Bron: De Wekker. 8 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Plek van Christus in die Prediking

(1) Die fondament🔗

Die Nuwe Testament oor Christus🔗

Die Nuwe Testament is vol van Christus. Paulus skryf in 1 Korintiërs 2:2 dat hy besluit het “om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” In 1:24 het hy reeds gesê: “... ons verkondig Christus wat gekruisig is, vir ... die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.” By baie intreepreke by ʼn nuwe gemeente word oor een van hierdie tekste gepreek. Paulus sluit aan by die woorde van die Here Jesus op die aand van Pase. Jesus kom na sy dissipels. Hy open hulle verstand sodat hulle die Skrif begryp, en Hy sê:

“So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, an Jerusalem af en verder.

Lukas 24:44-46

Twee dinge val hier op. Jesus herinner sy dissipels dat dit woorde was wat Hy vir hulle gesê het toe Hy nog by hulle was. In hierdie woorde is die onderrig van Jesus saamgevat. Hierdie prediking oor Christus is die kern van sy woorde en dade. Dit is die eerste wat ons tref in die Paasboodskap van Christus.

Die tweede is dat Hy sy lyde herlei na wat in die Skrifte staan. Wat Christus geleer en gely het, is in die Skrifte voorspel. Die boodskap van die Ou Testament kan in die prediking oor Christus, die lydende Messias, saamgevat word.

Hy word op minstens twee maniere in die Ou Testament aangekondig. Allereers deur die offerdiens in die tempel. Die skrywer van Hebreërs lê op ʼn aangrypende wyse die Ou Testamentiese tempeldiens uit, as heenwysend en roepend na Christus. In die kultus het Israel die voorafbeelding van Christus se offer in hulle midde gehad. Aanskoulike onderrig as profesie van Hom wat kom.

Ons sien dat Jesus op talle plekke aangekondig word, veral in die profete, maar ook in die Psalms. Ons lees meermale in die evangelies dat die woorde of dade van Jesus gehoor of gesien word as vervulling van die Ou Testament.

Christus is die fondament🔗

Christus is dus die kern van die Ou Testament. Waarom? Omdat Hy die fondament van die heil is. Daar is geen saligheid buite Hom nie. Dit word deur Paulus en Johannes betuig. Dit is ook Jesus se eie boodskap. Daar is geen saligheid buite Hom nie.

Spreek of preek oor die heil kan nooit buite Christus om nie. In elke preek moet Christus nie net ʼn plek nie, maar die sentrale plek hê. Hy is die fondament. Spreke oor verlossing, behoud, redding, en die lewe met God gaan nie buite Christus om nie. Dit is die eerste stelling in hierdie artikels. Die leser het waarskynlik nie anders verwag nie. Dit is nietemin goed om – veral in hierdie tyd – dit duidelik te stel.

Met die prediking van Christus is twee dinge gegewe. Ek kan dit verduidelik deur daaraan te herinner dat Christus die Tweede Adam is (vgl. 1 Korintiërs 15:45). Ons verstaan nie sy betekenis as ons nie gesien het waarom en hoe Hy die Tweede Adam is nie. Ons moet dan ook oor die eerste Adam praat. Dit is, oor sonde, ongeloof en opstand teen God, oor ongehoorsaamheid aan die gebod. Eers dan kan ons die betekenis van Christus voor oë kry. Hy verlos van alles wat Adam en sy nakomelinge verkeerd gedoen het. Die werk van Christus is die herstel en versoening van die sondes wat Adam en syne teen God begaan het.

Jy kan Christus nie preek sonder om te praat waarvan ons verlos moet word nie. Ek sê dit nie ter wille van swaarmoedigheid nie. Ek skryf dit juis omdat Christus die fondament van behoud is. Jy sal nooit op dié fondament kan rus as jy nie met jou hart besef dat dit in die plek kom van wat ons teen God gesondig het nie.

Christus die sentrum🔗

In Priesterlijke prediking noem prof. Kremer hierdie realiteit ons Adamsposisie. Wie Christus verkondig, kan nie aan ons posisie as sondaar teenoor God verbygaan nie. Iemand sal moontlik hierdie redenasie beskou as ʼn gekonstrueerde skema waarmee ons elke preek aan die maatstaf van die skema meet. Jongmense en ook oueres met wie ek gepraat het, vind sulke preke juis om die rede ouderwets; ingehaal deur die problematiek van ons tyd. Daar is ander vrae wat oplossings soek. Ons wil en moet iets nuuts hoor.

Ek kan my die besware indink en het ook die gesprekke ter harte geneem. Die behoefte aan iets is tog begryplik? Die nuwe is baie meer eietyds as die ou spreke oor ʼn Adamsposisie. Het dominees nie deur sulke preke in herhaling verval en die indruk gewek dat hulle hopeloos ouderwets is nie? Ek noem maar ʼn klag wat ek soms teëkom: die preek is só voorspelbaar. As kerkganger weet jy wat gaan kom.

Ek vermoed heelwat dominees worstel hiermee. Dit is nie net vrae en besware van lidmate in die gemeente nie. Dié vrae leef – van tyd tot tyd – ook in hulle eie hart. Moet dit nie anders nie? Verval ek nie in herhalings nie? Het ek iets nuuts te sê vir die mense van hierdie tyd?

Ek voel gedronge om dit helder en duidelik – as vrae in die hart van ʼn predikant – op skrif te stel. Die leser, die gemeentelid, kan dan voel dat die voorbereiding en preek ʼn worsteling is. Nie ʼn pligmatige besigheid waarin jy as predikant die roetes wat in die (homiletiese) treinrooster aangegee word, vooraf goed genoeg ken nie. Die tyd tussen die verskillende stasies waar die dominee aandoen, kan telkens bietjie verskil, maar die tyd tussen vertrek- en eindhalte (die amen) staan vas. Die preek moet nie té lank wees nie.

Miskien is daar iemand wat die voorgaande onvanpas vind. Sekerlik vir ʼn skrywer wat vir langer as dertig jaar preekkunde gedoseer het. Tog skryf ek hierdie sinne bewustelik neer. Dit kom uit ʼn worsteling om elke week ʼn preek te maak, soos ek ook sedert my verhuising in 1996 na Apeldoorn steeds doen.

Ek skryf hierdie sinne ook sodat die – welwillende – leser homself in die vrae wat hier beskryf word, kan herken. Predikante wat hulle roeping werklik verstaan, worstel hiermee. Hy herken in die kritiese opmerkings van sy gemeentelede, jonk en oud, ook sy eie vrae. Geen dominee skaam hom daaroor nie!

Moderne vrae nie die uitgangspunt nie🔗

Die oplossing vir ʼn bedienaar van die woord lê ewewel nie in ʼn radikale verskuiwing van probleemstelling nie; nie in die soeke van ʼn antwoord op moderne vrae as tema van die preek nie. Die moderne vrae moet wel aan die orde kom. Maar nie as normatiewe uitgangspunt nie. Wie dít wil doen sal net ʼn preek kan of wil lewer wat binne die raamwerk van die vrae val. Hy moet die vraesteller binne die raamwerk van sy denke bevredig. Sou dit die rede wees waarom ʼn gemeentelid sy of haar dominee soms nie verstaan in sy preke nie? Die man doen sy bes om aktueel en eietyds te preek; maar sy probleemstelling en denkraamwerk is nie Christus as die Tweede Adam, wat die werk van die eerste Adam plaasvervangend en borgtogtelik oor doen nie! Hy is besig met ʼn ander probleemstelling wat deur ons tyd bepaal, of selfs gedikteer, word. Dit is ʼn versoeking vir predikante. Hulle skakel oor na ʼn moderne probleemstelling en verloor daarmee uit die oog – hopelik nie uit die hart nie – dat Christus die fondament van die heil is.

Christus is die fondament. Bring Hom as fondament in elke preek ter sprake. Dit is waartoe ons teenoor ons Heiland as ons Sender verplig is. Christus as fondament mag in geen preek ontbreek nie.

Wat dan van ons vrae?🔗

Wat gebeur dan met ons vrae? Moet ons dit maar los? Nie daarop ingaan nie? Natuurlik moet ons. ʼn Dominee moet nie preek met woorde en voorbeelde of sondes van twee eeue gelede nie. Die kerkgangers moet hulle eie situasie in die prediking herken. Soos Natan vir Dawid gesê het: “U is die man!” (2 Samuel 12:7).

Dit hang af van waar ʼn preek begin (en eindig). As Christus die fondament en die middelpunt is, kan ʼn dominee nie die verbrokkelde, gebroke fondament van eie werke in die paradys verbygaan nie. Ek sal nooit vergeet wat prof. Hovius in my studentejare vir ons gesê het nie: Was jy in jou preek in die paradys? ʼn Merkwaardige opmerking, en dit het my altyd bygebly. Prof. Hovius het bedoel – om die woorde van hierdie artikel te gebruik – Jy kan Christus as Tweede Adam nie preek as jy oor die eerste, die ou Adam, ook in die eie hart, swyg nie.

As jy Christus só preek, dan is daar in Hom ʼn rykdom en volheid van genade, met genoeg variasie in die verkondiging van die heil. Dink maar daaraan dat sy messiaanse amp drie aspekte het, Priester, Profeet en Koning. Dan preek jy nie elke Sondag dieselfde nie. Dan kom nuwe en ou dinge tevoorskyn (Matteus 13:52). Christus is en bly die fondament, die sentrum. Deur Hom word ons met die Vader versoen.

Ek onthou nog hoe ons as studente die bekende Amsterdamse ds. J. Overduin oor sy oorlogservarings en sy pastoraat as evangelisasiepredikant in Amsterdam hoor praat het. ‘Up to date’, op die man af, besield en besielend vanuit Christus as die sentrum.

Ek moet afsluit. Op die vraag: hoe preek mens uit ʼn teks uit Konings, Kronieke of Spreuke? kan ek helaas nie in hierdie artikels ingaan nie. Dit sal genoeg wees om te herhaal: Jy kan die evangelie slegs bring as Christus die fondament en die sentrum in die preek is.

Die Plek van Christus in die Prediking🔗

(2) Die lewe met Hom🔗

Die uitwerking🔗

In die eerste artikel het ons gelet op Christus as die fondament van ons verlossing. Buite Hom is daar geen heil nie. Die oorgang is in die kennis van Christus as die Tweede Adam, terwyl ons met ons ou mens by die eerste Adam hoort.

Dit is die genade van die evangelie dat ons ʼn ander fondament kry. Nie meer ons eie sondige werke nie, maar die volkome gehoorsaamheid van Christus wat aan ons toegereken word. Die konklusie was dat Christus as die fondament in elke preek ter sprake moet kom. Die uitvoerigheid waarmee dit moet gebeur, hang van die teks af. Die heil is – om dit so te stel – Christologies gefundeer en gestruktureer. Daarom moet verwysing na Christus in elke preek plek hê.

In hierdie tweede artikel gaan dit vir my daarom dat Christus nie net die fondament van die heil is nie. Ook vir die uitwerking van die heil moet ons steeds weer by Hom wees, en dus op Hom gewys word. Mens kan hierdie uitwerking heiliging noem. Tog gaan dit oor meer as die heiliging. In die verband wil ek graag oor die lewe met Christus en uit Christus praat. In die Nuwe Testament kom ons die gedagte teë van geestelike groei; groei in die kennis en die genade van God in Christus. In 1966 het ek my rede by my ampsaanvaarding hieraan gewy. Dit is die groei in die kennis van die genade en ook van die lewe uit die genade. Die geestelike groei as voortgang, is volstrek Christologies bepaal. Dit wil sê dat ons dit net vanuit die voortdurend groeiende en verdiepende geloofsomgang met Christus beleef.

Veel meer🔗

Onlangs is ek besonder getref deur die herhaalde uitdrukking ‘veel meer’ in Romeine 5:9,10:

Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

Ook in Romeine 8:34 praat Paulus oor wat meer is, naamlik vergeleke met Christus as Gestorwene. Dan volg daar: “...meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”

Dit gaan vir my hier veral oor Romeine 5:9-10. Hoe kan ons verstaan dat daar ʼn ‘veel meer’ is, as om deur sy bloed geregverdig te word? En dat daar ʼn ‘veel meer’ is as om met God versoen te wees deur die dood van sy Seun? Geregverdig en versoen wees deur die offer van Christus is immers die fondament van die behoud?

Nou die vraag: is daar iets wat daarbo uitgaan? Ek vermoed dat baie gelowiges nooit stilgestaan het by die ‘meer as’ nie. Daarom het dit ook nie vir hulle ʼn vraag geword nie. Tog is dit goed, selfs nodig, om daarna te vra. Nie as ʼn teoretiese, beskoulike aangeleentheid nie, maar as ʼn vraag wat ons geloofsbelewing raak. Ken ons Christus in daardie meerdere waaroor Paulus praat? Wat beteken dit dan vir ons geloofsbelewing en geloofservaring?

Deur Sy lewe🔗

In vers 10 word die ‘veel meer’ – wat bo versoen wees uitgaan – verbind met ‘gered word deur sy lewe.’ Paulus verwys na Christus se lewe in die hemel vir ons, en na ons lewe met Hom, deur Hom en uit Hom deur die Heilige Gees. Ons bly soms, miskien dikwels of meesal, in ons sig op Christus, staan by die kruis. Dit is nodig om die betekenis van die kruis gelowig te verwerk. Die versoening is daarmee gemoeid. Maar daar is meer: om te ontvang, te geniet en te verwerk. Paulus verbind dié meerdere met die lewe van Christus.

Ek het in die laaste jare meer as vroeër besef wat Christus as Saligmaker in die hemel doen. Hy laat nie daar sy werk op aarde agter Hom nie. Die kruis in daardie werk het nie ‘verlede tyd’, deur tyd ingehaal, laat staan nog oorbodig, geword nie. Nee, deur sy werk in die hemel kom die offer wat Hy op Gólgota gebring het tot sy volle uitwerking. Die offer bereik sy hoogste effek deurdat Hy daardie werk, vanuit die hemel vrugbaar maak. Geestelike groei is aan daardie werk in die hemel te danke.

Let op die betekenis van die woorde ‘gered word’ in vers 9 en 10. Dit wys heen na die redding in die gerig, op die vryspraak in die laaste oordeel. Paulus is dus besig met dit waarmee ons lewe nadat ons deur die dood van Jesus versoen is. Ons is nog nie daar nie; ons moet verder – tot by die wederkoms of tot by die uur van ons dood. Ook nadat ons versoen is – noem dit maar: tot geloof gekom het – het ons die lewende Christus in die hemel, of sy lewe in die hemel nodig. Vir die tyd tot die uur van ons sterwe is ons op die lewe met Hom en deur Hom aangewese. Hy doen dit deur sy Gees wat in ons leef en deurdat ons uit Hom lewe.

Ook dit is van belang vir die plek van Christus in die prediking. Ons moet nie by die begin bly staan nie. Christus is meer as die fondament. Daar moet ʼn gebou verrys. Dink aan 1 Korintiërs 3:10-17 en 1 Petrus 2:1-10. In die voortgang leer ons Hom ken in die betekenis van sy lewe in die hemel, vir ons.

Dit is die kern van wat ek nou aan die lesers wil voorhou: die lewe met Christus deur die Heilige Gees. Dit word ons deel deurdat Hy dit aan ons skenk. Daarom moet Christus nie alleen as fondament gepreek word nie; natuurlik, ons doen niks daaraan af nie. Ons mag en moet Hom ook verkondig as Heiland en Koning in die hemel. Daar is Hy besig met hulle wat aan Hom behoort. Hy regeer hulle deur sy Woord en Gees. Hy lei hulle verder.

Geestelike groei🔗

Geestelike groei is net aan die werk van Christus in die hemel te danke. As ons die geestelike groei wil ervaar, moet in die prediking daaroor gepraat word. Daar moet op belemmerings van die groei gewys word én dit moet uit die weg geruim word. “Omdat Hy altyd leef”, is nie net ʼn pragtige uitdrukking nie, dit is ook werklikheid vir gelowiges wanneer hulle dit by Hom soek. Die hele Christelike lewe van God se kinders is te danke aan die lewe van Christus in die hemel! Ek omskryf dit as sy aktiewe, genadige, liefdevolle bemoeienis met dié wat aan Hom behoort op aarde. Hy onderrig en beskerm hulle. Hy lei hulle in die geheime van die verbond. Hulle leer die diepte en die hoogte van die verlossing verstaan, vertikaal na die hemel, en vertikaal na onder, in die diepte van hulle eie sondige hart en hulle skuld. Ook horisontaal in die lengte en die breedte van hulle lewe op aarde; van die Christen-wees in gesin en kerk, in die politiek en by die werk.

Ook hiervoor het ons Christus nodig. Ons kan dit nie uit onsself doen nie, dit is nie ons eie prestasie nie. Dit kom van Hom, deurdat ons op sy leerskool is en die pad van navolging kan loop.

Die plek van Christus is veelsydig🔗

Wie dit op homself laat inwerk, sien dat die plek van Christus in die prediking veelsydig is, ooreenkomstig die rykdom en die volheid van die genade van God. Dit is noodsaaklik dat Christus ook met die oog op voortgang en groei ʼn plek kry in die prediking. Die Christelike lewe het nie sy oorsprong en sy krag in onsself nie. Dit is nie ons wat dit in stand hou nie, ons ontvang dit inteendeel van Hom. Ons leer dit in die gemeenskap met Hom, omdat Hy in ons leef en ons in Hom leef. As ʼn predikant Christus só preek, kom die gewone lewe ook in die preek ter sprake. Dan word die preek op twee maniere prakties. Allereers vanuit én na die praktyk van die godsaligheid; deur die verborge omgang met Hom, waarin ons leer om onsself te verloën.

Die preek word ook op ʼn ander manier prakties, naamlik dat dit ingaan op die daaglikse lewe. Wat beteken dit om uit en met Christus te lewe? Watter konsekwensies het dit vir ons lewenshouding, vir ons omgang met ander, gelowig of nie gelowig nie? Hoe benader ons hulle? Wat sê ons vir hulle en hoe beheers ons uiteindelik ons kwaadheid teen hulle? Op watter manier is ons diensbaar aan Jesus se saak op aarde?

Sy werk in ons en aan ons🔗

Alle kontakte en verbintenisse van die daaglikse lewe kom dan ter sprake. Telkens weer vanuit Christus, die bron, en met Hom as norm. Altyd weer as dissipel aan die leerskool van genade.

Dit is nie vir predikante eenvoudig om hierdie praktyk in hulle preke te verwerk nie. Hulle moet dit ewewel nastreef. Omdat Christus bron en norm is, word hulle daarvan bewaar om van die preek ʼn moralistiese verhaal te maak, asof ons dit self moet doen. Hy doen dit in en deur ons. Hy leer ons dit.

Met hierdie kort omskrywing het ek die plek van Christus in die prediking aangedui. Ek hoop dat u dit óók voel: Die beginpunt van ons ervaring is: Omdat Hy altyd leef !“

Waar Christus so gepredik word, is dit nie elke week dieselfde nie. Dan is daar ook nie in die preek ʼn herhaling van woorde nie. Dan kom die volle lewe van die Sondag en daarna, in die preek aan die orde. Dan word die gemeente gebou en toegerus vanuit Christus as die bron en die middelpunt. Die gemeente groei in die diepte en in die breedte van die genade.

Die plek van Christus in die prediking🔗

(3) Die voleinding🔗

Christus voltooi sy werk🔗

Ons wil in hierdie artikel aandag gee aan die voleinding. Christus voltooi sy werk. Nadat die fondament in die voortgang van sy werk in ons lewe met Hom ons besig gehou het, let ons as laaste gesigspunt op die voleinding, die voltooiing.

Daarmee word nie net gesê dat daar ʼn einde aan kom nie. Dit is seker ook die geval, maar dit is ʼn gekwalifiseerde einde; naamlik die voltooiing van wat Hy in die vernedering op aarde begin het en van wat Hy in alle heerlikheid vanuit die hemel voortgesit het. Die kerk beleef, in gebrokenheid, sy werk vanuit die hemel. ‘Dit is volbring’ het Hy as voorlaaste woorde aan die kruis gesê. Dit is nog nie voltooi nie. Paulus druk die gebroke heerlikheid op ʼn merkwaardige wyse uit. Ons lees in 1 Korintiërs 15:25: “Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het”.

Professor Van Ruler het in sy bundel meditasies oor hierdie geweldige hoofstuk, vers 25 bespreek onder die opskrif ‘De genade heerst over het verzet.’ ʼn Treffende tipering. Tog ontbreek iets essensieels uit die teks, naamlik die totdat. Die werk van Christus in die hemel het ook ʼn tydperk. Daar is ʼn afloop, omdat dit op die voltooiing uitloop. Wanneer Hy kom, sal Hy Hom aan die Vader onderwerp. Hy sal die koningskap aan Hom teruggee. Dan sal God alles wees in almal.

Ons kan ons dit nie voorstel nie🔗

Ons kan ons nouliks voorstel hoe dit sal wees. Tog verwag ons dit. Die volle glorie van en vir die Vader. Totale, radikale, finale oorwinning oor al God se vyande. Hulle sal op die nuwe aarde nie meer daar wees nie; geen skade of skande meer aan die saak van God aanrig nie.

Daarvoor het die Here Jesus na die aarde gekom. By sy geboorte is dit deur die engel aangekondig “dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is” (Lukas 2:11). In die prediking mag – en moet – ook die voltooiing van sy werk ter sprake kom: nie alleen die fondament wat rotsvas is nie, ook nie net die vervolg, die opbou van sy werk in die lewe van die gelowiges met Hom nie. Ook die voltooiing. Hy bereik sy doel – wêreldwyd, in ʼn nuwe hemel en op ʼn nuwe aarde, maar ook persoonlik in en vir hulle wat aan Hom behoort. Volkome verlos, sal hulle ʼn nuwe liggaam ontvang, en Hom sonder vlek, rimpel of gebrek dien.

Alles kom van Hom🔗

Die voltooiing is alleen aan Hom te danke. Dis nie ons wat God se werk óf ons werk klaarmaak nie. Dit kom alles van Hom, tot op die laaste uur van die wêreldgeskiedenis en van ons lewe. Die ‘totdat’ in 1 Korintiërs 15:25 is soos ʼn basuin wat die finale oorwinning en voleinding inlui.

Hierdie derde aspek van Jesus se verlossingswerk hoort ook in die prediking tuis – en nie eers aan die einde nie. Die voltooiing is ʼn wesenlike aspek in die verkondiging van Christus, van sy persoon as Verlosser en van sy verlossingswerk. Ons lees daaroor in die hoofstukke van die evangelies wat die lydensgeskiedenisse voorafgaan (Matteus 24 en 25; Markus 13; Lukas 21). Paulus en Petrus gaan midde in vermanings en uiteensettings van die werk van Jesus, ook onverwags daarop in. Ek noem enkele tekste: Filippense 3:20, 21; 1 Tessalonisense 3:13; 2 Timoteus 4:8; Titus 2:13; 1 Petrus 4:13; 2 Petrus 3:13. Ek dink ook aan talle tekste in Openbaring, veral aan die driemaal herhaalde “Ek kom gou” in die laaste hoofstuk (22:7, 12, 20).

Die wederkoms van Christus, ter voltooiing van sy verlossingswerk, is ʼn wesenlike onderdeel van die Christusprediking in die Nuwe Testament – in die Ou Testamentiese vorme al voorspel in die belofte van die volkome Koningskap van die HERE. Daarin is – by wyse van afskaduwing – die heerskappy van Jesus Christus, wat tot vervulling kom in die oorgawe van die Koningskap aan die Vader, profeties ingesluit.

Die vraag is nou wat die voleinding beteken vir die plek van Christus in die prediking.

Christus oorwin die duiwel🔗

Ek wys op drie dinge. Allereers dat die verlossingswerk van Christus, hoe dit ook al aangeveg en bestry word, die duiwel oorwin. Die duiwel verset hom daarteen in die lengte en breedte van die kerk en die wêreld. En ook in die klein lewe van elke kind van God. Waar die stryd ervaar en gestry word, is dit ʼn enorme troos om te mag glo dat die duiwel nie wen nie.

Sy ondergang in hierdie stryd is nie te danke aan ons inspanning of volharding nie. Dit is te danke aan Christus wat sy werk voltooi en, in genade, ons daarby betrek. Dié perspektief word aan ons voorgehou om in die stryd vol te hou. Nie wanhoop nie, nie jou pos verlaat nie, maar bly stry! Jesus wen die stryd. Deur genade deel ons in sy oorwinning. Dit is dus ʼn motivering om in die stryd te volhard.

Bly glo🔗

Die vooruitsig op die voleinding van Christus is ook ʼn motief om te bly glo; volharding in die geloof, met Christus wat sy werk voltooi voor oë, midde in die gebrokenheid van die lewe. Hy laat ons nie in die steek nie. Hy bly naby ons, tot die laaste uur. Vanaf die troon is Hy met sy hele hart en met sy hande daarby betrokke. Hy is ʼn volkome Saligmaker. Hy het nie net die fondament gelê nie; Hy sorg vir die uitbou en opbou. In groot trou en volhardende liefde sorg Hy ook vir die voltooiing. Die uitdrukking ‘volkome verlossing’ hou ook in dat Hy diegene wat aan Hom behoort, naby is tot aan die einde; ook ‘tot aan hulle einde’. ʼn Motief om teen alle weerstand in, te volhard in die geloof.

Hulle verkry hulle wens🔗

Ek noem die voleinding as laaste motief vir die lewe van die geloof: hulle verkry hulle wens. Die gemeenskap met die Vader, die aanbidding van die Seun, die omgang met die Gees – in diep afhanklikheid – loop uit op onverstoorde verkeer met die Drie-enige God. Wat nou nog ‘by tye en op oomblikke’, ‘stuk-stuk’ gesmaak en beleef word, sal eenmaal volkome hulle deel word. Alles lyk dikwels so half, so gebroke – dit sal volkome word. Glo word aanskou. Die voorlopige loop uit op die – vir ons nou nog onvoorstelbare – volkome heerlikheid.

Wie oor die werk van Christus as fondament preek, moet die lyn deurtrek na die einde. Die werk kom klaar. Dit word voltooi.

Wie oor die lewe met Christus preek as ʼn geskenk van Christus aan ons, stuit teen die onvolkomene in die wêreld en in sy eie lewe. God sy dank, Christus voltooi sy werk. Ons is nie met ʼn lugspieëling of ʼn sprokie besig nie. Dit is werklikheid. Dit word volkome. Geestelik, wat betref die gemeenskap met God; maar ook liggaamlik wat betref ons lewe op die nuwe aarde, in ʼn herskape, verheerlikte liggaam, gelykvormig aan dié van Christus.

Dit is die vervulde verwagting, die nie-vergeefse uitsien na die volkome vereniging met God, in ʼn herskape, vernude en verheerlikte skepping.

Liefde, geloof en hoop in die prediking🔗

Die drie motiewe – volharding in die stryd teen die duiwel, volharding in die geloof, volharding in die verwagting wat ook omskryf kan word as liefde, geloof en hoop – is ten diepste ʼn magtige genade-werklikheid van die evangelie van Jesus Christus teenoor alle vyandskap en verset. Geloof is nie tevergeefs nie. Dit gaan oor iets, nie oor niks nie. Dit loop uit op die werklikheid van die volkome verlossing. Daarvoor het Christus na die aarde gekom.

Hoe bring ons die voltooiing in die prediking ter sprake? Predikante moet nie die drie aspekte van hierdie artikels sistematiseer, asof ons dit elke keer in presiese volgorde – dink aan die treinrooster in die eerste artikel – moet behandel nie. Ons kan dit ter sprake bring na aanleiding van die aspek wat ons in die preek nodig het. Ons kan van die eerste aspek deurgaan na die laaste. Ons moet vanuit die tweede betekenis van Christus – die lewe met Hom – teruggaan na die begin: Is Hy die fondament van ons lewe?

As ons met die tweede, in die gebrekkigheid van die belewing, besig is, kan ons vooruitgryp na die voltooiing. Moenie wanhoop nie. Moenie nalaat om te glo nie. Die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Romeine 5:5). So seker as wat die Gees nou in ons hart en in ons lewe werk, so seker is dit dat Christus die verlossing volkome afhandel. Ons besit die begin en die beginsel daarvan. Daarom kom die heerlike einde in sig.

Ten slotte herhaal ek die begin. Ons sal die voortgang en die voleinding van die verlossingswerk van Christus net kan meemaak as Hy die fondament van ons lewe geword het.

Gaan konkreet in op wat voorkom🔗

Elkeen van hierdie drie aspekte vereis konkrete prediking van wat ons kort en wat ons nodig het. Dit plaas ons hele lewe in die soeklig van Jesus Christus. Ontdekkend, ontluisterend, vernederend, maar ook hoopgewend, vernuwend en verwagting wekkend.

ʼn Dissipel van Christus is op ʼn pelgrimstog na die nuwe aarde, sonder om van sy wagpos op hierdie aarde weg te loop. En dit weens die plek van Christus in die prediking: die genade wat ons lewe binnedring en konkreet verander, hoewel – helaas – nog nie volkome nie. Ons kom uit bo die tweespalt, bo die splitsing van die ou en die nuwe mens.

Predikante kan nie genoeg plek inruim vir Christus in hulle prediking nie. Hy bring alles wat ons nodig het, nou en later en vir ewig.