Die Missionêre Kerk: Op Christus Gerig!
Die Missionêre Kerk: Op Christus Gerig!
⤒🔗
Middelpuntsoekende Versameling←⤒🔗
“Gasvryheid hou nie in dat ons mense wil verander nie, maar dit beteken dat ons ander mense die ruimte bied waarin verandering plaasvind.” (H Nouwen) Die kerntaak van die kerk ten opsigte van toetreders is om hulle in kontak met Christus te bring. Maar watter etiese vereistes moet daar dan gestel word? Kyk ons na die Nuwe Testamentiese kerk, sien ons dat daar streng etiese eise aan die leiers van die kerk gestel word. Implisiet het dit ’n uitstraling gehad na die res van die gemeente, sodat almal hierna sal streef. In die lig hiervan kan ons sê dat die kerk enersyds die hoë etiese norm van die Bybel moet proklameer. Andersyds moet die kerk mildelik en geduldig omgaan met toetreders wat (nog) nie volledig Bybels dink en lewe nie. Vir baie kerke is dit moeilik. Óf kerke benadruk die genade in so ’n mate dat hulle inboet aan waarheidsgehalte. Hulle is dan nie meer liefdevol nie, maar “lief”. Óf kerke lê soveel nadruk op die bewaring van die waarheid dat hulle ongenadig is na die swakkes toe. Jesus was egter vol van genade én waarheid.
In hierdie verband is dit goed om aandag te skenk aan die vraag: hoe lyk die grens tussen kerk en wêreld? Vir menige kerkraad is dit ’n saak van voortdurende hoofbrekens. Wanneer moet iemand wat wêrelds lewe, uitgesluit word? Of aan die ander kant, wanneer kan belangstellendes toegelaat word? Gereformeerde kerke is gou vatbaar vir ’n donatistiese neiging om die kerk as ’n geslote versameling te sien. Jy is óf binne óf buite. Jy is óf gelowig óf ongelowig.
Tog doen dié benadering nie reg aan die werklikheid nie, en ook nie aan wat die Bybel ons voorhou nie. Dink maar aan hoe die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 29 die Bybelse boodskap weergee deur te wys op huigelaars en swakkes wat ook deel vorm van die ware kerk. Ons kan die kerk daarom, in plaas van ’n geslote versameling, eerder beskryf as ’n middelpuntsoekende versameling.
Die kerkvergaderende werk van Christus is ’n dinamiese gebeure. Daar is mense wat van buite af na Christus toe beweeg (die swakkes byvoorbeeld). Maar daar is ook mense wat van binne uit buitentoe beweeg (die huigelaars byvoorbeeld). Die kerk staan dus midde-in die wêreld, en in hierdie bedeling kan die koring en die kaf nie hermeties van mekaar geskei word nie. Dit is ’n illusie om te dink dat deur streng toelatingsprosesse en die toepassing van die tug die kwaad hermeties uit die gemeente geban kan word. Mense kan hulle teen God verskans agter ’n indrukwekkende kerklike en fatsoenlike masker.
’n Hoë Etiese Norm←⤒🔗
Die kerk bevind haarself te midde van ’n afvallige wêreld. Indien sy haar identiteit wil bewaar, sal sy die etiese norm volstrek suiwer stel, ook al moet sy daarvoor die prys betaal van skande en vervolging. Sy moet hierdie visie uitleef op ’n geloofwaardige manier, met haar ampsdraers as identifikasiefigure voorop. Sy mag duidelik maak dat om te glo nie ’n keuse is vir ’n maklike lewe nie. Dit beteken om jou kruis te dra. Hierdeur ontmasker die kerk die afgode van haar tyd. Dit moet sy doen vanuit die liefdesgebod. Wat dit betref hoef die kerk aan buitestaanders sake nie rooskleuriger voor te stel as wat dit is nie.
Die Belang van Duidelikheid←⤒🔗
Om ’n voorbeeld te noem: dit is duidelik dat ’n kerk wat vashou aan die Bybelse lyn insake homoseksuele verhoudings of saamwoon voor die huwelik, haarself kultureel in hoë mate onderskei van die samelewing. Wanneer die kerk oop wil staan vir nie-kerklikes, is die verleiding groot om water by die wyn te voeg. Die kulturele druk is hoog op hierdie punt. Baie kerke kies dan ook vir aanpassing. Hulle laat die norm van die Woord los en kies daarvoor om toegeeflik te wees. Dit is egter die vraag of dit enige sin het, want ʼn kerk wat die absolute norm van die Skrif laat vaar, doen in feite niks anders nie as om maar net met die laaste kulturele wind saam te waai, al is dit altyd agteraan. Wat het die kerk dan nog aan iemand te bied wat uit die wêreld kom? As ’n kerk niks meer te bied het as net ’n sakrale stempel op ’n sekulêre lewenswyse nie, kan sy haarself eerder die moeite spaar. Dan word die sonde geregverdig, en nie die sondaar nie.
Inwyding in die Gemeenskap van die Koninkryk←⤒🔗
Dit is belangrik om te besef dat die etiek van die gemeente nie net gerig is op eie heiliging nie, maar ook op die heiliging en redding van ander. In die kerk ontvang sondaars die ruimte om te groei in kennis en heiligheid. Beginnende Christene het juis gevorderde Christene nodig. Deur hulle Bybelse lewenstyl trek hulle die swakkes in die regte rigting. Die doel van “morele instruksie” is hierby nie om toetreders se gedrag te assimileer sodat hulle nie meer opval in die gemeente nie. Die doel is om mense dieper te wortel in Christus self. ’n Christelike lewe beteken nie dat ons so heilig word dat ons ten slotte op eie bene kan staan nie, maar dat ons steeds meer “in Christus” is. Die heel belangrikste by die etiese vorming van toetreders is daarom dat hulle hartlik opgeneem word in die gemeenskap van die kerk, ook al stem hulle lewenstyl nog nie in alle opsigte ooreen met die “kerklike gemiddelde” nie. Laat ons in ons gedagtes nie uitgaan van ’n geslote versameling nie (wie aan die kenmerke voldoen, hoort by die groep). Maar laat ons veral gerig wees op Christus, en daarom ander mense se lewe beoordeel in hierdie lig: beweeg iemand in die rigting van Christus, om steeds meer “in Christus” te wees? Of beweeg iemand van Hom af weg? Dit is logies dat hierdie benadering gradasies tussen kerklede sal aanbring. Die een is al nader aan Christus as die ander. En soos die Bybel ons leer: hoe nader aan Christus, hoe nederiger. Wie al soveel van Christus ontvang het, sal net meer oog daarvoor hê om in liefdevolle sorg die swakkes ook na Christus toe te trek.
Voorbeelde←⤒🔗
Ek sal probeer om hierdie Bybelse denklyn meer konkreet te maak met ’n voorbeeld.
’n Homoseksuele man kom deur middel van sy bure in aanraking met een van “ons” gemeentes. Hy ontwikkel ’n sterk belangstelling in die prediking en in die gemeente. Dit word al hoe duideliker dat hy nie sal omgee om lidmaat te wees nie. Hy woon egter saam met ’n vriend. Hoe sal die gemeente in so ʼn “geval” te werk moet gaan? Die Bybelse denklyn soos hierbo geskets, kan ons op die volgende wys: Die gemeente sal in die eerste plek sy mening oor ’n homoseksuele lewenstyl nie moet wegsteek nie, maar openlik aan die persoon kenbaar maak. Die gemeente sal veral ook moet uitlê waarom dit haar mening is, op grond van die Skrif self. Om homoseksualiteit te praktiseer gaan teen God se Woord in. Vervolgens sal die gemeente die betrokke persoon die tyd moet gun om te aanvaar wat die wil van die Here is. In hierdie proses is dit onmisbaar dat die persoon reëlmatige blootstelling aan die prediking van die Evangelie kry. ’n Moontlikheid is om so ’n persoon byvoorbeeld deur middel van ’n gaslidmaatskap ’n welkome plek binne die gemeente te gee. Die toekoms sal uitwys of die persoon voortgaan om na Christus te groei in leer én lewe, of dat daar verharding optree.
Kom ek noem nog ’n voorbeeld. Daar is ’n man en ’n vrou wat ongetroud saamwoon en geen kerklike agtergrond het nie. Hulle woon reëlmatig die eredienste by (of dit op die sendingsveld gebeur of in ’n gevestigde gemeente maak geen verskil nie). Na ’n rukkie vra hulle ’n gesprek aan met die kerkleiding en versoek of hulle dalk lid mag word. Ook in hierdie geval sal die kerk daarvoor moet waak om nie die boodskap uit te straal dat hul aanwesigheid in die kerk as ’n verleentheid ervaar word nie. Elke sondaar is hartlik welkom! Christus het baie tyd vir sondaars gemaak! Ook aan hulle sal tyd gegun moet word om te groei na die vrywillige aanvaarding van Christus se oproep om in die huwelik te tree. Om hulle te dwing om so gou as moontlik aan die groepsnorme te voldoen, sal op lang termyn die teenoorgestelde effek hê. Sulke mense sal tot die ontnugtering kom dat die gemeente net ’n skyn probeer voorhou, terwyl ander sondes al te maklik geduld word.
Met opset het ek hierdie voorbeelde geneem. Ons is so gou geneig om dubbele standaarde te handhaaf. Sondes soos familietwiste, alkoholverslawing of gierigheid word geduld onder gevestigde kerklede, terwyl dit in God se oë net so erg is as bogenoemde sondes. Vir alle sondes en sondaars geld dat hulle lewens geskaaf en gereformeer moet word deur die prediking van die Evangelie. Christus is geduldig. So lank ’n mens leef, is dit genadetyd. Maar as iemand sy sonde begin verdedig, maak nie saak of dit ’n gevestigde kerkmens of ’n toetreder is nie, as hy sy sonde begin goedpraat of relativeer, hom onbereikbaar maak vir vermaning en lering, dan is dit ’n ander saak. Dan tree daar verharding op. Dan beweeg iemand weg van Christus af.
In hierdie opsig is dit interessant om kennis te neem hoe Luther en Calvyn in hulle dae oor poligamie (wat toe nog in die Europese kultuur voorgekom het) geoordeel het. Hulle mening was dat ’n skielike verbreking van ’n poligame huwelik baie verdriet en onregverdigheid sou meebring. Daarom was Calvyn bereid om ʼn “poligamis” met sy vroue te doop en hulle met verloop van tyd van die onregmatigheid van die saak te oortuig. Vir die leiers van die kerk het Calvyn egter die monogame staat voorgeskryf, in lyn met Paulus se aanwysing vir Timoteus. Deesdae het die neiging van mense om ongetroud saam te woon, ook ’n kulture agtergrond. In ’n hoogs individualistiese samelewing is mense bang om hulself te bind, of hulle kom miskien self uit ’n gebroke huwelik, met alle gevolge wat daarmee saamgaan. Dit gaan dus oor meer as om mense net te druk om so gou as moontlik te trou. Hulle moet ook totaal anders begin dink. Dit is deur die wonder van die verkondiging van die Evangelie en die gemeenskap van die heiliges dat hulle sal leer vertrou, en dat hulle sal leer om sonder angs hulself aan mekaar te bind.
Tot Slot←⤒🔗
Die titel van hierdie reeks artikels was: die missionêre kerk. Dit het inmiddels duidelik geword dat, indien ons ’n missionêre kerk wil wees, dit gewortel sal moet wees in elke aspek van die gemeentelewe.