Bron: Kompas, 2005. 3 bladsye.

Die Lewende Stem van God – Viva Vox Dei

Die verstaanbaarheid van die Skrif is nie ʼn eienskap wat ons aan die Bybel toeken as gevolgtrekking wat ons maak, nadat ons die Skrif bestudeer het nie. Net soos wat ons nie gesag aan die Bybel kan toeken nie, maar dit in geloof ontvang, só maak ons nie die Skrif duidelik met al ons eksegetiese en hermeneutiese gereedskap nie. Die duidelikheid en verstaanbaarheid van die Skrif is ʼn eienskap van die Skrif wat ons gegee word en in geloof ontvang word.

Daar is by ons maar altyd weer die neiging om die Bybel verstaanbaar te probeer maak sonder geloof. Dit is die grondfout van Fundamentalisme, dat dit byvoorbeeld sekere dele van die Bybel wil uitsonder as duidelike onderdele daarvan. Dit sou dan die sogenaamde fundamentele “geloofswaarhede” wees. Met alle moontlike goeie bedoelings om die verstaanbaarheid van die Bybel te verdedig op hierdie manier, doen dit eintlik afbreek aan die duidelikheid van die Bybel. Immers beperk dit die verstaanbaarheid van die Bybel tot net sekere dele daarvan.

Die verstaanbaarheid van die Bybel het te doen, nie met net enkele “grondwaarhede” van die Bybel nie, maar met ʼn “grondhouding” wat ons moet inneem ten opsigte van die Bybel. Ons moet leer om die Skrif te ontvang as lewende Woord van God. Dit is ʼn genadegeskenk wat ons in ons harte ontvang deur die getuienis van die Heilige Gees … deur geloof alleen. Hieroor het prof. W. van’t Spijker enkele jare gelede verhelderende woorde geskryf wat ek graag hiermee in ʼn effens geredigeerde weergawe vir u aanbied (E.V.)

Tussen Biblisme en Fundamentalisme🔗

Die gereformeerde belydenis aangaande die gesag van die Heilige Skrif bevind homself in die middel van twee bekende stromings.

Biblisisme kom in ʼn verskeidenheid vorms voor. Luther en veral Calvyn is biblisiste genoem. Laasgenoemde dikwels met die aanduiding van wettisisme bygevoeg. Die rede daarvoor was dat hy die Ou Testament op een lyn met die Nuwe Testament gestel het, ten minste ten opsigte van die openbaring van God.

Gewoonlik hou biblisiste min rekening met die konteks. Hulle laat ʼn teks weerklink sonder dat die klankbord van die hele openbaring daarin na vore kom.

Fundamentaliste het ʼn aantal opvallende leerstellings en kyk dan dikwels verby die totaliteit van die Skrif. Die Gereformeerde kerke het blykbaar genoeg aan die belydenis en haar inhoud. Daar was min behoefte aan ʼn uitbreiding daarvan en die enkele pogings wat aangewend is om tot ʼn nuwe belydenis (oor die Skrif, E.V.) te kom, het tot nou toe op niks uitgeloop nie. Dit is ook die vraag of ons op die punt van die gesag van die Heilige Skrif werklik in afwagting is op ʼn nuwe uitspraak. Wie die verloop volg van dit wat deesdae in die binnekringe van gereformeerde belyers bespreek word, word nie regtig daardeur oortuig nie.

Dit lyk asof daar in die kringe van evangeliese biblisiste en fundamentaliste die verlange na vore kom om die kwessie van die Skrifgesag vir eens en vir altyd grondig te ondersoek. Nader aan ons hoor ons ook stemme wat vra vir ʼn hernude studie aangaande die leer van die inspirasie en die Skrifgesag.

Lewende Stem🔗

Kan ons nog klaarkom met dit wat die belydenis oor die Bybel uitspreek? Laat die Reformasie ons op hierdie punt nie in die steek nie? Die manier waarop Luther met die Bybel omgegaan het, bevat in elk geval ʼn element wat ons op geen enkele manier kan mis nie. Vir hom was die Bybel die lewende stem van God, die viva vox Dei. ʼn Mens sou die vraag aan hom kon stel of hy nie dalk meer aandag kon geskenk het aan die totaliteit van die Skrif nie, op een lyn met die sola scriptura. Maar dit verander nie werklik aan die saak nie. Luther het die lewende stem van die lewende God in die Heilige Skrif gehoor en daaraan wou hy gehoorsaam wees.

By Calvyn tref ons dieselfde terminologie aan: Soos ek nog onlangs gesê het, behoort ons vas te hou dat die leer van die geloof nie bevestig word nie totdat ons sonder twyfel daarvan oortuig is dat God die Outeur daarvan is. En daarom ontleen ons die hoogste bewys van die Skrif orals aan die persoon van die sprekende God.

Luther en Calvyn vertolk ʼn grondopvatting van die Reformasie. Rome het die gesag aan die kerk verbind. Die hervormers het geen teorie of beskouing oor die Skrif gehad nie; hulle het die stem van God gehoor in die Woord wat verkondig is. “Die Skrif sal by die gelowiges met geen ander reg volledige gesag verkry nie, as wanneer hulle vasstel, dat dit uit die hemel voortgekom het, asof hulle die lewende stemme daar self van God gehoor het.”

Hier het ons die hermeneutiese beginsel – as ʼn mens dit so sou wou noem – wat aan alle reëls vir die Skrifuitleg voorafgaan. Dit is so allesbeheersend, so deur en deur reformatories, dat ons dit nie kan of wil prysgee nie. Dit is ʼn totaal andersoortige hermeneutiese beginsel as wat sedert die Verligting in allerlei wysgerige variasies aan ons opgedring is.

Lewenshouding🔗

Daar loop twee lyne deur die geskiedenis, wat soms rakelings by mekaar verbygaan en wat nogtans ʼn ander oorsprong, ʼn ander ontwikkeling en ʼn ander doel het. Die spreuk van die Reformasie het niks te doen met die slagspreuk wat ʼn mens soms nog hoor, asof die Bybel uit die hemel geval het nie: ʼn dooddoener, wat ons doodgewoon moet vergeet.

Daarenteen het die standpunt van die Reformasie alles te make met ʼn totaalbegrip, of beter gesê, met ʼn lewenshouding wat deurdrenk is met die lewende water van die openbaring van die lewende God. Dit is opmerklik dat Calvyn se fyngevoelige uiteensettings oor die Skrifgesag in ʼn soortgelyke terminologie gebied word, dit wil sê met ongeveer dieselfde bewoording, wanneer dit gaan oor die Skrif, oor die kindskap van die gelowiges en oor die oortuigende sekerheid van die geloof. Die getuienis van die Gees oortref alle soorte van rasionele bewyse, waarvan Calvyn nogtans ʼn hele aantal kon opsom. Hulle is beslis nie sonder waarde nie. Hulle is kragtig genoeg om te dien ter bevestiging van die geloof in die Skrif.

Maar dit gebeur tog eers agteraf. Die geloof in die Skrif as Woord van God rus uiteindelik op die getuienis van die Gees, waarmee Hy hierdie geloof in ons harte verseël. Gesag van die Skrif berus op hierdie getuienis, wat op dieselfde manier die geloof self tot stand laat kom. Calvyn se sorgvuldig opgeboude geloofsomskrywing bevat presies dieselfde elemente as wat ons vind by sy vasstelling van die Skrifgesag. En die hele saak kom weer opnuut aan die orde waar die persoonlike heilsekerheid herlei word tot die verseëling met die Heilige Gees.

Die gevolgtrekking lê voor die hand: die kwessie van die hermeneutiek word beheers deur die realiteit van die Skrifgesag, soos die sprekende God dit laat werk in ʼn totaliteit van geloofslewe en geloofsinsigte. Wanneer dit die geval is, dan is daar baie meer gaande met die “verskuiwende Skrifgesag” as net ʼn wysiging in ʼn beskouing. Wat is ʼn beskouing, ʼn opinie, ʼn mening of opvatting anders as ʼn simptoom, en dan ook nog maar ʼn uiterlike simptoom, van ʼn lewenshouding? Dit gaan nie om opinies (opiniones) nie, maar om die sekere waarheid (assertiones)!

Noodrem🔗

Daar is ʼn verskuiwing aan die gang, ʼn greep na die noodrem van die biblisisme of van die fundamentalisme. Of moontlik ʼn nuwe eksperiment op die terrein van die Skrifgesag. Maar watter nuwigheid kan op hierdie gebied nog gevind word, wat nie al heelwat vroeër, baie duideliker, soms ook meer gekamoefleer, daar was nie? ʼn Nuwe verslag? ʼn Nuwe studie? Wie sal dit doen met voldoende oortuigende vertroue van hulle wat tog reeds genoeg het aan die belydenis? Moet daar méér gesê word, of moet daar iets anders gesê word?

Konsentrasie op dit wat ons lees, beteken nie ʼn verswakking nie: God laat Homself ken deur sy heilige Woord (art. 2 NGB). Dit is ʼn besondere sorg van God vir ons saligheid (art. 3 NGB). Al hierdie boeke aanvaar ons as heilig en kanoniek, omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is (art. 5 NGB).

Laat ons ontvanklik bly wanneer dit gaan om die gesag van die Skrif. Ons ontvang. Wat wil ʼn mens eintlik meer wanneer God se stem hoorbaar word, lewend word, en gehoorsaam word soos dit klink in die Skrifte? Wat daarná nog kan kom, sal dien om te bevestig wat God eers gegee het. Nie om die geheim van die Skrif te ontrafel en sodoende weg te neem nie.