17 bladsye.

Die Plek en Taak van Sang en Musiek in die Erediens

Waarom sing ons in die erediens, is dit net 'n gewoonte wat ewe goed nagelaat kan word, of is daar dwingende gronde daarvoor? Die tweede groot vraag is: wat sing ons in die erediens, met ander woorde wat is die inhoud van die liedere en hoe moet ons liedere beoordeel of die inhoud geskik is? Die derde vraag is: hoe sing ons? – dit gaan oor die wyse of manier van sing.

Hierdie drie vrae is al die eeue deur vir die kerk belangrik en in elke tyd moet daaroor 'n duidelike antwoord gegee word. Dit is egter veral vandag van die grootste belang om hierop duidelike antwoorde te gee omdat op elkeen van hierdie vrae 'n verskeidenheid van antwoorde gegee word en dat die kerk vanuit die beginsels hier die antwoorde moet beoordeel. Indien dit nie gedoen word nie, word die sang en musiek die dolk in die hart van die erediens en van die kerk.

Vandag is daar 'n wye spektrum van liedere wat hulle opdring aan die kerk om in die erediens gesing te word. Daar is ook allerlei argumente waarom mense dit wil sing en dan is daar ook 'n hele verskeidenheid van wyses waarop mense vandag wil speel en sing. Vanselfsprekend kom die vraag: wat is die verantwoorde en prinsipiële antwoord hierop.

Die antwoord op hierdie vraag word meer ingewikkeld omdat ons mense vandag, veral die jongmense, 'n nuwe tipe sang en musiek gereeld hoor en so ongemerk leer liefkry het en hierdie sang en musiek in die erediens wil inbring – popsang en popmusiek. Hierdie versoeke vind vanuit verskillende oorde onnadenkende voorsprake – deur die pers, maar ook deur sogenaamde geestelike leiers en deur enkele predikante. Dit word gesien as "verlig", "kontemporêr", "byderwets", "modern" en "geestelik". Diegene wat nie daarmee saamgaan nie, word afgemaak as "verkramp", "verouderd", "onevangelies" en as sonder "nuwe lewe". Sonder die nodige beoordeling, word hierdie liedere gesing en geleer. Dit word geneem uit allerlei bundels en bundeltjies dikwels van bedenklike herkoms. Die ergste is dat dit afgespeel word teen die kerk se offisiële lied.

1. Vier groot misverstande🔗

Oor die saak van wat ons sing en hoe ons dit sing, is daar veral hierdie vier groot misverstande wat ons tog eerlik onder oë moet sien:

1. 1. Die misverstand oor wat die wese van die erediens is🔗

In die erediens is dit nie die mens wat sentraal staan nie, maar die Here – en dit keer alles om. Dit gaan daarom nie oor wat vir die mens lekker of mooi is, of wat hy dink wat goed is in die eerste plek nie, maar wat die wil van die Here is; wat Hóm behaag en hoe Hý geëer kan word. Waar aan Hom die regmatige plek gegee word, kry ook die mens sy regmatige plek. By die mense wat die popsang en popmusiek so sterk stoot, staan gewoonlik nie God nie, maar die mens sentraal – die moderne mens, die opgejaagde mens, die eksistensiële mens, die geleerde mens – maar nog altyd die mens.

1. 2. Die misverstand dat mens maar ander geestelike liedere kan hê naas die kerklied🔗

Dit kom dikwels voor dat geredeneer word mense, en dan veral kinders en jongmense, kan maar allerlei ander liedere hê wat hulle by kampe, by die geestelike byeenkomste en by ander geleenthede sing en dat dit heeltemal naas die liedere vir die erediens kan bestaan. Dit is sielkundig en opvoedkundig verkeerd om aan kinders en jongmense 'n sekere soort lied te leer en tegelyk te verwag dat hulle die kerklied sal ken en sal liefhê. Wie hierdie ander liedere sing, leer die woorde en die melodie daarvan ken en word daarvoor lief, die smaak daarvoor ontwikkel, en dit ten koste van die liedere wat die kerk in die erediens sing. Indien die kerkliedere nie deur die kinders en jeug by die kategese, by kampe en geestelike byeenkomste geleer sing word nie, hoe sal hulle dit ken om in die erediens te sing? So word 'n verdeelde trou gekweek.

1. 3 Die misverstand as sou mens jou geloof en belydenis kan losmaak van wat en hoe jy sing🔗

In die lied is daar 'n sekere inhoud en die melodie onderstreep weer die inhoud. Waar hierdie inhoud nou anders is as wat die kerk bely en glo en selfs daarteen ingaan, hoe kan dit maar so gelaat word? Soos mens glo, so sing jy en as jy nou anders sing en ander dinge sing as wat jy glo, beteken dit net baie duidelik dat jy daardeur self jou geloof en belydenis ondergrawe.

1. 4. Die misverstand as sou wat ons sing en hoe ons sing geen uitwerking op ons hê nie🔗

Dikwels word gesê dit maak nie saak wat ons sing en hoe ons sing nie, dit is maar sang en dit is maar 'n onskuldige tydverdryf, ek steur my nie daaraan nie en dit sal tog nie kwaad doen nie. Juis hier is die misverstand: sang en musiek het 'n geweldige krag, dit bring 'n mens se gemoedslewe in beweging en dit beïnvloed jou baie duidelik – ten goede of ten kwade. Dit bevestig die leuen en berei die weg tot struikeling baie vinniger voor as die gesproke woord. Aan die ander kant is dit ook 'n groot krag om te versterk en op te bou as dit goed is. Dit kan dien om die geloof op te bou en die lig van die evangelie te versprei, dit kan die duisternis dien en die geloof verwoes.

2. Waarom sang in die erediens?🔗

2. 1 Nie maar willekeurig nie🔗

Dat die kerk in die erediens sing, is nie iets wat maar toevallig so is of dat dit 'n mooi gewoonte is of 'n ekstra verfraaiing of ter wille van kulturele genot of om in die smaak van sommige mense te voldoen nie – nee, daar word in die erediens gesing omdat dit 'n wesentlike deel van die erediens is. Indien daar nie gesing sou word nie, sou daar 'n wesentlike deel van die erediens ontbreek.

2. 2. Histories-Bybelse gronde🔗

Daar is eerstens die Bybelse voorbeeld van sang. Ons het die duidelike Godgewilde plek van sang in die byeenkomste van Israel in die Ou Testament, veral by die tempeldiens en later in die sinagogediens. Op baie plekke spreek die Ou Testament van die betekenis van sang om God mee te verheerlik, te dank en te smeek. Hier het ons die onvergelyklike voorbeeld van die Psalmbundel as liedboek van die Ou Testament – maar ook van die kerk.

Die Christelike kerk ontstaan te midde van die Godsdiens van Israel, waar die eerste dissipels as Jode die tempel- en sinagoge-godsdiens geken het en waar die gebruik om in die erediens te sing, bekend was. Veral die sinagogediens het sterk invloed uitgeoefen op die Christelike erediens. Verder in die Nuwe Testament het ons voorbeelde dat Jesus en sy apostels gesing het (Markus 14:26; Handelinge 16:25).

2. 3 Dankbaarheid vir die verlossing deur Jesus Christus🔗

Die diepste motivering vir die sang in die erediens kom uit die saak self, naamlik dat dit in die erediens gaan om die verlossing deur Jesus Christus. 'n Gemeente wat begryp het dat hy uit genade verlos is deur God en die ewige lewe deelagtig geword het, kan nie anders nie as om daarvan te sing. Die bron waaruit die sang opkom, is die radikale verandering deur Christus, die "nuwe skepping" (2 Korintiërs 5: 17; Galasiërs 6: 15).

Die gemeente sing ten diepste omdat hy dankbaar is vir die wonderlike verlossing. Omdat God die harte aangeraak het, daarom en daarvan sing die gemeente. Dit was dan ook vir M. Luther die teologiese fundering van die kerksang. Hy skryf in die voorwoord tot die Babstschen Gesangbuch van 1545:

God het ons hart en gemoed vrolik gemaak deur sy liewe Seun wat Hy vir ons gegee het tot verlossing van sonde, dood en duiwel. Wie dit met erns glo, kan nie nalaat nie, maar moet vrolik en met lus daarvan sing en vertel, sodat andere dit ook kan hoor en hierheen kom.

Telkens in die Ou Testament wanneer die volk van God 'n besondere ervaring het van die ingryping van God, dan klink die oproep: "Sing vir die Here 'n nuwe lied." Dit moet ewe goed geld vir die volk van die Nuwe Verbond. Die dankbaarheid vir die verlossing is nie slegs deur die enkeling nie, maar dit is die gesamentlike dankbaarheid van die hele gemeente, meer nog, van die hele kerk. Gesamentlike sang verbind sodat die gemeente deur die sang die onderlinge gemeenskap beleef: "als één man spreekt de kerk haar lof uit voor Gods aangezicht" (D. W. L. Milo).

Die inhoud van die N.T.-himnes gaan om die heil deur Christus. Dit spreek die dankbaarheid uit teenoor God vir die groot heilsdade deur Jesus Christus.

2. 4 Gesonge gebed🔗

Gebed kan gespreek of gesing word. Gebed is 'n wesentlike deel van die erediens, daarom moet ook die sang as gesonge gebed wesentlik deel wees van die erediens.

As gesonge gebed hoort die lied aan die antwoordkant van die erediens. Hierdeur antwoord die gemeente veral op wat God gespreek en gedoen het. Dit is die ego op die groot dade van God (O. Söhngen). Wanneer die gemeente sing, rig hy sy gesig tot God om Hom die lof te bring vir Sy groot heilsdade. Mooi stel H. Hasper dit "De kerk zingt. Het is de ontboeseming tegenover God van hetgeen in het hart der gemeente leeft." So het Augustinus dit ook verstaan toe hy hierdie besondere woord gespreek het: "Bis orat, qui cantat" ("hy wat sing, bid dubbeld"). By die inwyding van die kapel te Torgau sê M. Luther dat in die kerk niks anders moet geskied nie as "dat ons liewe Heer self met ons spreek deur sy Woord en ons daarna met Hom spreek deur gebed en lofsang".

2. 5 Leer en vermaan deur die lied🔗

Vir die fundering van die lied in die erediens word daar veral 'n beroep gedoen op Efesiërs 5:19:

Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here…;

en op Kolossense 3:16: "Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here."

Hoe hierdie twee tekste presies verstaan moet word, is nie seker nie. Sommige sien hierin drie soorte liedere en lê dit dan ook uit op die bekende praktyk van vandag, naamlik: psalms, gesange en hallelujas. Ander weer meen dit is verskillende name vir dieselfde saak, en hulle lê dit dan ook uit vanuit die praktyk van vandag naamlik: die psalms. Ons kan met sekerheid sê hier word die lied in sy verskeidenheid beskryf, sonder om dit nader te omskryf.

Wat ons wel kan sê is dat hier 'n opdrag is om te sing. Sowel Luther as Calvyn het hulle op hierdie twee tekste beroep as 'n grond waarom in die erediens gesing moet word.

Verder is dit gerig tot die eer en verheerliking van God. Ten nouste hiermee samehangend, is die bedoeling van die lied dat die gelowiges mekaar daardeur moet opbou, versterk en vermaan; andersyds is dit die verkondiging van die evangelie van die gelowiges teenoor mekaar en teenoor die wat buite is. Ons kan sê dit het die driedubbele betekenis van verheerliking van God, van belydenis en van verkondiging.

2. 6 Die lied versterk die betekenis van die woord🔗

Die lied is nie maar 'n werkelose iets of slegs 'n versiering nie, nee dit doen veel. Dit het 'n groot krag om die woorde wat dit dra, se betekenis te onderstreep en te versterk. Dit versterk die inhoud van dit waarvan gesing word. Daarby het dit die werking dat dit 'n mens se hart kan beweeg na dit waarvan gesing word. Dit kan aanvuur tot dank en aanbidding van God. Dit kan ook daartoe bring dat die leuen en die dwaling maklik die hart binnekom. Fyn het M. Luther dit reeds aangevoel toe hy gesê het: "Die note maak die teks lewendig" (W. A., Tischreden Nr. 2545b). Sang styg uit bo die gesproke woord: "Het is een heel bijzondere manier om iets te uiten, luider dan spreken, op hogere toon, op een melodie en dat heeft met leven, met gevoel, met vreugde te maken… De kerk is … eigenlijk een feestzaal, waar God wordt geloofd" (J. L. Klink, Ter Meerdere, 1965, 52, 53).

2.8 Die voorafskaduing van die toekomstige lied 🔗

Die Bybel en veral die boek Openbaring wys watter groot plek sang inneem in die hemelse erediens. Die verlostes en ander hemelse wesens sing op 'n besondere wyse en van 'n duidelike inhoud. Voor God se troon en op die nuwe aarde sal daar gesing word deur hulle wat nou reeds in Jesus Christus glo. Dan gaan die aardse erediens in vervulling. Indien nou in die toekomstige erediens soveel plek aan sang gegee word, moet dit minstens as net so belangrik beskou word vir die voorlopige erediens op aarde.

2. 8 Konklusie🔗

Uit wat hierbo gesê is, blyk dat die sang in die erediens inderdaad nie slegs 'n bykomstigheid of 'n ekstra versiering of 'n luukse is nie, maar wesentlik deel is van die erediens. Daar moet in die erediens gesing word, anders ontbreek 'n belangrike element daarvan. Daarby hang die sang nie maar aan een punt van die diens nie, maar moet dit sinvol inpas by die erediens inpas na inhoud, karakter, gees en vorm.

Die vraag is of dit 'n "kerklied" moet wees, met die gedagte daarby dat dit 'n gewyde, sakrale karakter moet hê. Nee, die kerklied is geen sakrale lied nie, maar 'n lied wat in alle opsigte pas by die wese en gees van die erediens.

3. Die plek van musiekinstrumente en -begeleiding in die erediens?🔗

​3.1 Nie wesentlik deel van die erediens nie🔗

Anders as die sang, is die gebruik van musiekinstrumente nie 'n wesentlike deel van die erediens nie. Die belang van musiekinstrumente vir die behoorlike begeleiding van die gemeentesang en ook om die regte stemming vir die erediens te help skep, word vir geen oomblik betwyfel nie. Die gebruik van musiekinstrumente om die regte tempo by die sang te gee en om te help sodat nuwe liedere geleer word, moet hoog waardeer word. Die gebruik van sulke musiekinstrumente is egter nie wesentlik deel van die erediens nie. Indien dit sou ontbreek, kan nie gesê word dat 'n wesentlike element van die erediens agterweë gebly het nie. Indien die krag op 'n Sondag sou af gaan sodat die orrel die sang nie kan begelei nie, dan mag dit moeilik gaan by die sing, maar dan kan ons nie sê 'n deel van die erediens het nie plaasgevind nie.

3. 2 ​Die gegewens van die geskiedenis 🔗

In die O.T. weet ons dat daar by die tempeldiens 'n ryke verskeidenheid van musiekinstrumente gebruik is – harp, siter, fluit, tamboeryn, simbaal, basuin, snaarinstrument, ens. Dit is egter onseker of dit gebruik is vir die begeleiding van die sang. In elk geval het nie die volk (die gemeente van destyds) gesing nie, maar hoofsaaklik geoefende (priester) kore. Die volk se deelname was beperk tot enkele uitroepe of refreine.

In die sinagogediens was sover ons kan vasstel die sang sonder begeleiding van musiekinstrumente. So het die eerste Christene dit ook meegemaak en self ook gesing.

In die tyd van die Reformasie tref ons die volgende beeld aan: Zwingli, hoewel hy baie musikaal was en 'n goeie stem gehad het en self sowat 'n dosyn musiekinstrumente kon bespeel en musiek gekomponeer het, was teen alle musiekinstrumente en selfs sang in die erediens. Calvyn het hom grootliks beywer vir gemeentesang en het 'n leeue-aandeel gehad in die beryming van die psalms, maar hy was teen die gebruik van musiekinstrumente in die erediens. Hierdie verset het ook vir 'n lang tyd in Nederland gegeld. Luther aan die ander kant was ten gunste van die begeleiding van sang in die eredienste deur musiekinstrumente.

3. 3 Die posisie van die orrel🔗

Ons het daaraan gewoond geraak dat die orrel by uitstek in die eredienste gebruik word vir die begeleiding van die gemeentesang. Dit word so maklik as vanselfsprekend aanvaar. Die orrel is egter nie heiliger as ander musiekinstrumente nie. Die voordeel van die orrel is dat dit 'n baie geskikte instrument is, waar mens feitlik 'n hele "orkes" ineen het en dat dit slegs deur een persoon bespeel kan word. Daarby is daar oor die eeue 'n hele skat van geskikte orrelliteratuur opgebou.

Aanvanklik was die orrel van heidense oorsprong en 'n groot deel van die beswaar daarteen was dat dit geassosieer is met die heidense kermis en ook daarmee dat dit gespeel is in die arenas waar die Christene gemartel en gedood is. Via die kloosters en via die paleiskapelle van die verskillende vorste het dit later toegang verkry tot die Roomse mis. Hier is dit nie gebruik vir die begeleiding van die gemeentesang nie, maar vir uitvoeringe en vir die begeleiding van kunssang. So met die tyd het die besware teen die orrel in die erediens afgeneem en later is dit gesien en gebruik as die instrument wat by uitnemendheid geskik is vir die begeleiding van die gemeentesang. Maar steeds moet dit gesien word as 'n instrument in diens van die sang van die gemeente en moet inpas in die hele gang van die erediens. Die belangrikste vraag van die orrelis op 'n Sondagmôre is nie:

Sal die orrelstuk die gemeente geval nie, maar, kan ek met dit wat ek speel, voor God bestaan, en is my spel 'n lofoffer waardeur God met sy gemeente kan praat.

 C. Mahrenholz

  1. Die reg van ander instrumente

Prinsipieel is daar geen beswaar teen die gebruik van ander instrumente as die orrel in die erediens nie. Daar moet egter steeds aan die volgende voorwaardes voldoen word: Die instrumente moet geskik wees vir die doel waarvoor dit gebruik word, naamlik die ondersteuning van die gemeentesang.

  • Die instrumente mag nooit heers nie, maar moet steeds in 'n dienende funksie gebruik word.
  • Die musiekinstrumente mag nie so gebruik word dat dit vermaak ("entertainment") word of dat 'n uitvoering gegee word waarna die gemeente slegs moet luister nie – dit is steeds in diens van die gemeentesang.
  • Die instrumente moet steeds sodanig gebruik word dat die musiek ondergeskik bly aan die woord en die sang.
  • Die musiekinstrumente moet kan aansluit by die menslike stem en mag nie deur sy skelheid teenoor die menslike stem te staan kom nie.
  • Die instrumente mag nie geassosieer word met by uitstek wêreldse musiek of verkeerde praktyke nie.
  • Daar moet ook die eis van goeie kwaliteitspel by die musikante gestel word en nie maar enige amateuragtige poging is goed genoeg nie.

Vandag word sterk klem gelê op die gitaar, die jazz-combo, e.a.

3.5 Die gebruik van musiekinstrumente is 'n mag van beïnvloeding🔗

Musiek is sodanig dat dit 'n groot invloed uitoefen op die stemming in die erediens en op die gees van die mens. Dit kan baie bydra om die gemeentesang te bevorder en kan baie doen om die lig te laat val op die woord. Dit kan 'n stemming skep wat pas by die verkondiging van die woord en veral kan dit veel daartoe bydra om die gemeente te bring tot aanbidding.

Musiek kan egter ook deur sy tempo, ritme en volume die hele stemming van die erediens nadelig beïnvloed. Dit kan die aandag wegtrek van God en die aanbidding van Hom en die verkondiging van sy woord, en so 'n brug vorm na die wêreld. Dit kan die lig help verander in duisternis.

Omdat musiek so 'n mag uitoefen, moet daar steeds streng toegesien word, dat dit nie sy grense oorskry in die erediens en so in plaas van 'n hulpmiddel, 'n struikelblok word nie.

4. Beginsels vir die Gereformeerde kerklied🔗

4.1 Dit moet in alles ooreenstem met die Skrif🔗

Die kerklied moet Skrifmatig wees, dit moet in alles ooreenkom met die Skrif. Meer nog, dit moet spreek van die gees en gesindheid van die Skrif. Die kerklied moet die Skrif tot inhoud hê, maar dit kan ook wees beryminge van die Skrif of vrye liedere, wat egter op geen punt mag afwyk van die Skrif nie en met die Skrif moet ooreenkom. Daarom mag nie maar enige lied in die erediens gesing word nie, maar alles moet noukeurig getoets word aan die norm van die Skrif. Meer nog, die Bybelse boodskap moet juis daardeur sterk na vore gebring word.

4.2 Dit moet gebonde wees aan die belydenis🔗

In sy belydenis druk die kerk uit wat hy glo van die Skrif en dit is die offisiële siening van die betrokke kerk. Die kerk self en die lidmate is gebonde aan die belydenis. Nou spreek dit vanself dat die kerklied in alles ook gebonde is aan die belydenis. Die kerk sou homself ondergrawe as hy 'n mooi belydenis het waaraan hy alles bind, maar by die kerklied dit laat vaar. Die kerklied mag nie die belydenis weerspreek nie; dit mag ook nie maar neutraal daarteenoor staan nie, maar moet juis positief in lyn lê daarmee en dieselfde boodskap dra.

In 'n besondere sin is die kerklied die uitstalvenster van 'n bepaalde kerk. Meer as die prediking en die belydenisskrif, openbaar dit die gees en klimaat van die kerk. Geestelike groei of agteruitgang; allerlei verskuiwinge in die teologie en vreemde aksente wat daar mag wees, word eerste in die lied gereflekteer.

4. 3 Die erediens bepaal die sang en musiek🔗

Sang en musiek is nie iets wat vreemd staan teenoor die erediens nie. Dit moet wesentlik deel daarvan wees. Meer nog, die wese van die erediens bepaal die karakter, vorm en inhoud van die sang en musiek wat hier gebruik word. Daarom wat nie pas by die wese van die erediens nie, mag nie daar gesing of gespeel word nie – al is dit nog so populêr en al hou die jeug nog soveel daarvan.

Omdat dit in die erediens om God gaan en in die erediens God sy beste gawes gee, en ook op sy beurt die mens sy beste gawes aan God bring, ja homself aan die Here oorgee, daarom moet gewaak word teen minderwaardige sang en musiek. Net die beste is goed genoeg – daar is die eis van die musikaliese "Hochwertigkeit" (C. Mahrenholz).

4. 4 ​Nie die mens nie, maar God staan sentraal 🔗

In die kerklied mag die menslike bevinding of eie streling of eie smaak nie in die middelpunt staan nie, maar die sentrale plek en eer kom steeds aan God-drieënig toe. Die kerk sing nie oor sy geloof, sy godsdienstigheid, sy bevindelikheid of sy vroomheid en waar hyself die fokuspunt is nie. In sy lied rig die kerk hom tot God deur Jesus Christus en sien hy wat hy glo en ervaar, altyd in die nouste verband met Hóm wat dit gegee het. Die kerk spreek deur sy lied met God, bely sy eie skuld en sonde voor Hom, roem grootheid en goedheid, dank Hóm vir al sy seëninge, vra en verwag van Hom al die hulp en krag, en dra die sorge en node van almal voor Hom. Al die handelinge en daarom ook elke aspek van die sang en musiek, word saamgetrek in die een brandpunt van die verheerliking van God. Dit gaan dus nie om die menslike gevoel te streel nie, maar om die "soli Deo gloria" as die één spil waarom alles draai.

Daar hoef geen vrees te bestaan vir die mens en vir sy heil en geluk as aan God die sentrale plek gegee word nie. Immers, eers waar dit gebeur, verkry die mens en sy behoeftes hulle regmatige plek. Alleen so word dit ook bewaar van eensydigheid en ontsporing.

4. 5 Sang van die gemeente🔗

Die kerklied is nie slegs saak van die enkeling of slegs van 'n groep nie. Met klem moet dit gestel word dat dit die hele gemeente en die gemeente as gemeente is wat hier optree en deelneem. Dit is een sinvolle handeling waar die gemeente aktief kan deelneem. Al die lidmate tree hier gesamentlik op kragtens die mondigheid van die gelowiges. Dit is die gemeente se reg om gesamentlik te sing en op geen manier mag hulle hierdie reg ontneem word of dit ingekort word nie. Die verskillende stemme word soos deur 'n breë stroom verenig tot 'n gemeenskaplike gebed en lofprysing.

Die koor se plek en taak: Die koor kan 'n belangrike funksie vervul in die erediens:

Om die gemeentesang te lei en te stuur,
om te help by die aanleer van nuwe liedere
om beurtsang sinvol uit te voer.

Hierin het die koor die rol om te dien, maar nooit om te heers nie. Verder is die koor deel van gemeente en moet in hierdie posisie optree, maar mag nooit in die plek van die gemeente kom nie. Oor baie eeue het die koor die gemeentesang in die erediens verdring. Hoewel Luther dit sterk beklemtoon het dat die gemeente moet sing, het hy ook aan die koor 'n prominente plek gegee en dit het daartoe gelei dat die koor weer geleidelik die gemeentesang verdring het. Veral moet daarteen gewaak word dat die koor die gemeente trakteer. Dikwels word van die kansel aangekondig: "die koor sal nou vir ons sing", of "die koor sal nou 'n item lewer". Dit maak die gemeente passief.

Die sang deur 'n koor of deur groepe word des te meer bedenklik waar hulle ander liedere sing as wat kerklik goedgekeur is of nie rekening hou met die wese van die erediens nie, en dit op 'n wêreldse wyse sing.

Die optrede van solosang in die erediens is daarom des te meer aanvegbaar. Dit maak van die aktiewe gemeente 'n gehoor en die solosang word vermaak – "entertainment". Verder tree die gemeente op die agtergrond teenoor die virtuositeit van die kunstenaars. Solo's, duette, trio's en kwartette moet beperk word tot 'n onderdeel van die koor of as responsie of as beurtsang.

4.6 Geen kunslied nie, maar volkslied🔗

Daar gaan groot bekoring uit van die kunslied. Die estetiese betekenis daarvan kan nie ontken word nie. Die kunslied is egter nie geskik vir die erediens nie. Eerstens gaan dit hierin om die estetiese smaak en nie soseer om dit wat die wese van die erediens is nie. Dit trek ook die aandag af van die woord. Daarby lei dit noodgedwonge tot die uitsluiting van die gemeente want dit kan alleen deur 'n uitgesoekte koor en deur geoefende stemme geskied. Die melodie moet singbaar wees vir die mense van ons tyd. Dit mag nie te groot spronge hê nie.

Die kerklied moet steeds die karakter hê van die volkslied en sang. Dit moet sodanig wees dat dit deur die gewone "volk", die gemeente gesing kan word. Daarom mag die kerklied nie ingewikkeld wees nie, maar dit moet eenvoudig wees. Dit mag nie onverstaanbaar wees nie, maar moet duidelik wees. Dit mag nie gekunsteld wees nie, maar moet eg en waar wees. Aan die ander kant mag dit ook nie oppervlakkig of wêrelds wees nie, maar moet die karakter van verhewe eenvoud hê. Die lied moet musikaal goed wees, sonder om ingewikkeld te wees, sodat slegs mense met musikaal ontwikkelde smaak dit kan waardeer. Musikaal goed bedoel egter nie slegs een bepaalde musiekstyl nie.

4.6 ​Geen meerstemmigheid nie, maar eenstemmig 🔗

Niemand kan die skoonheid van 'n mooi lied wat in stemme gesing word, betwyfel nie. Vir die erediens is dit egter nie geskik nie omdat dit buite die vermoë van die gemeente is om dit te sing en dat dit vanselfsprekend die gemeente uitsluit.

Calvyn was uitgesproke teen die gebruik van polifone sang in die gemeente. Juis oor hierdie punt het hy en Louis Bourgeois stry gekry en het laasgenoemde uit Genève vertrek. Calvyn was tereg besorg daaroor dat die meerstemmige kunsmusiek die gemeente sou uitsluit, en die wesentlike verkeer van die gemeente met God sou verstik – soos wat dit inderdaad in die Roomse Kerk die geval was.

Daarom moet die sang in die gemeente eenstemmig wees sodat die hele gemeente daaraan kan deelneem. Waar mense dit meerstemmig sou kon sing, soos in die jong kerke, verander dit die saak.

4. 8 Die liedvorm/himne🔗

Vir baie eeue was die enigste sangvorm in die kerk die sogenaamde Gregoriaans. Dit is waar onberymd gesing word en die teks soos dit staan gesing word. Dit is egter ingewikkeld en kan baie moeilik deur die gemeente gesing word. Om daaraan reg te laat geskied is geoefende persone en geoefende kore nodig. Hierdie sangwyse kan baie mooi wees. Vandag is daar weer die neiging om 'n prosateks en prosarym te gebruik. Ook dit is mooi, maar moeilik en sluit noodgedwonge die gemeente van deelname daaraan uit.

'n Sangwyse waar die teks berymd is en wat ingedeel is in 'n aantal strofes waarin die melodie herhaal word, het veel meer voordele. Dit is meer geskik vir gemeentesang en kan gesien word as 'n vereiste vir 'n goeie kerklied.

Die aantal strofes van die liedere moet sodanig wees dat dit moontlik sal wees om die lied in sy geheel te sing. Daardeur kom die boodskap van die lied tot sy reg.

4. 9 Eenheid van teks en melodie🔗

Juis omdat die teks 'n bepaalde boodskap dra, moet die melodie daarby pas en dit onderstreep. Die lied kan verskillende aksente hê, soos lof aan God, skuldbelydenis, smeekbede; dit kan sien op die lyding van Christus, op sy opstanding, ens. 'n Loflied kan nie op 'n treurige wyse gesing word nie en 'n skuldbelydenis ook nie op 'n vrolike lofwyse nie. Die onderskeie aspekte van die lied in die erediens bring mee dat dit ten nouste sal ooreenkom met die wyse waarop dit gesing word.

4. 10 Die woord- en toonaksente moet ooreenkom — prosodie🔗

Die taalaksente moet in die melodiese figure hulle weergawe vind. Dit kom in die eerste plek uit in die ritme: die reëlmatige aksent in die melodie verkry die hoofaksent. In die tweede plek tel die tydsduur van die note mee: die hoofaksente val by voorkeur op 'n langer noot. Ten slotte speel die toonhoogte 'n rol: die hoër note trek meer die aandag as die laer note en is daarom meer geskik om 'n aksent van die teks te dra (Milo).

4. 11 Die musiek moet dienend wees🔗

Die musiek mag nooit op die voorgrond staan by die kerklied nie.

Dit moet steeds terug tree sodat die aksent op die woorde val. Die woorde moet hoorbaar en duidelik wees. Die musiek het steeds ten opsigte van die woorde in die kerklied, 'n dienende karakter. Die melodie moet 'n waardige en troue draer en vertolker van die woordinhoud van die kerklied wees. Die musiek moet dienend, heenwysend en steunend wees. In die lied moet die woord wat dit dra, spreek dat die evangelie aan die woord kom.

Verder gaan dit nooit in die erediens om die kuns ter wille van die kuns nie, of om die skoonheid as sodanig nie – die estetisisme. Die sang en musiek moet steeds in diens staan van die koninkryk van God. Skoonheid is ook hier belangrik, maar dit gaan nie om die skoonheid as sodanig nie.

4. 12 'n Waardige styl as eis🔗

Die ritme en tempo moet pas by die wese van die erediens. Daarom moet alle luidrugtigheid en onstuimigheid, alle wildheid van tempo, alle buitensporige ritme, ekstreme sinkopasie en alle onnodige oorverdowende klanksterkte geweer word. Calvyn het as vereiste van styl gestel:

poids et majesté – waardig en statig, en
sainct et pure – heilig en suiwer.

'n Waardige styl is iets anders as dat dit styf, langsaam en doods sou wees. Dit moet 'n ritme hê wat pas by die inhoud van die lied en wat aan die gemeentesang die vitaliteit gee. Die lied moet steeds 'n goeie tempo hê. Die melodie moet sodanig wees dat dit lewensvatbaar en duursaam is. Dit moet nie 'n toevallige of verbygaande melodie, of 'n verbygaande modegril wees nie. 'n Slegte melodie laat nie reg geskied aan die doel van die lied nie.

4. 13 Die geskiedenis en die hede🔗

Die beste uit die geskiedenis moet gesoek en gebruik word. Nie maar omdat iets oud is, is dit goed en geskik vir die erediens nie. Dit wat in die kerklied werklik goed is, mag nie somaar weggegooi word net omdat dit oud is nie. Daarby moet die liedere wat uit die verlede geneem en gebruik word, in die hede vertolk word.

Aan die ander kant moet steeds gesoek word na geskikte, eietydse liedere. Ook hier weer is iets nie goed en mooi net omdat dit nuut en modern is nie. Ook die eietydse liedere moet streng getoets en gekeur word om aan die vereistes te beantwoord. Rekening moet gehou word met die feit dat mense vandag anders sing – nie meer so rustig en rond nie, maar meer onstuimig en ru.

4.14 Aanbidding en verkondiging🔗

Primêr moet die kerklied gerig wees op God en moet gesonge gebed wees en dit in die verskillende fasette daarvan, naamlik as aanbidding, lofverheffing, danksegging, verootmoediging, voorbidding. Ons sou kon sê hier oorweeg die priesterlike taak – die offer van die lippe en van alles aan God.

Die kerklied kan egter ook 'n verkondigende karakter hê. Die groot dade van God wat in die kerklied besing word, is tegelyk 'n verkondiging van hierdie heil. Dit laat hierdie heil uitstraal na andere. Ons sou kon sê hier oorweeg die profetiese taak. Mooi het Luther hierdie dubbele taak van die gemeentesang raakgesien en saamgevat toe hy in die voorwoord tot die begrafnisliedere van 1542 geskryf het:

Dat Hy geloof en geëer moet word, ons egter deur sy heilige Woord met soete gesang in die hart getref, verbeter en gesterk moet word in die geloof.

W.A. Bd. 35, 480

1. 15 Die oorneem van wêreldse liedere🔗

Die vraag word vandag dikwels gestel waarom nie maar allerlei wêreldse liedere of melodieë oorgeneem kan word vir die erediens nie. Dan word graag verwys na die volk Israel en ook na die tyd van die Reformasie.

In die Ou Testament was die posisie anders as vandag, want toe was "kerk" en "volk" dieselfde. Die lied by die tempel het grootliks ooreengekom met die lied wat elders gesing word.

In die laat Middeleeue en in die tyd van die Reformasie, kry ons 'n byna soortgelyke posisie. Toe het die eenheidskultuur van die kultuurchristendom gegeld, die sogenaamde corpus Christianum. Dit het meegebring dat daar nie 'n groot verskil was tussen die liedvorm en liedinhoud in die kerk en buite die kerk nie. In die tyd was daar die sogenaamde volkslied.

So het ons die verskynsel gekry dat kerkliedere op wêreldse wyse gesing is, en wêreldse liedere net van ander woorde voorsien is en dan in die kerk gesing is – die sogenaamde kontrafakte. Luther het geen beswaar daarin gesien om selfs waar die "duiwel op 'n keer 'n bose teks met 'n goeie melodie versier het om die teks smaakliker te maak, die goeie melodie van die duiwel af te neem nie en dit met 'n teks wat vir God aangenaam is, te verbind nie". Oral is daar berymings van die Psalms gemaak, nie vir gebruik in die kerk nie, maar buite die kerk. So het byvoorbeeld Clément Marot, wat 'n humanistiese satiredigter was, 'n aantal Psalms berym. 'n Ander voorbeeld is die sogenaamde Souterliedekens wat toegeskryf word aan Willem van Zuylen van Nyeveldt, 1540, wat bedoel was vir privaat gebruik.

In die negentiende eeu is die band tussen die kerklike en wêreldlike musiek losgelaat. Die wêreldlike musiek het in eie bane ontwikkel, en veral die inhoud daarvan het heeltemal weg beweeg van dié van die kerk.

Waar 'n lied vandag vir die erediens oorweeg word, moet die inhoud eers deeglik aan die Skrif en belydenis getoets word, en seker gemaak word dat dit pas by die wese van die erediens. Daarna moet vasgestel word of die melodie pas by die inhoud en bedoeling met die lied. 'n Wilde tempo en 'n beatritme byvoorbeeld het die teenoorgestelde werking as bedoeling van die lied bestem vir die erediens. Daar moet verder ook gelet word op allerlei assosiasies wat met die lied gepaard gaan, byvoorbeeld of dit spreek van 'n lewe wat vreemd staan aan die erediens, soos die dans en die konsert. Ten slotte of die lied vandag nog in die wêreldse assosiasie gebruik word en bekend is.

4.16 Lewende sang — maar wat geleer moet word🔗

Die lied in die erediens moet lewend wees. Dit moet leef in die hart van die gelowiges en in die gemeente. Dit waaroor en waarvan gesing word, moet geglo en beleef word. Die Gees dring tot die sang; dit gaan deur die hart wat aangeraak en vervul is van die groot genade van die Here; dit geskied met 'n mond wat sing waarvan die hart vol moet wees. Die sang moet hartlik en lewend wees. Lewendigheid is egter iets anders as plesierigheid, menslike emosie is iets anders as die lewe wat deur God aangesteek is en uit Hom vloei en tot Hom gerig is. Daarom moet "lekker sing" nie verwar word met "goed sing" nie. Pragtig stel Beethoven dit in die Kyrie in sy Mis in D: "Vanuit die hart het dit gekom, mag dit weer die hart bereik."

Tog moet alle sang en alle liedere, ook die lewende liedere, aangeleer word. Dit is iets wat vergeet word deur diegene wat teen die kerklied is en pleit vir die sing van popliedere – asof lg. gesing kan word sonder om dit te leer! Die inhoud van elke lied en die melodie moet geleer word. Slegs onkruid word vanself en sonder sorg voortgeplant! Onbekend maak onbemind – dit geld besonderlik hier. Verder moet die verkeerde smaak reggestel word – dit is die negatiewe taak; die regte smaak vir die egte en ware lied moet aangekweek word – dit is die positiewe taak. Alles wat die aandag aftrek van wat God gespreek het, van die wesentlike dinge, moet geweer word. Alles wat meewerk dat die erediens tot God se grootste lof en eer en tot ons grootste heil, geskied – moet ingeskakel word.

Ons het steeds die groot opvoedende taak om die kerklied te leer en dit so te gebruik dat dit vir mense van ons tyd, veral vir die jeug, 'n besondere betekenis kry.

5. Popsang en popmusiek🔗

5.1 Wat is popsang en popmusiek?🔗

Baie mense gryp na popsang en popmusiek omdat mense vandag in 'n ander gemeenskap met ander vrae lewe.

Ander doen dit omdat die teologiese inhoud van die erediens en kerklied plek gemaak het vir 'n verwêreldlikte siening van alles. Daar is "'n radikale toekering na die wêreld" (Watkinson).

Ons gebruik die woord popsang en -musiek om 'n moderne liedvorm en musiekstyl mee aan te dui. Dit is eintlik die verkorting van 'n versamelnaam: populêre musiek. Hiermee word 'n hele geskakeerdheid van sangvorms aangedui: die indiwidualistiese, meer verfynde "folk-singing"; die sentimentele of erotiese treffer; die meer prikkelende rock; en die volskaalse psigedeliese en geesvernietigende musiek, die sg. "soulrockers". Die grense is vloeibaar en die rock is steeds besig om te verander en steeds nuwe variasies kom na vore. Vandag sien popsang en popmusiek op enige woordeskat en op enige wyse van uitdrukking.

5.2 Die herkoms van popsang en popmusiek🔗

Die twintiger jare was die tyd van die "jazz". Basies het die rock ontwikkel uit verskillende vorms van swart/negermusiek wat ooreenkom met die "blues". Die blues het bestaan as 'n sekulêre vorm van evangelie-musiek. Gedurende die depressie van 1930 het die klassieke blue-sangers en jazzmusikante verdwyn. Gedurende die 1940's en 1950's was die "rhythm and blues" die dominerende vorm van swart populêre musiek. Gedurende 1960 kom die "rock-and-roll" op die toneel. Dit was 'n kommersiële populêre musiek wat saamgestel is uit die ritme en blues, "country" — en "westem" musiek en standaardpopballades. Rock-en-roll-musiek was basies 'n dansmusiek, en die klem het verskuif van die ritme na die blues. Nog verder terug, kan ons die wortels van die rock vind in die musiek van Afrika. Daar is ook Oosterse invloede. Die verskillende sangers en popgroepe het die rock steeds in verskillende rigtings beïnvloed. Die invloed van die neger- of Afrikaanse tradisie kom veral uit in die stuwing van die slagwerk. Dit is gebaseer op demonie en beswering. Die Oosterse of Asiatiese tradisie is gebaseer op die geloof in die eie goddelikheid en word verkry deur vorme van selfhipnose en bewussynsverruiming.

5.3 Die karakteristieke van rock🔗

By al die verskillende aksente van rock is daar een karaktertrek wat soos rooi draad deur alles loop, naamlik die "beat"-ritme.

Die rock kan uitgeken word aan hierdie vinnige, kloppende, polsende, onafgebroke, ritmiese beat. Hier juis lê sy meesleurende krag. Saam met die beatkarakter, word die rock gekenmerk deur die sinkopasie wat al die elemente in die lied oorheers, sodat dit veral die sinnelike vlak van die mens raak. Op hierdie vlak veral vind die kommunikasie plaas en dit verklaar waarom dit 'n hele gehoor so kan betower en meesleur — "turn on".

Verder is dit die aard van rock dat dit nie so na die mens kom dat hy dit krities kan aanhoor en verwerk nie. Nee, dit gaan steeds gepaard met oorverdowende klankversterking en dit kom met so 'n aanslag op die gehoor af, dat dit die gehoor geestelik ontwapen, dat dit die emosies in beweging bring. Hierdie musiek druk alle weerstand weg en sleur die mense mee in die vloedgolf van emosie.

Dit is daarom begryplik dat rockmusiek 'n geweldige invloed ten kwade het op die gees van die mens. Die invloed ten kwade raak ook die liggaam: dit verhoog die hartklop, die bloeddruk, dit beïnvloed die asemhaling, die senugestel en die ander funksies van die liggaam.

5.4 Die kenmerke van die inhoud van die popsang — die liriek🔗

Behalwe dat gereken moet word met die musiek van pop/rock, kom ook die inhoud van die liedere ter sprake – die liriek. Sien 'n mens verby die oppervlakkige, amateuragtige en tydelike aard van hierdie "gedigte" of liriek, kom ons by die eintlike saak, naamlik by die inhoud daarvan. Daar is geen onderwerp verbode in die inhoud nie. Dit gaan oor elke lewensgebied, dus ook oor die belydenis en geloofslewe. Oor al hierdie sake word gespreek en gesing vanuit die standpunt van die ongeloof. Ons kan die onderwerpe waaroor dit gaan in vier groot hoofgroepe verdeel:

Godsdiens. Telkens weer kom dit in die tekste van die liedere voor dat gehandel word oor die godsdiens. Een sterk tendens is om met die godsdiens te spot, dit te verag, om die haat daarteen uit te spreek en om te laster. 'n Ander tendens is eintlik gevaarliker, naamlik waar die godsdiens en die naam van Jesus ingespan word vir groter invloed en om die jongmense te vang, sonder dat werklik gebuig word voor Jesus – die sogenaamde "Jesus rock".

Seks. Elke faset van die seksuele lewe kom gereeld aan die orde. Dit word nie gesien in die lig van die Bybel en dat dit in verband gebring word met ons geloofslewe en met die huwelik nie. Nee, dit gaan om die seksuele as sodanig, om die bekoring daarvan, om die propagering van al die vorms daarvan en die vryheid om daarmee te eksperimenteer. Seksuele vryhede word gepropageer en allerlei wilde begeertes word gewek. Die versiering van die plate-albums en die lewe en voorbeeld van die sangers en musici versterk hierdie siening van seksuele vryhede.

Dwelm-kultuur. Die hele spektrum van die dwelm-kultuur kom in die liedere ter sprake. Soms word slegs daarna verwys, ander kere word dit direk gepropageer en as die wonderlike bevryding voorgehou. Die kritiek by die jeug teen die gevaar van hierdie dwelmmiddele word sistematies weggevee.

Rewolusie en opstand. Die houding teenoor die godsdiens, seks en dwelmkultuur openbaar reeds die gees van opstand en rewolusie in die popliedere. Hierdie gees van opstand en rewolusie word verder deurgetrek na elke aspek van die bestaande orde, die staat, die samelewing, die opvoeding, die kerk en die Bybel. Die linkse politiek, met anargie, verwerping van demokrasie en 'n ateïstiese gees, word dikwels aangetref.

5.5 Popsang en popmusiek in die erediens?🔗

5.5.1 ​Eers onderskei🔗

Uit wat hierbo gesê is, behoef dit geen verdere redenering dat die eintlike rock, wat 'n groot deel vorm van die popsang en popmusiek, na musiek en inhoud glad nie in die erediens pas nie. Daar is wel kerke en groepe – hier en in die buiteland – wat eenvoudig die treffers wat deur die radio en ander instansies aangewys word, net so in die erediens gebruik. Waar dit gedoen word, heers nie meer die Bybelse beeld van die erediens nie.

Die vraag kom nou oor die gebruik van die ligter popliedjies, dikwels die sentimentele treffers en die sogenaamde geestelike pop, in die erediens. Hier moet ons altyd eerlik en billik wees. Nie alle popliedere en -musiek is sleg nie. Dit moet egter baie streng getoets en gekeur word, sodat slegs die weinige koringkorrels tussen die hoop kaf uitgesif word. Indien daar 'n lied is wat na inhoud en melodie pas by die wese van die erediens, dan mag net dit gebruik word en nie maar die deur sonder meer oopgemaak word nie. In 1960 het die Evangeliese Akademie van Tutzing in Duitsland bv. 'n prysvraag uitgeskryf vir nuwe geestelike liedere met die oog op die gebruik in die erediens. Daar is 500 inskrywings ontvang, maar daar was geen nuwe melodie waaraan 'n prys toegeken kon word nie. Jongmense het aan die beoordeling deelgeneem. Later is verdere prysvrae uitgeskryf en toe was die oes aan goeie liedere beter.

5.5.2 Popsang is poëties minderwaardig🔗

In die lied wat die kerk sing gaan dit eerstens om die woorde en die diepe betekenis wat dit dra. By die popsang kry ons selde iets wat poëties waardevol is. Dit is veel meer liriek, allerlei herhalings en clichés en dikwels niksseggende rymelary of aaneenryg van woorde sonder sin en betekenis. Dan praat ons nog nie van die verkeerde inhoud nie. Nee, die lied wat in die erediens toegelaat word moet deur sy segskrag en kwaliteit van woord, die boodskap wat dit dra, ondersteun.

5.5.3 Die angel van die musiek🔗

Die angel van popmusiek is, soos gesien, die beatritme. Hier lê die besondere krag en bedwelming van hierdie soort musiek. Selfs by die ligter vorms van popmusiek, ontbreek hierdie beatritme nie. Dit is hierdie beatritme wat ander emosies en indrukke opwek as wat by die aanbidding van God in die erediens na vore kom.

5.5.4 Die vorm ten koste van die inhoud🔗

Soos ons gesien het, moet in die kerklied die woorde voorop staan en dat die musiek dienend is. By die popsang is die orde omgekeer. Hier val die klem só op die vorm en die musiek dat die woorde op die agtergrond kom staan. Die woorde is ondergeskik aan die melodie en musiek. Watkinson praat van 'n "melodisch mageren Substanz" van die meeste van hierdie liedere.

5.5.5 Die teologiese inhoud van die geestelike popsang🔗

Ons het daarop gewys dat die godsdiens gereeld in die popsang ter sprake kom, maar dan sodanig dat dit juis die godsdiens afkraak of in 'n verkeerde lig voorstel. Dit is nie altyd so maklik om presies agter te kom wat die betekenis van die liedere se woorde is nie. Daar word liedere op die mark geplaas waar die godsdienstige insigte heeltemal anders is as die van die Bybel – die sogenaamde geestelike popmusiek. Hier is die misleiding baie subtieler. Die Bybelse belydenis vervlugtig al meer, dit word "Progression, nicht Konfession" (K.C. Thust). Dit gaan in die godsdiens om die "lewe", die aardse lewe.

Die kerk in sy organisasie en tradisie word dikwels in hierdie liedere bevraagteken. Liedere vir die erediens en vir die kerklike jaar soek mens daar tevergeefs. Selde is daar liedere met Bybelse verwysings. Die klem het verskuif van God en sy Woord na die mens en sy verlangens. Dit is altyd die mens wat so eensaam is en die eensaamheid word volgens die liedere oorwin nie waar God bykom nie, maar waar iemand van die teenoorgestelde geslag bykom. M. Miller tipeer hierdie liedere as "simple, sexy and sad". In die uitsprake oor God word oor Hom gespreek as die verborge God en nie soos die Bybel van Hom spreek as die God wat Homself geopenbaar het en steeds weer openbaar nie. Die lof en verheerliking van God ontbreek opvallend in die popliedere.

5.5.6 ​Geen gemeentelied nie 🔗

Nog 'n ernstige beswaar teen die gebruik van die geestelike popsang in die erediens, is dat dit nie gemeenteliedere is nie. Elke kerklied moet sodanig wees dat die gemeente dit moet kan sing. Daar word wel voorgegee dat die popliedere vir die mense bedoel is, maar dit is in feite sodanig dat dit nie deur die gemeente gesing kan word nie. Die trefferliedjies is nie groeplied nie, maar sololied. Dit bedoel nie dat die gemeente self deelneem nie, maar dat hulle na hierdie liedere sal luister. Dit word gebruiksmusiek, "konsummusiek" of vermaaklikheidsmusiek.

5.5.7 Die kortstondige lewe van popliedere🔗

Popliedere spring soos paddastoele op, maar sterf net so gou weer. Ons kan sê dit is "eendagsliedere" of "eendagsvlieë". Dit word onstuimig gesing, maar die jongmense raak net so gou weer moeg daarvoor. Dit is kennelik omdat dit geen diepgang of ware segskrag het nie. Dit prikkel slegs vir 'n tydjie en dan stomp die prikkel af. Ons sien dit hoedat daar feitlik elke week nuwe "gunstelinge" kom – en weer gaan. Geen kerk kan vir die lied in sy erediens bou op liedere wat so 'n kortstondige lewe het en so oppervlakkig is nie.

5.5.8 Popsang bevredig nie die jeug nie🔗

In 1952 is die eerste jazz-diens te London gehou. In 1956 is die eerste jazz-diens in Duitsland gehou. In dieselfde jaar is op die Kirchentag te Frankfurt die "Halleluja-Billy" opgevoer. Sedert 1960 is die Negro-spirituals vir die gemeente in Nederlands en ook in Duits vertaal. Oral in Europa het jazz-groepe ontstaan en op verskillende plekke is jazz-dienste en jazz-misse gehou. Sedert 1960 is in Duitsland en sedert 1962 is in Engeland op groot skaal met popsang en beatmusiek in die eredienste geëksperimenteer. Die bedoeling was om daarmee die jeug te bereik. Wat wel gebeur het, was dat dit die kerkmense uit die eredienste weggedryf het en dat die jeug self hierdie soort sang en musiek verwerp het. Hulle self het gou daarvoor moeg geword. Dit het nie gelei tot 'n nuwe wyse van sang en tot 'n vernuwing van die erediens nie – juis die teendeel, tot die verdere versnelling van die ontbinding van die erediens.

5.6 Popsang en beatmusiek as lokmiddel🔗

Dikwels word die argument gebruik dat die kerk popsang en -musiek moet aanwend om die kerkvervreemdes en die jongmense wat hierdie sang en musiek ken, aan te lok na die kerk en na die eredienste. Dit is gepropageer as 'n evangelisasiemiddel. So skryf Carola Eckert byvoorbeeld: "As mens die jeug na die kerk wil trek, dan moet jazz en moderne liedere ingevoer word."

Dit is egter baie verkeerd om so te redeneer. Eerstens is dit nie eerlik nie. Mense word iets voorgehou om hulle te win vir die kerk, maar hierdie lied keur die kerk self nie goed nie en gebruik dit nie self of ag dit wenslik nie. Tweedens stel dit mense teleur, want hulle kom met die verwagting om hierdie sang en musiek in die erediens aan te tref, maar vind dan dat die kerk ander liedere sing. Verder leer hulle liedere en musiek liefkry, terwyl die kerk sy belydenis in iets anders uitdruk en hulle weer hierdie sang en musiek moet afleer. Dit is beter om van die begin af die regte liedere aan te leer. Dit is verkeerd om 'n verkeerde middel te gebruik om mense na die erediens aan te trek, terwyl die enigste aantrekkingskrag van die kerk en die eredienste Jesus Christus en Hy as die gekruisigde is. Dit gaan hier nie om die ou mens met sy begeertes te handhaaf nie, maar dat hierdie mens hom moet bekeer en hom buig voor Jesus Christus. Kan 'n mens nou 'n middel gebruik om iemand van die duisternis te lei na die lig, waar die middel in werklikheid die duisternis propageer en die lig aanveg? So sou die kerk homself weerspreek.

Daar moet verder op gelet word dat kerke en sektegroepe wat popsang en popmusiek in die eredienste gebruik, 'n ander belydenis en leer het as die kerk. Waar die kerk nou hierdie liedere sou laat sing, beteken dit nie om die vervreemde vir die kerk te win nie, maar dat die lied en die musiek die brug word wat die mense uit die kerk na die sektegroepe en na die wêreld weglei.

5.7 Ontgifting van popsang en popmusiek🔗

Van 'n ander kant kom die welnemende gedagte dat ons die melodie, die ritme en die musiek van die popliedere behou, maar slegs die woorde verander. Dat op hierdie wyse die popmusiek "ontgif" moet word en die gif word slegs in die woorde gesien.

Dit is egter 'n verkeerde argumentasie. Immers, die beswaar teen popmusiek gaan, soos reeds gesien, nie slegs teen die woorde nie, maar veral teen die musiek, die kenmerkende beatritme. Daarby is gevind dat as die beatelement uit popmusiek geneem word, dit sy betekenis verloor. Hy verloor daarmee sy eie karakter. Verder vorm die woorde en melodie 'n eenheid en mens kan nie die een verander sonder dat die ander daardeur geraak word nie. Een van die groepe van die "Jesus People", die sg. "Children of God", het byvoorbeeld 'n lied van die Beatles geneem "Lucy in the sky with diamonds" en die woorde verander na "Jesus in the sky with angels", maar die beatmusiek net so behou. Dit is eintlik 'n groot fiasko.

By hierdie argument word dikwels 'n beroep gedoen op die hervormer J. Calvyn. Hy sou dan gewone volks- en straatliedjies gebruik het vir die Psalms wat hy laat berym het. Dit berus egter op 'n misverstand wat sy oorsprong het by O. Douen wat hierdie bewering gemaak het – iemand wat die Reformasie gehaat het. Sy standpunt is egter weerlê deur kenners soos E. Haein en P. Pidoux in deeglike ondersoeke. Hulle het gevind dat die Geneefse melodieë nie kom van die straat- en volksliedere in die tyd van Calvyn nie, maar gewortel is in die voor-reformatoriese kerkmelodieë, veral die graduaal-lied. Daarby het die berymers van die Psalms, Louis Bourgeois en Maître Pierre, die wysies wat hulle aangetref het, nuut omskep en geskep. Op die eenheid tussen kerk en wêreld is reeds vroeër gelet.

6. Die geweldige krag van sang en musiek🔗

Verkeerde musiek en sang is nie maar 'n onskuldige saak nie. Dit eindig nie maar by die vryblywende aanhoor daarvan nie. Dit is 'n mag van beïnvloeding van die mens. Dwaling en misleiding gaan veel verder en die verwoesting is veel groter as deur die gesproke woord. Dit laat die halwe waarheid en die leuen baie makliker in die gemoedslewe ingly. Die mag ter beïnvloeding ten kwade word deeglik deur die bose besef en beoefen – met groot welslae. Dit het die ketter Arius uit die Vroeë Kerk besef toe hy die lied gebruik het om sy dwalings daarmee te versprei. Dit het die groot hervormer Johannes Calvyn besef toe hy in die sestiende eeu oor die gevare van verkeerde musiek gewaarsku het: "Dit is waar, dat elke slegte woord, soos Paulus sê, goeie sedes bederf. Maar as die melodie bykom dan dring dit nog veel dieper in die hart en gaan in, soos deur 'n tregter die wyn in 'n houer gegooi word. Ja, die gif en die verderf word in die innerste van die siel ingedrup deur die melodie." Dit het die hervormer van Konstanz, Johannes Zwick, besef toe hy heel gepas soos volg geskryf het: "…'n Verkeerde vleeslike gemeenskaplike lied maak die hart nie van nuuts af vleeslik en onrein nie, maar dit laat die bose vlees en die onreinheid na vore kom… Die wyn lê in die vat op die afsaksel (moer) maar is tog helder. As mens egter die vat skud, word alles troebel." Hoeveel te meer moet dit alles nie ons oë open nie vir die gevaar van verkeerde sang en musiek waar ons vandag beskik oor kragtige klankversterkers en ander tegniese hulpmiddels.

Aan die ander kant is dit so waar dat sang en musiek die betekenis van die woord ten goede bevorder en die waarhede van die evangelie vinniger in die gemoed indra en help om die mens te bring tot die aanbidding en lof van God. Dit geskied veral waar die gemeente besield en lewendig sing, en waar die lied deur sy eenvoud en duidelikheid en groot segkrag spreek van die groot dade van God. "Om te sing, versamel" (O. Söhngen), "lei na mekaar toe, verbind, eis die gemeenskap op" (B. Bergmann). Om te sing "beweeg, beleef, verfris, steek aan, bevleuel" (K. C. Thust). Luther teken die groot krag van musiek: "Want niks op aarde is kragtiger om treurendes op te vrolik, die vrolikes treurig te maak, die moedeloses nuwe krag in die hart te gee, die hoogmoediges tot deemoed te bring, die onstuimige en oormatige liefde te stil en te demp, die nyd en haat te verminder nie…" Verder sê hy dat "'n geestelike wat nie kan sing nie, nie 'n volledige geestelike is nie" (clericus qui non cantat, non est clericus completus). Vir 'n onderwyser stel Luther dit nog skerper: "'n Skoolmeester moet kan sing, anders kyk ek nie na hom nie" (Tischreden 968). So vroeg as in 1537 skryf Calvyn reeds "Ons weet uit ervaring, dat as ons meer krag en vuur wil lê in ons gebed, hetsy ons God aanroep of Hom loof, die gesang 'n kragtige middel is om ons harte te ontroer of in gloed te laat ontsteek" (Articles concernant l'organisation de l'eglise et du culte à Genève, 16 Jan. 1537).

Wie sal ooit die krag en betekenis kan peil van die lewende kerklied wat deur die gemeente as geheel uit volle bors gesing word! Dit is soos 'n magtige stroom wat besiel, dit is 'n krag wat opbou en versterk, dit is die vleuels wat ons gees dra na God. Van die liedere van Ambrosius, Luther en Wesley het groter invloed uitgegaan as van hulle preke en van dié van baie van hulle tydgenote.

Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!

Psalm 103:1

Literatuurlys🔗

Albrecht, C., Einflihrung in die Hymnologie, s.j.

Barnard, W., Schriftgezang, in: Jaarboek voor de eredienst, 1959.

Beatles Lyrics, The, 1977.

Blarr, O. G., Das gemeinsames singen der ganzen Gemeinde, in: Das miss. Wort, 6, 1977.

Blankenberg, W., Der gottesdienstliche Liedgesang der Gemeinde, in: Leiturgia, IV, 1961.

Blankenberg, W., Grundlingen der Entwicklung der kirchlichen Chorwesens im Protestantismus, in: Leiturgia, IV, 1961.

Blume, F., Geschichte der evangelischen Kirchenmusik, 1965.

Brunner, A., Wesen, Funktion und Ort der Musik im Gottesdienst, 1960.

Buchholz, F., Liturgie und Gemeinde, 1971.

Bunners, C., Kirchenmusiek und Seelenmusik, 1966.

Burger, H., Wat is reformatorisch Psalmzingen? in: Reformatorisch Psalm zingen, 1944.

Dakers, L., Church music at the crossroads, 1970.

De Roos, S. P., Beginselen van kerkmuziek, 1946.

Dixon, C. K., Negro Spirituals, 1976.

Downing, D., Future Rock, 1976.

Dunstan, A., Hymnody in Christian worship, in: The study of liturgy, Ed. C. Jones, e.a., 1978.

Du Toit, H. H., Popmusiek as kerkmusiek?, 1979.

Etherington, C. L., Protestant worship music, 1965.

Ferweda, T., De plaats van den gemeentezang in de liturgie, in: Reformatorisch Psalmzingen, 1944.

Frith, S., The sociology of rock, 1978.

Frost, M., Historical companion to hymns ancient and modern, s.j.

Gaum, F., Die kerkgesang en nuwe ontwikkelinge, in: N.G.T.T., Jan., 1970.

Gelineau, J., Music and singing in the liturgy, in: The study of liturgy, Ed. C. Jones, e.a., 1978.

Die Gereformeerde kerklied deur die eeue, 1964.

Grunow, R., Das evangelistische Lied in unserer Zeit, in: Das miss. Wort, Jun. 1963.

Gunning, J. H., De Gezangenkwestie in de Ned. Hervormde Kerk, 1910.

Hagen, R., Jazz in der Kirche, 1967.

Hasper, H., Een Reformatorisch Kerkboek, 1941.

Hasper, H., Calvijns beginsel voor den zang in den eredienst, I, 1955, II, 1976.

Hauser, E. O., Lobe den Herrn, in: Das Beste, Sept. 1974.

Honders, A. C., (Red.), Klinkend geloof, 1978.

Jenny, M., Die Zukunft des evangelischen Kirchengesanges, 1970.

Lazonder, A. W., Zingt de Here een nieuw lied, Kerk en Theologie, Jul., 1973.

Kiefner, W., Theorie und Praxis der kirchlichen Singerziehung, in: Leiturgia, IV, 1961.

Klotz, H., Die kirchliche Orgelkunst, in: Leiturgia, IV, 1961.

Kruithof, J., Ons kerkgezang, s.j.

Lamb, J. A., The liturgical use of the Psalter, in: Studia Liturgica, 3, 1964.

Larson, B., Rock & Roll, 1970.

Larson, B., The day music died, 1972.

Lekkerkerker, A. F. N., De plaats van lied en muziek in de eredienst, in: Kerk en Theologie, Okt., 1961.

Lenselink, S. J., De Nederlandse Psalmberijmingen van de Souterliedekens tot Datheen, 1959.

Loader, J. A., (Red.), 'n Nuwe lied vir die Here, 1979.

Loots, P. J., Ons kerklied deur die eeue, 1948.

Luther, M., Geistliche Lieder, 1950.

Mahrenholz, C., Musicologica et Liturgica, Festgabe, 1960.

Mehrtens, F., Kerk en muziek, 1960.

Mehrtens, F., Muziek op woorden, Ed. G. N. Lammens, 1976.

Mens, L., Over oorsprong en behandeling onzer Psalmenwijzen, 1937.

Milo, D. W. L., Zangers en Speellieden, 1946.

Müller, K. F., Problemen des Kirchenliedes in der Gegenwart, in: Pastoral-theologie, 3, 1967.

Northcott, C., Hymns in Christian worship, s.j.

Nijhof, G. J., Met muziek mee? Maar waarheen?, in: Moderne kunst in onze maatschappij, 1978.

Pasveer, J., Kerkmuzikale Bezinning, in: Bezinning, 5, 1961.

Potgieter, A., Pop-Rock-musiek, 1975.

Preiser, G., Verkündigung durch Musik, in: Das miss. Wort, 6, 1977.

Rössler, M., Die Liedpredigt, 1976.

Routley, E., Church music and theology, 1959.

Routley, E., Hymns today and tomorrow, 1966.

Ryden, E. E., The story of Christian Hymnody, 1959.

Schafer, W. J., Rock music, 1972.

Schroten, H., Het oude lied in nieuwe berijming, in: Jaarboek voor de eredienst, 1959.

Schwarz, J., Singen mit Gruppen in Gemeinden, in: Das miss. Wort, 6, 1977.

Serfontein, W. J. B., Die Psalm as kerklied, s.j.

Söhngen, O., Theologische Grundlagen der Kirchenmusik, in: Leiturgia, IV, 1961.

Squire, R. N., Church music, 1968.

Stephan, A., Das neue Lied, in: Das miss. Wort, 6, 1963.

Swanepoel, C., Die kerkmusiek voor die Hervorming, in: Die Kerkbode, 24/10/1962.

Thust, K. C., Das Kirchenlied der Gegenwart, 1976.

Trautwein, D., Zwischen Gesangbuch und Blues, in: Das miss. Wort, 6, 1977.

Ulrich, H. H., Das Lied im Dienst der Evangelisation, in: Das miss. Wort, 6, 1963.

Van Andel, C. P., Tussen de regels, 1968.

Van Biezen, De melodieën van de gezangen, in: Jaarboek voor de eredienst, 1961/1962.

Van der Leeuw, G., en K. P. B. Kempers, Beknopte geschiedenis van het kerklied, 1948.

Van Halsema, J. H., Muziek en kerk, in: Bezinning, 2, 1961.

Wolff, H., Het jongenskoor in de kerk, in: Kerk en eredienst, Jun., 1956.

Zeiss, K., Was geht uns der Schlager an?, in: Das miss. Wort, 6, 1963.