3 bladsye.

Die Kruis en die Tegniek – 'n Kruispad vir die Jeug?

Die bekende Joodse wysgeer Martin Buber het gesê dat die tyd waarin ons lewe, gekenmerk word deur wat hy genoem het 'n Godsverduistering. Mense en met name jongmense kan God nie meer sien nie. Soos by 'n sonsverduistering die son donker en dof word, omdat 'n ander hemelliggaam tussen die son en die aarde beweeg, so lyk dit of daar ook tussen God en ons jeug iets gekom het waardeur hulle God nie meer kan sien nie.

Ons kan minstens drie dinge noem wat die besef van die teenwoordigheid van God laat verswak het.

  • Ten eerste is daar die moderne Godsbegrip. Die gedagte dat daar 'n persoonlike God is wat bo ons in die hemel woon, word die laaste tyd ernstig bestry. So 'n God, 'n transendente God, is dood. Dit is die God-is-dood-teologie.

  • In die tweede plek het die moderne tegniek die besef van God se teenwoordigheid ondermyn. Deur ons tegniese kennis, deur al die ontdekkings, byvoorbeeld van die mediese weten­skap, het ons God nie meer so nodig nie. Ons kan mos die natuur tem, rampe voorkom, siektes genees. Hoekom sal 'n mens die hulp van God dan nog inroep?

  • In die derde plek is daar die ontsaglike hoeveelheid ellende in die wêreld. Ook dit maak dat mense sê: as daar werklik 'n God bestaan dan sou daar nie soveel ellende in die wêreld wees nie.

In gesprekke met ons jongmense kom ons agter dat hulle veral 'n konflik ervaar tussen geloof in God se leiding en die tegniese prestasies van ons moderne tyd. Wat vroeër aan God toegeskryf is, word vandag as 'n prestasie van die wetenskap gesien. Ons mag in die prediking nie aan hierdie probleem van die jeug verbygaan nie.

Toespitsing op die Kruis🔗

Ons jeug het die neiging om probleme verstandelik te benader en op te los. Dit is een van die mooi eienskappe van ons jongmense: hulle wil dinge begryp en uitpluis. Dit mag die rede wees dat die jeug dikwels ook worstel met die probleem van die kruis van Christus. Dié God wat by wyse van spreke deur die moderne wetenskap al in 'n soort van konkurrensiehouding gedwing is, het sy eie Seun laat sterf aan die kruis. Die krui­siging van Jesus is tog wel vir die besef van baie van ons jongmense die uitdrukking van uiterste magteloosheid. Waar was Christus swakker as toe Hy aan die kruis gehang het? Waar kom sy weerloosheid meer aan die lig dan op Golgota? Teenoor 'n mensheid wat byna alles kan, vertoon God Hom in die kruis van sy eie Seun tog wel besonder swak.

Dit lyk dan ook of die kruis van Christus en die kruisboodskap van die Bybel vir die moderne denke onaanvaarbaar geword het.

Selfs mense van die kerk het hier geweldige probleme. 'n Man soos dr. Herman Wiersinga, 'n studenteleraar in Am­sterdam, het in sy boek oor die versoening in konflik gekom met die kruis. Hy kan die kruis eenvoudig nie meer as 'n daad van God aanvaar nie, maar wil dit net sien as 'n weersinwek­kende daad van mense. Die kruis van Jesus laat volgens Wier­singa sien wie ons is, wat in ons hart woon, waartoe ons in ons haat en vyandskap kan kom. Seker onthul die kruis van Christus ook die diepte van de sondige hart van die mens. Maar die Bybel leer tog duidelik dat God Christus na die kruis gelei het. Daar is in die N.T. telkens sprake van die moet. Die Seun van die mens móét ly en sterf! (Mattheus 16:21). Die kruis is ook 'n daad van God.

Dit is nie verwonderlik dat ook ons jongmense hier met 'n probleem worstel nie. Paulus het reeds gesê dat die kruis van die Here Jesus Christus vir die mens eintlik onverstaanbaar, ja selfs onaanvaarbaar is. Die Kruis is 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke (1 Korinthiërs 1:21). Die Joodse mens met sy groot drang tot dade, met sy beklemtoning van krag vind Iemand aan 'n kruis 'n dwaasheid. En die Griekse mens, die denker, die man van kulturele verfyning, moet net lag as hy hoor van Iemand wat gekruisig is. Dit is vir hom dwaasheid.

'n Kruispad?🔗

Dit voel soms vir 'n mens of hy 'n keuse moet maak. Jy moet die kruis van Jesus Christus aanvaar en dan maar jou verstand heeltemal uitskakel, jy moet glo in wat die Bybel verkondig aangaande die kruis en dan maar nie verder dink nie. Inder­daad lê hier 'n krisispunt. Wie glo in die tegniek, in die voor­uitgang van die mens, in die prestasies van ruimtevaarders, in die verfynde tegniek van 'n transistor en 'n elektroniese reke­naar, hy moet noodwendig bots met die boodskap van die kruis van Christus. Jy kan nie tegelyk in die krag van die mens glo, op sy prestasievermoë vertrou en tegelyk jou heil soek in die kruis van Christus wat die hele mensheid en ook jouself veroordeel. Daarom dwing die kruis ook altyd tot 'n bepaalde keuse. Dit roep verset op of oorgawe. Waar die kruisprediking gehoor word, daar kom ergernis of geloof. Die kruisprediking het altyd 'n uitwerking in die lewe van diegene wat dit hoor: liefdevolle aanvaarding of vyandige verset, 'n ja of 'n nee, die ja van die geloof of die nee van die ongeloof.

In hierdie sin kan ons in verband met die kruis spreek van 'n kruispad.

Tog wil ons die vraagteken in die opskrif laat staan. Daar hoef nie 'n teenstelling te wees tussen kruis en tegniek nie. Ook vir ons jongmense wat lewe in die vierde "kwartaal" van die twintigste eeu behoef daar werklik nie 'n konfliksituasie te bestaan tussen kruis en tegniek nie.

Ons kan glo in die heerlike en tegelyk bittere werklikheid van die kruis en tegelyk die tegniek bewonder en die seëninge van die moderne wetenskap dankbaar aanvaar. Ja, geloof in die kruis of beter gesê geloof in die Gekruisigde sal ons selfs op 'n geheel nuwe manier laat staan teenoor al die wonders van wetenskap en tegniek.

Iemand wat glo in die kruis van Christus en wat weet dat hy saam met Christus gekruisig is, sal met nog meer ywer en toewyding kan meewerk en meebou aan die dinge wat deur die moderne tegniek moontlik geword het.

Met Christus Gekruisig🔗

Wanneer ons in die geloof die heerlike betekenis van die kruis van die Here Jesus Christus aanvaar dan weet ons deur die won­dere gawe van die geloof dat ons saam met Christus gekruisig is. 'n Gelowige is 'n gekruisigde mens. Ons verneem dit by Paulus in die bekende woorde van Galasiërs 2:20: Ek is met Christus gekruisig.

Wat beteken die geloof in die kruis? Twee dinge. Wie in die kruis van Christus met sy hele hart glo, aanvaar daardeur die oordeel van God oor sy lewe. Ek het gesondig en daarom is die kruis van Christus noodsaaklik om my te verlos. Deur 'n innige geloofsgemeenskap met Christus wat gekruisig is, kom ons steeds tot dieper sondebesef.

Maar aan die ander kant leer ons deur die geloofsgemeen­skap met die gekruisigde Christus ook steeds ryker die liefde van God verstaan. So lief het God ons dat Hy sy eie Seun vir ons gegee het.

Iemand wat weet dat hy met Christus gekruisig is, verwag nie meer soveel van homself nie. Hy staan in 'n nuwe houding teenoor homself, teenoor sy medemens en ook teenoor die wêreld waarin hy lewe en dus ook teenoor die tegniek.

Die Kruis en die Tegniek🔗

Wie met Christus gekruisig is, staan nie afkerig teenoor weten­skap, kultuur en tegniek nie. Nee, 'n Christen staan op 'n nuwe, maar ook positiewe wyse teenoor al hierdie dinge. Die tegniek as sodanig is nie sondig nie. Die sonde sit nie in die materie nie maar in die mens wat dit hanteer, gebruik en geniet.

Daarom staan 'n kind van God in 'n drievoudige houding teenoor die wonders van die tegniek.

  • In die eerste plek staan hy ootmoedig teenoor die tegniek. Dis mos nie sy prestasie nie. Alles wat die mens kon bereik, die ontdekkings, die bemeestering van die natuur, die groot hoogtes van die moderne tegniek, dit was alleen moontlik deur die gawes wat God aan die mens gegee het. In elke uitvinding gaan ons iets sien van die almag van God en die wonder van sy heerlike skepping. Nie die mens ontvang dan die eer nie, maar God die Skepper en die Vader van Jesus Christus.

  • In die tweede plek is daar naas ootmoed ook 'n heilige huiwer: ek kan God se mooie gawes so maklik misbruik. Dit maak 'n Christen versigtig. Daar sal altyd 'n sekere reserwe wees ten opsigte van wat die moderne tegniek bied. Altyd moet im­mers gevra word: hoe gebruik ek die gawes van God? Op watter wyse werk ek met die tegniek? Daar is immers ook die groot gevaar dat dit my van God kan aftrek.

  • Ten derde sal 'n gekruisigde Christen ook dankbaar die wonders van die tegniek aanvaar. Wat is God groot en wat is Hy goed dat Hy dit alles vir ons gee, dat Hy dit laat uitvind en ontdek het.

Daarom is dit ook ten opsigte van die tegniek vir ons van die allergrootste belang dat ons die betekenis van die kruis van Christus raaksien. Dan sal daar in ons lewe nie 'n Godsver­duistering wees nie. Die lig van Gods liefde sal dan helder straal in ons hart en in ons lewe. In daardie lig sien ons ook onsself in ons sondigheid en in ons beperktheid. En dit maak ons ootmoedig, huiwerig en dankbaar ook teenoor die wonders van die moderne tegniek.

Dit is die regte lewenshouding, ook vir ons jongmense.