Bron: Die Kerkblad. 1 bladsye.

Die lewe is soms so kort

horlosie

Wanneer 'n mens Psalm 90 lees, kom jy onder die indruk daarvan dat Moses, wat self redelik oud geword het, 'n baie goeie besef daarvan gehad het dat die lewe soms so baie kort kan wees. Teenoor die ewigheid en vastig­heid van God staan die verganklikheid van die mens. Hy sê in vers 9: "ons bring ons jare deur soos 'n gedagte." Dit is iets wat 'n mens baie goed besef wanneer jy sien hoedat iemand vandag nog lewe en môre is hy weg. Gister het hy nog soveel planne gehad, soveel dinge om te doen – en vandag is hy weggeneem. Dit is dan dat 'n mens daartoe gedwing word om die mens se vergank­likheid raak te sien.

Hoeveel keer is dit nie so dat ons maar met die lewe voortgaan en nie leef met die besef dat ek voortdurend gereed moet wees om God te ontmoet – en gereed moet wees om van my vriende en familie aan Hom af te staan nie. Hoeveel keer het 'n mens nie al gedink ­– wanneer dit te laat is – dat daar eintlik nog soveel dinge is wat 'n mens nog vir daardie een wou gesê het. Miskien wou jy net 'n slag dankie gesê het vir liefde en vriend­skap, vir die opvoeding wat jy van jou ouers gekry het. Maar jy het nooit tyd daarvoor ingeruim nie – en as die tyd verby is, kry jy dit nooit weer terug nie.

Miskien sal dit daarom baie goed wees om Psalm 90 maar 'n slag goed deur te lees en dan te leef met die besef van dit wat daarin gesê word. Wat is die dae van ons jare? Sewentig jaar, staan daar, en tagtig as jy baie sterk is. Daar is ook baie mense wat nie eers by die sewentig kom nie – dink maar aan motorongelukke, hartaanvalle en kanker. Ja, dit gaan gou verby. Wat is 'n mens se leeftyd in die gang van die geskiedenis? Wat is 'n lewe van vyftig of sestig jaar nou eintlik as 'n mens daaraan dink dat sedert Christus se koms daar al meer as 1 900 jaar verloop het? Die mens is nietig en sy lewe kort.

Hieruit moet ons weer twee dinge leer, wat albei in Psalm 90 gestel word. Aan die een kant moet ons weer leer om ons dae so te tel dat ons werklik 'n wyse hart sal bekom (vers 12). Ons raak so dikwels só vasgevang in die gejaag en die sleur van die lewe dat ons nie meer tyd het om te dink nie – en nie tyd het vir mekaar nie. Ons moet weet dat God alleen ons werk kan bevestig.

Aan die ander kant moet die besef werklik in ons harte leef dat God vir ons 'n toevlug is. Sonder Hom is daar geen sin en geen sekerheid nie. Hy is van ewigheid tot ewig­heid – en in Christus is ons op pad na die ewigheid wat kom.