2 bladsye.

Die Middelpunt van die Erediens

Waar ons besig is om die wese van die erediens te bepaal, moet ons let op die allesbepalende middelpunt van die erediens. In die omskrywing van die wese van die erediens moet ons steeds uitgaan van hierdie middelpunt.

Hierdie allesbepalende middelpunt is nie die mens of sy diens of sy vroomheid of sy werke nie. Ook nie sy nood of sonde of lyding nie.

Die middelpunt is die wonderlike werk van die Drie-enige God en sy Persoon. Hy het in hierdie geskiedenis ingegryp en sy groot dade verrig. Die God van die skepping bly die band met sy skepping behou. Tereg sê H. Echternach dat alle ketterye in laaster in­stansie hierop neerkom dat die hemel vir God toegedink word, maar die aarde vir die mense. Nee, alles draai om die lewende God soos die planete om die son:

Soos die planete om die son gaan, so gaan die gemeente in sy dienste, vol lieflikhede en waardigheid, om sy Heer heen…W. Loehe

Waar aan die Here God die middelpunt van die erediens gelaat word, moet ons volgens die Skrif opmerk dat dit gaan om sy lief­desverklaring en liefdesopenbaring. God kom tot ons in die bekendstelling van sy liefde. In die erediens kom tot openbaring hoe God se liefde op baie maniere gestalte gekry het. Ons kan selfs sê die ere­diens is die fokuspunt van God se liefde wat konkreet geword het. "Alles wat God in de eredienst van zichzelf zegt, is verklaring van zijn liefde", sê J. L. Koole tereg.

Hierdie liefde van God is nie maar vaag en algemeen nie, maar is heel spesifiek gerig tot die mens in sy sonde en verlorenheid en beteken sy redding en sy heil. God se liefde het die herstel en vernuwing van die sondaar op die oog. Daarom is die God wat die middelpunt van die erediens is, die God wat ons so onuitspreeklik liefhet dat Hy die wonderlike heil moontlik gemaak het. Die God van liefde het gekom tot ons heil.

Ons moet nog dieper boor om die veelgestaltigheid van die mid­delpunt van die erediens reg te verstaan. Hierdie liefde en hierdie heil het konkreet geword in die sending en koms van Jesus Christus as Verlosser en Wêreldheiland. In die middelpunt staan dan ver­der hierdie Jesus in sy ampswerk as die Volbrenger van die heil. Voor Hom staan ons voor die ganse geheim van die Drie-enige God se werk tot verlossing van die mens. Die basis van die erediens is die hele heilsplan van God in die Skrif, soos dit in Jesus Christus konkreet geword het. P. Brunner praat van die "heilsekonomiese plekbepaling van die erediens". Hy sien dit as die hele weg wat God in die loop van die eeue gegaan het, van die skepping tot by die wederkoms van Christus, om die heil te verwerklik wat Hy reeds voor die grondlegging van die wêreld vir ons mense bepaal het. Die gemeente wat vir die erediens versamel is, is in meervou­dige sin tegelyk in die snypunt van alle heilstigtinge.

Waar ons die sentrale plek van Jesus Christus in die erediens volgens die Skrif raakgesien word, moet ons nog dieper in die be­doeling van die Skrif gaan en Hom sien in sy volbragte verlossingswerk. Hierdie Jesus het gekom en het die sonde van die mens op Hom geneem en plaasvervangend het Hy die straf daarop vir ons gedra. Sy sentrale werk van verlossing word saamgevat in sy kruisi­ging, sy dood en sy opstanding. Hy doen dit plaasvervangend, borgtogtelik, in ons plek. Die enigste en volmaakte en genoegsame offer het Hy eens en vir altyd gebring toe Hy Homself in die dood oorgegee het. Hierdie verlossingswerk staan nie slegs sentraal in die erediens nie, maar alleen op grond hiervan is die erediens moont­lik. Om weer met P. Brunner te praat: die middelpunt van die heils­ekonomie van God is die koms, die dood en opstanding van Chris­tus. Deur sy offer, sy unieke priesterlike werk het Hy gekom om alles te herstel. Met Christus se koms tot heil het die groot nuwe bedeling aangebreek. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra (Johannes 1:29, 35). Hy is tegelyk ook die ewige Hoëpriester wat Homself geoffer het (Hebreërs 7:26, 27; 9:11-15). Die erediens is die samevatting van die geskiedenis van die saligheid (chronologies, maar ook heilshistories). In sy offer kom die liefde van God tot openbaring. J. J. von Allmen sien in die hele lewe van Jesus "the liturgy, the life of worship, accepted by God". Jesus se hele lewe tot met sy offer aan die kruis, was 'n erediens, 'n "offering as man to God a life of unbroken obedience" (J. B. Torrance). Die erediens moet ons met die werklike betekenis van Christus se kruis en opstanding in aanraking bring:

Worship that does not con­front us with 'the naked horror of calvary' is spiritual self-adulation that will never grasp 'the blazing glory of the Easter morning'. It has nothing to do with the glorification of the true God.F. Her­zog

Sy Persoon en werk is die grond, die basis, die "tragende Mit­te", die begin en einde van die erediens. Waar dit om die sentrale werk van Jesus Christus in die erediens gaan, is dit dus eensydig om dit slegs te sien in die vleeswording van die Woord, soos G. van der Leeuw dit herhaaldelik stel — dit sien op sy hele versoenings­werk soos dit saamgevat word in sy kruis en opstanding. Waar ons Jesus Christus en sy verlossingswerk in die erediens sentraal stel, beteken dit tegelyk die belydenis van die werklikheid van sy aktiewe liefde teenoor ons as sondaars. Jesus is die ware aanbidder, en wat deur sy offer en bemiddeling ons aanbidding van God moontlik en aanvaarbaar maak.

Omdat God in Christus sentraal in die erediens staan, daarom geld in alles sy wil. Dit gaan dus nie om 'n demokrasie waar die wil van die mense of die wil van die meerderheid geld nie, dit is 'n streng monargie waar ten eerste en ten laaste die wil van God geld.