Bron: Nederlands Dagblad. 1 bladsye.

Die Kruishout

In die solder van ’n vriend hang driehonderd kruise van allerlei soorte: eenvoudiges, kitsch, van hout, van klip. Byna almal dra ook die beeld van die gekruisigde Christus. Sekularisasie het vinnig gevorder - vyftig jaar gelede het daar nog in byna elke Rooms-Katolieke woonkamer ’n krusifiks of kruisbeeld gehang. Protestante is ietwat meer sober: as hulle ’n kruis as simbool gebruik, is dit ’n leë kruis, sonder die liggaam van Christus. Hulle argument: Jesus Christus het uit die dood opgestaan. Die kruis is leeg.

Christendom en kruis is onlosmaaklik verbind. Die pad na Paasfees konsentreer op die lyde van Christus. Dit het aan ’n kruis plaasgevind, ’n martelwerktuig wat deur die Romeine gebruik is om misdadigers met die minste middele die wreedste dood te laat sterwe.

In die vroeë Christendom was Christene aanvanklik baie versigtig om die kruis as simbool te gebruik. Een van die eerste kere wat die kruis só genoem word, was in die derde-eeuse geskrif, Stromateis, van  Clemens van Alexandrië. Ander simbole was meer gebruiklik: ’n afbeelding van ’n vis (die ichtus-simbool) of die alfa en omega teken.

Oor die vorm van die kruis waaraan Jesus gehang het, bestaan onder geskiedskrywers verskil van mening. Meestal word die kruis van Jesus afgebeeld as ’n paal met ’n dwarsbalk - die sogenaamde Latynse kruis. Die argument daarvoor is dat Jesus volgens die evangelie self sy kruis moes dra en dit sou dan net moontlik wees met ’n dwarsbalk.

Volgens sommige - onder meer die Jehova Getuies - het Jesus aan ’n paal (l) gesterf. Ander dink aan ’n Andreaskruis (X) of ’n Antoniuskruis (T).

Die Latynse kruis as simbool van die oorwinning van Jesus oor die sonde en dood het in die vierde eeu sterk toegeneem onder Konstantyn die Grote, die eerste Romeinse keiser wat hom tot die Christendom bekeer het. Hy het die kruisdood as vorm van eksekusie afgeskaf. In die eerste eeue is net leë kruise as simbool van die Christelike geloof gebruik. Die oudste bekende kruisbeeld is omstreeks 430 op die hout kerkdeur van die Santa Sabina in Rome aangebring.

Sedert die vroeë middeleeue is kruisbeelde van hout, ivoor, metaal of ander materiaal in die Roomse liturgie as altaar- en prosessiekruise gebruik. Ook individueel word krusifikse vir persoonlike godsdiensoefening gebruik.