Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Die Liefde Moet Oorloop

'n Produk waarvan die kerk nooit genoeg kan voort­bring nie, is die liefde. Dis nou regte, egte, warm liefde wat uitgaan na 'n ander – of dit nou God of mense of selfs God se natuur is. Dit is eintlik ook een van die beste 'uitvoerprodukte' van die kerk na die wêreld toe. Hierby word die 'wêreld' gesien as in die mag van die sonde en dus hard en koud en donker en rugdraaiend op ­mekaar.

Natuurlik is die woord ‘produk' nie heeltemal reg nie. Dit laat dink aan 'n fabriek en masjiene – of dinge wat gewerk word. Die Bybel praat tereg van die vrug van die Gees en laat dink aan iets wat lewend aan 'n boom groei. So is die liefde iets wat volop in die kerk moet wees en wat ook in sy skoonheid en sappigheid na die wêreld toe moet uitgaan.

God se skepping word dikwels gekenmerk deur die oorvloed waarmee Hy voorsien. Dink maar net hoe oortollige saad uitgewaai word en aan die rykdomme van die seelewe. 'n Besondere trek van God se herskep­pingswerk is juis ook oorvloedigheid van sy gawes en seëninge. Dit geld veral van die Nuwe Bedeling waarin soveel meer en heerliker en dieper as aan Israel van die Ou Verbond gegee word. Die koms van Jesus Christus, met alles wat Hy sê en doen, oortref tog volkome wat voorheen was. So kry die volk deur Moses in die woestyn een dagporsie manna, maar by die wondervoeding van Christus eet duisende mense terwyl mand­jiesvol agterna oorbly. En Jesus is self nog brood van die lewe!

Hierdie oorvloedige versorging deur God vra op sy beurt weer van die mens om self in sy dankbaarheidslewe die seënstrome te laat uitvloei. Die Here Jesus praat tog van baie sondes wat vergewe is – en daarom bewys so 'n mens baie liefde (Lukas 7). En die apostel meld ook van die genade wat die Korintiërs ontvang het. Daardie genade was juis dit dat hulle, in armoede en verdrukking, bo vermoë bygedra het vir die kollekte om ander gelowiges te help. Hierdie uitblink in geloofsdaad­krag noem en roem Paulus meer kere (bv. Romeine 15:13; 1 Korintiërs 15:58; 1 Tessalonisense 4:1,10).

Iets besonders daarvan het geblyk in die verhouding tussen Paulus en die gemeente in Filippi. Hierdie gelowiges het die apostel en sy medewerkers gasvry ontvang en versorg (Handelinge 16:15). Agterna het hulle hom telkemale met geld voorsien (Filippense 4). Hulle het dus nie net in dieselfde genade as Paulus gedeel nie, maar deur hulle het God se genade in hulle liefde ook na hom bly uitgaan. Daarvan sê Paulus dat die vrug van die gawe is dat hulle self ryker geword het en dit is ook voor God ʼn heerlike offer en welgevallig.

Die liefde van die Filippense vir God is daar en duidelik. Hierdie liefde moet egter steeds toeneem. Hierdie saak van die vordering op die pad van heiliging van/in die eie lewe kan nooit oorbeklemtoon word nie. Hier aan die Filippense stel Paulus voorop dat dit bestaan veral in meerdere begrip en fyn aanvoeling. Dit belig twee aspekte van die gelowige se lewe:

  • Daar moet kennis wees. Anders kan jy, soos Paulus eers gedoen het, reken jy dien God en help sy kerk ter­wyl hy heeltyd besig was om die gemeente te probeer inbreek.

  • Fyn aanvoeling bou daarop en kom by. Dit is iets van 'n sedelike oordeelsvermoë of ervaringswete – soos die liefde van 'n moeder die kyk na haar kind verskerp en gou laat sien as daar siekte of 'n verleentheid oor iets is.

Die toeneem in die liefde van Christene (soos by die Filippense) is juis ook op die toekoms gerig. ʼn Gelowige gaan tog nie op in die dinge en belange van hierdie wêreld nie – maar handel en leef steeds in die uitsien na die terugkeer van Jesus Christus. Basies is dit so dat gelowiges nét deur Christus reg voor God is. Maar die aan die werk gaan en inspanning deur die gelowige mag nooit onderbeklemtoon word nie.

Paulus praat ook (Filippense 1) van die gelowiges wat onbe­rispelik en sonder blaam moet wees. Dit bevat eintlik die oproep om na volmaaktheid te gryp. Eintlik gebruik hy ʼn beeld wat heenwys na die suiwerheid en skoon­wees van glas. Skoon glas trek nie die aandag op homself nie, maar eerder na wat jy daardeur sien. As die Christen dus sy eie lewe en liefde suiwer maak, val die aandag op die Lig wat deur hom skyn. Is die Christen se liefde troebel, dan kan die lig van God se genade nie duidelik na die wêreld deurskyn nie.

Gereformeerde mense is wel daarvoor bekend dat hulle goed kan onderskei – sê maar om dwalings raak te sien. Dit is soms nie verstandelik te bepaal nie maar deur aanvoeling word die saak of dwaling wel raak­gevat. Maar ons sal moet besef dat ʼn onmisbare voor­waarde is dat die liefde vir God en oorgegewenheid aan Hom altyd moet toeneem. Iemand het gesê: Dis opval­lend hoe skerp Gereformeerdes teen mekaar kan wees – en dis al eeue deur en in talle lande te sien. Moontlik is werklike Godsvrug – verbind aan 'n intieme omgang met God, ook in die gebedslewe – iets wat nie so veelvuldig voorkom nie. Ons moet steeds onthou hoe die Woord van God telkemale die liefdesgebod beklemtoon. Daarom sal steeds aandag gegee moet word aan die kweek van die liefdesvrug en die uitdeel daarvan na andere, in en om en buite die kerk.