2 bladsye.

Die Les van die Olimpiese Gode

Die Olimpiese spele vind plaas in 'n steeds meer ‘godsdienstige’ omgewing. Dit is in ons bloed om mense tot gode op te heme,l en om ons as mense van sulke ophemeling te geniet.

Olimpiese Spele en Olimpiese gode was nog altyd bondgenote. Om in vuur en vlam te staan, speel by albei 'n hoofrol. Die sleutelwoord is “en-toe-siasties” (= “in god wees”). Die spele is aan die god Zeus opgedra. Die godin Nike het die gunstelinge wat die lourierkranse sou wen, uitgekies — uitverkore vir go(u)d.

Daar kom 'n steeds groter gevoel vir die religieuse agtergrond van die Spele. Die rituele kom deesdae sterk na vore. Die kameras fokus op biddende atlete en vererende toeskouers. Die heidense religieuse klimaat slaan op en die lug word swanger aan bygeloof.

Nou kan ons ook die Bybelverhaal van Handelinge 14:8-20 beter verstaan. Die genesing van 'n verlamde man deur Paulus bring nie aanbidding van die één ware God nie, maar gee aanleiding tot 'n uitgesproke bygelowige reaksie. Die heidense sy van die bewoners van Listre kom daardeur sterk na vore.

Die kwaal van die man word drie maal beskryf. Sy toestand was hopeloos en uitsigloos. Terwyl Paulus die man skerp aankyk voor sy genesing, word dit 'n geloofshandeling. 'n Paaswonder gebeur, soos trouens ook aan die einde van die Skrifgedeelte, waar Paulus, nadat hy gestenig is, opstaan.

Sensasiewekkend🔗

Die gerug oor die wonder versprei soos vuur in Listre (in die streektaal wat nie deur Paulus en Barnabas verstaan word nie). Die gerug word gaandeweg ingekleur en opgesmuk. Paulus en Barnabas word steeds meer opgehemel. Van supermense word hulle halfgode, en uiteindelik word hulle deur die massa as hulle gode, Zeus en Hermes, in mensgedaante gesien. As die priester bykom, is die fees volmaak. Hy sien die voordeel vir hom. Die stad kry die reuk van naam en faam. Hulle sal die beroemdste Zeus-tempel in die land kry! Daarvoor sal hulle 'n groot offer afstaan: bulle met kranse om die nek, toonbeelde van krag en vrugbaarheid.

Paulus en Barnabas voorkom ter nouernood dat aan hulle geoffer word. Hulle skeur hulle klere om daarmee te sê: dit is godlastering, heiligskennis. Hulle roep dit uit: Wat doen julle? Ons is mense net soos julle. Ons is nié gode nie! En die gewigtige woord “bekering” val soos 'n klip in die heidense waterpoel. Hou op om sinnelose seepbelle te blaas en bekeer julle tot die lewende God. Paulus en Barnabas steel nie die eer wat Hom toekom nie. Hulle laat hulle nie ophemel en bewierook nie, al loop hulle só die kans om eensklaps beroemd te word, mis.

Ophemeling🔗

Om mense op te hemel en om jouself sulke ophemeling te laat welgeval, is verleidelik. Dit is in ons heidense bloed. Mens hoor van die ‘hemelse bene’ van 'n top atleet of balspeler of van “ 'n goddelike skoonheid”. Jy sien hoe mense mal word, versot raak op hulle ‘idols’ en topmusikante. Politieke (ver)leiers wat beloof om die paradys te bring, word deur die volk op die hande gedra, maar word ook spoedig weer verguis.

Gaan dit in die Christelike samelewing werklik anders? Topdominees word opgehemel, dikwels om daarna weer afgeskiet te word. Vergelyk dit met hoe dinge vir Paulus afgeloop het ...

Waar kom die heidense gedoente telkens vandaan? Ek sien twee oorsake:

As jy op supermense versot raak, raak jy verder van die lewende God en jy kom nie tot aanbidding van Hom nie. Deur mense op te hemel, ontduik jy ook baie gou jou verantwoordelikheid en gehoorsaamheid aan God. Wie byvoorbeeld 'n ‘sendingheld’ bewonder, hoef dan nie self evangelisasiewerk te doen nie.

Dit is makliker om skepsele te verheerlik as om die Skepper te loof. Ons ruil die Gewer van alles in, vir die besit van sy goeie gawes.

Daar is hierdie jaar weer pogings aangewend om postmoderne heidene met die evangelie te bereik, ook by die Olimpiese Spele, op kampe, Bybelstudies ens. 'n Stadion vol gestorwe heiliges (Hebreërs 12:1-2) moedig ons aan om, soos Jesus en Paulus, die blye boodskap te bring en om daarmee te volhard. God skep steeds landingsplekke vir sy evangelie. Dit bly 'n voorreg om 'n ‘kreatiewe’ medewerker van Hom te wees, maar Hy kan ons net by sy werk inskakel as ons werklik ‘mense’ bly.