1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Opstanding van Christus

Die opstanding van Christus is die eerste stap in sy staat van verheerliking. Dit is ook een van die groot werke van ons verlossing. Sonder die opstanding is selfs die kruis nie genoeg nie. Die Woord van God herinner ons daaraan in 1 Kor. 15:17: “as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes”.

Sonder die opstanding sou ons op twee maniere, en om twee redes, nog in ons sondes wees — ons sou regtens én feitlik nog in ons sondes wees.

Eerstens: dat ons regtens nog in ons sondes sou wees, beteken dat ons, sonder die opstanding, nie geregverdig sou wees nie, en dat ons sondes nie vergewe sou wees nie.

Waarom? Omdat regverdigmaking ʼn werk van God self, as Regter, is. Hy moet die vonnis vel wat ons regverdig maak. Hy doen dit deur Christus uit die dood op te wek en daarmee Christus se volbragte werk, ter wille van ons, te aanvaar en te bekragtig. Daarom is die opstanding die vonnis van die ewige en onveranderlike Regter van hemel en aarde, waarmee ons regverdigmaking beseël word.

Dink só daaraan: Aan die kruis het Christus gesê “dit is volbring”; deur Christus uit die dood op te wek, het God gesê “dit is volbring”. Só vel God die vonnis wat ons regtens regverdig voor Hom stel.

Dit is wat die woorde: “ . . . en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking” in Romeine 4:25 beteken, en waarom die Bybel so dikwels beklemtoon dat Christus deur God uit die dood opgewek is.

Tweedens sou ons sonder die opstanding ook nog feitlik in ons sondes wees. As Christus nie opgestaan het nie, sou daar niemand wees wat aan ons die gawe van geloof en, deur die geloof, die vergiffenis en bevryding van al ons sondes skenk nie. As ons lewende Here skenk Christus aan ons die vergiffenis én die bevryding van ons sonde. Hy skenk aan ons vrede én heiligheid.

Daarmee is nie alles oor die geluksaligheid van die opstanding van Christus gesê nie. Die opstanding is ook die middel waardeur ons toegang tot God verkry. As die eersgeborene uit die dode (Openb. 1:5) is Christus die Een wat vir ons die weg na die teenwoordigheid en na die guns van God berei. Dit was altyd die taak van die eersgeborenes — om die pad vir al die ander kinders oop te maak (Eks. 13:2; Eseg. 20:26). Christus open vir ons die pad uit die dood na die lewe, en na die teenwoordigheid van God.

Hierbenewens is die opstanding van Christus ons gewisse pand dat ons óók opgewek sal word. Sy opstanding en dié van ons is onskeidbaar, soos dit in 1 Korinthiërs 15:16 ook deur Paulus aangetoon word — omdat Hý lewe sal ons ook lewe.

Die opstanding van Christus is dus die hart van die verlossingsplan van God en kan nie ontken word sonder om alles wat ons glo, omver te gooi nie. Glo dan, en wees verheug in Hom wat ewig lewe. Hy wat in Christus, wat gekruisig is en weer opgestaan het, glo, sal nooit sterwe nie.