaan nie. Ook die Bybelse waarhede is nie so vasstaande as wat jy altyd gedink het nie. Dit is die taal van die postmodernisme. Daarmee word 'n appèl gemaak op die Christelike nederigheid.

Het die kerk die inherente krag om hierdie tydsgeeste die hoof te bied? Of blaas ons maar betyds die aftog, terwyl ons byna verskoning maak vir die uitgediende werklikheidsbeskouing van die Bybel en van vorige Christengeslagte? Natuurlik, as ons laasgenoemde pad sou opgaan, dan het ons, ons krag verloor. Ons mag ons dalk laat wysmaak dat ons ware verdraagsaamheid en nederigheid aan die dag lê, maar in werklikheid het ons, ons dan laat verlei om Christus en sy woorde te verloën. En sê die Here Jesus dan nie self dat hy wat Hom voor die mense verloën, voor die engele van God verloën sal word nie (Lukas 12:9)? Wie hom dan vir Christus en sy woorde skaam, het sy krag verloor en is op sterwens na dood.

Waarin is die kerk se krag en sy lewenskrag dan geleë? Nie in onsself nie, skryf Paulus in 1 Korintiërs 2:5, maar in die krag van God. En die krag van God is die Heilige Gees. Waar mensekragte ophou, daar blaas die Gees weer lewe in dooie beendere (Esegiël 37). Hoe bewerk die Gees die lewenskrag in sy kerk? Wel, as ons Gees sê, dan sê ons ook Woord. Die kerk wat aan die Woord van die Here vashou, kan met krag optree. Sou ons die Woord kwyt wees, is ons kragteloos.

Daarom durf die kerk hom juis in hierdie tye nie laat ompraat om die waarheid en die vastigheid van die Skrif te betwyfel of te relativeer nie. Juis nou word van ons verwag om te bely, met krag te bely, en met kragtige oortuiging in die belydenis vas te staan: "Die woord van die Here is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard..." (Hebreërs 4:12). By hierdie belydenis moet ons bly staan, selfs al sou ons daaroor verguis en vervolg word. Want, “salig” sê die Here, “is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om my ontwil” (Matteus 5:12).