Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Opgestane Jesus - Geloof word Benodig

opstanding

Volgens die kerklike kalender is ons nou in die tyd van die jaar waar ons terugkyk op Jesus se kruis en opstanding (wat vanjaar op 29 en 31 Maart herdenk is) en vorentoe kyk na sy hemelvaart (wat DV vanjaar op 9 Mei herdenk word). Die afgelope maande se debat in die Afrikaanse dagpers oor die waarheid en betroubaarheid van die Bybelse gegewens — veral oor die werklikheid van Jesus se opstanding — maak die betekenis van die 38 dae tussen sy opstanding en Hemelvaart van buitengewone belang. Van watter betekenis was die tydperk tussen Jesus se opstanding en sy hemelvaart?

Ooggetuies van die Waarheid Voorsien🔗

Hoe kan die waarheid van iets wat in die verlede gebeur het, getoets word? Die beste toets is om navraag te doen by mense wat dit sien gebeur het. Daarom word daar by regspraak in ons geregshowe gevra na ooggetuies.

Dat die getuienis van ooggetuies ingeroep moet word, is reeds in Deuteronomium 19:15 as regsreël vasgelê: "Op die verklaring van twee of drie getuies sal 'n saak van krag wees". Juis meer as een getuie is ingeroep, sodat die gevaar van kwaadwillige en valse getuienis voorkom kon word. Om dié rede is iemand wat valse getuienis sou aflê ook swaar gestraf (Deut. 19:16-20). Vandag word valse getuienis voor 'n hof steeds as 'n ernstige oortreding beskou en swaar gestraf. Juis daarom was dit van ouds af belangrik dat die getuienis van 'n ooggetuie deur dié van 'n ander bevestig moet word.

Ten opsigte van die opstanding van die Here Jesus word ook na ooggetuies gevra. Het Hy werklik opgestaan? Omdat die vraag gaan oor dinge wat baie lank terug — bykans tweeduisend jaar gelede — gebeur het, kan dit beantwoord word slegs deur na ooggetuies te vra. Was daar mense wat die opgestane Jesus met hulle eie oë gesien het? Juis hiervoor was die 38 dae tussen Jesus se opstanding en sy hemelvaart van groot belang. Dit was die tyd waarin die Here self gesorg het dat daar ooggetuies was wat Hom ná sy opstanding lewend gesien het (vgl. Hand. 1:3). In die Bybel lees ons van die volgende ooggetuies:

  • Die eerste ooggetuie was Maria Magdalena. Maria, wat op die Sondagmôre Jesus se liggaam wou gaan versorg en net die leë graf aangetref het, het buite die graf gestaan en huil (Joh. 20:11). Daar het Jesus aan haar verskyn en met haar gepraat. Johannes skryf dat sy toe "aan die dissipels gaan vertel het dat sy die Here gesien het" (Joh. 20:18).

  • Later dieselfde dag het Jesus verskyn aan twee manne wat op pad was na die dorp Emmaus. Hoewel hulle Hom aanvanklik nie geëien het nie, het hulle Hom later herken en dit vir die dissipels in Jerusalem gaan vertel (Luk. 24:33-35).

  • Daardie selfde aand het die opgestane Jesus aan sy dissipels verskyn (tien van hulle, want Tomas was nie by nie — Joh. 20:19-24).

Dit beteken dat daar reeds op die dag van sy opstanding dertien ooggetuies was wat gesien het dat Jesus werklik opgestaan het en dat Hy lewe — tien meer as die wetlik vereiste getal getuies!

Maar in die daaropvolgende ses weke het die getal ooggetuies twintigvoudig toegeneem:

  • 'n Week na Jesus se opstanding het Hy weer aan sy dissipels verskyn, hierdie keer met Tomas daarby (Joh. 20:25-29).

  • By die see van Tiberias het die opgestane Jesus aan sewe van sy dissipels verskyn (Joh. 21:1-14). By hierdie geleentheid het Hy 'n lang pastorale gesprek met Petrus gehad (Joh. 21:15-23).

  • Paulus meld dat Jesus by nog 'n ander geleentheid aan oor die vyfhonderd broeders gelyk verskyn het, waarvan die meeste in sy tyd nog geleef het (1 Kor. 15:6).

  • Volgens 1 Korintiërs 15:7 het Jesus ook nog verskyn aan Jakobus, sy broer, wat later die leier van die Jerusalemse kerk was en in alle waarskynlikheid ook die skrywer van die Jakobusbrief.

  • Direk voor sy hemelvaart het Jesus weer aan die apostels verskyn (Matt. 28:16-20; Luk. 24:36-49; Hand. 1:4-8; 1 Kor. 15:7). Net daarna het hulle Hom na die hemel sien opvaar (Luk. 24:50-51; Hand. 1:9-11).

oë

In die veertig dae voor sy hemelvaart het die Here dus gesorg dat daar ten minste 515 getuies was wat elkeen met sy/haar eie oë Hom lewend gesien het. As die betroubaarheid van een van hulle se getuienis dan bevraagteken sou word, was daar meer as vyfhonderd ander getuies om Jesus se opstanding te bevestig. Waar wil jy 'n beter toets van die waarheid kry?

Valse Getuienis🔗

Daar is egter ook valse getuienis afgelê. Dit het gekom van mense wat daartoe omgekoop was. Die soldate wat Jesus se graf moes oppas en wat met hulle eie oë gesien het hoe 'n engel van die Here die klip van die graf af wegrol en hoe Jesus se voorkoms verander "soos weerlig en sy klere wit soos sneeu" (Matt. 28:2-4), was in werklikheid ook ooggetuies van die opstandingsgebeure.

Tog is hulle deur die Joodse leiers omgekoop om die storie te versprei dat hulle aan die slaap geraak het en dat Jesus se dissipels sy liggaam in die nag kom steel het. Hierdie storie is toe deur die Jode met die rugsteun van hulle eie gefabriseerde valse getuienis versprei, "tot vandag toe", skryf Matteus (28:15).

Wie se Getuienis ons Moet Glo?🔗

Omdat ons met Jesus se opstanding te staan kom by gebeure wat bykans tweeduisend jaar gelede plaasgevind het, is daar geen sprake van enige ander bewysstukke nie as net die getuienis van hulle wat ooggetuies was. Diegene wat vandag op konkrete bewyse van sy opstanding aandring, is dus besig met 'n oefening in die absurde. Vir bewysvoering is ons aangewese op die getuienis van die destydse ooggetuies.

En nou kom ons te staan voor twéé groepe ooggetuies wat hierbo genoem is. Aan die een kant is daar die meer as vyfhonderd ooggetuies wat die opgestane Here self gesien het. Aan die ander kant is daar die getuienis van die soldate wat later deur die Joodse leiers omgekoop is. Is dit nodig om te vra wie se getuienis ons eerder sou navolg?

As 'n mens nie een van die twee groepe se getuienis wil aanvaar nie, is daar natuurlik nog 'n derde uitweg: verwerp alle getuienis en besluit self. Hierdie opsie sou vergelyk kon word met 'n regter wat in 'n hofsaak die getuienis van al die getuies verwerp. Die een groep getuies is duidelik omgekoop, en die ander groep se getuienis is te vergesog vir hom om te aanvaar. Daarom besluit hy om sy "gesonde verstand" as hoofgetuie in te roep: my verstand sal vir my sê wat werklik gebeur het. So kom mense, wat nie die getuienis van meer as vyfhonderd ooggetuies wil aanvaar nie, tot die beslissing dat Jesus nie opgestaan het nie — op grond van die getuienis van hulle eie verstand! Van alle getuies aanvaar hulle die mees bedrieglike getuie: die menslike verstand.

Hierdie opsie is al in die tyd van die apostels uitgeoefen. Veral die Grieke wou hulle eie verstand as maatstaf van die waarheid gebruik. Daarom, toe Paulus die opstanding van Christus in Atene aan hulle verkondig het, het die Ateners se "gesonde verstand" vir hulle gesê dat die opstanding 'n saak van onmoontlikheid is. Gevolglik het hulle Paulus uitgelag (Hand. 17:32).

Dieselfde verstandsbenadering as dié van die Grieke vlam in ons tyd weer op by die ondersteuners van die sogenaamde "Jesus-seminaar". Ook hulle bestempel Jesus se opstanding as blote fiksie, met hulle eie verstand as hoofgetuie van wat waarheid is en wat nie.

Geloof in Plaas van Bewyse🔗

Teenoor die verstandsbenadering word van ons 'n geloofsbenadering gevra. Geloof praat van oortuiging sonder om eers vir bewyse te vra. Geloof, lees ons in Hebreërs 11:1, is immers "'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie". Die Here vra dat ons sal glo sonder bewyse. Glo, bloot op grond van die getuienis wat Hy vir ons laat opteken het. En watter betroubare getuienis is dit nie!

kyk na die hemel

In die hele debat oor die vraag na Jesus se opstanding al dan nie, is dit dus nie 'n kwessie van bewysvoering teenoor bewysvoering nie, maar van geloof teenoor ongeloof. Die Here roep ons om nie in ongeloof vas te val nie, maar om te glo met 'n onwrikbare opstandingsgeloof. Geloof/ongeloof in die opgestane Jesus Christus is immers van lewensbelang. Luister maar net weer wat skryf die apostel Paulus aan die Korintiërs (1 Kor. 15:17-19): As Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

In plaas daarvan om onsself in die onmoontlike debat oor bewyse vir die waarheid van Christus se opstanding te laat intrek, behoort ons die twyfelaars tot geloof te roep. Daartoe is ons ook geroep.