1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Naam Christus

Christus is ʼn ander soort naam as Jesus. Jesus is die persoonlike naam van die Saligmaker, maar Christus is ʼntitel. Soos ander titels — President, Eerste Minister, Lid van die Parlement en Kongreslid — beskryf dit die posisie wat Christus beklee, en die werk wat Hy in die koninkryk van God doen.

Daarom word Jesus soms die Christus genoem, net soos iemand anders die President genoem word. Die verskil lê daarin dat Christus uniek is. Daar was nooit ʼn ander Christus, en daar sal nooit ʼn ander Christus wees nie.

Christus beteken “gesalfde” (Messias het dieselfde betekenis, en is die Ou Testamentiese ekwivalent van die naam Christus). Dit verwys na die feit dat Christus spesiaal deur God aangestel en bestem is om die werk van die koninkryk van God te doen. Hy is in die openbaar met die Gees gesalf by sy doop (Matt. 3:16) soos in Jesaja 61:1-3, waar sy werk as die gesalfde beskryf word, geprofeteer.

Wat is die posisie wat Hy beklee, en sy werk in die koninkryk van God?

Dit is dié van Profeet, Priester en Koning. Een van die groot belydenisskrifte van die Reformasie, die Heidelbergse Kategismus, vra “Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?” Die antwoord wat gegee word, is, “Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het; tot ons enigste Hoëpriester, wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree; tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar”.1

Dit is hierdie profetiese, priesterlike en koninklike ampte waarna verwys word, wat die naam Christus so belangrik maak. Dit is die fondament van die kerk (Matt.16:18), want die kerk kan nie sonder die werk van Christus as Profeet, Priester en Koning bestaan nie. Belydenis van die naam Christus is bewys van wedergeboorte (1 Joh. 5:1), want niemand kan in Hom glo tensy Christus as Profeet met hom gepraat het, as Priester vir hom geoffer het en as Koning hom van Satan verlos het nie.

Om te bely dat Jesus die Christus is, is nie om bloot die naam uit te spreek nie, maar om te sê dat Hy ons hoogste Profeet, ons enigste Hoëpriester en ons ewige Koning is. Daarmee erken ons dat ons deur Hom alleen geleer word, deur Hom alleen regeer word en deur Hom alleen geseën word. Dit is dan geen wonder dat niemand kan sê dat Jesus die Christus is, anders as deur ʼn gawe uit die hemel nie.

Dat Jesus die Christus is, beteken ook dat Hy die enigste een is wat hierdie ampte kan beklee en die werk kan doen wat daarby hoort. Ons het nie nodig dat ʼn mens ons leer nie (1 Joh. 2:27). Ons het nie ʼn ander priester of offerande nodig nie! Ons erken geen ander koning nie, want Hy is Koning van konings en Heer van alle here. Hy is uniek.

Wanneer ons Jesus as die Christus bely, soek ons saligheid in Hom alleen.

Endnotes🔗

  1. ^ Heidelbergse Kategismus, Sondag 12, Vraag en Antwoord 31.