Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Die Lied van die Wingerd

Deel 1🔗

Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie?Jesaja 5:4a

Dit is die tweede helfte van die 8ste eeu voor Christus, êrens in Juda. En dit is fees, want dit is die tyd waarin die druiwe gepluk word, die tyd van die wynoes. ‘n Vrolike fees. En wanneer iemand aankondig dat hy ‘n lied gaan sing, dan word daar entoesiasties gereageer. Want die mense van Juda hou almal daarvan.

‘Die wingerd van my vriend’ – dit is die titel van die lied. Heel toepaslik. Dit is immers die fees van die wyn! Dit word stil en die feesvierders gaan staan in ‘n kring rondom die sanger.

Dan sing die man sy lied. ‘n Heel idilliese lied oor iets wat die mense van Juda daagliks om hulle heen sien.  ‘n Lied oor die sorg van die landbouer vir sy wingerd. Oor sy liefdevolle sorg. Want sy liefde vir sy wingerd word in alles sigbaar.

Hy laat niks aan die toeval oor nie. Met sorgvuldigheid kies hy die plek waar sy wingerd moet kom: ‘n heuwelhelling met vrugbare grond (vers 1). Dan verwyder hy sorgvuldig al die stene uit die grond. Daarmee bou hy die muurtjies van die terasse wat moet voorkóm dat die grond met die winterreëns wegspoel. Die wingerdstok wat hy aangeskaf het is van topkwaliteit (vers 2). En tenslotte sorg hy ook vir goeie beveiliging: ‘n doringheining (vers 5), ‘n muur (vers 5) en ‘n wagtoring (vers 2).

Geen moeite was vir hom te veel nie. Dit sê hy later ook: ‘Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat ek daar nie aan gedoen het nie?’

En dis ook geen wonder dat hy nou verwagtings van sy wingerd het nie. En dié spreek hy ook uit: ‘En hy het verwag dat dit druiwe sou dra’ (vers 2). Daarom kap hy ook ‘n parskuip daarin uit (vers 2).

En die luisteraars sou beslis instemmend geknik het toe die man sing oor sy verwagtings vir die wingerd. Sulke verwagtings mag hy beslis hê na alles wat hy in die wingerd geïnvesteer het. Al die liefde, al die tyd, al die geduld.

En die luisteraars moes baie verontwaardig gewees het toe daar opeens ‘n einde aan die pragtige woorde kom: ‘… maar dit het wilde druiwe voortgebring’! Al die inspanning van die landbouer was verniet gewees! Al die liefde, al die tyd, al die geduld – dit was vergeefse moeite.

En die luisteraars moes ingestem het met die landbouer, toe hy aankondig wat sy plan was met sy wingerd: ‘sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word…’ (vers 5)!

En ons sou heeltemal verwag dat almal na so iets sal uitroep: Dis reg so! Moenie meer daarvoor sorg nie! Laat die wingerd maar vergaan!

Maar – dan kry die luisteraars die skrik van hul lewe.

Deel 2🔗

Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel! Jesaja 5:7a

Tog jammer dat dit so afgeloop het. Dit het so mooi begin. Maar dit eindig met ‘n anti-klimaks.  Jammer. So kon die luisteraars gedink het toe die lied klaar was.

Maar kyk: die sanger neem weer die woord. En die luisteraars kry nou die skrik van hul lewe! Want hulle het gedink dat hulle na ‘n toepaslike lied geluister het. Maar nou blyk dit ‘n gelykenis te wees! En dit is nog veel toepasliker as wat hulle gedink het, want dis toepaslik op hulle self: “Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging” (vs. 7)!

Hulle is die wingerd! En die landbouer, dit is niemand minder as die HERE nie! En die sanger, dit moet ‘n profeet wees! Wat ‘n skrik moes dit gewees het! Want nou-net was dit so voor die handliggend om te dink: Laat die wingerd maar vergaan! Maar daarmee het hulle hulself veroordeel.

En as hulle eerlik is, dan moet hulle toegee dat die vergelyking baie van pas is. Die liefdevolle sorg wat die Here aan hulle gegee het. Hy het Hom oor hulle ontferm toe hulle slawe in Egipte was, en hulle bevry. Hy het hulle op droë voet deur die Skelfsee gelei. Hy het hulle die weg gewys deur die woestyn en hulle brood uit die hemel en water uit ‘n rots gegee. Hy het hulle die land Kanaän in besit gegee. Hy het hulle konings gegee soos Dawid en Salomo, wat van Israel ‘n wêreldmag gemaak het. En die geduld wat Hy met hulle gehad het! Want toe hulle voor die Skelfsee gestaan het met die Egiptenaars agter hulle, toe was dit met hulle vertroue op die Here gedaan. En in die woestyn, toe hulle honger was, het hulle geroep: Het U ons maar nooit uit Egipte uitgelei nie! En toe hulle by die grens van Kanaän gestaan het, het hulle gesê: Hier kom ons nooit in nie! En toe hulle uiteindelik daar gewoon het, toe doen hulle almal ‘wat goed was in hulle eie oë’. En hulle konings het hulle dikwels voorgegaan in die dien van afgode in plaas van die dien van die Here. En die Here het dit alles van sy volk aangeneem.

Maar nou het dit te ver gegaan. Juda is in niks meer te onderskei van sy buurvolke nie. Daar het verskillende stande in die samelewing gekom. Die regspraak is korrup. In die buitelandse politiek word die Here nie meer ingereken nie, maar word verdrag op verdrag gesluit. En die ergste van alles is: Die diens van die Here word heidens opgevat. Solank daar maar ‘n paar rituele afgewerk word, dan is die Here sekerlik tevrede.

Die maat is nou vol: die Here gaan sy volk nou oorgee aan sy vyande: ‘Ek sal dit ‘n wildernis maak’ (vs 6). En die luisteraars van Jesaja sal moet instem met die straf! Laat die wingerd maar vergaan! het hulle sopas nog gedink. En dit gaan nou ook gebeur.

En dit het gekom: die ballingskap. Psalm 80 spreek daaroor in prakties dieselfde bewoording as Jesaja: ‘Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk? Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af’ (vers 13,14).

Die Here het sy volk prysgegee. Of nie?

Deel 3🔗

Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Matteus 21:37

Dit is verby met die wingerd van die Here, met sy volk. Dit het nie die vrugte voortgebring wat Hy mog verwag op grond van die liefde, die tyd en die geduld wat Hy daarin gesit het nie. Daarom gee Hy dit nou prys aan sy vyande. Of nie?

Nee! Want ons weet dat daar na 70 jaar ‘n einde gekom het aan die ballingskap. En meer nog: ons weet dat die liefde van die Here vir sy wingerd so ver gaan, dat Hy sy Seun vir sy wingerd laat sterf! Met ‘n variasie op Joh. 3:16: ‘Want so lief het God sy wingerd gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’!

Hy het die vrugte kom opeis. Dit sê die Here Jesus self in die gelykenis van die landbouers, Matteus 21:33-46. Maar as Hy hulle nie vind nie – alweer nie! – dan sorg Hyself vir die vrugte, in plaas van die wingerd! Hy bring die vrugte voort wat die wingerd eintlik moes voortbring. So ver gaan sy liefde vir die wingerd!

Ja, die liefde gaan selfs nog verder! Want behalwe dat Hy die voortbring van die vrugte van die wingerd op Hom neem, neem Hy ook die straf van die wingerd (omdat dit nie vrugte voortbring nie) op Hom. Hy, die Enige wat ‘goeie druiwe’ voortgebring het – word gestraf vir die ‘wilde druiwe’ wat God se volk al die eeue voortgebring het!

En dit beteken dat die straf wat die Here in Jes. 5 aankondig, wel in die ballingskap oor Juda gekom het (vgl. Psalm 80), maar ten volle eers eeue later gekom het, op Golgota – oor ons Here Jesus Christus! Hy is deur die Here prysgegee – in plaas van sy wingerd! – toe Hy uitgeroep het: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ (Matteus 27:46).

Oor investering in die wingerd gepraat: dít het die Here alles in óns geinvesteer! En trouens ook in die wingerd van Jes. 5 – maar daar het hulle toe nog niks van geweet nie. Ons weet wél daarvan! En as die Here op grond van sy sorg vir die wingerd van die Ou Verbond al verwagtings het van die wingerd – sou Hy dit dan nie hê van die wingerd van die Nuwe Verbond nie?

Ja sekerlik! Maar alleen dit: dat ons erken dat die Here Jesus vir ons die vrugte moes opbring omdat ons nie kan nie. En dat ons erken dat Hy die straf vir ons onmag – ons het onsself immers onmagtig gemaak! – gedra het. Of, om dit weer met die variasie op Joh. 3:16 te sê: Want so lief het God sy wingerd gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’!

Dit is die enigste wat Hy van sy wingerd verwag – geloof in die werk van sy eniggebore Seun, wat die verwagte goeie druiwe voortgebring en wat die straf vir die voortgebringde wilde druiwe gedra het.

En as dáárdie geloof daar is, dan kán dit nie anders nie – dan kom daar tog vrugte in die wingerd. Vrugte van dankbaarheid. Van dankbaarheid vir die feit dat dit nie van ons vrugte afhang nie, maar van die vrugte wat die Here Jesus voortgebring het. Van dankbaarheid vir die feit dat Hy die straf vir die armsalige vrugte wat ons voortbring, gedra het. Dan kan dit nie anders nie – dan word die liefde wat Hy geinvesteer het in sy wingerd, deur die wingerd met wederliefde beantwoord.

So is dit tog?