Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die Opwinding van Reformatoriese Prediking

preekstoel

Wanneer ‘n mens Sondag vir Sondag, vir jare aaneen vir dieselfde mense moet preek, kan dit erg moeilik raak. Nie net vir leraars nie. Hoeveel lidmate het begrip vir hul leraar se worstelstryde? Hoe maklik kan dit gebeur dat die prediking in ‘n sleur verval. Hoe maklik kan dit gebeur dat die Woord onderwaardeer word in die prediking. Dit klink na ‘n vreemde woordkeuse. Min predikante sal seker wil te kenne gee dat die Woord onderwaardeer word in hul prediking. Ons maak immers steeds erns met die Woord, selfs al het ons dalk in ‘n sleurgang verval. Die vraag is egter nie of ons die Woord gebruik en suiwer verkondig nie. Die vraag is watter funksie die Woord vervul.

Hoe maklik gebeur dit dat ons ‘n verkeerde begrip vorm van watter funksie die Woord vervul. Die Woord funksioneer dikwels slegs as blote informasie oor die heil, oor dit wat Christus gedoen het. Ons leef soms met die denkbeeld dat ons prediking net die oordra van kennis behels. Die oordra van feite/inligting. Die oordra van belangrike informasie waarvan die gemeentelede kan kennis neem. Later kan die lidmate hierdie kennis self gaan aanvul met geloof en vertroue. Hoeveel lidmate sien nie Sondae se prediking op hierdie manier nie? Daar word informasie oorgedra in die prediking waarop ek kan reageer as ek wil, of ek kan net daarvan kennis neem as ek wil.

Maar, wat het Paulus dan bedoel toe hy gepraat het van die “bediening van die versoening”? (2 Kor. 5:18 & 19). Lees gerus hierdie gedeelte in sy verband. Paulus sien homself as ‘n kelner wat (die evangelie) aan spesifiek-geadresseerdes bedien/uitdeel. God het immers (in Christus) nie slegs die moontlikheid vir versoening geskep, sodat dit gepredik word en mense dit dan self in hulle lewens kan laat realiseer (deur die geloof) as hulle so wil nie!

Nee! God het daadwerklik mense met Homself versoen in Christus! Die versoening is ‘n afgehandelde voltooide werklikheid onafhanklik van geloof of ongeloof. En, deur die prediking word hierdie voltooide versoening uitgedeel. Dit word bedien. Deur die einste woorde wat uit die prediker se mond uitvloei, deel God Sy heil aan Sy bruid (diegene wie Hy van ewigheid af aan Sy Seun gegee het: sien Joh. 17:2) uit. Wat ‘n asemrowende gedagte! Al preek ‘n predikant al vir 20 jaar vir dieselfde gemeente, is die Woord wat verkondig word die bediening van die versoening. Dit is nooit slegs die oordra van informasie/inligting oor die Evangelie nie. Nee, daar gebeur werklik iets. God laat, deur Sy Gees, die volbragte versoening in mense se skote val. Daardie versoening hoef nie éérs waar gemaak te word deur die lidmate se geloofsreaksie nie. Nee, dit is reeds waar, dáárom kan dit geglo/aanvaar/aangeneem word! Die gemeente se geloofsreaksie maak nie die versoening ‘n werklikheid nie. Dit is reeds ‘n werklikheid, dit kan daarom van harte geglo word.

Meteens verstaan ‘n mens waarom Luther die kerk ‘n “mondhuis” genoem het en nie ‘n “penhuis” nie. Vir die Reformasie was die prediking nie ‘n neutrale praatjie oor die Evangelie nie. Tewens, volgens Luther mag die gemeente glad nie saamkom, glad nie sing of bid, as die versoening nie deur die prediking uitgedeel word nie. Want, deur Woord en sakrament word die volbragte versoening aan mense toegesê. God vergewe nie die sonde op ‘n ander manier as deur die mondelinge Woord nie. Volgens Calvyn is die mond en tong van die prediker die mond en tong van Christus. Waar die evangelie gepreek word, is die uitspraak/vryspraak van God self ‘n absolute realiteit. Deur die prediking maak God die versoening die deel van die mens en drup die bloed van Christus op die gemeente. Ja, Christus word geskenk deur die prediking. Daarom is die verwerping of die nalaat van kerklike prediking ‘n saak van lewe en dood.

kruis

Hierdie kosbare waarheid het nie net bemoedigende krag vir predikante nie. Dit het ook groot implikasies vir gemeentelede wat met iets soos geloofsekerheid worstel. Indien die prediking maar net die oordra van inligting is, dan beteken dit dat die las vierkantig op die skouers van die lidmaat lê om self hierdie “informasie” te laat “werk,” te laat “geldig word” in sy/haar lewe. Die Woord “geld” dan eers wanneer die lidmaat dit “geldig maak” deur eie geloofsreaksie. God is dan die hulpelose en magtelose wat maar moet “wag” op “Koning Mens” se “besluit”!

Nou begin die onsekerheid in lidmate se lewens broei. Want, nou word hulle op hulself teruggewerp om daardie “informasie” te laat “werk”! Nou begin mense hulle sekerheid bou op die sterkte en kwaliteit van hulle keuses, hulle bekering, hulle oorgawe, hulle sondebelydenis, hulle vertroue, hulle erns, hulle toewyding. “Geloof” verkry sodoende ‘n selfskeppende (kreatiewe) karakter, want die “geloof” moet mos nou gaan voltooi wat God (darem) begin het. Sodoende word “geloof” ‘n meedoënlose slawemeester wat mense tot wanhoop en onsekerheid dryf. Dit gebeur wanneer die prediking tot die blote oordra van informasie verskraal word.

Maar, wanneer die prediking die bediening van die versoening is, kom lidmate tot rus. Dan gaan daar ‘n groot lig op. Lidmate besef meteens: “God self het my reeds perfek met Homself versoen in Christus. Ek mag dit dankbaar aanvaar. Ek mag dit glo en my tot Hom keer.” Nou lê die onus nie meer op die geloof in Christus nie, maar op Christus self. Dit alleen bring ware sekerheid en rus.