1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde

Die Skrif praat dikwels van die nuwe hemel en die nuwe aarde as die laaste woonplek van die volk van God. Die blote feit dat dit ʼn woonplek is, is genoeg om ons dit te laat begeer, want solank ons in hierdie wêreld is, is ons pelgrims en vreemdelinge. Hier het ons geen woning, geen land of stad wat ons ons eie kan noem nie (Heb. 11:8-10, 13-16). Wat ʼn grootse gebeurtenis sal dit wees om uiteindelik huis toe te gaan, na ʼn lang, moeilike pelgrimstog, met die wete dat ons Vader, ons groot Broer en ons hele familie daar sal wees en dat ons nooit weer daarvandaan weg hoef te gaan nie.

Hoe kan dit ons huis wees as ons nog nooit daar was nie? Hoe kan ons dit as woning begeer? Net soos in die geval van ʼn ware aardse woning, is dit nie die plek nie, maar die mense wat daar is, wat belangrik is. Ons ken hulle en het hulle lief. Ons het die hemel nog nooit gesien nie, maar hulle wat daar is, is in Christus ons familie wat ons wel ken en geleer het om lief te hê.

Ons mag wel vra waarom daar ʼn nuwe hemel moet wees. Die antwoord lê in die werk van Christus. Omdat die hemel vir Hom geskape is (Kol. 1:16), moet die hemel in Hom en deur Hom vernuwe word sodat dit ʼn gepaste plek vir Hom en diegene wat in Hom is, kan wees. Die eerste hemel is geskaad deur die val sommige engele, soos die aarde deur die val van die mens. Satan, die hoof van daardie eerste hemelse skepping, het uit sy verhewe plek geval (Jes. 14:12) en baie engele met hom saamgesleep (Openb. 12:4). Daardie hemelse skepping moet in Christus herstel word.

Waarom ʼn nuwe aarde? Eerstens omdat God nie die werke van sy eie hande laat vaar nie. Die aarde wat Hy geskape het, word nie weggegooi en verlaat weens die sonde nie, maar bewaar en aan die einde herstel. Sodat Christus verheerlik sal word, word dit nie herstel tot sy eerste staat nie, maar verhoog tot ʼn selfs groter heerlikheid.

ʼn Deel van dié heerlikheid is dat die nuwe aarde met die nuwe hemel verenig word wanneer die tabernakel van God uit die hemel neerdaal (Openb. 21:1, 2). Die groot glorie van die vernieude skepping is dat die geregtigheid daarin woon. Dit moes gereinig en hernuwe word sodat geregtigheid daarin kan woon en sodat alle sonde en sondige werke vernietig kan word. Van die werke wat die vuil hande van sondaars tot stand gebring het, mag niks oorbly nie. Die geregtigheid wat daar woon is die geregtigheid van Christus self, wat ons ook in Hom sal hê.

Wanneer ons oor hierdie dinge praat en besef wat dit is wat op ons wag, ag ons waarlik alle ander dinge skade en beskou dit as drek (Filip. 3:8). Hierdie wêreld en die lewe van hierdie wêreld, self die grootste vreugdes wat die wêreld kan bied, is, wanneer dit met dié heerlikheid vergelyk word, net stof en as. Iemand wat weet dat die hemel sy woning is, sal nooit in hierdie wêreld tuis wees nie, en dit is hoe dit moet wees (2 Kor. 5:6-8). Só word ons hoop gewek en word ons opgeroep om ons oë op te hef, vir ons beloofde verlossing te wag en te lewe soos mense wie se lewe reeds met God in Christus in die hemele verborge is.