Die Laaste Oordeel
Die Laaste Oordeel
⤒🔗
Ons word Almal tot Verantwoording Geroep←⤒🔗
Ons moet erns maak met ons lewe. Dit vloei al voort uit die feit dat hierdie lewe ʼn gawe van God is, ʼn gawe met ʼn opdrag. As skepsele dra ons ʼn groot verantwoordelikheid. Die verantwoordelikheidsbesef word versterk deur die gedagte aan die oordeel van God wat oor ons sal kom. Ons word ernstig opgeneem; die menslike lewe dra soveel gewig dat dit goddelike oordeel verg.
Van ouds word al in die kerk bely dat Christus sal kom om die lewende en die dode te oordeel. Hierdie geloof het ʼn duidelike Bybelse agtergrond. (2 Tim. 4:1; 1 Pet. 4:5). In die prediking van Petrus, wat in die boek Handelinge weergegee word, word van Jesus gesê dat God Hom aangestel het as Regter van lewende en dode. Alle mense is vir sy regterlike oordeel bestem, daarom moet hulle almal hulle toevlug tot Hom neem. Elkeen wat in Hom glo, ontvang vergifnis van sondes deur sy Naam. (Hand. 10:42, 43).
Op baie ander plekke in die Skrif word beklemtoon dat die toekomstige oordeel universeel is; niemand ontkom daaraan nie; dit gaan oor almal en oor alles heen.
Enigeen wat met die Ou Testament vertroud is, kom onder die indruk van die spanningsvolle erns van die woorde waarmee die oordele van God aangekondig word. Soms volg die een vervloeking op die ander (Lev. 26:14-39; Deut. 28:15-68). Die vloek sal Israel tref wanneer hulle God se gebooie nie onderhou nie en Hom nie dien nie (Deut. 29:18-21; Jos. 24:20). Wanneer God wraak neem en die kwaad bestraf, word die onheil oor Israel én die omliggende volke aangekondig (Jer. 1:13-16; Jer. 46, 51; Eseg. 24, 25). Meer as een keer word in verband met die komende oordeel oor die naderende dag van die Here gepraat. Dié dag is ʼn dag van toorn, ʼn dag van benoudheid en van angs, ʼn dag van vernieling en van vernietiging, ʼn dag van duisternis en van donkerheid, ʼn dag van wolke en van wolkenag (Sef. 1:15). Met die onheil oor Israel word dikwels die ballingskap bedoel, en met die onheil oor die volke, hulle ondergang. Gerigte en oordele wat in ʼn bepaalde tyd voltrek word, het nog ʼn verdere betekenis; hulle sê dat dit God is wat as koning en as regter optree. As Hy só in die tyd optree, openbaar Hy Hom as die God wat ewig heilig en regverdig is; daarom wys sy oordele en gerigte in die geskiedenis vooruit na die laaste oordeel, die eindgerig. Die tekening van heil en onheil breek soms deur die perke van die aardse bedeling en die profesie stel vir ons die laaste oordeel voor oë, wat ewige heil of ewige onheil meebring.
God se toorn oor ons het ʼn oorsaak. Dit is ons sonde, wat bely moet word:
Want ons vergaan deur u toorn,
en deur u grimmigheid word ons verskrik.
U stel ons ongeregtighede voor U,
ons verborge sondes in die lig van u aangesig. Ps. 90:7, 8
Benewens woorde soos toorn, grimmigheid en gramskap is daar die woord ‘wraak’, wat dui op die gedugte realiteit van die straffende vergelding wat God in sy toorn oor diegene bring wat dit verdien. Die wraak van God open die sig op die afgrond van die sonde en die onpeilbare diepte van die erns van onreg, magsmisbruik, hoogmoed, geweld en onderdrukking. God wat reg en geregtigheid liefhet, bly nie onbewoë wanneer dit geskend word nie.
Woorde soos vergelding en wraak het by ons dikwels ʼn ongunstige betekenis. Ons ken uitdrukkings soos ‘kwaad met kwaad vergeld’ en ‘wraaksug’. Wanneer God sê: “…hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie. Daarom sal Ek eers hulle ongeregtigheid en hulle sonde dubbel vergelde” (Jer. 16:17, 18), is Hy die Heilige God.
God is regverdig as Hy sondaars straf. Hy handel altyd in ooreenstemmig met sy Woord. Van die Regter van die aarde word verwag dat Hy oor die trotsaards vergelding bring (Ps. 94:2)
Maar bo wat wissel en vergaan,
bly ewig God se rykstroon staan.
Hy vel sy vonnis uit die wolke
Regverdig oordeel Hy die volke. Psalm 9:5, berym
Die Nuwe Testament bevat minder voorstellings van oordele van God as die Ou Testament, behalwe dan in die boek Openbaring. Die oordeel word ewenwel met groot erns verkondig. Iemand het tereg gesê dat die openbaringsgeskiedenis in die persoon en werk van Jesus Christus tot ʼn hoogtepunt kom en dat, noudat God se liefde so oorweldigend in Hom geopenbaar is, dit ook ten volle duidelik word wat die verwerping van hierdie liefde meebring.
ʼn Nuwe Testamentiese boek waarin telkens oor die oordeel van God gepraat word, is die Hebreërbrief. Reeds in Hebreërs 2:2, 3 staan daar “as … elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang…, hoe sal ons ontvlug as ons so ʼn groot saligheid veronagsaam?” Hier, en op ander plekke (Heb. 10:26-31; 12:25-29), word benadruk hoedat ons verantwoordelikheid in die nuwe bedeling groter geword het. Ook lê alle dinge oop en bloot voor die oë van Hom aan wie ons rekenskap moet gee; geen skepsel is vir Hom verborge nie (Heb. 4:13). Dit is die mense bestem om één maal te sterwe, en daarna die oordeel (Heb. 9:27). God het die regterlike mag aan Christus toevertrou. Jesus weet dat sy Vader die hele oordeel aan Hom gegee het (Joh. 5:22, 27). Die regspraak is deel van die werk wat aan die verhoogde Middelaar opgedra is (Hand. 17:31).
Die vraag word soms gevra of daar dan nie aan die einde van ons lewe ʼn beslissing gevel word nie. Die een gaan immers na die hemel om by Christus te wees en die ander nie. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie is reeds veroordeel, omdat hy nie in die Naam van die eniggebore Seun van God glo nie (Joh. 3:18).
Daar is mense wat deur die geloof seker is dat hulle van skuld vrygespreek is, geen straf meer hoef te vrees nie, en die reg op die ewige lewe ontvang het. ʼn Mens mag jou egter nie op Johannes 3:18 of ander woorde van die evangelie beroep om te beweer dat dit hiermee gedaan is nie. Die Skrif is duidelik oor die eindoordeel. Ons lot word in hierdie lewe beslis en in die laaste oordeel word dit openbaar. Die krisis, die oordeel, die skifting, die skeiding wat reeds hier deur die woord van Jesus tot stand kom, tree op die jongste dag helder aan die lig; dit sal dan bevestig word, en kry dan openbare beslag.
Alle mense word tot verantwoording geroep, ook hulle wat gedink het dat hulle ʼn vrye hand het in die kwaad wat hulle stig. Hulle ontkom egter nie die oordeel van God nie. Eendag word al die boeke geopen. Dan word aan elke mens voorgehou wat hy met homself, met sy naaste en met die goeie skepping van God gedoen het.
Die Maatstaf←⤒🔗
Het ons lewe beantwoord aan God se doel? Dit is waarop dit in die eindoordeel op aankom. Die diepste werklikheid en gerigtheid van ons lewe sal openbaar word.
Die maatstaf by die laaste oordeel is geen geheim nie. Dit gaan daaroor of ons in die regte verhouding tot God gestaan het; en dit kan net deur geloof in Christus gebeur. Die Heiland het gesê: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matt. 10:32, 33).
Het ons oordeel dan nie op ons werke betrekking nie? Daar is immers vergelding na die werke (Matt. 16:17; Rom. 2:5-11; Openb. 22:12)?
Die geloof is beslissend, want ons word deur die geloof geregverdig en nie deur die werke nie. Dat dit ook op werke aankom, is nie hiermee in stryd nie, want dit gaan oor ʼn lewende geloof, en ʼn geloof sonder werke is ʼn dooie geloof (Jak. 2:26).
Ons geloof kom tot uitdrukking in ons dade. Elke goeie boom dra goeie vrugte, maar ʼn slegte boom dra slegte vrugte (Matt. 7:17). Omdat goeie werke die vrugte van ʼn egte geloof is, ontgaan dit nie die Here nie, “want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien” (Heb. 6:10).
ʼn Skrifgedeelte wat dikwels in dié verband ter sprake kom, is Matteus 25:31-46. Daar word dan veral gewys op die woorde van die Koning en Regter: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (v. 40). Dit word gesê vir hulle wat regverdig genoem word, maar nie daarvan bewus was dat hulle aan die Koning self goed gedoen het nie. Sommige wil hierin lees dat die Koning oor ‘anonieme Christene’ ook gunstig sal oordeel. H. Berkhof sê in dié verband dat dit hier gaan oor dade van barmhartigheid teenoor die vervolgde gemeente van Christus, maar stel dit ook dat hulle ‘wat sonder om van die regstellende Heer te weet, navolgers van sy barmhartigheid geword het’, vir ewig gelyk gegee sal word. Daar kan sekerlik nie in die Skrifgedeelte ingelees word dat Jesus Homself met die arme, die sieke en die verdrukte identifiseer nie. Dan sou medemenslikheid of mensliewendheid die maatstaf wees. H. M. Kuitert het daarmee tot die verregaande gevolgtrekking gekom dat ‘die betoning al dan nie van mensliewendheid oor ons ewige wel en wee beslis’.
Met “die geringstes van hierdie broeders van My” het die Koning nie armes, siekes en verdruktes in die algemeen bedoel nie. Dit is mense wat Jesus as die syne reken. In die evangelie is nie almal regverdiges wat, sonder om Christus te ken, hulle naaste goed behandel nie, maar húlle wat deur te doen wat die wil van die Vader is, in die regte verhouding tot God staan (Matt. 7:21). Daar sal by húlle verwondering wees oor die woorde van die Koning, omdat hulle niks verdienstelik sien in dit wat hulle gedoen het nie; die ander sal verwonderd staan omdat hulle nie besef het dat hulle hul medemense én die Koning self tekort gedoen het nie (Matt. 25:44).
Die Koning sê vir die regverdiges “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 25:34). Ook hieruit blyk dat die eintlike grond vir die oordeel van die Koning nie die dade van liefde is nie. Lui hier nie die helder klokke van die vrye genade van God nie?
Die Regter is die Redder←⤒🔗
Moet ons bang wees vir die komende gerig? Almal sal geoordeel, en baie veroordeel word…
Daar was tye waarin die verskrikkinge van die eindoordeel met skril kleure geteken is. In die Middeleeue het baie mense met groot angs vir die oordeel en met stille vrees vir Christus, wat meer as Regter dan as Redder verwag is, geleef. Uit die laat Middeleeue kom dié lied: (Dies irae, dies illa).
Dag van oordeel, dag van die Heer.
Alles sal tot as verteer
net soos die profete leer.
Dag van skrik wat aan sal breek
as die Regter reg sal spreek
en die kwaad op aarde wreek.
Jesus, toon tog medely,
dink hoe U vir my moes ly.
Gaan my op dié dag verby. vry vertaal
Sonder om afbreuk te doen aan die ontsaglike erns van die oordeel, het die Hervormers ook dié deel van die werk van Christus in die lig van die evangelie beskou. “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh. 3:17).
In sy kategismus stel Calvyn die vraag (87): Dit betaam ons dus om nie vir hierdie oordeel te vrees, sodat dit verskrikking vir ons veroorsaak nie? Die antwoord is: Hoegenaamd nie, omdat ons slegs maar voor die regbank sal staan van Hom wat ook ons Voorspraak is en ons in sy vertroue en beskerming onderskraag. (Calvyn se Kategismus, in Afrikaans vertaal deur prof. dr H. W. Simpson, PTSP, Potchefstroom 1981).
As Regter is Christus niks anders as Redder nie. Wie in Hom glo, mag die grond vir sy vryspraak sien in die feit dat Jesus onskuldig ter dood veroordeel is. Hy het in ons plek gestaan, so word dit in die kerk bely (Heidelbergse Kategismus, Sondag 15 en die Nagmaalsformulier). Hy het die gerig van God vir ons ondergaan, en dit lê nou agter ons. In 1 Johannes 4:1, 18 word gepraat van vrymoedigheid in die oordeelsdag — geen vrees nie, maar vrymoedigheid.
Dit beteken ook vir ons dat ons op die Here Jesus Christus alleen moet vertrou, en nie op onsself nie; ook nie op ons godsdienstigheid, regsinnigheid of goeie werke nie. Ons moet instem met ons belydenis (Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 23): ‘Ons maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons — helaas! — verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (Ps. 143:2)’.
Die gedagte aan die wederkoms van Christus om te oordeel, is vertroostend (HK, Sondag 19); met reg ontsettend en skrikwekkend vir die oortreders en die goddeloses, maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk (NGB, artikel 37).
God sal sy geregtigheid oor alle ongeregtigheid laat triomfeer. Sy Koninkryk is ’n ryk van reg en geregtigheid. Die kinders van God sien daarna uit dat Hy alles sal herstel en ook aan hulle reg sal verskaf. Hiervoor word gebid: “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (Openb. 6:10).
In sy verklaring van Matteus 25:31 sê Calvyn: ‘Dan sal Christus voor almal die regterstoel bestyg om volmaakte orde in die hemel en op die aarde te vestig; om sy vyande onder sy voete te vertrap en om sy gelowiges byeen te bring in die gemeenskap van die ewige en salige lewe. Dan sal dit inderdaad aan die lig kom waarom die Koninkryk deur die Vader aan Hom gegee is’.
Wanneer Christus sy opdrag volbring en voltooi het, sal Hy die koningskap aan die Vader oorgee (lees ook 1 Kor. 15:24). Aan sy middelaarskap is daarmee nie ’n einde nie, want Hy sal vir ewig die Hoof van die nuwe mensheid wees.