3 bladsye.

Die Kuns van Loslating

Toe ek onlangs 'n kort radio-uitsending gedoen het onder bogenoemde titel, was daar opvallend baie reaksie daarop. Dit het gelei tot 'n verdere uitbreiding van die tema.

Die probleem🔗

Daar is mense wat té goed wil wees, té liefdevol, té versorgend. Baie mense sal sê dat hulle hierdie probleem nie dikwels teëkom nie – eerder die teenoorgestelde. Daarom noem ek dit 'n ongewone pro­bleem, maar dit kom nogtans dikwels voor.

Ek ken 'n dame wat haar sieklike vader versorg. Sy doen alles vir hom, maak sy huis skoon, doen sy wasgoed, praat met hom en kook vir hom. Maar sy kla omdat sy geen dieper kontak met hom het nie. Nog 'n vrou sê die volgende oor haar kontak met haar seun: "Hy woon nou selfstandig en ek skryf vir hom. Ek stuur ook vir hom geld en bel hom. Maar ek sou graag egte kommunikasie met hom wou hê. Dit bly net eenrigting-verkeer."

Hierdie probleem van 'te goed wees vir iemand' word soms deur Bybelverse ondersteun, bv

"As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie".

Lukas 6:29-30

Om vas te hou🔗

As jy jouself in dié houding herken, wil ek jou vra om die bergrede, soos Lukas dit beskryf, verder te lees. In vers 37 sê Jesus: "…Spreek vry, en julle sal vry­gespreek word." Die Nederlandse vertaling sê: "Laat los en u zult losgelaten wor­den." Dit verduidelik waar die probleem wat hierbo bespreek is, werklik lê, naamlik dat daar 'n diep (onbewuste?) begeerte is om die ander persoon te wil vashou.

Jesus wys vir sulke mense dat hulle moet leer om los te laat. En dit is 'n kuns. Die kuns van loslating. Bowendien is loslaat in die bergrede altyd: aan God oorlaat. Want ons kan dit slegs doen as ons die ander persoon nie in 'n gat laat val nie, maar hom/haar aan God toevertrou. Jesus sê dat iemand wat só loslaat, self ook losgelaat word.

Dit help u as u agterkom dat daar agter u gedrag ten diepste angs of vrees bestaan om die persoon te verloor indien u hom sou laat gaan, bv die moeder, wat vrees dat sy haar seun sal verloor as sy hom loslaat. Sulke angs is egter misplaas. U sal opmerk hoe die ander persoon begin lééf as u hom waarlik loslaat. As u hom met rus laat en laat besef: jy mag maar voor my wees wat jy is.

Maar is dit net angs wat ons daarvan weerhou om los te laat? Nee, dit kan ook op 'n heel ander vlak lê, nl. op die terrein van ons verlangens, ideale en drome. Ons het dikwels drome vir onsself, ons kin­ders, ons eggenote, ons kerk, ons werk, ens.

Baie van hierdie ideale en drome word onbewustelik op die ander persone gepro­jekteer en soms word dit as voorwaarde vir ons liefde gestel. Die persoon kry dan subtiel die gevoel dat ons in hom teleur­gestel sal wees as hy nie so of sus is nie. Dit gee hom ook die idee dat ons nie gelukkig is nie. Sulke drome of ideale word dan soos gevangenisse, ook ten opsigte van onsself.

Om los te laat of vry te spreek, is 'n vorm van liefhê.

In die bergrede kry ons die grondwet van die Koninkryk. Daarin word ook spesiale klem gelê op die kuns van loslaat of vryspreek. Dit gaan basies oor 'n totale ommekeer van 'n lewe waar die 'ek' sentraal staan na 'n lewe van oorgawe. (Matteus 6:19, 33) Niemand kan hierdie ommekeer self bewerkstellig nie. Jy moet jouself laat red uit die gevangenis waarin die oersonde jou laat beland het. Net die offer van die liefde van God in Christus kan dit doen. Die evangelie sê dat ons ons lewe sal behou as ons dit eers verloor (of loslaat), maar ons moet dit om Jesus ontwil verloor (Lukas 9:24). Dit kan alleen deur die liefde van God.

As ons sê dat loslaat 'n vorm van liefde is, klink dit aanvanklik paradoksaal, want op die oog af lyk loslaat na iets negatief – na afstand, kilheid, selfs gebrokenheid. As ek 'n glas laat val, breek dit stukkend. Durf en dus my medemens so loslaat?

'n Klein voëltjie het teen my ruit vas­gevlieg en toe neergeval. Toe ek dit optel en so in my hand hou om dit los te laat, het ek gedink: "Dit is die loslating waar­van Jesus praat in Lukas 6:37, 'laat los en u zal losgelaten worden'." Dit is opval­lend dat dit in een asem genoem word met 'wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is' en met 'moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie'.

Die Griekse woord wat hier gebruik word, 'apoluo', kan op vier maniere vertaal word: 'vrylaat', 'laat gaan', 'wegstuur', en 'afskeid neem'. Die meeste kom­mentare kies die eerste betekenis. Dit is vrylaat soos 'n mens 'n veroordeelde of gevangene sou vrylaat. Dit moet wyd ver­tolk word: Laat elkeen vry wat deur 'n band met jou, nie tot selfverwesenliking kan kom nie. As jy té liefdevol, té warm, té naby iemand is, kan jy 'n belemmering vir sy groei wees.

Om weer terug te kom by die voorbeeld van die dogter wat haar vader versorg. Hy het gevoel dat sy altyd ongelukkig is omdat hy is soos hy is (siek, afhanklik van haar, ens). Dit was die beeld wat sy uitgestraal het. Die dogter het haar vader vasgehou met haar eie verlangens. Om die probleem op te los, moet daar iets met haar gebeur. Sy moet hom aanvaar soos hy is en moet haar verborge voor­waardes en verlangens vergeet. Dit kan alleen gebeur as sy hom loslaat.

Loslaat speel in die opvoeding van kinders 'n groot rol. Daar is altyd gevare waarteen die ouers die kind wil beskerm, bv die eerste rit met 'n fiets na 'n vriend toe, gevare op die pad, ens.

Loslaat beteken soms ook vrylaat in dinge waarmee ek nie saamstem nie of wat my irriteer. (Kyk Lukas 15, die vader wat sy seun sy erfporsie gee en hom laat gaan.)

'Loslaat' in die bergrede het ook te doen met my omgaan met myself, want wie 'n ander nie kan loslaat nie, sê Jesus, sit self aan iets vas. Die teks sê:

Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

Wie leer om los te laat, word self ook bevry. (Lees ook Spreuke 11:24.)

Hoe leer ons om los te laat of vry te spreek?🔗

Die grondwet van die Koninkryk van die Hemel het 'n eie basis, bron en belofte wat ons in staat stel om los te laat.

Die basis🔗

Jesus vra ons om los te laat omdat Hy ons 'n basis daarvoor gee. Die basis lê in die eerste plek in die feit dat God 'n persoonlike band met elke mens het en dat elke mens vir Hom uniek is. Dit is 'n bevrydende wete dat jy nie 'God' vir die ander persoon is of kan wees nie. Jy hoef die ander persoon ook nie net te 'los' nie, maar jy kan hom aan God toevertrou.

Jy kan dit ook op jouself toepas. Om jouself los te laat (vry te spreek) beteken om te glo dat jou waarde nie lê in wat jy het of wat jy doen nie, maar in wie jy voor God is. Wanneer jy dit ontdek, is dit 'n enorme bevrydende ervaring. Jy mag in Christus, 'n unieke mens voor God wees. Hierdie basis is deur die evangelie gelê.

Die bron🔗

Ten tweede is dit belangrik om te weet dat God ons wil lei en ons wil dra. Om daaraan vas te hou, is fundamenteel. Ek sê nie dat alles wat met ons gebeur deur God so bepaal is nie, maar dat Hy alles te goede laat meewerk vir ons. God is in sy wese liefde. Ons kan die kuns van loslaat nooit leer as ons nie kan put uit die bron nie, as ons Christus nie in ons lewe toelaat nie.

Die belofte🔗

Die derde punt is dat God die groot Beeldhouer is, wat besig om uit die ruwe materiaal van ons lewe, unieke mense na Sy beeld te maak.

Loslaat is 'n oefening in sterf aan jouself. Dit is dikwels pynlik. Maar wie dit op grond van die evangelie van God se liefde in Christus doen, skep ruimte en laat vry. God het ons self hierin voorgegaan. Christus is die koringkorrel wat alles gelos het om ons vry te laat. In die ritme van vashou en loslaat, groei die liggaam en die siel van die mens. Dit is 'n eggo van die geheim van God. Dit is die groeiwet van die Koninkryk. Langs die weg van saai, kan die 'graan' groei en ons ware lewe te voorskyn kom. As 'n moeder haar seun loslaat, kry sy hom op 'n nuwe ma­nier terug. Laat vry en word vrygelaat.

As ons dit doen, sê God, sal dit met ons goed gaan, want Hy is nie 'n poli­siebeampte, maar die Een wat ons bemin. En Hy het ons op hierdie pad voorgegaan!