Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Nou Poort

Pogings om nie-Christelike godsdienste te wil goedpraat, slaan die afgelope tyd orals soos masels uit.  Een van die argumente wat graag gebruik word, is dat dit darem liefdeloos van Christene is om te wil beweer dat almal wat nie in Christus glo nie, verlore gaan.  In die afgelope maand het die argument weer na vore gekom in 'n artikel wat dr. Willem Nicol in die dagblad Beeld (1 Oktober 1998, bl. 8) geskryf het.   Hy skryf: "Hulle (die nie-Christene) is sowat 68% van die mensdom en as jy die Christene bytel wat nie toegewyd is nie, praat ons van ten minste 90%.  Kan ons aanvaar dat die God van liefde wat ons so wonderlik in die Bybel leer ken, so 'n breë stroom mense in die hel laat stort?"  Om aan hierdie standpunt te bly vashou, is volgens dr. Nicol hoogmoedig, hardvogtig en onmenslik.

Die Here Sê Self So🔗

Hierteenoor moet dit duidelik gestel word dat die stelling dat so 'n breë stroom mense verlore gaan, nie deur Christene uitgedink is nie.  Dit is op rekord dat Jesus Christus self so gesê het.  In Matteus 7:13, 14 is sy woorde aangeteken: "Gaan dan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind."  Ook in Lukas 13:24 staan dit opgeteken. Daar kan geen misverstand wees nie.

Waarlangs gaan die smal weg? Hierop antwoord Jesus uitdruklik in Johannes 14:6: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie."  Deur Jesus Christus ontvang ons die ewige lewe.  Daar is geen ander manier om die ewige lewe te bereik nie.  Ook hieroor kan daar geen misverstand wees nie.  Dink maar aan die woorde van die apostels voor die Joodse Raad, Hand. 4:12: "Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie."

Durf Ons Aan die Bybel Verstel?🔗

Die vraag is nou: As die Here self so gesê het, durf ons sy woorde vandag ongeldig verklaar?  Kan ons ter wille van groter "medemenslikheid" sy woorde aanpas of tot niet verklaar?  Ons kan dit doen slegs as ons die Bybel as blote mensewoorde sou beskou. Soos dr. Nicol blykbaar doen waar hy skryf: "Die evangelie is nie 'n boodskap wat van bo af na die mense kom nie, maar van onder af."

Met so 'n Skrifbeskouing kan 'n mens maar sê: In die Bybel staan dit nou wel so geskryf, maar vir ons is dit wat daar geskrywe staan, 'n verleentheid. Dit klink darem te dominerend en te liefdeloos. Ons kan daarop verbeter. Ons kan dit meer aanvaarbaar maak vir die mense van ons tyd, sodat dit standpunte stel wat, soos dr. Nicol sê, "beter is vir die evangelie, ons geloof en ons menslikheid.”

Oor hierdie gesindheid by die mens word ons deur die apostel Paulus gewaarsku in 2 Timoteus 4:4, waar hy skryf: "Daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hulle gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede." Ook wanneer die mens nie daarvan wil hoor dat die pad na die ewige lewe smal en die poort nou is nie, sal hulle dit wil omdraai en sê dat die poort daarheen eintlik wyd en die pad breed is.

Hierteenoor geld die Gereformeerde oortuiging dat die Bybel nie maar net mensewoorde is nie, maar die geskrewe Woord van God. En daarmee saam die oortuiging dat die Woord van die Here onveranderlik en vas is. Daarom mag geen mens om watter rede ook al daaraan verstel nie. Om die Bybelwoord onvoorwaardelik te aanvaar, is 'n kwessie van onderwerping aan die gesag van God. Wat Hy sê, aanvaar ons sonder teëspraak.

Die Weg van Egte Liefde🔗

Maar wat dan van die liefde?  Hoe moet ons die smal weg en die nou poort met die liefde van God versoen? Is dr. Nicol nie reg as hy sê dat die leer van min wat gered word darem te hard en liefdeloos is nie?  In Johannes 6:60 lees ons dat baie van die mense wat Jesus hoor preek het destyds ook gesê het: "Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?"

Maar die woorde van Jesus klink slegs liefdeloos as 'n mens nie God se geregtigheid verstaan nie.  Die humanis redeneer: Elke mens is in homself verdienstelik en verdien die ewige lewe.  Daarom is dit darem baie liefdeloos van God as Hy sommige mense - boonop die meeste mense - die ewige verdoemenis laat ingaan.

Wat die humanis nie raaksien nie, is dat elke mens, as gevolg van die sonde, ten regte die ewige verdoemenis van die hel verdien.  Die geregtigheid van God eis dat alle mense verlore gaan.  Dat mense verlore gaan, is hoegenaamd nie liefdeloos van God nie. Dat God egter hoegenaamd enige mens of mense van daardie verdoemenis red - dit is liefde. En dit doen Hy juis deurdat Hy sy eniggebore Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê!

Waar is dan die ware liefde? Daar waar Christus met vrymoedigheid aan die mensdom verkondig word as die enigste weg tot redding. En waar is die liefdeloosheid dan? Daar waar die Christen weier om Jesus Christus aan ander mense te ver­kondig; wat voel dit is te dominerend en hooghartig om vir ander te sê dat hulle hulle tot Christus moet bekeer om gered te word. Dit is liefdeloos om vir mense wat Christus nie ken nie, te sê: "Toe maar, gaan maar so voort, jy hoef nie in Christus te glo om gered te word nie. Op jou manier kan jy ook die ewige lewe beërwe."

Daarom word ons deur die Here in sy Woord gewaarsku: as ons om watter rede ook al sou weier om Christus as die enigste weg tot verlossing aan die mensdom voor te hou, sal ons vir hulle ondergang verantwoordelik gehou word (vgl. Ese. 3:16-20). Jesus het ook gesê: “Hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God. Maar elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens bely voor die engele van God" (Luk. 12:8, 9).