5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Nagmaal as Gedagtenis

Daar kan verskillende aspekte van die nagmaal onderskei word. Paulus wys daarop dat, wanneer ons uit die beker drink, ons gemeenskap het met die bloed van Christus (1 Korintiërs 10:16). Ons kan die nagmaal gemeenskapsbeoefening met Christus, die Here, wat sy bloed vir ons gegee het, noem. Die nagmaal is ook ʼn hoogtepunt in die belewing van die gemeenskap met mekaar. Ons het almal deel aan die een brood en dit getuig dat ons saam één liggaam is (1 Korintiërs 10:17). Voorts herinner die nagmaal ons daaraan dat ons na Christus se wederkoms onderweg is. Ons vier dit immers “totdat Hy kom” (1 Korintiërs 11:26). Mens kan die nagmaal ook ʼn belydenishandeling van die gemeente noem. Ons verkondig al etend en drinkend die dood van ons Here (1 Korintiërs 11:26). Ons bely openlik die heilsbetekenis van sy sterwe vir ons.

ʼn Baie belangrike aspek is dat ons aan die tafel van die Here, Hom gedenk. Paulus herinner daaraan dat die Here Jesus in die nag waarin Hy oorgelewer is, die brood gebreek en die beker uitgedeel het met die opdrag “doen dit tot my gedagtenis” (1 Korintiërs 11:24, 25; vgl. Lukas 22:19). Die aspek van gedenk is selfs die dominante aspek, soos blyk uit die weergawe van Lukas en Paulus. Die nagmaal is allereers en allermees, gedagtenis aan die dood van Christus. Die groot klassieke nagmaalsformulier hou dit in ere deur alles oor die waardige viering van die nagmaal te laat volg op die uitspraak dat Christus ons beveel het om dié maaltyd tot sy gedagtenis te hou.

Ek wil in hierdie artikel nader ingaan op hierdie, so sentrale, aspek. Wat word met gedenk bedoel? Op watter manier is die nagmaal die gedagtenis aan Christus?

Tweesydigheid🔗

Die oortuiging dat die nagmaal die tafel van die Here is, is by ons baie sterk. Christus is die Gasheer. Dit is Hy wat vir ons die brood en die beker gee en ons voed met sy liggaam en bloed. Dit is Hy wat ons beswaarde en verslae harte van sy liefde en trou verseker. Hierdie oortuiging word sterk gedra deur die onderrig van die Heidelbergse Kategismus, wat veral wys op wat Christus vir ons doen. Daarmee het dit wat ons in artikel 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis vind, dat dit nie net Christus is wat aan die nagmaaltafel besig is nie, maar ook ons, enigsins op die agtergrond geraak.

Die genoemde artikel sê naamlik: “...ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging ’n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen.”

Ons vind hier dié tweesydigheid wat Calvyn in sy onderrig oor die sakramente met soveel nadruk stel. Die reformator noem die sakramente ‘ 'n uitwendige teken ... waarmee die Here sy beloftes van goedgunstigheid jeens ons aan ons gewetens beseël om die swakheid van ons geloof te onderskraag. En ons, op ons beurt betuig (daarmee) ons godsvrug sowel teenoor Hom en die engele as teenoor mense’ (Institusie, IV, 14, 1).

Hoeseer die nagmaal ook vir Calvyn ’n aktiwiteit van die gemeente is, hoor ons, wanneer hy by ‘die verkondiging van die dood van die Here’ sê: ‘Dit beteken dat ons almal openlik en eenstemmig moet bely dat al ons vertroue op die lewe en ons saligheid, in die dood van die Here gevestig is met die doel om Hom deur ons belydenis te verheerlik en deur ons voorbeeld ander mense aan te spoor om Hom te verheerlik’ (Institusie IV, 17, 37).

Die genoemde tweesydigheid kom sterk na vore wanneer ons van die nagmaal praat as die maaltyd waarmee ons die dood van Christus gedenk. By hierdie gedagtenis moet ons ongetwyfeld by ons Here begin. Hy gee aan ons die nagmaal. Hy stig self sy gedagtenis (vgl. Psalm 111:4). De inisiatief om Hom te gedenk gaan nie van ons uit nie. Die Heidelberger begin die behandeling van die nagmaal baie tereg deur te herinner aan wat Christus gedoen het in die nag waarin Hy oorgelewer is: ‘Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink’ (Antwoord 75).

Soos God Israel sy Naam laat gedenk het (vgl. Eksodus 20:24), so stig die Here Jesus vir Homself ’n gedagtenis. Maar Hy maak hulle wat aan Hom behoort, deel daarvan. Die gedagtenis word deur die gemeente tot uitvoer gebring. Dit is hulle wat sy Naam noem en die heilsbetekenis van sy sterwe verkondig. Christus gebruik die doen van die gemeente om die seën van sy offerande aan die kruis op die harte te bind van dié wat aan Hom behoort, en dit aan hulle te skenk.

Agtergrond🔗

Dit word vandag algemeen aanvaar dat die opdrag ‘doen dit tot my gedagtenis’ gegee is terwyl die Heiland saam met die dissipels die Pasga gevier het. Lukas meld dat Hy, toe Hy saam met hulle aan tafel gegaan het, vir hulle gesê het: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie Pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:15). By hierdie Paasmaal het Hy die brood- en bekerwoorde gespreek. Die Pasga was by uitstek ’n fees van dankbare gedagtenis. Soveelso dat dit kortweg ʼn ‘gedenkdag’ heet (Eksodus 12:14). Op die vraag van sy kinders: “Wat beteken die diens...?” moes ʼn vader antwoord: “Dit is ʼn paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het” (Eksodus 12:26,27). Israel moes die werk van God in die bevryding uit Egipte vier en dankbaar die sparende genade van God gedenk.

Wanneer die Here Jesus dus by dié gedagtenis van die Ou Testament die oproep doen om iets tot sy gedagtenis te doen, dan is ’n dit ’n diep ingrypende heilshistoriese gebeure. Die bevryding uit Egipte word in die lyde en sterwe van die Meester vervul. Voortaan moes die dissipels ’n gedagtenis stig wat van sy selfoorgawe in die dood, spreek. Van toe af is dié selfoorgawe die groot heilsfeit wat gevier en verkondig moet word.

Ons kan aanvaar dat die woordjie ‘my’ in die opdrag vir die gedagtenis skokkend was. Daarmee het Christus sy offerande aan die kruis in die middelpunt van die denke en lewe van hulle wat aan Hom behoort, gestel!

‘Doen dit’🔗

Daar is nagmaalgangers wat moeite het om by die brood en die beker aan Christus en sy offer te dink. Dit is moeilik om te konsentreer, want daar is so baie wat hulle gedagtes aflei. Juis aan die tafel van die Here ervaar mense dat heilige gedagtes nie vanself te voorskyn kom nie.

Die ‘staande nagmaalsgebruik’ wat in baie kerke gewoon geword het, lei by sommige broeders en susters tot die klagte: alles gaan so vinnig; ek kom nie eintlik by meditasie uit nie! Dit is dan goed om daarop te let dat die Here nie vir die dissipels gesê het: ‘Dink aan My’ nie, maar: ‘Doen dit tot my gedagtenis.’ Dit gaan nie net daaroor om aan Christus te dink nie, maar in die eerste instansie oor die verrigting van ’n aantal handelinge. Dit woordjie ‘dit’ slaan op wat die Heiland besig was om te doen.

Wat Hy gedoen het, vertel Paulus vir ons in 1 Korintiërs 11:23v. Die Here het die brood geneem en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam vir julle.’ Lukas wat presies dieselfde handeling noem, voeg nog die uitdeling, die gee, daarby (Lukas 22:19). Ook wat die beker betref, hoor ons dat die Here dit neem, dank, iets daarby en dit vir hulle gee.

Al is dit so dat by Paulus en Lukas die bekende uitnodigingswoorde uit Matteus en Markus: ‘Neem, eet’ en ‘drink almal daaruit’, nie voorkom nie, hoef die gevolgtrekking nie te wees dat die ‘doen dit’ net betrekking het op die handelinge neem, dank, breek, en uitdeel nie. Die uitdeel van die brood en die gee van die beker lei – soos Paulus aandui – tot ‘eet’ en ‘drink’. Op grond van 1 Korintiërs 11:25-26 moet ons dié handelinge by die ‘doen dit’ inbegrepe sien.

Soos die herdenking van die bevryding uit Egipte deur die Israeliete gedoen is met ’n viering waarby ’n hele aantal handelinge ter sprake was, so is dit ook by die nagmaal as gedagtenis. Ons gedenk die dood van Christus met die tafel van die Here, deur die brood te neem, te breek en te eet, die beker te gee en daaruit te drink; terwyl daarby ook gespreek en gedank word.

Al skiet ons dikwels tekort in meditasie en het ons moeite om aan die tafel op die offer van die Here te konsentreer, beteken dit nie dat ons met skuldgevoelens daarvandaan moet weggaan nie, want met wat ons aan die tafel doen, gedenk ons Christus se dood en verkondig en bely ons dat dié dood ons lewe is. Uiteraard word veronderstel dat ons die bevel: ‘doen dit’ in geloof uitvoer. Ons mag nooit vergeet dat Christus die nagmaal vir ‘sy gelowiges’ ingestel het nie.

In die geheel van die handelinge wat ons opgedra is, het meditasie wel sy plek, waar gedenk ook: daaraan dink, bedink en oordink, beteken. Die nagmaalsformulier leer ons hoe ons die dood van Christus moet oorweeg en die seën daarvan op onsself toepas. Die formulier onderrig ons uitvoerig met die ‘hartverheffing’ oor die gedagtes wat ons hart by die eet van die brood en die drink uit die beker moet vervul.

Juis omdat hierdie heilige oorwegings nie sonder meer by ons ontstaan nie, is dit goed as ons tuis tyd maak om (aan die hand van die Evangelies of ʼn nagmaalsformulier) na te dink oor die dood van ons Here en sy heilsbetekenis vir ons.

Saam gedenk🔗

Die viering van nagmaal is vir baie steeds ʼn hoogs persoonlike saak. Die persoonlike is sekerlik aanwesig. Die formulier dui op hierdie persoonlike aspek deur daarop te wys wat ‘elkeen’ by homself moet ondersoek en nadink. Tog is ‘ons’ oorheersend in die formulier. Ons kan sê dat die toonsetting in die meervoud is, sonder dat die persoonlike noot ontbreek. Dit stem ooreen met die opdrag van die Here, wat in die meervoud gegee is: ‘Doen dit tot my gedagtenis, neem, eet, drink almal daaruit’. Dit impliseer dat dit in die eerste plek ʼn saam gedenk is; dat dit gaan oor ʼn gemeentelike optrede.

Ons is saam besig met die ‘heerlike gedagtenis’ van die dood van Christus vir ons, en ons verkondig saam wat sy sterwe vir ons beteken. Wat ons al etende en drinkend verkondig word kernagtig saamgevat in die woorde by die uitdeel van die brood en die aangee van die beker. Ons kan die breë onderrig van die formulier die uitwerking van hierdie woorde noem en die aanduiding van ‘die manier’ waarop ons Christus behoort te gedenk.

Daarmee laat die kerk dit nie aan die nagmaalganger oor nie. Persoonlike meditasie is nie ʼn saak van eie oordeel nie. Die kerk sê vir ons hoe ons die lyde en sterwe van ons Here behoort te gedenk en te verkondig. Daarin sien ons hoeseer dit oor ʼn gemeentelike viering gaan. Elkeen gedenk nie op sy eie manier nie – ons gedenk en verkondig op die manier van die kerk! Hierin lê ook die rede waarom ons kerke bepaal het dat tot die nagmaal net diegene toegelaat word wat belydenis van die Gereformeerde godsdiens gedoen het (Artikel 61 Kerkorde). Dit gaan naamlik nie net oor ʼn persoonlike daad nie, maar oor ʼn gemeentelike aksie. Daar moet eenstemmigheid wees oor die heilsbetekenis van Christus se dood, en die verkondiging moet geskied uit één mond. Die gemeente vier die heerlike gedagtenis, en ek moet van harte instem met wat gevier word.

Omstrede simboliek🔗

Die gebruik bestaan dat by die nagmaal die brood voor die oë van die gemeente gebreek word en die wyn in die beker geskink word. Hieraan word dan ʼn simboliese betekenis geheg. Soos die brood voor ons oë gebreek word, so is die liggaam van Christus aan die kruis vir ons geoffer (Heidelbergse Kategismus, antwoord 75). Net so dui die skink van die wyn in die beker, op sy bloed wat daar vir ons vergiet is.

Hierdie gebruik is tot op hede omstrede. Daar was immers nie op Gólgota sprake van ʼn gewelddadige verbreking van die liggaam van Jesus nie. Johannes meld juis met nadruk dat die Skrifwoord vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie” (Johannes 19:36). Ons lees ook nêrens dat die Heiland die wyn sigbaar ingeskink, voordat hy die beker aangegee het nie. Hy neem ‘die beker’ – ’n beker van die pasgamaal wat reeds ingeskink gestaan het – en gee dit aan (Matteus 26:27). Bowendien is ‘inskink’ tog iets anders as ‘vergiet’ of ‘uitgiet’.

Waar ouer nagmaalsformuliere nog die uitdelingswoorde: ‘Neem, eet, gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot ’n volkome versoening van al ons sondes’, gebruik, het gemoderniseerde weergawes die ‘gebreek is’ vervang deur ‘gegee is.’ Die oorspronklike teks van die formulier gaan terug na die Griekse teks van 1 Korintiërs 11:24 wat in die Nederlandse Statevertaling (en ook in die AOV – vertaler) gebruik word, waarin die Here praat oor sy liggaam “wat vir julle gebreek word”. Geleerdes is dit eens dat ‘wat gebreek word’ nie in die oorspronklike Griekse teks tuishoort nie, en ’n latere verklarende aanvulling is.

Die bedoeling van die brood- en bekerwoorde wat die Heiland spreek, is nie soseer om ons op die hart te bind hoe Hy Homself vir ons gegee het – met verbreking van sy liggaam en vergieting van sy bloed – nie, maar veral dat Hy Homself vir ons gegee het: “Dit is my liggaam; dit is vir julle” (1 Korintiërs 11:24 – Die Bybel Nuwe Vertaling); “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Lukas 22:20). Die Heidelberger stel dit so treffend wanneer hy in antwoord 75 die vir my en aan my beklemtoon wanneer hy sê dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word.

Dit is opvallend dat daar nie in die formuliere ’n aanduiding is dat die wyn voor die oë van die gemeente geskink moet word nie. Daar is dan ook niks teen te sê as sommige predikante dié gebaar agterweë laat nie. Word dit wel gedoen, is dit inderdaad ’n gebaar wat heenwys na die bloed wat vir ons vergiet is. Dit is nie misplaas nie, want die uitdelingswoorde praat ook van die bloed wat vir ons vergiet is. Dit is anders met die breking van die brood, waar dit liturgies in die formulier voorgeskryf is. Daar staan naamlik uitdruklik: ‘As die brood gebreek en uitgedeel word sê die bedienaar...’

Dié gebaar op sigself is reeds baie oud en is eintlik altyd in ere gehou, hoewel daar deurgaans teoloë was wat dit nie sinvol geag het nie. Dit bly ewewel ’n gegewe dat die breking van die brood nadruklik deur die evangeliste (Matteus 26:26; Markus 14:22; Lukas 22:19) en deur Paulus (1 Korintiërs 10:16; 11:24) vermeld word.

Noudat ‘gebreek is’ in die uitdelingswoord met ‘gegee is’ vervang is, is dit voor die hand liggend dat die breking nie meer so maklik op die verbreking van die liggaam van Christus vir ons, betrek kan word nie. Uit die nagmaalstekste blyk dit dat die breking onmiddellik deur die gee van die brood gevolg word. Die Heiland het een brood gebreek om dit te kan uitdeel aan sy dissipels. Dit lyk vir my verantwoordbaar om die breking van die brood in die eerste instansie daarin te sien.

Soos ons reeds gesien het, gaan dit by die brood- en bekerwoorde veral om die ‘vir julle’. Ek sou ook die sigbare breking van die brood in hierdie lig wil sien. Dit onderstreep die ‘vir julle’, soos wat die Heidelberger die breking met die ‘vir my’ verbind: ‘dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek (is), ...as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek ... word’ (antwoord 75). Die brood word vir my gegee, ja meer nog: dit word sigbaar vir my gebreek. Ek kan seker wees dat ek deel het aan wat Christus met sy dood vir my verwerf het!

Tegelykertyd herinner die breek van die brood ons daaraan dat dit eintlik één brood is, waaraan ons almal deel het (vgl. 1 Korintiërs 10:17). Ons deel almal in dieselfde heil en sy één liggaam. Die breking verkondig ook aan ons die wonder van die gemeenskap van die heiliges, soos antwoord 55 van ons Kategismus so mooi daaroor praat: dit is die gemeenskap met die Heilige (Here Christus) en met die heilige (al sy skatte en gawes), en ook die gemeenskap van die heiliges (mekaar).

Ten slotte🔗

Ek kon net enkele aspekte aanraak. Ek hoop dat dit opnuut duidelik geword het hoe ons die nagmaal vier ‘tot sy gedagtenis’. Alles spreek van Christus se liefdesdaad vir ons. Terselfdertyd mag ons nie vergeet nie dat ons die gedagtenis gedenk van Hom wat leef en besig is om terug te kom. Ons gedenk Hom immers ‘totdat Hy kom’. Ons eet en drink as gemeente op pad na sy toekoms. Hierdie gedagtenis het ook direkte implikasies vir ons daaglikse lewe. Die gedagtenis aan die groot dade van God roep immers in die Skrif altyd weer tot ’n daadwerklike lewe uit sy genade (vgl. Deuteronomium 8:2; Josua 1:13; Johannes 15:20; 2 Timoteus 2:8).

Die formulier wat so vol is van die manier waarop ons Christus behoort te gedenk, loop daarom ook uit op die gebed ‘vir ons daaglikse vooruitgang in die regte geloof en in die salige gemeenskap’.