1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Oordeel

Die eindoordeel is die gebeurtenis wat die geskiedenis van die teenswoordige wêreld afsluit en die ewige koninkryk van Christus inlui. Die Skrif het daarom baie oor die oordeelsdag te sê.

Daardie oordeel, omdat dit een dag is en eenmalig plaasvind, sal universeel (algemeen) wees. Alle mense, engele en duiwels sal voor God verskyn om van Hom die loon van genade of van ongeregtigheid te ontvang. Hulle sal dié loon in die liggaam waarin hulle gelewe het en reg of onreg gedoen het, ontvang.

Die universaliteit van die oordeel word duidelik in die Skrif geleer. Almal sal geoordeel word (Matt. 16:27; Matt. 25:31, 32; Joh. 5:28; Rom. 2:5, 6; 2 Kor. 5:10; Openb. 20:11; Openb. 22:12). Die uitsonderings is die dier, die vals profeet en die duiwel wat klaarblyklik sonder ʼn oordeel in die poel van vuur gewerp sal word, omdat hulle boosheid reeds ten volle geopenbaar is (Openb. 19:20; Openb. 20:10).

Hierdie oordeel sal volgens die werke wees (1 Kor. 3:13-15; 1 Pet. 1:17; Openb. 2:23; Openb. 20:12, 13), maar nie vanweë die werke nie. As die oordeel vanweë die werke sou wees, sou verdienste die grond vir die oordeel wees, en op daardie gronde sou niemand kon bly staan nie. In die oordeel sal die dade van elkeen toon of hy in Christus is, al dan nie. Sy dade sal bewys wees van sy regverdiging voor God (Jak. 2:14-20) óf van sy ongeregtigheid en onverdienste.

Ooreenkomstig dié dade sal elkeen die regte loon ontvang; ewige verdoemenis óf genade, wat die ewige lewe is (Matt. 16:27; Rom. 4:4; Openb. 22:12). Die vergelding sal die geregtigheid van God openbaar in veroordeling en vervloeking van die goddeloses en in die grootheid van sy genade aan sy volk.

Die oordeel en beloning is die werk van Christus. Aan Hom het die Vader al die mag gegee om te oordeel (Joh. 5:26; Openb. 22:12, 13). Almal, die regverdiges en die bose, moet aan Christus beoordeel word. Dit is die bose wat Hom gekruisig en vermoor het (Heb. 6:4-6; Openb. 1:7). Dit is Hy wat vir dié wat aan Hom behoort, versoenende geregtigheid gegee het.

Aan Hom behoort die boek van die lewe, die boek (Luk. 10:20) wat die waarborg is van die verlossing van hulle wat die Vader aan Christus gegee het. Uit hierdie boek ontvang sommiges wat hulle nie verdien het nie: genade op genade.

Vir die gelowige is die oordeelsdag daarom nie ʼn dag van verskrikking nie, maar die middelpunt van sy hoop en sy verlange. Ten spyte daarvan dat hy ook geoordeel moet word, is sy vertroue in Christus en die geregtigheid van Christus.

Daar is dus sonder twyfel in die oordeel groot hoop vir die gelowige. Dit is Christus, hulle Here, hulle Broer, hulle Regverdigmaker en hulle Verlosser wat op die regterstoel sit. Hulle sal voor Hom verskyn soos hulle in Hom is: opgewek uit die dood en verheerlik saam met Hom. Die feit dat die opstanding die oordeel voorafgaan, beteken dat die gelowiges reeds aan Hom gelyk sal wees (1 Joh. 3:2), wanneer hulle voor die regterstoel van Christus verskyn. Hulle vernederde liggame sal reeds aan sy verheerlikte liggaam gelykvormig gemaak wees (Filip. 3:21). Wat ʼn troos en grondslag vir hoop! Ons vertrou dat ook u sʼn is.