1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Manier van Doop

Ons wil nie enigeen aanstoot gee of skeiding in die kerk van Christus aanmoedig deur oor die manier van doop te praat nie. Dit is ons grootste begeerte dat daar oor hierdie saak eensgesindheid sal wees, in besonder met diegene wat dit andersins met ons eens is.

Ons hoor ewenwel dikwels dat daar nie ʼn Bybelse grond is vir die besprenkeling van kinders is nie, en dat dié praktyk bloot ʼnoorblyfsel van Rooms Katolisisme is. Daar is inderdaadʼn aantal anti-Calvinistiese boeke op die mark wat eenvoudig aanvaar dat ʼn kerk wat kindertjies doop ook oor ander sake verkeerd is.

Wat die manier van doop betref, glo ons dat daar goeie Bybelse grond vir die praktyk van besprenkeling is én dat dit die enigste manier van doop is wat deur die Skrif erken word. Kom ons bekyk die saak van nader.

Wat die beskuldiging dat besprenkeling ʼn blote oorblyfsel van Rome is, moet ons daarop wys dat die argument nie steek hou nie. As daar met alles in die Protestantisme wat ook deur Rome geleer word, weggedoen moet word, moet ook die leer oor die Drie-eenheid verwerp word! Hierbenewens is die voorskrif aan die Roomse liturg wat die doop bedien “Hy onderdompel die kind of giet die water oor hom”. Rome onderdompel dus steeds ook. Die sogenaamde argument oor Romanisme kan dus tersyde gelaat word.

Getuienis oor ʼn Bybelse grond vir besprenkeling of uitgieting is na ons mening onmiskenbaar. Ons wys op die volgende.

Die doopseremonies van die Ou Testament is by wyse van besprenkeling of uitgieting uitgevoer. Dat hierdie feitelikedoop was, word duidelik in Hebreërs 9:10 waar in die Grieks die Nuwe Testamentiese woord baptismos,wat in die KJV (en in die AOV– Nic Grobler) met “wassinge” vertaal is, gebruik word (lees ook vs. 13, 19, 21).

Die doop met die Heilige Gees, wat deur die waterdoop gesimboliseer word, word in die Skrif deurgaans as besprenkeling of uitgieting beskryf (Jes. 44:3; Eseg. 36:25; Joël 2:28; Mal. 3:10; Hand. 2:17; Hand. 10:44, 45).

Die toediening van die bloed van Christus, wat ook deur die water van die doop gesimboliseer word, word in die Skrif eweneens as besprenkeling beskryf (Heb. 10:22; Heb. 12:24; 1 Pet. 1:2).

Die  tipes van die Ou Testament, wat in die Nuwe Testament doop genoem word (1 Kor. 10:2; 1 Pet.3:20, 21), was ook nie onderdompeling nie. Die enigstes wat in hierdie tipes van die doop ondergedompel is, was Farao en sy leërs en die goddelose wêreld in die dae van Noag. Só sal die bose ook ondergedompel word in die poel van vuur. Ons glo dat onderdompeling ʼn voorstelling is van oordeel en nié van verlossing nie.