Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Pentateug onder Skrifkritiek

Totius handel in sy reeks oor Skrifkritiek ook oor die menslike outeur van die eerste vyf Bybelboeke. Hy self dink - in lyn met die eeue-lank tradisie - aan die outeurskap van Moses.   Ander gereformeerde teoloë soos prof Aalders van die Vrye Universiteit (Amsterdam) stem nie met hierdie standpunt saam nie. Hulle meen op grond van getuienisse in die boeke Genesis tot Deuteronomium dat Moses nie die skrywer van die Pentateug was nie. Hulle aanvaar wel die datering van die wette in die tyd van Moses en eerbiedig die Tora as Godsopenbaring. Totius oordeel: In hierdie meningsverskil kan en mag ek my broeder nie as Skrifkritikus brandmerk nie.  Wat is dan wel Skrifkritiek op die Pentateug? Hierdie vraag kry aandag in die artikel wat in Die Kerkblad van 16 September 1930 (nommer 679) verskyn het.

As die Skrif self duidelike uitsprake bevat aangaande die herkoms van sekere boeke of gedeeltes daarvan, dan moet ons ons onvoorwaardelik aan dié uitsprake onderwerp. Wie hom dan ook nié aan dié uitsprake wil onderwerp nie, staan nie meer op regsinnige standpunt nie maar gaan tot die terrein van die Skrifkritiek oor. Natuurlik verstaan ons hier die term Skrifkritiek in ongunstige sin, in dié sin dat deur die mens se natuurlike verstand kritiek geoefen word op die inhoud van die Skrif.

Die vier bronne-teorie🔗

Laat ons dan nou nagaan hoe op die terrein van die Skrifkritiek opgetree word teenoor die Heilige Skrif. Ons neem as voorbeeld die eerste vyf Bybelboeke.

Resultaat van die Skrifkritiek is dat in die Pentateug (5 boeke van Moses) aangeneem moet word die bestaan van selfstandige bronne, of liewers dokumente, wat later tot 'n eenheid verwerk is. As vernaamste bewys vir die bestaan van sodanige dokumente moet dan dien die afwisselende gebruik van die Godsname Jahwe (= HERE) en Elohim (= God).   Volgens die kritiek was daar aan die werk 'n Jahwis en 'n Elohis, ja, selfs twee Elohiste. Die eerste Elohis se geskrif word dan met die naam Priesterkodeks aangedui.

Daar Moses ook van Deuteronomium nie die skrywer is nie, volgens hierdie teorie, kom daar nog 'n skrywer by, die Deuteronomis. Laasgenoemde boek sou dan sogenaamd saamgestel wees om die hervorming van koning Josia te steun,  en die 'vind' van die Wetboek, waarvan die Skrif spreek, sou niks anders as 'n 'handige komedie' gewees het nie!

In hierdie doolhof sal ons die leser nie verder inlei nie. Vir ons doel is dit nie nodig nie. Alleen moet ons nog vermeld wat as 'vasstaande resultaat' van die Skrifkritiek geld ten opsigte van die jaartalle waarin die vier 'geskrifte' sou ontstaan het. Die Skrifkritiek het as resultaat hierdie volgorde aangegee: (1) Jahwis (J) omtrent 850 voor Christus; (2) Elohis (E) omtrent 750 voor Christus; (3)   Deuteronomis (D) 620 voor Christus en (4) Priesterkodeks (P) omtrent 450 voor Christus.

In plaas daarvan dat vir die wetgewing die jaar 1492 voor Christus vasgestel word, die tyd toe Israel by Sinai gelaer het, moet ons nou, volgens die Skrifkritiek, met die wetgewing verhuis na die jare 620 en 450 voor Christus!   Wat 'n sprong! En as Moses, deur genadige vergunning van die Skrifkritici, nog deel mag kry aan die saak, dan moet dit beperk word tot enkele kernpunte van die wetgewing wat op sy naam staan.

'Gematigde' Skrifkritiek🔗

Kittel, die oorlede outoriteit op hierdie gebied, 'n man van gematigde oordeel onder die Skrifkritici, sê in sy Gestalten und Gedanken in Israel dat teenoor die Christelike tradisie wat Moses aanvaar as die skrywer van die hele Pentateug, die opvatting staan dat Moses glad nie 'n wetgewer was nie! Hy gaan dan voort om sy eie gevoele kenbaar te maak en sê op bladsy 333: "Ons besit vandag drie wetboeke wat gesamentlik op Moses self teruggevoer word: die sogenaamde Bondsboek in Ex. 20:22-23:19, die Deuteronomium in die vyfde boek van Moses en die sogenoemde Priestergeskrif in die laaste gedeelte van Exodus, in Levitikus en 'n deel van Numeri. Dat hierdie pretensie nie reg is nie, het geen besondere bewys nodig nie. 'n Gans ander vraag is dit egter of sommige bestanddele van al drie, laat dit groter of geringer wees, nie op Moses self teruggevoer moet word nie. Hulle (dié bestanddele) is dan deur die volgende geslagte opgeneem, volgens hulle behoeftes omgewerk en deur toevoeginge vermeerder, totdat dié bestanddele ná eeue die vorm verkry het waarin ons hulle voor ons sien as bewonderenswaardige gedenkteken van die gees waaruit hulle gevloei het".

Die leser sien dus wat die resultaat is van die Skrifkritiek selfs in sy gematigde vorm. Net enkele 'bestanddele' van die wetgewing kan van Moses afkomstig wees. Dat egter die menigvuldige wette soos hulle vervat is in Exodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, nie deur bemiddeling van Moses tot stand gekom het nie, hoef nie eens, volgens Kittel, besonderlik bewys te word nie!

Verwerping van duidelike Skrifuitsprake🔗

Maar hiermee stel die hedendaagse Skrifkritiek hom dan ook pertinent teenoor die duidelikste uitsprake van die Heilige Skrif. Duidelik sê die Skrif: "Die HERE het met Moses gespreek en gesê" ... en dan volg telkens die wette. Laat die leser maar self nagaan hoe baiekeer hierdie formule, of iets wat daarmee gelyk staan, in die boeke Exodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium voorkom. Laat hy ook ag gee op plekke waar besonderlik die Mosaïese herkoms beklemtoon word. In Lev. 7:37-38, byvoorbeeld, lees ons: "Dit is die wet vir die brandoffer, die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer en die wydingsoffer en die dankoffer wat die HERE Moses by die berg Sinai beveel het, op die dag toe hy die kinders van Israel in die woestyn Sinai beveel het om hulle offers aan die HERE te bring".

Van sulke feite kan die Skrifkritikus alleen loskom deur te sê: My gesonde verstand of my rede of my wetenskap of my insig in die feite verhinder my om aan te neem dié uitsprake van die Skrif wat sê dat die ganse wetgewing van Israel deur die diens van Moses tot stand gekom het. Die mens se verstand of wetenskap word dus gestel teenoor die ewige en blywende Woord van God!

Reduksie van Skrifgesag🔗

Natuurlik moet die Skrifkritikus homself regverdig deur verder te sê dat die Heilige Skrif aan ons gegee is tot saligheid en nie om op onfeilbare wyse allerhande historiese of oudheidkundige besonderhede aan ons bekend te maak nie! Hierdie redenering word dan ook allerweë verneem.   En geen wonder nie. Wie eenmaal die vaste bodem van die Skrif verlaat het, moet sulke uitvlugte soek.

Intussen meen ons dat dit volkome duidelik geword het wat Skrifkritiek is. Dit is die verwerping van pertinente uitsprake van Gods Woord, om daarvoor 'n eie mening in die plek te stel. Dat op dié manier die gesag van Gods Woord ondermyn word, hoef ons nie nader aan te wys nie. En dat ons met so 'n kritiek nimmer mag saamgaan nie, is ook direk duidelik. Ons Geloofsbelydenis sê immers aangaande die Heilige Skrif: "En ons glo sonder enige twyfel alles wat daarin vervat is".

Vyandskap teen die Woord🔗

Ter wille waarvan word nou die absolute outoriteit van die Skrif opsygesit? Ter wille van 'n hipotese, 'n onderstelling. Geen mens het ooit 'n dokument gesien wat met die letters J, E, D of P aangedui kan word nie. Die bestaan daarvan is 'n onderstelling van die kritiese wetenskap, 'n onderstelling wat deur tal van feite nie gesteun word nie maar inteendeel geloënstraf word.

Dit is nie alleen uitvoerig aangewys deur ortodokse manne soos Keil, Green, Orr, Wiener e.a. nie maar ook deur manne wat self teenoor die Skrif op suiwer historiese of kritiese standpunt staan.   Wie hieromtrent nader ingelig wil wees, moet lees wat prof Aalders geskrywe het in die Evangelical Quarterly van Januarie 1930 onder die titel: "The turn of the tide in Pentateuchal criticism".   Ons verwys ook na die stukke van 'Spiro' in Die Weste, en dié van ds. JV Coetzee in Die Wagtoring.

Alhoewel die Wellhausenskool met sy splitsing van die Pentateug in J.E.D.R-bronne nog in die geleerde wêreld die heerskappy voer, is dit 'n teken van die tyd dat 'n skaar van manne uit twee teenoorgestelde kampe hulle meer en meer versit teen daardie 'bronne-splitsing'. Vandaar dat prof. Aalders spreek van 'n 'ty-kentering'. Ons kinders sal dan ook hoogs waarskynlik die verdwyning van die Wellhausenteorie aanskou en sal dan wellig die pleit moet voer teen glad ander 'onderstellinge' want die vyandskap teen die Woord van God sal nooit ophou nie. Gelukkig as hulle dan maar vashou aan die uitsprake van dié Woord!